Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • kl hfst. 2 bl. 12-22
  • Die boek wat die kennis van God openbaar

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die boek wat die kennis van God openbaar
  • Kennis wat tot die ewige lewe lei
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • WAT DIE BYBEL BEVAT
  • KAN JY DIE BYBEL VERTROU?
  • AKKURAAT EN BETROUBAAR
  • ’N BOEK VAN PROFESIEË
  • ‘ONTWIKKEL ’N VERLANGE’ NA DIE KENNIS VAN GOD
  • Ware leringe wat God behaag
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2005
  • Die Bybel—’n Boek wat van God kom
    Wat leer die Bybel werklik?
  • Die Bybel – ’n Boek wat van God af kom
    Wat kan die Bybel ons leer?
  • Profesieë wat bewaarheid is
    Die Bybel—God se woord of die mens s’n?
Sien nog
Kennis wat tot die ewige lewe lei
kl hfst. 2 bl. 12-22

Hoofstuk 2

Die boek wat die kennis van God openbaar

1, 2. Waarom het ons ons Skepper se leiding nodig?

DIT is net redelik dat ons liefdevolle Skepper ’n boek met instruksies en leiding aan die mensdom sou voorsien. En stem jy nie saam dat die mens leiding nodig het nie?

2 Meer as 2 500 jaar gelede het ’n profeet en geskiedskrywer geskryf: ‘Dit behoort nie aan ’n man toe om te loop en sy voetstappe te rig nie’ (Jeremia 10:23). Die waarheid van daardie verklaring kan vandag duideliker as ooit gesien word. Die historikus William H. McNeill sê dus: “Die mens se avontuur op hierdie planeet is ’n feitlik ononderbroke reeks krisisse en ontwrigtings van die gemeenskap se gevestigde orde.”

3, 4. (a) Hoe moet ons ’n studie van die Bybel benader? (b) Hoe sal ons te werk gaan om die Bybel te ondersoek?

3 Die Bybel voorsien in al ons behoeftes na wyse leiding. Talle voel weliswaar oorweldig wanneer hulle die Bybel aanvanklik ondersoek. Dit is ’n groot boek, en party dele daarvan is nie maklik om te verstaan nie. Maar gestel jy word ’n regsdokument gegee wat uiteensit wat jy moet doen om ’n waardevolle erfenis te ontvang. Sal jy nie die tyd neem om dit noukeurig te bestudeer nie? As jy sukkel om sekere dele van die dokument te verstaan, sal jy waarskynlik iemand wat ervare is in sulke sake om hulp vra. Be–nader die Bybel dan met dieselfde gesindheid (Handelinge 17:11). Daar is meer op die spel as net ’n materiële erfenis. Soos ons in die vorige hoofstuk geleer het, kan die kennis van God tot die ewige lewe lei.

4 Kom ons ondersoek die boek wat die kennis van God openbaar. Ons sal eers ’n kort oorsig van die Bybel gee. Dan sal ons redes bespreek waarom talle ingeligte mense glo dat dit die geïnspireerde Woord van God is.

WAT DIE BYBEL BEVAT

5. (a) Wat bevat die Hebreeuse Geskrifte? (b) Wat bevat die Griekse Geskrifte?

5 Die Bybel bevat 66 boeke in twee dele, wat dikwels die Ou Testament en die Nuwe Testament genoem word. Nege-en-dertig Bybelboeke is hoofsaaklik in Hebreeus geskryf en 27 in Grieks. Die Hebreeuse Geskrifte, wat uit Genesis tot Maleagi bestaan, dek die skepping sowel as die eerste 3 500 jaar van die mensegeskiedenis. Wanneer ons hierdie deel van die Bybel ondersoek, leer ons van God se handelinge met die Israeliete—vanaf hulle ontstaan as ’n nasie in die 16de eeu v.G.J. reg tot in die 5de eeu v.G.J.a Die Griekse Geskrifte, wat die boeke Matteus tot Openbaring bevat, handel hoofsaaklik oor die leringe en bedrywighede van Jesus Christus en sy dissipels gedurende die eerste eeu G.J.

