Bereik die hart wanneer jy onderrig
1, 2. (a) Wat verg dit om diepe waardering vir Jehovah en sy standaarde in ander te bou? (b) Waarom is meer as kopkennis nodig?
HOEWEL jy ’n hut in ’n japtrap kan oprig, kan jy beslis nie ’n paleis oornag bou nie. Dieselfde is waar as ’n mens dissipels maak. Dit is geen geringe taak om ’n innige waardering vir Jehovah en sy standaarde in ander te bou nie. Dit verg baie tyd en vaardigheid om sulke “paleise” voort te bring.
2 Dit behels meer as die oordra van kennis. Spreuke 3:1 sê: “My seun, vergeet my onderwysing nie, en laat jou hart my gebooie bewaar.” Ons studente moet geleer word wat die Bybel sê. Maar dit is nie al nie. Bybelwaarheid moet by hulle harte ingeskerp word. Ja, dit is die hart wat ons moet bereik as ons vuurvaste eienskappe wil bou in diegene wat ons wil onderrig en hulle wil help om ’n sterk verhouding met Jehovah te verkry.
3. (a) Waarom hang dit baie van die “onderrigkuns” af of ons die hart gaan bereik of nie? (b) Wie moet jy in gedagte hou terwyl ons enkele praktiese wenke bespreek?
3 Dit is klaarblyklik makliker gesê as gedaan. Om harte te bereik, moet ons nie alleen die regte boumateriale hê nie, maar ook die “onderrigkuns” toepas (2 Timotheüs 4:2, NW). Dis nie genoeg om net vir ons studente te vertel wat die waarheid is nie. Die “onderrigkuns” behels dat ons hulle ook help om te dink en te redeneer oor wat hulle leer. Nie dat ons vindingrykheid of metodes geestelike groei kan veroorsaak nie; dit is God se seën wat tel (1 Korinthiërs 3:5, 6). Daar is nietemin ’n paar wenke wat ons kan help om ander se harte te bereik. Hou diegene wat jy onderrig—jou Bybelstudente en jou kinders—in gedagte terwyl ons hierdie gedagtes bespreek.
Stel die regte voorbeeld
4. (a) Wat is een ding wat Jesus ander effektief laat bereik het? (b) Waarom is dit belangrik om die regte voorbeeld te stel wanneer ons ander onderrig?
4 Watter beter voorbeeld kan ons hê van hoe om ander se harte te bereik as Jesus Christus self? Waarom het hy so goed daarin geslaag om mense te bereik? Jesus se dade het met sy woorde gestrook, en sodoende het hy ’n pragtige voorbeeld vir sy volgelinge gestel (Johannes 13:15; 1 Petrus 2:21). Hier is dan die eerste wenk: Stel die regte voorbeeld. Is dit nie logies dat ons dieselfde duursame Christelike eienskappe moet hê as wat ons in ander wil bou nie? Jesus het dit soos volg gestel: “Elke goed opgeleide leerling sal soos sy onderwyser wees.”—Lukas 6:40, The New Berkeley Version.
5. Hoe toon die Skrif die verband tussen die regte voorbeeld en die bereiking van ander se harte?
5 Die Bybel toon herhaaldelik die verband tussen die regte voorbeeld en die bereiking van ander se harte. Deuteronomium 6:4-6 toon byvoorbeeld dat liefde vir Jehovah “in jou [die ouer se] hart” moet wees voordat jy dit by die hart van jou kinders kan inskerp (Spreuke 20:7). In teenstelling hiermee het Jesus die skynheilige Fariseërs van sy dag bestraf omdat hulle ‘gepraat het maar nie gedoen het nie’. Is dit enige wonder dat die hart van die volk “stomp” geword het? —Mattheüs 23:3; 13:13-15.
