Wees ’n voorbeeld in woord en in gedrag
1 Die apostel Paulus het Timoteus gemaan om ’n voorbeeld te wees in woord en in gedrag (1 Tim. 4:12). Ons moet ook voorbeeldig wees wat ons spraak en gedrag betref, veral wanneer ons aan die bediening deelneem, want dit sal bepaal of ons die hart bereik van diegene wat ons ontmoet of nie.
2 Ons moet alle aspekte van goeie maniere openbaar, onder andere hoflikheid, bedagsaamheid, goedhartigheid, beleefdheid en takt. Deur hierdie eienskappe te weerspieël, toon ons dat ons bewus is van hoe ons optrede ander se gevoelens raak. Goeie maniere in die bediening kan vergelyk word met smaakmiddels wat gebruik word om die geur van voedsel te verbeter. Daarsonder kan heilsame voedsel smaakloos en oninteressant wees. As ons nie goeie maniere in ons handelinge met ander aan die dag lê nie, kan dit ’n soortgelyke uitwerking hê.—Kol. 4:6.
3 Wees ’n voorbeeld in woord: ’n Vriendelike glimlag en ’n hartlike groet is noodsaaklike elemente van ons aanbieding van die goeie nuus. As ons ons inleiding met hartlikheid en opregtheid geur, toon ons vir die huisbewoner dat ons opreg in hom belangstel. Wanneer hy praat, moet ons aandagtig luister en die nodige respek vir sy mening toon. Wanneer ons praat, moet ons taktvol en goedgunstig wees.—Vergelyk Handelinge 6:8.
4 Nou en dan ontmoet ons iemand wat dalk onvriendelik, selfs aggressief, is. Hoe moet ons daarop reageer? Petrus het ons aangemoedig om op ’n manier te praat wat “saggeaardheid en diep respek” openbaar (1 Pet. 3:15; Rom. 12:17, 18). Jesus het gesê dat ons eenvoudig die ‘stof van ons voete moet afskud’ as ’n huisbewoner die Koninkryksboodskap op onbeskofte wyse verwerp (Matt. 10:14). As ons onder sulke omstandighede voorbeeldig is wat ons maniere betref, kan ons uiteindelik die teenstander se hart versag.
5 Wees ’n voorbeeld in gedrag: Wanneer ons die goeie nuus op besige strate en in openbare plekke verkondig, vereis dit dat ons bedagsaam moet wees, nooit luidrugtig of opdringerig nie, en dat ons nie in die pad van verbygangers sal wees nie. Wanneer ons in belangstellendes se huis is, moet ons goeie maniere handhaaf, ons soos waardige gaste gedra en waardering toon vir hulle gasvryheid. Enige kinders wat ons vergesel, moet respek vir die huisbewoner en sy eiendom toon en moet goed gemanierd wees en aandag skenk wanneer ons ’n gesprek voer. As kinders lastig is, sal dit ’n ongunstige indruk laat.—Spr. 29:15.
6 Ons voorkoms moet dit duidelik maak dat ons bedienaars van God se Woord is. Wat ons kleredrag en persoonsversorging betref, moet ons nie slordig en onversorg wees nie en ook nie oordadig en uitspattig nie. Ons voorkoms moet altyd die goeie nuus waardig wees. (Vergelyk Filippense 1:27.) Deur noulettend aandag te skenk aan ons voorkoms en toerusting sal ons nie ander rede tot struikeling gee of dat hulle met ons bediening fout vind nie (2 Kor. 6:3, 4). As ons voorbeeldig is wat woord en gedrag betref, maak dit die Koninkryksboodskap aantrekliker, tot eer van Jehovah.—1 Pet. 2:12.