6. Waarom moet ons die hele Bybel bestudeer?

6 Party beweer dat die “Ou Testament” vir Jode is en die “Nuwe Testament” vir Christene. Maar volgens 2 Timoteus 3:16 ‘is die hele Skrif deur God geïnspireer en nuttig’. Daarom moet ’n behoorlike studie van die Skrif die hele Bybel insluit. Die twee dele van die Bybel vul mekaar in werklikheid aan en vorm ’n harmoniese geheel wat ’n algemene tema ontwikkel.

7. Wat is die tema van die Bybel?

7 Miskien het jy jare lank kerk toe gegaan en geluister na gedeeltes van die Bybel wat voorgelees is. Of jy het dalk self gedeeltes daaruit gelees. Het jy geweet dat die Bybel een tema van Genesis tot Openbaring het? Ja, ’n harmoniese tema word dwarsdeur die Bybel aangetref. Wat is daardie tema? Dit is die regverdiging van God se reg om oor die mensdom te heers en die verwesenliking van sy liefdevolle voorneme deur middel van sy Koninkryk. Ons sal later sien presies hoe God hierdie voorneme gaan vervul.

8. Wat openbaar die Bybel omtrent God se persoonlikheid?

8 Behalwe dat die Bybel God se voorneme uiteensit, openbaar dit ook sy persoonlikheid. Ons leer byvoorbeeld uit die Bybel dat God gevoelens het en dat die keuses wat ons maak vir hom van belang is (Psalm 78:40, 41; Spreuke 27:11; Esegiël 33:11). Psalm 103:8-14 sê dat God ‘barmhartig en genadig, lankmoedig en groot van goedertierenheid’ is. Hy behandel ons met medelye, ‘gedagtig dat ons maar net van stof gemaak is’ en by die dood weer daarna terugkeer (Genesis 2:7; 3:19). Watter wonderlike eienskappe openbaar hy tog! Is dit nie die soort God wat jy wil aanbid nie?

9. Hoe gee die Bybel ons ’n duidelike beeld van God se standaarde, en hoe kan ons by sulke kennis baat vind?

9 Die Bybel gee ons ’n duidelike beeld van God se standaarde. Hulle word soms as wette gegee. Maar hulle word meer dikwels in beginsels weerspieël wat deur middel van praktiese voorbeelde aan ons oorgedra word. God het sekere gebeure in die geskiedenis van eertydse Israel ter wille van ons laat opteken. Hierdie openhartige verslae toon wat gebeur wanneer mense in harmonie met God se voorneme optree, asook die droewige gevolge wanneer hulle hulle eie kop volg (1 Konings 5:4; 11:4-6; 2 Kronieke 15:8-15). Wanneer ons sulke ware verhale lees, sal dit ongetwyfeld ons hart raak. Deur die opgetekende gebeure te probeer visualiseer, kan ons ons vereenselwig met die mense wat daarby betrokke was. Ons kan dus by die goeie voorbeelde baat vind en die strikke vermy waarin oortreders gevang is. Maar hierdie uiters belangrike vraag verg ’n antwoord: Hoe kan ons daarvan seker wees dat wat ons in die Bybel lees werklik deur God geïnspireer is?

KAN JY DIE BYBEL VERTROU?

10. (a) Waarom meen party dat die Bybel verouderd is? (b) Wat sê 2 Timoteus 3:16, 17 vir ons van die Bybel?

10 Miskien het jy al opgemerk dat baie boeke wat raad gee sommer binne ’n paar jaar verouderd raak. Wat van die Bybel? Dit is baie oud, en byna 2 000 jaar het verloop sedert die laaste woorde daarvan neergeskryf is. Party meen derhalwe dat dit nie op ons moderne eeu van toepassing is nie. Maar as die Bybel deur God geïnspireer is, sal die raad daarin altyd toepaslik wees ondanks die feit dat dit so oud is. Die Skrif sal steeds “nuttig [wees] om te onderrig, om tereg te wys, om dinge reg te stel, om in regverdigheid te dissiplineer, sodat die mens van God volkome bevoeg kan wees, ten volle toegerus vir elke goeie werk”.—2 Timoteus 3:16, 17.