6. Waarom is dit belangrik om jou dade met jou woorde te laat strook? (Romeine 2:21-23)
6 Jou leer moet dus met jou dade strook. As jy byvoorbeeld liefde vir Jehovah en ’n begeerte om hom te behaag in jou studente of kinders wil bou, moet hulle dan nie in jou gebede, woorde en dade blyke van so ’n liefde en begeerte in jou sien nie? As jy sterk toegewydheid aan Bybelbeginsels by hulle wil inskerp, moet hulle dan nie eers aan jou woorde en dade sien dat jy nie probeer om daardie beginsels te omseil nie? Diegene wat ons onderrig, veral ons kinders, skenk dikwels meer aandag aan wat ons doen as aan wat ons sê. Wanneer ander sien dat ons woorde met ons dade strook, sal ons in ’n beter posisie wees om hulle harte te bereik.
Stel vrae
7, 8. (a) Waarvan hang ons welslae om ander te bereik in ’n groot mate af? (b) Waarom is vrae nuttig om die hart te bereik?
7 ’n Tweede wenk, nog iets wat Jesus so ’n bekwame onderrigter gemaak het, is die gebruik van vrae. Jesus het meesterlik daarin geslaag om mense te laat dink en redeneer (Mattheüs 17:24-27). Die welslae waarmee jy die hart van jou studente bereik, hang baie af van jou gebruik van vrae. Waarom?
8 Eerstens, deur vrae te stel, kan jy vasstel of jou student werklik verstaan wat hy leer. As hy nie die informasie verstaan en aanvaar nie, kan dit immers nooit in sy hart wortelskiet nie (Lukas 8:15). Tweedens, om die hart te bereik, is dit nuttig om te weet wat in die hart is. Vooroordele en valse godsdiensleerstellings kan diep gewortel wees. Aangesien ons nie kan sien wat in die hart is nie, moet ons in die besonder vrae stel wat die student beweeg om dit wat hy in sy hart voel in sy eie woorde uit te druk. Beskou ’n paar voorbeelde.
9, 10 Lig die doeltreffende gebruik van beskouingsvrae toe.
9 Kom ons veronderstel julle bespreek hoofstuk 10, “Bose geeste is magtig”, in die boek Jy kan vir ewig in die Paradys op aarde lewe. Julle kom by paragraaf 18, op bladsy 97, waar die gedrukte vraag lui: “Watter goeie voorbeeld van die vroeë Christene in Efese moet ’n persoon volg as hy wil losbreek van spiritisme?” Jou student kan die regte antwoord uit die paragraaf verstrek. Maar hoe voel hy werklik? Hy beoefen spiritisme moontlik al baie jare lank en glo sterk daaraan. Is hy dan nou daarvan oortuig dat hy daarvan moet losbreek? Jy moet dalk vra: ‘Hoe voel jy hieromtrent? Hoe kan jy hierdie informasie in jou lewe toepas?’ Die wyse waarop hy hierdie vrae beantwoord, kan toon in watter mate die informasie sy hart geroer het.
10 Of jy bespreek dalk hoofstuk 26, “Die stryd om te doen wat reg is”, in dieselfde boek met jou kind. Op bladsy 220 vra die “b”-vraag van paragraaf 8: “Watter beskouing, wat een jong persoon gehad het, kan ons met vrug ons eie maak?” Jou kind kan aanvanklik uit die paragraaf antwoord en nie werklik sê hoe hy voel nie. Jy moet dalk sagkens ’n bietjie dieper gaan: ‘Maar hoe voel jy hieroor? Lyk hierdie beskouing vir jou redelik?’ Of, jy kan ’n situasie skets: ‘Gestel ’n groepie jongmense by die skool rook en bied vir jou ’n sigaret aan. Gestel ’n hele klomp ander leerlinge het dit gesien en met jou begin spot omdat jy dit van die hand gewys het. Wat sal jy doen?’ Wanneer sulke vrae taktvol gebruik word, kan hulle jou help om vas te stel wat in jou kind se hart is.
