Hoofstuk 20
Verenigde bouwerk op wêreldskaal
DIE gevoel van ware broederskap onder Jehovah se Getuies word op baie maniere geopenbaar. Diegene wat hulle vergaderinge bywoon, sien die bewyse daarvan. By hulle byeenkomste word dit op groter skaal geopenbaar. Dit is ook duidelik waarneembaar wanneer hulle saamwerk om gepaste vergaderplekke vir hulle gemeentes te voorsien.
Aan die begin van die dekade van die negentigerjare was daar wêreldwyd meer as 60 000 gemeentes van Jehovah se Getuies. Gedurende die voorafgaande dekade is daar jaarliks gemiddeld 1 759 nuwe gemeentes gestig. Teen die vroeë negentigerjare het daardie syfer tot meer as 3 000 per jaar gestyg. Dit was ’n enorme taak om gepaste plekke te voorsien waar hulle almal kon vergader.
Koninkryksale
Soos in die geval van die eerste-eeuse Christene het baie gemeentes van Jehovah se Getuies aanvanklik privaat wonings vir die meeste van hulle vergaderinge gebruik. Die eerste groepie wat gereeld in Stockholm, Swede, vergaderinge gehou het, het ’n timmermanswinkel gebruik, wat hulle gehuur het sodat hulle ná die dag se werk in die werkswinkel kon vergader. Weens vervolging het ’n groepie in die provinsie La Coruña, Spanje, hulle eerste vergaderinge in ’n klein voorraadskuur, of graanskuur, gehou.
Toe hulle meer ruimte nodig gehad het, het die gemeentes van Jehovah se Getuies in lande waar hulle vryheid gehad het ’n vergaderplek gehuur. Maar as hierdie saal ook deur ander organisasies gebruik is, moes daar met elke vergadering toerusting aangery of opgestel word, en dikwels het die reuk van tabakrook nog in die lug gehang. Waar moontlik het die broers ’n ongebruikte winkel of bokamer gehuur wat net deur die gemeente gebruik is. Maar op baie plekke het die hoë huur en die onverkrygbaarheid van geskikte vergaderplekke dit mettertyd nodig gemaak om ander reëlings te tref. In sommige gevalle is geboue gekoop en opgeknap.
Voor die Tweede Wêreldoorlog het ’n paar gemeentes vergaderplekke gebou wat spesifiek vir eie gebruik ontwerp is. In 1890 al het ’n groep Bybelstudente in Mount Lookout, Wes-Virginië, in die Verenigde State, hulle eie vergaderplek gebou.a Maar dit was eers in die 1950’s dat die bou van Koninkryksale ’n algemene verskynsel geword het.
In 1935 het J. F. Rutherford, wat destyds die president van die Wagtoringgenootskap was, die naam Koninkryksaal voorgestel. Hy het as ’n uitbreiding van die Genootskap se takkantoor in Honolulu, Hawaii, gereël dat die broers ’n saal bou waar hulle vergaderinge kon hou. Toe James Harrub gevra het wat broer Rutherford die gebou gaan noem, het hy geantwoord: “Dink jy nie ons moet dit ‘Koninkryksaal’ noem nie, want dit is mos wat ons doen—ons verkondig die goeie nuus van die Koninkryk?” Van toe af is al hoe meer sale wat gereeld deur die Getuies gebruik is waar moontlik deur borde geïdentifiseer waarop die naam “Koninkryksaal” verskyn het. Toe die London Tabernacle in 1937-38 opgeknap is, is dit dus tot Koninkryksaal hernoem. Mettertyd het die plaaslike primêre vergaderplek van gemeentes dwarsdeur die wêreld as die Koninkryksaal van Jehovah se Getuies begin bekend staan.
Meer as een manier om dit te doen
Die besluit of ’n Koninkryksaal gehuur of gebou moet word, word deur die afsonderlike gemeentes geneem. Hulle dra ook self die koste van enige bou- of instandhoudingswerk. Om geld te bespaar, probeer die oorgrote meerderheid gemeentes om soveel bouwerk as moontlik sonder die hulp van kommersiële kontrakteurs te doen.
Die sale word, na gelang van die koste asook die boumateriaal wat in die gebied beskikbaar is, van baksteen, klip, hout of ander materiaal gebou. In Katima Mulilo, Namibië, is lang gras vir die dak gebruik en die modder van miershope (wat baie hard word) vir die mure en vloer. Die Getuies in Segovia, Colombia, het hulle eie sementboublokke gemaak. In Colfax, Kalifornië, het hulle ongekapte lawa van die berg Lassen gebruik.
Omdat die vergaderinge in Maseru, Lesotho, in 1972 dikwels deur oor die 200 bygewoon is, het die gemeente besef dat hulle ’n geskikte Koninkryksaal moet bou. Almal het met die projek gehelp. Bejaarde broers het tot 32 kilometer ver geloop om te kon help. Kinders het dromme water na die bouterrein aangerol. Die susters het maaltye voorsien. Hulle het ook die grond met hulle voete vasgestamp om dit hard te maak sodat die sementvloerblad gegiet kon word, terwyl hulle heeltyd Koninkryksliedere gesing en hulle voete op die maat van die musiek gestamp het. Sandsteen, wat hulle verniet in die nabygeleë berge kon kry as hulle dit self gaan haal het, is vir die mure gebruik. Die resultaat was ’n Koninkryksaal wat sitplek vir ongeveer 250 het.
Die Getuies van nabygeleë gemeentes het soms met die bouwerk gehelp. Toe Jehovah se Getuies byvoorbeeld in 1985 in Imbali, ’n swart woongebied in Suid-Afrika, ’n saal gebou het wat met gemak 400 sou kon vat, het mede-Getuies uit die nabygeleë Pietermaritzburg en Durban kom help. Kan jy jou voorstel hoe verbaas die bure was toe hulle gesien het hoe talle wit, bruin en Indiërgetuies gedurende daardie dae van rassespanning in Suid-Afrika in die woongebied ingestroom en skouer aan skouer saam met hulle swart broers gewerk het? Soos die plaaslike burgemeester gesê het: “Dit kan slegs met liefde gedoen word.”
Ongeag hoe gewillig die broers was, die gemeentes het gevind dat plaaslike omstandighede hulle beperk in wat hulle kon doen. Mans in die gemeentes het gesinne gehad om te onderhou en kon dus gewoonlik net oor naweke en miskien ’n rukkie in die aande aan so ’n projek werk. In baie gemeentes was daar min, indien enige, wat bedrewe in konstruksiewerk was. Maar miskien is ’n betreklik eenvoudige, gedeeltelik oop struktuur wat gepas is vir tropiese gebiede in ’n paar dae of moontlik ’n paar weke opgerig. Met die hulp van Getuies in omliggende gemeentes kon sterker geboue in vyf of ses maande voltooi word. In ander gevalle het dit een of twee jaar geduur.
Toe hulle die sewentigerjare binnegegaan het, het Jehovah se Getuies as ’n wêreldwye organisasie egter met twee of drie gemeentes per dag toegeneem. Teen die vroeë negentigerjare het hulle met tot nege gemeentes per dag toegeneem. Kon daar in hulle dringende behoefte aan nuwe Koninkryksale voorsien word?