11-13. Waarom kan ons sê dat die Bybel vir ons dag prakties is?

11 ’n Nadere ondersoek openbaar dat Bybelbeginsels vandag nog net soveel van toepassing is as toe dit opgeteken is. Wat die mensenatuur betref, weerspieël die Bybel byvoorbeeld ’n skerp insig wat op elke geslag van die mensdom van toepassing is. Ons kan dit duidelik sien in Jesus se Bergpredikasie, wat in die boek Matteus, hoofstukke 5 tot 7, gevind word. Hierdie preek het die afgestorwe Indiese leier Mohandas K. Gandhi so beïndruk dat hy volgens berig vir ’n Britse amptenaar gesê het: “Wanneer u land en myne die leerstellings toepas wat deur Christus in hierdie Bergpredikasie gemeld is, sal ons nie alleen die probleme van óns lande nie maar ook dié van die hele wêreld opgelos het.”

12 Geen wonder dat mense beïndruk was deur Jesus se leerstellings nie! In die Bergpredikasie het hy vir ons die weg na ware geluk gewys. Hy het verduidelik hoe geskille besleg moet word. Jesus het riglyne gegee oor hoe om te bid. Hy het getoon wat die verstandigste gesindheid teenoor materiële behoeftes is en het die Gulde Reël vir goeie verhoudinge met ander gegee. Hoe om godsdiensbedrieërs uit te ken en hoe om ’n veilige toekoms te hê, was ook van die punte wat in hierdie preek gedek is.

13 In die Bergpredikasie en dwarsdeur die res van die Bybel sê dit duidelik vir ons wat om te doen en wat om te vermy om ons lot in die lewe te verbeter. Die Bybel se raad is so prakties dat ’n opvoedkundige gesê het: “Hoewel ek ’n hoërskoolraadgewer met ’n baccalaureus- en meestersgraad is en talle boeke oor geestesgesondheid en sielkunde gelees het, het ek ontdek dat die Bybel se raad oor onderwerpe soos ’n gelukkige huwelik, die voorkoming van jeugmisdaad en hoe om vriende te maak en te hou ver verhewe is bo enigiets wat ek al gelees of op universiteit be–studeer het.” Die Bybel is nie net prakties en toepaslik nie, dit is ook betroubaar.

AKKURAAT EN BETROUBAAR

14. Wat toon dat die Bybel op wetenskaplike gebied akkuraat is?

14 Hoewel die Bybel nie ’n wetenskaphandboek is nie, is dit op wetenskaplike gebied akkuraat. Toe die meeste mense byvoorbeeld geglo het dat die aarde plat is, het die profeet Jesaja daarna verwys as ’n “kring” (Hebreeus, choegh, wat hier die gedagte van “bol” bevat) (Jesaja 40:22). Die idee van ’n bolvormige aarde is eers duisende jare ná Jesaja se dag algemeen aanvaar. Daarbenewens sê Job 26:7—wat meer as 3 000 jaar gelede geskryf is—dat God “die aarde ophang oor ’n niks”. ’n Bybelgeleerde sê: “Hoe Job die waarheid geweet het, wat deur die sterrekunde bewys is, naamlik dat die aarde sonder enige stut in die leë ruimte hang, is ’n vraag wat nie maklik beantwoord kan word deur diegene wat die inspirasie van die Heilige Skrif loën nie.”