11. (a) Waarom moet ons versigtig wees wanneer ons vrae stel? (b) Waarom moet veral ouers versigtig wees wanneer hulle kinders verkeerde beskouings uitspreek? (Kolossense 3:21. NW)
11 ’n Woordjie van waarskuwing: Soms sal sulke vrae antwoorde uitlok wat jou verbaas of teleurstel. Wat dan? As dit ’n gevoelige onderwerp is, is dit dalk beter om dinge nie te forseer nie, maar liewer te sê: ‘Kom ons gaan verder. Ons sal later weer hieroor gesels’ (Johannes 16:12). Veral ouers moet hier versigtig wees. Wanneer verkeerde beskouings gelug word, moet julle julle emosies in toom hou. Julle wil nie die kommunikasielyn beskadig nie. Hoe sal jy weet wat in jou kind se hart is sodat jy hom kan help as hy bang word om te sê hoe hy voel?
Beklemtoon die wysheid van gehoorsaamheid aan God se wette
12, 13. (a) Waarom sal dit jou student se hart roer as hy die wysheid van gehoorsaamheid aan God se wette besef? (b) Wat is nodig om ’n student te help om te sien dat gehoorsaamheid aan Jehovah die verstandige weg is?
12 ’n Derde wenk is om jou student te help om die wysheid van gehoorsaamheid aan God se wette te besef (Deuteronomium 4:5, 6; 10:12, 13). Dit kan sy hart raak. Hoe so? Wel, as hy daarvan oortuig is dat dit in sy eie belang is om Jehovah se wette te hou, kan dit hom beweeg om God lief te hê en die begeerte by hom wek om God te behaag.—Psalm 112:1.
13 Hoe kan jy diegene wat jy onderrig, help om die wysheid van gehoorsaamheid aan God se wette te besef? Ons kan dit toelig deur Jehovah se wette te vergelyk met “Toegang verbode”-tekens. So ’n teken is op sigself ’n waarskuwing. Maar stem jy nie saam dat ’n mens geredeliker gehoorsaam is wanneer die teken die rede vir die waarskuwing bevat nie. As die teken byvoorbeeld lui: “Toegang verbode—Hoë spanning”, sal die moontlike oortreder meer geneig wees om op die waarskuwing ag te slaan omdat hy die moontlikheid van persoonlike gevaar besef.
14. (a) Hoe kan jy met jou student redeneer om hom te help om te sien waarom ’n bepaalde weg verstandig of dwaas is? (b) Watter tekste lig toe hoe belangrik dit is om die rede te verstrek waarom ’n weg goed of sleg is?
14 So ook met God se wette. Moenie net vir jou student vertel wat die Bybel sê reg en verkeerd is nie; help hom om te sien waarom ’n bepaalde weg verstandig of dwaas is. Redeneer met hom oor hoe gehoorsaamheid aan God se wette hom tot voordeel sal strek. Help hom om te besef wat die gevolge sal wees as daardie vereistes geïgnoreer word. Dit is wat die Bybel self soms doen. Lees asseblief Spreuke 22:24, 25; 23:4, 5; 24:15, 16, 19, 20. Let op dat die Bybel in elke geval die rede verstrek waarom ’n weg goed of sleg is.
15. Gebruik die gegewe vrae en tekste om die wysheid van gehoorsaamheid aan wat God oor oneerlikheid en hoerery sê te bespreek.
15 Beskou ter toeligting hoe die volgende vrae en tekste die wysheid van gehoorsaamheid aan God se wette beklemtoon.
Leuens, diefstal: Waarom is oneerlikheid skadelik? (Spreuke 15:27; 20:10; Openbaring 21:8). Waarom betaal dit om eerlik te wees in jou handelinge met ander? (Spreuke 3:3, 4; 12:19; Hebreërs 13:18, NW).
Hoerery: Hoe kan onsedelikheid ons benadeel? (Spreuke 5:9, NW; 7:21-23; 1 Korinthiërs 6:18). Hoe kan dit ander benadeel? (1 Thessalonicense 4:6; 1 Korinthiërs 5:6; Hebreërs 12:15, 16). Hoe strek dit jou tot voordeel as jy die Bybel se sedelike standaarde naleef? (Spreuke 5:18, 19; Hebreërs 13:4).