Die ontwikkeling van snelboutegnieke
Vroeg in die sewentigerjare in die Verenigde State het meer as 50 Getuies van nabygeleë gemeentes gaan help om ’n nuwe Koninkryksaal in Carterville, Missouri, te bou vir die groep wat tot op daardie tydstip in Webb City vergader het. Hulle het die hoofraamwerk in een naweek opgerig en heelwat werk aan die dak gedoen. Daar was nog baie wat gedoen moes word, en dit het maande geduur om die taak af te handel; maar ’n belangrike deel daarvan is in ’n baie kort tydjie voltooi.
Terwyl die broers gedurende die volgende dekade aan ongeveer 60 sale saamgewerk het, is hindernisse oorkom en doeltreffender metodes ontwikkel. Hulle het mettertyd besef dat hulle, as die werk aan die fondament klaar was, feitlik ’n hele Koninkryksaal in ’n enkele naweek sou kon voltooi.
Etlike gemeentelike opsieners—almal uit die Midde-Weste in die Verenigde State—het begin werk om daardie doel te verwesenlik. Wanneer gemeentes hulp met hulle Koninkryksaalbouwerk gevra het, het een of meer van hierdie broers die projek met hulle bespreek en besonderhede verskaf oor die voorbereiding wat plaaslik gedoen moes word voordat hulle die taak kon aanpak. Hulle moes onder andere eers boupermitte kry, die fondament en die sementvloerblad giet, die elektrisiteit laat aansluit, die ondergrondse loodgieterswerk klaarmaak en betroubare reëlings vir die aflewering van boumateriaal tref. Dan kon ’n datum vasgestel word waarop die Koninkryksaal self opgerig sou word. Dit sou nie ’n opslaangebou wees nie; die konstruksiewerk sou alles daar op die bouterrein gedoen word.
Wie sou die bouwerk doen? Dit is sover moontlik met die hulp van vrywillige, onbetaalde arbeiders gedoen. Hele gesinne het dikwels gehelp. Diegene wat die projek georganiseer het, het met Getuies in aanraking gekom wat ambagsmanne was en wat met hierdie projekte wou help. Baie van hulle het gretig na elke nuwe bouprojek uitgesien. Ander Getuies wat van die projekte te hore gekom het, wou ook help; honderde uit die omtrek—en van plekke verder daarvandaan—het na die bouterreine gestroom, gretig om watter werk ook al te doen. Die meeste van hulle was nie beroepsbouers nie, maar hulle het beslis getoon dat die beskrywing van diegene wat Jehovah se Messiaanse Koning sou ondersteun, soos uiteengesit in Psalm 110:3, hulle pas, want daardie vers sê: “U volk sal baie gewillig wees.”
Die Donderdagaand voor die groot werk begin het, het diegene wat toesig oor die projek gehad het, bymekaargekom om die laaste reëlings te tref. Die volgende aand is die werkers skyfies oor die prosedure gewys sodat hulle kon verstaan hoe die werk gedoen sou word. Die belangrikheid van godvrugtige eienskappe is beklemtoon. Die broers is aangemoedig om in liefde saam te werk en om vriendelik, geduldig en bedagsaam te wees. Almal is aangemoedig om teen ’n konstante pas te werk, maar nie te jaag en nie te huiwer om ’n paar minute te neem om iemand ’n opbouende ondervinding te vertel nie. Vroeg die volgende oggend het die bouwerk begin.
Op ’n vasgestelde tyd vroeg die Saterdagoggend het almal hulle werk ’n rukkie laat staan om na ’n bespreking van die dagteks te luister. Dan is ’n gebed gedoen, want almal het goed besef dat die welslae van die hele onderneming van Jehovah se seën afhang.—Ps. 127:1.
Wanneer die werk begin het, het dit sommer gou gegaan. Die mure se raamwerk is binne ’n uur opgerig. Dan is daar met die dakkappe begin. Die muurpanele is vasgespyker. Die elektrisiëns het met die bedrading begin. Die lugversorging- en verhittingstelsel is geïnstalleer. Kaste is gebou en ingesit. Soms het dit die hele naweek gereën of het dit bitter koud of uitermatig warm geword, maar die werk het voortgegaan. Daar was geen wedywering, geen mededinging onder die ambagsmanne nie.
Die Koninkryksaal was dikwels voor sononder van die tweede dag klaar—mooi versier van binne en moontlik met ’n uitgelegde tuin. Wanneer dit praktieser was, is daar gereël om die werk oor drie dae te doen, of miskien oor twee naweke. Aan die einde van die projek het baie van die werkers agtergebly, moeg maar baie gelukkig, om die eerste gereelde gemeentelike vergadering, ’n studie van Die Wagtoring, by te woon.
Verskeie mense in Guymon, Oklahoma, VSA, het getwyfel dat werk wat so vinnig gedoen word van hoë gehalte kan wees en het die stadsinspekteur gebel. “Ek het vir hulle gesê as hulle iets wou sien wat reg gedoen is, hulle die saal behoort te besoek!” het die inspekteur gesê toe hy later vir die Getuies hiervan vertel het. “Julle mense doen selfs dinge wat verberg is en nie gesien gaan word nie reg!”
Namate die behoefte aan Koninkryksale toegeneem het, het die broers wat baie van die snelboumetodes ontwikkel het ander opgelei. Broers in ander lande het daarvan te hore gekom. Kon sulke boumetodes ook daar gebruik word?
Snelboumetodes internasionaal gebruik
Die oprigting van Koninkryksale in Kanada het hoegenaamd nie tred gehou met die gemeentes se behoeftes nie. Die Getuies in Kanada het diegene wat snelbouprojekte in die Verenigde State gereël het, genooi om hulle werkwyse aan hulle te kom verduidelik. Aanvanklik was die Kanadese taamlik skepties dat dit in Kanada gedoen kon word, maar hulle het besluit om te probeer. Die eerste Koninkryksaal in Kanada wat volgens hierdie metode opgerig is, is in 1982 in Elmira, Ontario, gebou. Teen 1992 was daar 306 Koninkryksale in Kanada wat so gebou is.
Die Getuies in Northampton, Engeland, het gemeen dat hulle dit ook kan doen. Hulle projek, in 1983, was die eerste in Europa. Broers met ondervinding in hierdie soort bouwerk het van die Verenigde State en Kanada af gereis om oor die projek toesig te hou en om plaaslike Getuies te leer hoe dit gedoen word. Daar was ander vrywilligers wat selfs uit Japan, Indië, Frankryk en Duitsland gekom het. Hulle het as vrywilligers gekom, nie vir betaling nie. Hoe was dit alles moontlik? Die opsiener van ’n span Ierse Getuies wat by so ’n projek gewerk het, het gesê: ‘Dit is suksesvol omdat al die broers en susters saamwerk onder die invloed van Jehovah se gees.’
Selfs wanneer plaaslike bouregulasies sulke projekte onmoontlik laat lyk, het die Getuies gevind dat die stadsamptenare dikwels graag hulle samewerking gee as die besonderhede vir hulle uiteengesit word.