15. Hoe word vertroue in die Bybel versterk deur sy styl van beriggewing?

15 Die styl van beriggewing in die Bybel versterk ook ons vertroue in hierdie eeue oue boek. In teenstelling met mites, word die gebeure wat in die Bybel gedek word met spesifieke mense en datums verbind (1 Konings 14:25; Jesaja 36:1; Lukas 3:1, 2). En terwyl geskiedskrywers van die ou tyd feitlik altyd die oorwinnings van hulle heersers oordryf het en hulle nederlae en foute verberg het, was die Bybelskrywers openhartig en eerlik—selfs oor hulle eie ernstige sondes.—Numeri 20:7-13; 2 Samuel 12:7-14; 24:10.

’N BOEK VAN PROFESIEË

16. Wat is die kragtigste bewys dat die Bybel deur God geïnspireer is?

16 Vervulde profesieë lewer oortuigende bewys dat die Bybel deur God geïnspireer is. Die Bybel bevat baie profesieë wat tot in die besonderhede vervul is. Dit is duidelik dat blote mense nie hiervoor verantwoordelik kan wees nie. Wat is dan die bron van hierdie profesieë? Die Bybel self sê dat ‘profesie nooit deur die wil van ’n mens voortgebring is nie, maar dat mense uit God gespreek het namate hulle meegevoer is deur heilige gees’, of God se werkende krag (2 Petrus 1:21). Beskou enkele voorbeelde.

17. Watter profesieë het die val van Babilon voorspel, en hoe is hulle vervul?

17 Die val van Babilon. Jesaja sowel as Jeremia het voorspel dat die Meders en die Perse Babilon tot ’n val sou bring. Dit is opmerkenswaardig dat Jesaja se profesie oor hierdie gebeurtenis opgeteken is sowat 200 jaar voor Babilon verower is! Die volgende aspekte van die profesieë is nou deel van die geskiedkundige verslag: die feit dat die Eufraatrivier drooggeloop het deurdat sy water na ’n kunsmatige meer weggekeer is (Jesaja 44:27; Jeremia 50:38); ’n nalatige gebrek aan sekuriteit by Babilon se rivierpoorte (Jesaja 45:1) en die verowering deur ’n heerser met die naam Kores.—Jesaja 44:28.

18. Hoe het die opkoms en ondergang van “die koning van Griekeland” ’n Bybelprofesie vervul?

18 Die opkoms en ondergang van “die koning van Griekeland”. Daniël het in ’n gesig gesien hoe ’n bokram ’n ram neerstoot en sy twee horings breek. Toe is die bok se groot horing afgebreek en het vier horings in die plek daarvan uitgekom (Daniël 8:1-8). Aan Daniël is verduidelik: “Die ram wat jy gesien het met die twee horings, is die konings van die Meders en die Perse. En die harige bok is die koning van Griekeland; en die groot horing wat tussen sy oë was, dit is die eerste koning. En dat dit gebreek is en vier in sy plek ontstaan het—vier koninkryke sal uit sy volk ontstaan, maar nie met sy krag nie” (Daniël 8:20-22). In ooreenstemming met hierdie profesie het “die koning van Griekeland”, Aleksander die Grote, ongeveer twee eeue later die Medo-Persiese tweehoring-ryk omvergewerp. Aleksander het in 323 v.G.J. gesterf en is uiteindelik deur vier van sy generaals vervang. Maar nie een van hierdie koninkryke was so magtig soos Aleksander se ryk nie.

19. Watter profesieë is in Jesus Christus vervul?

19 Die lewe van Jesus Christus. Die Hebreeuse Geskrifte bevat tientalle profesieë wat in die geboorte, bediening, dood en opstanding van Jesus vervul is. Byvoorbeeld, Miga het meer as 700 jaar vooruit voorspel dat die Messias, of Christus, in Betlehem gebore sou word (Miga 5:1; Lukas 2:4-7). Jesaja, ’n tydgenoot van Miga, het voorspel dat die Messias geslaan en bespoeg sou word (Jesaja 50:6; Matteus 26:67). Sagaria het 500 jaar vooruit geprofeteer dat die Messias vir 30 silwerstukke verraai sou word (Sagaria 11:12; Matteus 26:15). Dawid het meer as duisend jaar vooruit omstandighede met betrekking tot die dood van Jesus die Messias voorspel (Psalm 22:8, 9, 19; Matteus 27:35, 39-43). En Daniël se profesie het ongeveer vyf eeue voor die tyd geopenbaar wanneer die Messias sou verskyn, asook hoe lank sy bediening sou duur en wanneer hy sou sterf (Daniël 9:24-27). Dit is net ’n paar van die profesieë wat in Jesus Christus vervul is. Jy sal dit lonend vind om later baie meer oor hom te lees.