Nadat jy so oor ’n Bybelwet geredeneer het, kan jy vra: ‘Meen jy dat Jehovah ons belange op die hart dra? Stem jy saam dat sy wette ons nie werklik van enigiets goeds beroof nie?’
16. Watter uitwerking kan sulke redenasies op jou student hê?
16 ln die loop van die studie kan jy op soortgelyke wyse redeneer oor God se wet in verband met dronkenskap, die betaal van belastings, rook, die bloedkwessie, ensovoorts. So word jou student of kind gehelp om te sien dat al God se wette tot ons voordeel strek. Dit is nie dat jou student altyd redes nodig het om God te gehoorsaam nie. Maar ’n paar voorbeelde kan help om sy hart te bereik en die begeerte by hom te wek om God te behaag. Wanneer die “vuur” of toets kom, sal hy God se Woord geredeliker gehoorsaam.—1 Korinthiërs 3:13.
Help hulle om God te ken
17. Watter bykomende wenk kan jou help om jou student se hart te bereik?
17 ’n Vierde wenk is: help jou student om God te ken (Johannes 17:3). Moenie net jou student help om te besef dat Jehovah bestaan en ’n naam het nie, maar help hom om Hom intiem te leer ken. Dit sal sy hart roer, want om Jehovah te ken is om hom lief te hê.
18. Hoe kan jy gedurende die studie die aandag op Jehovah se eienskappe vestig?
18 Hoe kan jy jou student help om Jehovah intiem te ken? Om maar een ding te meld, jy kan iemand nie liefhê tensy jy sy eienskappe, sy weë, ken nie. Gedurende die studie moet jy immer probeer om die aandag op Jehovah se weergalose eienskappe te vestig. Dit kan gedoen word ongeag die onderwerp wat bespreek word. Wanneer jy byvoorbeeld die losprys bespreek, kan jy by ’n gepaste plek stilstaan en vra: ‘Hoe verheerlik die losprysvoorsiening die diepte van Jehovah se liefde vir ons?’ Of, wanneer jy bespreek waarom God goddeloosheid toegelaat het, kan jy vra: ‘Hoe het Jehovah groot lankmoedigheid aan die dag gelê ondanks die mens se goddeloosheid?’ Of: ‘Hoe het Jehovah onvergelyklike wysheid geopenbaar in die wyse waarop hy die opstand in Eden hanteer het?’ Sulke redenasies sal help om ’n sterk toegewydheid aan Jehovah in jou student te bou. Hy sal Jehovah begin beskou as ’n Persoon wie se eienskappe hy innemend en aantreklik vind.
19, 20. (a) Wat nog is nodig om Jehovah intiem te ken? (b) Hoe lig die ondervinding in die paragraaf die belangrikheid van die regte voorbeeld ten opsigte van gebed toe?
19 Daarbenewens kan jy iemand nie werklik goed leer ken sonder die een of ander soort kommunikasie nie. Jou student kan eweneens nie ’n intieme verhouding met Jehovah geniet sonder om met hom te kommunikeer nie. Leer jou student dienooreenkomstig hoe om te bid. Help hom om te sien watter groot verskeidenheid sake gepaste onderwerpe vir gebed is (1 Johannes 5:14). Bou waardering in hom vir die feit dat Jehovah die Een is wat gebede hoor sowel as verhoor (Psalm 65:3). Spoor hom aan om sy diepste gevoelens uit te spreek en ‘sy hart voor Jehovah uit te stort’.—Psalm 62:9.