Ná ’n snelbouprojek in Noorweë, noord van die Noordpoolsirkel, het die koerant Finnmarken gesê: “Absoluut fantasties. Dit is die enigste woorde wat ons kan vind om te beskryf wat Jehovah se Getuies verlede naweek gedoen het.” Toe Getuies op Nieu-Seeland se Noord-eiland ’n mooi Koninkryksaal in twee en ’n half dae gebou het, het die hoofopskrif op die voorblad van die plaaslike koerant eweneens gesê: “Projek byna ’n wonderwerk.” Die artikel het bygevoeg: “Die organisering agter die projek en die algehele stilte waarin dit geskied het, was seker die verstommendste aspek daarvan.”
Afgeleënheid van die plek waar die Koninkryksaal nodig is, is nie ’n onoorkomelike probleem nie. In Belize is ’n snelbouprojek voltooi, al moes elke stukkie boumateriaal na ’n eiland vervoer word wat 60 kilometer van die stad Belize af geleë is. Toe ’n Koninkryksaal met lugversorging in een naweek in Port Hedland, Wes-Australië, opgerig is, is dit gedoen met boumateriaal en werkkragte wat feitlik sonder uitsondering van 1 600 kilometer of verder daarvandaan gekom het. Die werkers het hulle eie reiskoste betaal. Die meeste van dié wat ’n aandeel in die projek gehad het, het die Getuies in die Port Hedland-gemeente nie persoonlik geken nie, en baie min van hulle sou ooit daar vergaderinge bywoon. Maar dit het hulle nie gekeer om hulle liefde op hierdie manier te toon nie.
Selfs as daar min Getuies op ’n sekere plek was, het dit nie verhinder dat sulke boumetodes vir die oprigting van sale gebruik is nie. Sowat 800 Getuies van Trinidad het in 1985 aangebied om na Tobago te reis om hulle 84 Christenbroers en -susters op daardie eiland te help om ’n saal in Scarborough te bou. Die 17 Getuies (waarvan die meeste vroue en kinders was) in Goose Bay, Labrador, het beslis hulp nodig gehad as hulle ooit hulle eie Koninkryksaal wou hê. In 1985 het Getuies uit ander dele van Kanada drie vliegtuie gehuur om 450 van hulle na Goose Bay te neem sodat hulle die saal kon bou. Ná twee dae van harde werk het hulle die Sondagaand ’n toewydingsprogram in die voltooide saal gehou.
Dit beteken nie dat alle Koninkryksale nou deur middel van snelboumetodes gebou word nie, maar al hoe meer word wel.
Streekboukomitees
Teen die middel van 1986 het die vraag na Koninkryksale al hoe skerper begin styg. Gedurende die vorige jaar is daar wêreldwyd 2 461 nuwe gemeentes gestig; 207 daarvan in die Verenigde State. Sommige Koninkryksale is deur drie, vier of selfs vyf gemeentes gebruik. Soos die Skrif voorspel het, was Jehovah waarlik besig om die insamelingswerk te versnel.—Jes. 60:22.
Om te verseker dat werkkragte op die bes moontlike manier gebruik word en om alle Koninkryksaalbouwerkers in staat te stel om baat te vind by die ondervinding wat al opgedoen is, het die Genootskap hulle bedrywighede begin koördineer. Om mee te begin, is die Verenigde State in 1987 in 60 streke, elk met ’n Streekboukomitee, verdeel. Al die komitees het sommer baie gehad om te doen; party van hulle het spoedig genoeg projekte gehad om hulle ’n jaar of langer besig te hou. Diegene wat aangestel is om op hierdie komitees te dien, was manne wat allereers aan geestelike vereistes voldoen het, ouere manne in die gemeentes, voorbeeldig in die beoefening van die vrug van God se gees (Gal. 5:22). Baie van hulle het ook ondervinding in die koop en verkoop van vaste eiendom, die ingenieurswese, bouwerk, bedryfsleiding, veiligheid en op verwante gebiede gehad.
Gemeentes is aangemoedig om die Streekboukomitee te raadpleeg voordat hulle ’n perseel vir ’n nuwe Koninkryksaal kies. Waar daar meer as een gemeente in ’n stad was, is hulle ook aangespoor om die kringopsiener(s), die stadopsiener en ouere manne van nabygeleë gemeentes te raadpleeg. Gemeentes wat grootskaalse opknapping of die bou van ’n nuwe Koninkryksaal beplan het, is meegedeel dat hulle kan baat vind by die ondervinding van die broers van die Streekboukomitee en by die riglyne wat die Genootskap aan hulle voorsien het. Daardie komitee sou die reëlings koördineer om die nodige bedrewe werkers bymekaar te kry uit ’n groep broers en susters wat sowat 65 ambagte verteenwoordig het en reeds aangebied het om by sulke projekte te help.
Namate werkmetodes verfyn is, was dit moontlik om die aantal werkers vir elke projek te sny. Pleks van duisende wat gekyk het of wou help op die bouterrein te hê, was daar selde op enige tydstip meer as 200 op die terrein. Pleks van die hele naweek daar deur te bring, was die werkers net daar wanneer hulle spesifieke vaardighede nodig was. Gevolglik het hulle meer tyd wat hulle saam met hulle gesin kon deurbring en vir bedrywighede in hulle tuisgemeente gehad. Wanneer plaaslike broers sekere soorte werk in ’n redelike tyd kon voltooi, was dit dikwels praktieser om die snelbougroep net te laat kom vir daardie aspekte van die werk waarvoor hulle dienste dringender nodig was.
Hoewel die hele projek verbasend vinnig verloop het, was dit nie die hoofsaak nie. Van selfs groter belang was die voorsiening van bouwerk van hoë gehalte om beskeie Koninkryksale op te rig wat ontwerp is om in plaaslike behoeftes te voorsien. Sorgvuldige beplanning was nodig om dit te kon doen en terselfdertyd uitgawes tot ’n minimum te beperk. Maatreëls is getref om te verseker dat veiligheid voorkeur geniet—die veiligheid van werkers, bure, verbygangers en diegene wat die Koninkryksaal in die toekoms sou gebruik.
Namate verslae oor hierdie Koninkryksaalboureëling ander lande bereik het, is die Genootskap se takkantore wat gemeen het dat dit in hulle gebied nuttig sal wees van die nodige besonderhede voorsien. Teen 1992 het Streekboukomitees wat deur die Genootskap aangestel is, gehelp met die bou van Koninkryksale in Argentinië, Australië, Brittanje, Duitsland, Frankryk, Japan, Kanada, Mexiko, Spanje en Suid-Afrika. Boumetodes is by die plaaslike omstandighede aangepas. Wanneer ’n ander tak se hulp vir Koninkryksaalbouwerk nodig was, is reëlings deur die Genootskap se hoofkwartierkantoor getref. In sommige wêrelddele is nuwe Koninkryksale binne ’n kwessie van dae opgerig; elders binne enkele weke of miskien ’n paar maande. Met sorgvuldige beplanning en gekoördineerde pogings is die tyd wat dit verg om ’n nuwe Koninkryksaal te bou beslis verminder.