20. Watter vertroue behoort al die Bybel se profesieë wat so akkuraat vervul is ons te gee?

20 Baie ander Bybelprofesieë wat lank vooruit gegee is, is vervul. ‘Maar hoe raak dit my lewe?’ vra jy dalk. Wel, as iemand baie jare lank vir jou die waarheid vertel het, sou jy skielik aan hom twyfel as hy iets nuuts sê? Nee! God het dwarsdeur die Bybel die waarheid gepraat. Moet dít nie jou vertroue opbou in wat die Bybel beloof nie, soos die profesieë daarin oor ’n komende aardse paradys? Ja, ons kan dieselfde vertroue hê as Paulus, een van Jesus se eerste-eeuse dissipels, wat geskryf het dat ‘God nie kan lieg nie’ (Titus 1:2). Wat meer is, wanneer ons die Skrif lees en die raad daarin toepas, lê ons wysheid aan die dag wat mense nie op hulle eie kan bekom nie, want die Bybel is die boek wat die kennis van God openbaar wat tot die ewige lewe lei.

‘ONTWIKKEL ’N VERLANGE’ NA DIE KENNIS VAN GOD

21. Wat moet jy doen as party dinge wat jy in die Bybel leer oorweldigend lyk?

21 Terwyl jy die Bybel bestudeer, sal jy waarskynlik dinge leer wat verskil van wat jy in die verlede geleer is. Jy sal dalk selfs vind dat party van jou geliefkoosde godsdiensgebruike God nie behaag nie. Jy sal leer dat God standaarde het van wat reg en verkeerd is wat hoër is as dié wat algemeen in hierdie permissiewe wêreld is. Dit kan aanvanklik oorweldigend lyk. Maar wees geduldig! Ondersoek die Skrif noukeurig om die kennis van God te vind. Wees voorbereid op die moontlikheid dat die Bybel se raad ’n verandering in jou denke en dade kan verg.

22. Waarom bestudeer jy die Bybel, en hoe kan jy ander help om dit te verstaan?

22 Welmenende vriende en familielede staan dalk jou stu–die van die Bybel teë, maar Jesus het gesê: “Elkeen dan wat voor die mense eenheid met my bely, met hom sal ek ook eenheid bely voor my Vader wat in die hemele is; maar elkeen wat my voor die mense verloën, hom sal ek ook verloën voor my Vader wat in die hemele is” (Matteus 10:32, 33). Party vrees moontlik dat jy by ’n kultus betrokke sal raak of ’n fanatikus sal word. Maar in werklikheid streef jy bloot daarna om juiste kennis van God en van sy waarheid te verkry (1 Timoteus 2:3, 4). Om ander dit te help verstaan, moet jy, wanneer jy met hulle praat oor wat jy leer, redelik wees, nie stryerig nie (Filippense 4:5). Onthou dat baie ‘sonder ’n woord gewen word’ wanneer hulle bewys sien dat Bybelkennis mense werklik tot voordeel strek.—1 Petrus 3:1, 2.