20 Jou voorbeeld is hier weer eens belangrik. Weerspieël jou gebede die diepte van jou toegewydheid aan God? Dit kan ’n baie heilsame uitwerking hê op diegene wat jy onderrig, jou kinders inkluis. Beskou die volgende ondervinding:
Enkele jare gelede het een Christen-egpaar hulle driejarige seuntjie geleer hoe om te bid. Een aand, nadat hy tot Jehovah gebid het om Mammie en Pappie te seën, het die seuntjie Jehovah gevra om “Wally” te seën. Wie was “Wally”? Sy ouers het nie geweet nie, en die seun het begin om gereeld vir “Wally” te bid! Nadat hulle baie oor die saak gewonder het, het hulle eindelik besef wat gebeur het. Die seuntjie het gebid vir die broers in Malawi (wat destyds vervolg is), maar hy het dit verkeerd uitgespreek as “Wally”. Die punt is, die seuntjie het sy ouers so hoor bid, en hy het hulle goeie voorbeeld gevolg. Stel jou voor hoe daardie ouers gevoel het!
Lig dit nie toe hoe belangrik dit is om die regte voorbeeld te stel wanneer ’n mens ander leer hoe om te bid nie?
Die loon
21. (a) Watter hoop kan jy as ’n Christenbouer volgens 1 Korinthiërs 3:14, 15 koester? (b) Is die “loon” die prys van die ewige lewe in God se Nuwe Orde? Verduidelik.
21 Ons moet dus ander se harte bereik as ons vuurvaste eienskappe in hulle wil bou en hulle wil help om ’n goeie verhouding met Jehovah te verkry. Dit is nie maklik nie, maar dit is lonend. Paulus het daarop gewys toe hy gesê het: “As iemand se werk bly staan wat hy daarop gebou het, sal hy loon ontvang; as iemand se werk verbrand word [omdat hy sleg gebou het en nie vuurvaste materiale gebruik het nie], sal hy skade ly [dit wil sê, dit wat hy gebou het, sal deur die “vuur” verteer word]; alhoewel hy self gered sal word, maar soos deur vuur heen.” Wat is die “loon”? Paulus het klaarblyklik iets anders in gedagte gehad as die prys van die ewige lewe in God se Nuwe Orde, want let op dat die een wat sleg gebou het die “loon” verloor, hoewel hyself gered sal word as hy die “vuur” oorleef.—1 Korinthiërs 3:14, 15.
22, 23. (a) Watter loon het die apostel Paulus in verband met sy Christenbroers in Thessalonika ontvang? (b) Watter “loon” is jou hartewens, en hoe kan jy dit ontvang?
22 Wat is hierdie “loon” dan? Iets wat Paulus aan die Thessalonicense gesê het, werp lig op die saak. Paulus het aan die vervolgde Christene aldaar geskryf: “Wie anders as julle is ons hoop of blydskap of kroon van roem in die teenwoordigheid van onse Here Jesus Christus by sy wederkoms? Want julle is ons eer en blydskap [“ons trots en ons vreugde!”, Today’s English Version]” (1 Thessalonicense 2:19, 20). Paulus het daardie Thessalonicense gehelp om op die weg van waarheid te kom. En hoewel hulle uit die staanspoor vervolg is, het hulle vasgestaan. Paulus se beloning was die vreugde om te sien dat hulle ondanks vervolging volhard. Dit het bewys dat Paulus goed gebou het.
23 Net so ook met ons. Is dit nie jou hartewens om diegene wat jy onderrig te help om die duursame Christelike eienskappe aan te kweek wat hulle in staat sal stel om vas te staan ondanks die versoekings en druk waaraan hulle blootgestel sal word nie? Ja, hoe lonend is dit tog om te sien dat jou Bybelstudente en jou kinders sulke vurige beproewinge deurstaan! Dit bewys dat jy goed gebou het. Mag dit jou loon wees terwyl jy met vuurvaste materiale op ’n regte fondament bou en terwyl jy op Jehovah vertrou om jou pogings te seën.
Kan jy onthou?
Om die hart te bereik—
◻ Waarom is dit belangrik om die regte voorbeeld te stel?
◻ Watter soort vrae is nuttig, en waarom?
◻ Waarom moet jou student die wysheid van gehoorsaamheid aan God se wette insien?
◻ Waarom moet jou student leer hoe om te bid?
[Prent op bladsy 16]
Weerspieël jou gebede die diepte van jou toegewydheid aan God? Dit kan jou kind se hart roer