Die boubedrywighede van Jehovah se Getuies is nie net tot Koninkryksale beperk nie. Hulle het groter fasiliteite nodig wanneer groepe gemeentes vir jaarlikse kringbyeenkomste en spesiale byeenkomsdae bymekaarkom.
Byeenkomssale
Deur die jare heen is daar talle soorte fasiliteite vir kringbyeenkomste gebruik. Jehovah se Getuies het al plekke soos stadsale, skole, teaters, arsenale, sportterreine en kermisterreine gehuur. Op sommige plekke was daar baie goeie fasiliteite teen ’n redelike prys beskikbaar. Meestal het dit baie tyd en inspanning geverg om die plek skoon te maak, klanktoerusting op te stel, ’n verhoog te bou en stoele aan te ry. Soms is die huurkontrak ter elfder ure gekanselleer. Namate die aantal gemeentes toegeneem het, het dit al hoe moeiliker geraak om genoeg gepaste plekke te vind. Wat kon gedoen word?
Weer eens was die oplossing dat Jehovah se Getuies hulle eie plekke moes hê. Dit sou die opknapping en oprigting van gepaste geboue beteken. Die eerste van hierdie Byeenkomssale in die Verenigde State was ’n teater in Long Island City, New York, wat aan die einde van 1965 deur Jehovah se Getuies opgeknap en begin gebruik is.
Ongeveer dieselfde tyd het Getuies op die Karibiese eiland Guadeloupe ’n Byeenkomssaal ontwerp wat in hulle behoeftes sou voorsien. Hulle het gemeen dat dit voordelig sou wees om hulle kringbyeenkomste op talle verskillende plekke te hou. Maar die meeste dorpe se fasiliteite was nie groot genoeg nie. Die Getuies het dus ’n draagbare struktuur van staalpype en aluminiumdakplate gemaak wat groot genoeg was vir 700 mense en opgerig kon word waar daar ook al ’n taamlik gelyk stuk grond beskikbaar was. Hulle moes die saal etlike kere vergroot, totdat dit uiteindelik sitplek vir 5 000 gehad het. Stel jou net voor wat ’n taak dit was om vir elke byeenkoms 30 ton materiaal te vervoer, op te rig en weer uitmekaar te haal! Daardie Byeenkomssaal is 13 jaar lank verskeie kere per jaar opgerig en uitmekaar gehaal, totdat dit moeilik begin raak het om grond vir die vervoerbare saal te vind en dit nodig was om grond te koop en ’n permanente Byeenkomssaal op te rig, wat nou vir kring- en streekbyeenkomste gebruik word.
Op heelparty plekke is bestaande geboue vir Byeenkomssaalprojekte gebruik. In Engeland is ’n 50 jaar oue skoolkompleks in Hays Bridge, Surrey, gekoop en opgeknap. Dit is op 11 hektaar van die pragtige Engelse platteland geleë. Ou bioskope en ’n pakhuis is in Spanje omgebou en begin gebruik; ’n ongebruikte tekstielfabriek in Australië; ’n danssaal in Quebec, Kanada; ’n kegelbaankompleks in Japan; ’n pakhuis in die Republiek van Korea. Hierdie geboue is almal tot aantreklike Byeenkomssale omgebou wat goed gebruik kan word as groot sentrums vir Bybelonderrigting.
Ander Byeenkomssale was heeltemal nuwe geboue. Die unieke agthoekige ontwerp van die saal in Hellaby, Suid-Yorkshire, Engeland, asook die feit dat ’n groot deel van die werk met die hulp van vrywilligers gedoen is, het die onderwerp van ’n artikel in die tydskrif van die Institution of Structural Engineers geword. Die Byeenkomssaal in Saskatoon, Saskatchewan, in Kanada, is vir 1 200 mense ontwerp; maar die binnemure kan só geskuif word dat die gebou as vier Koninkryksale gebruik kan word. Haïti se Byeenkomssaal (wat vooraf vervaardig en uit die Verenigde State verskeep is) is aan twee kante oop, sodat die gehoor voortdurend deur die heersende winde afgekoel kan word—’n welkome ontvlugting van die warm Haïtiese son. Die saal in Port Moresby, Papoea-Nieu-Guinee, is só ontwerp dat dele van die mure soos deure oopgemaak kan word wanneer daar te veel mense is om binne te sit.
Die besluit om ’n Byeenkomssaal te bou, word nie deur ’n groepie opsieners geneem wat dan verwag dat al die ander dit moet ondersteun nie. Voordat enige nuwe Byeenkomssaal gebou word, maak die Genootskap seker dat daar sorgvuldig gekyk word na hoe nodig dit werklik is en hoe dikwels dit gebruik sal word. Daar word nie net gekyk na hoe geesdriftig die plaaslike broers oor die projek is nie, maar ook na die algemene behoeftes van die veld. Die saak word met al die betrokke gemeentes bespreek om vas te stel in watter mate die broers dit wil en kan ondersteun.
Wanneer daar met die werk begin word, word dit dus heelhartig deur Jehovah se Getuies in die gebied ondersteun. Die Getuies finansier self elke projek. Daar word verduidelik hoeveel geld daarvoor nodig gaan wees, maar die bydraes word vrywillig en anoniem gegee. Sorgvuldige beplanning word voor die tyd gedoen, en tydens die projek word daar gebruik gemaak van ondervinding wat reeds opgedoen is tydens die bou van Koninkryksale en, dikwels, tydens Byeenkomssaalprojekte op ander plekke. Waar nodig, word kommersiële kontrakteurs vir sommige fases van die werk gekry, maar die grootste deel van die werk word gewoonlik deur geesdriftige Getuies gedoen. Dit kan die koste met die helfte sny.
Omdat die werkkragte uit vaardige beroepsmense en ander bestaan wat hulle tyd en talente vrywillig aanbied, word die hele projek gewoonlik gou afgehandel. Sommige projekte kan langer as ’n jaar duur. Maar op Vancouver-eiland in Kanada het sowat 4 500 vrywilligers in 1985 ’n Byeenkomssaal van 2 300 vierkante meter in net nege dae gebou. Die kompleks bevat ook ’n Koninkryksaal met sitplek vir 200 wat deur die plaaslike gemeentes gebruik word. In Nieu-Caledonië het die regering in 1984 weens politieke onrus ’n aandklokreël ingestel, en tog het daar by tye tot 400 vrywilligers aan die Byeenkomssaal gewerk en is dit in net vier maande voltooi. ’n Pragtige, praktiese Byeenkomssaal met 900 opgestopte eikehoutstoele is in net sewe maande naby Stockholm, Swede, gebou.
Soms moes die Getuies herhaaldelik hof toe gaan om die nodige permitte te verkry om hierdie Byeenkomssale te kan bou. Dit was die geval in Kanada by Surrey, Brits-Columbië. Toe die grond gekoop is, het die soneregulasies voorsiening gemaak vir die oprigting van so ’n plek van aanbidding. Maar nadat die bouplanne in 1974 ingedien is, het die Streekraad van Surrey ’n munisipale regulasie uitgevaardig wat bepaal het dat kerke en byeenkomssale net in Sone P-3—’n sone wat nie bestaan het nie—gebou kon word! Tog is daar al voorheen, sonder die minste probleme, 79 kerke in hierdie munisipaliteit gebou. ’n Saak is aanhangig gemaak. Herhaalde uitsprake is in die guns van Jehovah se Getuies gelewer. Toe die bevooroordeelde amptenare se pogings om die projek te dwarsboom eindelik uit die weg geruim is, het die vrywilligers die projek met soveel geesdrif aangepak dat hulle dit in ongeveer sewe maande voltooi het. Hulle het, net soos Nehemia toe hy die mure van eertydse Jerusalem probeer herbou het, gemeen dat die ‘hand van God oor hulle was’ om die werk te kon doen.—Neh. 2:18.
Toe Jehovah se Getuies in die Verenigde State die Stanley-teater in Jersey City, New Jersey, gekoop het, was die gebou op die staat se lys van historiese plekke. Hoewel die teater vreeslik vervalle was, het dit uitstekende moontlikhede vir gebruik as ’n Byeenkomssaal ingehou. Maar toe die Getuies die nodige herstelwerk wou doen, het die stadsamptenare geweier om vir hulle permitte te gee. Die burgemeester wou Jehovah se Getuies nie in daardie gebied hê nie; hy het ander planne met die eiendom gehad. Wetlike stappe was nodig om te keer dat amptenare hulle gesag op ’n onwettige wyse uitoefen. Die hofbeslissing was in die Getuies se guns. Kort daarna het die inwoners in die gebied die burgemeester uitgestem. Die werk aan die saal het vinnig gevorder. Die resultaat was ’n pragtige Byeenkomssaal met sitplek vir meer as 4 000. Dit is ’n plek waarop sakemanne sowel as die inwoners van die stad trots is.
Gedurende die afgelope 27 jaar het Jehovah se Getuies op baie plekke dwarsdeur die wêreld aantreklike en praktiese Byeenkomssale as sentrums van Bybelonderrigting gebou. Daar word nou al hoe meer sulke sale in Noord- en Suid-Amerika, Europa, Afrika en die Ooste, asook op baie eilande, aangetref. In sommige lande—byvoorbeeld Nigerië, Italië en Denemarke—het Jehovah se Getuies selfs groter, permanente opelugfasiliteite gebou wat vir hulle streekbyeenkomste gebruik kan word.
Byeenkomssale en Koninkryksale is egter nie die enigste bouprojekte wat Jehovah se Getuies onderneem om die verkondiging van God se Koninkryk te bevorder nie.
Kantore, drukkerye en Bethelhuise oor die hele wêreld
Daar was in 1992 meer as 99 takkantore van die Wagtoringgenootskap regoor die wêreld, en elkeen van hulle het gehelp om die bedrywighede van Jehovah se Getuies in sy deel van die wêreldveld te koördineer. Meer as die helfte van hierdie takkantore doen drukwerk in een of ander vorm om die Bybelonderrigtingswerk te bevorder. Diegene wat by die takkantore werk, woon oor die algemeen as ’n groot gesin in woonkomplekse wat Bethel genoem word en “Huis van God” beteken. Omdat Jehovah se Getuies en hulle predikingsbedrywigheid so toeneem, moes hierdie fasiliteite vergroot en nuwes gebou word.
Die organisasie het so vinnig gegroei dat daar dikwels tegelyk aan 20 tot 40 sulke takuitbreidingsprogramme gewerk is. ’n Ontsaglike internasionale bouprogram was hiervoor nodig.
Vanweë die ontsaglike hoeveelheid bouwerk wat wêreldwyd gedoen word, het die Wagtoringgenootskap sy eie Ingenieurs- en Tekenafdeling by sy hoofkwartier in New York. Ingenieurs met baie jare ondervinding het uit hulle sekulêre werk bedank en vrywillig aangebied om voltyds met bouprojekte te help wat direk met die Koninkryksbedrywigheid verband hou. Daarbenewens het diegene met ondervinding ander mans en vroue opgelei om ingenieurs-, ontwerp- en tekenwerk te doen. Omdat die werk deur hierdie afdeling gekoördineer word, kan ondervinding wat tydens takkantoorbouwerk in enige deel van die aarde opgedoen is diegene wat aan projekte in ander lande werk tot nut strek.
Die groot hoeveelheid werk wat gedoen is, het dit mettertyd voordelig gemaak om ’n Streekingenieurskantoor in Japan te open om te help met bloudrukke vir bouprojekte in die Ooste. Daar is ook ’n Streekingenieurskantoor in Europa en Australië met personeellede uit verskillende lande. Hierdie kantore werk ten nouste saam met die hoofkwartierkantoor, en weens hulle dienste, asook die gebruik van rekenaartegnologie, is minder tekenaars op die bouterreine self nodig.
Sommige projekte is taamlik klein. Dit was die geval met die takkantoor wat in 1983 in Tahiti gebou is. Dit het uit kantore, voorraadkamers en woonplek vir agt vrywilligers bestaan. Dit was ook die geval met die vier verdieping hoë takkantoorgebou wat tussen 1982 en 1984 op die Karibiese eiland Martinique opgerig is. Hierdie geboue lyk moontlik nie na iets buitengewoons vir stedelinge in ander lande nie, maar hulle het die publiek se aandag getrek. Die koerant France-Antilles het gesê dat die takkantoorgebou op Martinique “’n argitektoniese meesterstuk” is wat ’n “groot liefde vir welgedane werk” weerspieël.
Wat grootte betref, is daar aan die ander kant van die spektrum in 1981 reusegeboue in Kanada voltooi, onder andere ’n drukkery, of fabriek, van meer as 9 300 vierkante meter vloerruimte en ’n woongebou vir 250 vrywilligers. Die Wagtoringkompleks wat in daardie selfde jaar in Cesario Lange, Brasilië, voltooi is, het agt geboue met byna 46 000 vierkante meter vloerruimte ingesluit. Altesaam 10 000 vragte sement, klip en sand was hiervoor nodig, asook soveel betonheipale dat hulle twee keer so hoog soos die berg Everest sou gestaan het as hulle op mekaar geplaas sou word! In 1991, toe ’n groot nuwe drukkery in die Filippyne voltooi is, moes ’n 11 verdieping hoë woongebou ook voorsien word.
In 1984 is daar met ’n groot bouprojek in Igieduma begin om in die behoeftes van die toenemende aantal Koninkryksverkondigers in Nigerië te voorsien. Dit sou uit ’n fabriek, ’n ruim kantoorgebou, vier aaneengeskakelde woongeboue en ander nodige fasiliteite bestaan. Daar is beplan om die hele fabriek vooraf in die Verenigde State te vervaardig en dit dan stuk-stuk na Nigerië te verskeep. Maar toe het die broers voor ’n oënskynlik onoorkomelike probleem te staan gekom: invoertydgrense. Toe hierdie tydgrense egter wel gehaal is en alles veilig op die bouterrein aangekom het, het die Getuies nie hulleself die eer gegee nie, maar Jehovah vir sy seën gedank.
Vinnige uitbreiding regoor die aarde
Die werk om die Koninkryk te verkondig, het egter so vinnig toegeneem dat dit al dikwels nodig was om, selfs ná ’n groot uitbreiding van die takfasiliteite in ’n sekere land, weer binne ’n betreklik kort tydjie te begin bou. Beskou ’n paar voorbeelde.
In Peru is ’n mooi nuwe takkantoor—met kantoorruimte, 22 slaapkamers en ander basiese fasiliteite vir Bethelgesinslede asook ’n Koninkryksaal—aan die einde van 1984 voltooi. Maar die mense in daardie Suid-Amerikaanse land het baie beter op die Koninkryksboodskap gereageer as wat verwag is. Vier jaar later was dit nodig om die kompleks te verdubbel, en hierdie keer is ’n antiseismiese ontwerp gebruik.
’n Ruim nuwe takkantoorkompleks is in 1979 in Colombia voltooi. Dit het gelyk of dit genoeg ruimte vir nog baie jare sou hê. Maar binne sewe jaar het die aantal Getuies in Colombia byna verdubbel en het die tak reeds die tydskrifte La Atalaya en ¡Despertad! nie net vir Colombia nie, maar ook vir buurlande gedruk. In 1987 moes hulle weer begin bou—maar hierdie keer waar daar meer grond vir uitbreiding was.
Gedurende 1980 het Jehovah se Getuies in Brasilië sowat 14 000 000 uur aan die openbare verkondiging van die Koninkryksboodskap bestee. Die syfer het in 1989 tot amper 50 000 000 gestyg. Meer mense het die begeerte geopenbaar om hulle geestelike honger te stil. Die groot takkantoorkompleks wat in 1981 toegewy is, was ontoereikend. Teen September 1988 was uitgrawings vir ’n nuwe fabriek reeds in volle gang. Hierdie uitbreiding sou 80 persent meer vloerruimte voorsien as wat daar in die bestaande fabriek was, en natuurlik sou uitgebreide fasiliteite in die woongeboue ook vir die groter Bethelgesin nodig wees.
By Selters/Taunus, Duitsland, is die Wagtoringgenootskap se naasgrootste drukkompleks in 1984 toegewy. As gevolg van die groei in Duitsland sowel as geleenthede om die getuieniswerk uit te brei in lande waarvoor daardie tak lektuur druk, was hulle vyf jaar later besig met planne om die fabriek met meer as 85 persent te vergroot en om ander steunfasiliteite by te voeg.
Die takkantoor in Japan het in 1972 van Tokio na ’n groot, nuwe kompleks in Noemazoe getrek. In 1975 is ook dit grootliks uitgebrei. Teen 1978 het die tak reeds ander grond, in Ebina, gekoop; en daar is sommer gou begin met werk aan ’n fabriek wat meer as drie keer so groot as die een in Noemazoe sou wees. Dit is in 1982 voltooi. Dit was steeds nie genoeg nie; teen 1989 is nog nuwe geboue voltooi. Sou dit nie moontlik gewees het om net een keer en groot genoeg te bou nie? Nee. Geen mens sou kon voorsien dat die aantal Koninkryksverkondigers in Japan sou verdubbel en weer sou verdubbel nie. Hulle getalle het van 14 199 in 1972 die hoogte ingeskiet tot 137 941 in 1989, en ’n groot deel van die verkondigers het voltyds aan die bediening deelgeneem.
’n Soortgelyke patroon word in ander wêrelddele gesien. Binne ’n dekade—en soms binne ’n paar jaar—nadat groot takkantore gebou en vir drukwerk toegerus is, was dit nodig om met grootskaalse uitbreiding te begin. Dit was die geval in Mexiko, Kanada, Suid-Afrika en die Republiek van Korea, om net ’n paar te noem.
Maar wie doen die bouwerk? Hoe word dit alles vermag?
Duisende gretig om te help
In Swede het sowat 5 000 van die 17 000 Getuies wat daar in die land was toe hulle takkantoor in Arboga gebou is vrywillig aangebied om met die werk te help. Die meeste was net gewillige helpers, maar daar was ook genoeg hoogs gekwalifiseerde beroepsmense om seker te maak dat die werk reg gedoen word. Hulle motivering? Liefde vir Jehovah.
Toe ’n amptenaar by ’n landmeterskantoor in Denemarke gehoor het dat die werk aan ’n nuwe takkantoor in Holbæk deur Jehovah se Getuies gedoen gaan word, het hy sy bedenkinge uitgespreek. Die Getuies het nietemin al die kundigheid wat hulle nodig gehad het onder diegene gevind wat vrywillig aangebied het om te help. Maar sou hulle nie beter daaraan toe gewees het as kommersiële kontrakteurs gehuur is om die werk te doen nie? Nadat die projek voltooi is, het deskundiges van die stad se bouafdeling op ’n toer deur die kompleks gegaan en kommentaar gelewer oor die goeie afwerking—iets wat hulle deesdae selde sien wanneer kommersiële kontrakteurs die werk gedoen het. En die amptenaar wat vroeër sy bedenkinge uitgespreek het, het geglimlag en gesê: “Jy sien, ek het destyds nie geweet watter soort organisasie julle het nie.”
Die stede en dorpe in Australië is ver uitmekaar; die meeste van die 3 000 wat tussen 1978 en 1983 vrywillig aangebied het om aan die takkantoor in Ingleburn te werk, moes dus ten minste 1 600 kilometer ver reis. Busvervoer vir groepe vrywilligers is egter gereël, en die gemeentes op die roete het gasvry aangebied om die broers by rushaltes maaltye te gee en met hulle te assosieer. Party van die broers het hulle huise verkoop, sakeondernemings gesluit, vakansie geneem en ander opofferinge gemaak om met die projek te kon help. Spanne ervare ambagsmanne het gekom—sommige van hulle meer as een keer—om beton te giet, plafonne in te sit en heinings op te rig. Ander het boumateriaal geskenk.
Die meeste vrywilligers by hierdie projekte was ongeskoold, maar met ’n bietjie opleiding het party van hulle groot verantwoordelikhede op hulle geneem en uitstekende werk gelewer. Hulle het geleer om vensters te maak, trekkers te bestuur, beton te meng en te messel. Hulle het beslis ’n voordeel bo nie-Getuies gehad wat dieselfde werk kommersieel doen. Hoe so? Dié wat deskundiges was, was bereid om hulle kennis te deel. Niemand was bang dat iemand anders sy werk gaan vat nie; elkeen het baie gehad om te doen. En hulle het ’n kragtige beweegrede gehad om werk van hoë gehalte te lewer, omdat hulle dit as ’n betuiging van hulle liefde vir God gedoen het.
Op al die bouterreine vorm sekere Getuies die kern van die “bougesin”. Toe daar van 1979 tot 1984 by Selters/Taunus, Duitsland, gebou is, het daardie kern gewoonlik uit ’n paar honderd werkers bestaan. Duisende ander het hulle vir verskillende tydperke gaan help, baie van hulle oor naweke. Sorgvuldige beplanning het verseker dat wanneer die vrywilligers daar aangekom het daar oorgenoeg werk vir hulle was.
Solank mense onvolmaak is, sal daar probleme wees, maar diegene wat aan hierdie projekte werk, probeer hierdie probleme aan die hand van Bybelbeginsels oplos. Hulle weet dat doeltreffendheid nie so belangrik is as om dinge op ’n Christelike manier te doen nie. Om die werkers hieraan te herinner, is groot borde op die bouterrein in Ebina, Japan, aangebring waarop ’n tekening van werkers met harde hoedens verskyn het, en op elk van die harde hoedens het een van die vrugte van God se gees in Japannese letters geskryf gestaan: liefde, blydskap, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing (Gal. 5:22). Besoekers aan die werkterreine kan die verskil sien en hoor. ’n Verslaggewer wat die takkantoor se bouterrein in Brasilië besigtig het, het geskryf wat hy self gesien het en gesê: “Daar bestaan geen wanorde of gebrek aan samewerking [nie] . . . Hierdie Christelike atmosfeer maak dit hier baie verskillend van wat gewoonlik in die Brasiliaanse kommersiële boubedryf gesien word.”
Voortdurende groei by die wêreldhoofkwartier
Terwyl die Wagtoringgenootskap se takkantore al hoe groter geword het, het dit ook nodig geword om die wêreldhoofkwartier se fasiliteite uit te brei. Sedert die Tweede Wêreldoorlog was daar al oor die tien groot uitbreidings van sy fabrieks- en kantoorfasiliteite in Brooklyn en elders in die staat New York. Om die personeel te kon huisves, moes talle geboue, groot sowel as klein, gebou of gekoop en opgeknap word. In Augustus 1990 en in Januarie 1991 is daar aangekondig dat nog groot uitbreidings in Brooklyn gaan plaasvind—en dít bo en behalwe die uitgebreide Wagtoring-opleidingsentrum noord van New York-stad wat reeds sedert 1989 in aanbou is en ontwerp is om 1 200 mense, onder andere inwonende personeellede en studente, te huisves.
Sedert 1972 is daar nog nooit opgehou met bouwerk by die wêreldhoofkwartier in Brooklyn en sy sekondêre fasiliteite in ander dele van New York en in New Jersey nie. Dit het mettertyd duidelik geword dat die vaste konstruksiewerkers, hoewel daar honderde van hulle was, nie met die werk kon byhou nie. Gevolglik is ’n tydelikewerkersprogram in 1984 ingestel. Briewe is aan die gemeentes in die Verenigde State, destyds sowat 8 000, gestuur om gekwalifiseerde broers te nooi om ’n week of langer te kom help. (’n Soortgelyke program het reeds goed gewerk in party van die takke, onder andere in Australië, waar diegene wat twee weke kon bly, genooi is om as vrywilligers te dien.) Woonplek en maaltye sou aan die werkers voorsien word, maar hulle sou hulle eie reiskoste moes dek en geen betaling ontvang nie. Wie sou hulle hulp aanbied?
Teen 1992 is reeds ver oor die 24 000 aansoeke ontvang! Ten minste 3 900 van die aansoeke was van mense wat vir ’n 2de of 3de keer, selfs ’n 10de of 20ste keer, wou terugkom. Die meeste van hulle was ouere manne, bedieningsknegte of pioniers—mense met goeie geestelike kwalifikasies. Hulle het almal aangebied om enigiets te doen wat nodig was, of hulle nou hulle ambag sou gebruik of nie. Die werk was dikwels hard en vuil. Maar hulle het dit as ’n voorreg beskou om die bevordering van Koninkryksbelange só te steun. Sommige het gemeen dat dit hulle help om groter waardering te kry vir die gees van selfopoffering wat kenmerkend is van die werk wat by die wêreldhoofkwartier gedoen word. Hulle het almal ryklik beloon gevoel, omdat hulle die geleentheid gehad het om die Bethelgesin se oggendgodsdiensprogram en weeklikse gesinstudie uit Die Wagtoring by te woon.
Internasionale vrywilligers
Aangesien vinnige uitbreiding al hoe nodiger geword het, is ’n reëling vir internasionale vrywilligers in 1985 ingestel. Dit was glad nie die eerste keer dat daar internasionale samewerking met bouprojekte was nie, maar die reëling is nou sorgvuldig deur die hoofkwartier gekoördineer. Almal wat deel daaraan het, is Getuies wat hulle hulp aanbied om met bouwerk buite hulle eie land te help. Hulle is geskoolde werkers, asook dié se huweliksmaats, wat saam met hulle mans gaan om te help hoe hulle ook al kan. Die meeste van hulle dek hulle eie reiskoste; niemand word betaal vir wat hy doen nie. Party van hulle gaan net vir ’n kort rukkie, gewoonlik twee weke tot drie maande. Ander is langtermynvrywilligers, wat ’n jaar of langer bly, miskien totdat die projek voltooi is. Meer as 3 000 van Jehovah se Getuies uit 30 verskillende lande het gedurende die eerste vyf jaar deel hieraan gehad, en nog ander was gretig om te gaan help indien hulle vaardighede nodig sou word. Hulle beskou dit as ’n voorreg om hulle kragte en middele daaraan te wy om die belange van God se Koninkryk op hierdie manier te bevorder.
Die internasionale vrywilligers word van woonplek en maaltye voorsien. Hulle het dikwels baie min geriewe. Die plaaslike Getuies waardeer grootliks wat hulle besoekende broers doen, en waar moontlik nooi hulle hulle om by hulle te woon, al is hulle huise ook hoe beskeie. Maaltye word meestal op die bouterrein genuttig.
Die buitelandse broers is nie daar om al die werk te doen nie. Hulle doel is om saam met die plaaslike bouspan te werk. En honderde, selfs duisende, ander in die land kom help dalk ook oor naweke of ’n week of langer. In Argentinië het 259 vrywilligers uit ander lande saam met ’n paar duisend van die plaaslike broers gewerk, waarvan party elke dag, ander ’n paar weke en nog baie ander oor naweke gewerk het. In Colombia het meer as 830 internasionale vrywilligers verskillende tydperke lank gehelp. Daar was ook meer as 200 plaaslike vrywilligers wat voltyds met die projek gehelp het en ’n verdere 250 of meer helpers elke naweek, sodat altesaam meer as 3 600 verskillende mense deel daaraan gehad het.
Taalverskille kan probleme skep, maar dit keer nie dat die internasionale groepe saamwerk nie. Gebaretaal, gesigsuitdrukkings, ’n goeie sin vir humor en ’n begeerte om ’n taak te verrig wat Jehovah sal eer, help om die werk klaar te kry.
Uitstekende groei in die organisasie—en die gevolglike behoefte aan groter takfasiliteite—word soms ondervind in lande waar min mense vaardighede in een of ander aspek van konstruksiewerk het. Maar dit is nie ’n hindernis onder Jehovah se Getuies nie, want hulle help mekaar graag. Hulle werk saam as lede van ’n wêreldwye gesin wat nie deur nasionaliteit, velkleur of taal verdeel word nie.
In Papoea-Nieu-Guinee het elke vrywilliger wat uit Australië en Nieu-Seeland gekom het in ooreenstemming met die versoek van die Staatsdepartement van Arbeid ’n Papoea in sy ambag opgelei. Sodoende het die plaaslike Getuies, terwyl hulle hulle tyd en energie opgeoffer het, ambagte geleer wat hulle kon help om na hulleself en hulle gesin om te sien.
Toe El Salvador ’n nuwe takkantoor nodig gehad het, het 326 vrywilligers uit die buiteland die plaaslike broers gaan help. Vir die projek in Ecuador het 270 Getuies uit 14 lande saam met hulle Ecuadoriaanse broers en susters gewerk. Party internasionale vrywilligers het by verskeie projekte gehelp wat tegelykertyd in aanbou was. Na gelang van waar hulle ambagsvaardighede benodig is, het hulle heen en weer gereis tussen bouterreine in Europa en Afrika.
Teen 1992 is internasionale vrywilligers reeds na 49 verskillende plekke gestuur om die plaaslike bouspanne met hulle takkantoor te help. In sommige gevalle kon diegene wat by hierdie program baat gevind het weer ander help. Sommige van die Filippyners wat baat gevind het by die arbeid van ongeveer 60 langtermyn- internasionale knegte wat met die takkantoorbouprojek in die Filippyne gehelp het, asook dié van meer as 230 vrywilligers uit die buiteland wat vir korter tydperke gaan help het, het byvoorbeeld vrywillig aangebied om fasiliteite in ander dele van Suidoos-Asië te help bou.
Jehovah se Getuies onderneem bouprojekte weens huidige behoeftes in verband met die verkondiging van die goeie nuus. Met die hulp van Jehovah se gees wil hulle die grootste getuienis moontlik gee in die tyd wat voor Armageddon oorbly. Hulle is oortuig dat God se nuwe wêreld baie naby is, en hulle glo dat hulle as ’n georganiseerde volk tot in daardie nuwe wêreld, onder die heerskappy van God se Messiaanse Koninkryk, behoue sal bly. Hulle hoop ook dat baie van die puik fasiliteite wat hulle gebou en aan Jehovah toegewy het dalk ook ná Armageddon gebruik sal word as sentrums waarvandaan kennis van die enigste ware God versprei kan word totdat dit waarlik die aarde vul.—Jes. 11:9.
[Voetnote]
a Dit het as die “New Light”-kerk bekend gestaan, omdat dié wat in daardie gemeente was, gemeen het dat hulle nuwe lig op die Bybel gehad het omdat hulle die Wagtoringpublikasies gelees het.
[Lokteks op bladsy 322]
Getuies van nabygeleë gemeentes het met die werk gehelp
[Lokteks op bladsy 323]
Bouwerk is met vrywillige, onbetaalde arbeiders gedoen
[Lokteks op bladsy 324]
Geestelike eienskappe is beklemtoon
[Lokteks op bladsy 326]
Bouwerk van hoë gehalte, veiligheid, minimum koste, spoed
[Lokteks op bladsy 328]
’n Vervoerbare Byeenkomssaal!
[Lokteks op bladsy 331]
Soms is dit nodig om hof toe te gaan
[Lokteks op bladsy 332]
Grootskaalse internasionale uitbreiding
[Lokteks op bladsy 333]
Werkers het Jehovah die eer gegee, nie hulleself nie
[Lokteks op bladsy 334]
Ongelooflik vinnige groei wat deur geen mens voorspel kon word nie
[Lokteks op bladsy 336]
Hulle het dit as ’n voorreg beskou om met die bouwerk by die hoofkwartier te help
[Lokteks op bladsy 339]
Hulle werk as ’n wêreldwye gesin wat nie deur nasionaliteit, velkleur of taal verdeel word nie
[Prente op bladsy 320, 321]
Spanwerk om vinnig Koninkryksale te bou
Duisende nuwe gemeentes word jaarliks gestig. In die meeste gevalle word nuwe Koninkryksale deur die Getuies self gebou. Hierdie foto’s is geneem toe ’n Koninkryksaal in 1991 in Connecticut, VSA, gebou is
Vrydag, 7:40 vm.
Vrydag, 12 nm.
Saterdag, 7:41 nm.
Die belangrikste werk is klaar, Sondag, 6:10 nm.
Hulle maak staat op Jehovah se seën, en hulle neem tyd om die raad in sy Woord te bespreek
Onbetaalde vrywilligers werk sy aan sy
[Prente op bladsy 327]
Koninkryksale in verskeie lande
Die vergaderplekke wat deur Jehovah se Getuies gebruik word, is gewoonlik beskeie. Hulle is skoon, gerieflik en pas goed by die omgewing
Filippyne
Japan
Colombia
Frankryk
Papoea-Nieu-Guinee
Noorweë
Peru
Republiek van Korea
Ierland
Lesotho
[Prente op bladsy 330]
Byeenkomssale van Jehovah se Getuies
Om hulle periodieke byeenkomste te hou, het Jehovah se Getuies in sommige gebiede dit prakties gevind om hulle eie Byeenkomssale te bou. ’n Groot deel van die bouwerk word deur die plaaslike Getuies gedoen. Hier is net ’n paar van hierdie sale wat in die vroeë negentigerjare in gebruik was
Italië
Duitsland
Brittanje
Venezuela
Kanada
Japan
[Prente op bladsy 338]
Internasionale bouprogram voorsien in dringende behoeftes
Die snelle groei van die organisasie het vereis dat kantore, fabrieke en Bethelhuise regoor die wêreld voortdurend uitgebrei word
Internasionale vrywilligers help plaaslike Getuies
Spanje
Boumetodes wat gebruik word, maak dit vir baie vrywilligers met min ondervinding moontlik om waardevolle werk te doen
Puerto Rico
Geskoolde werkers stel graag hulle dienste beskikbaar
Nieu-Seeland
Griekeland
Brasilië
Die gebruik van duursame materiale help om die langtermyn-instandhoudingskoste laag te hou
Brittanje
Werk van hoë gehalte word gelewer omdat diegene wat dit doen persoonlik daarin belangstel; dit is ’n blyk van hulle liefde vir Jehovah
Kanada
Hierdie projekte is genotvol; talle blywende vriendskappe word gesluit
Colombia
Hierdie bord in Japan het werkers aan veiligheidsmaatreëls herinner en ook dat hulle die vrugte van God se gees aan die dag moet lê
[Prent op bladsy 318]
Die eerste gebou wat Koninkryksaal genoem is, in Hawaii
[Prente op bladsy 319]
Baie van die vroeë Koninkryksale was gehuurde geboue of sommer kamers bo winkels; ’n paar is deur die Getuies gebou
[Prent op bladsy 329]
Twee van die eerste Byeenkomssale
New York-stad
Guadeloupe
[Prente op bladsy 337]
Tydelike konstruksiewerkers wat pas by die wêreldhoofkwartier in New York aangekom het
Elke groep word daaraan herinner dat dit belangriker is om ’n geestelike persoon te wees en werk van goeie gehalte te lewer as om die werk vinnig te doen