23. Hoe kan jy ‘’n verlange ontwikkel’ na die kennis van God?

23 Die Bybel spoor ons aan: “Ontwikkel soos pasgebore kindertjies ’n verlange na die onvervalste melk wat tot die woord behoort” (1 Petrus 2:2). ’n Klein kindjie is afhanklik van die voeding wat hy by sy moeder kry en dring daarop aan dat hierdie behoefte bevredig word. Ons is eweneens afhanklik van kennis wat van God kom. ‘Ontwikkel ’n verlange’ na sy Woord deur vol te hou met jou studie. Ja, stel jou dit ten doel om die Bybel elke dag te lees (Psalm 1:1-3). Dit sal vir jou ryk seëninge meebring, want Psalm 19:12 sê van God se wette: “In die onderhouding daarvan is groot loon.”

[Voetnote]

a v.G.J. beteken “voor die Gewone Jaartelling”, wat akkurater is as v.C. (“voor Christus”). G.J. staan vir “Gewone Jaartelling”, wat dikwels aangegee word as AD, vir anno Domini, of as n.C., wat vir “na Christus” staan.

TOETS JOU KENNIS

In watter opsigte verskil die Bybel van enige ander boek?

Waarom kan jy die Bybel vertrou?

Wat bewys vir jou dat die Bybel God se geïnspireerde Woord is?

[Venster op bladsy 14]

GEBRUIK JOU BYBEL GOED

Dit hoef nie moeilik te wees om met die Bybel vertroud te raak nie. Gebruik sy inhoudsopgawe om die volgorde en plek van Bybelboeke te leer ken.

Die boeke van die Bybel het hoofstukke en verse om die gebruik daarvan te vergemaklik. Die hoofstukverdelings is gedurende die 13de eeu bygevoeg, en ’n 16de-eeuse Franse drukker het blykbaar die Griekse Geskrifte in die verse van vandag verdeel. Die eerste volledige Bybel wat hoofstuk- sowel as versnommers gehad het, was ’n Franse uitgawe wat in 1553 uitgegee is.

Wanneer tekste in hierdie boek aangehaal word, dui die eerste syfer die hoofstuk aan en die volgende die vers. Die verwysing “Spreuke 2:5” beteken byvoorbeeld die boek Spreuke, hoofstuk 2, vers 5. Deur die teksverwysings na te slaan, sal jy gou leer om Bybeltekste te vind.

Die beste manier om met die Bybel vertroud te raak, is om dit elke dag te lees. In die begin sal dit moontlik vir jou ’n uitdaging wees. Maar as jy van drie tot vyf hoofstukke per dag lees, na gelang van hoe lank hulle is, sal jy die hele Bybel in ’n jaar deurlees. Waarom begin jy nie sommer vandag nie?

[Venster op bladsy 19]

DIE BYBEL—’N UNIEKE BOEK

• Die Bybel is “deur God geïnspireer” (2 Timoteus 3:16). Hoewel mense die woorde neergeskryf het, het God hulle gedagtes gerig, sodat die Bybel werklik “die woord van God” is.—1 Tessalonisense 2:13.

• Die Bybel is oor ’n tydperk van 16 eeue geskryf, deur nagenoeg 40 bydraers uit verskillende agtergronde. Nietemin is die eindproduk van die begin tot die einde harmonies.

• Die Bybel het ’n hewiger stryd as enige ander boek oorleef. Mense het gedurende die Middeleeue op die brandstapel gesterf bloot omdat hulle ’n eksemplaar van die Skrif besit het.

• Die Bybel is die grootste trefferboek in die wêreld. Dit is heeltemal of gedeeltelik in meer as 2 000 tale vertaal. Miljarde eksemplare is al gedruk, en daar is nouliks ’n plek op aarde waar ’n mens nie een kan kry nie.

• Die oudste deel van die Bybel dateer uit die 16de eeu v.G.J. Dit is voor die verskyning van die Hindoeïstiese Rig-Veda (omstreeks 1300 v.G.J.) of die Boeddhistiese “Kanon van die Drie Korwe” (vyfde eeu v.G.J.) of die Islamitiese Koran (sewende eeu G.J.) sowel as die Sjintoïstiese Nihongi (720 G.J.).

[Volbladillustrasie op bladsy 20]

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel