Waak teen grootpratery
VANDAG beskou baie dit as ’n deug om te spog. Dit het mode geword om met ’n mens se sterk punte, vaardighede en bekwaamhede te koop te loop. Party glo dat ’n mens moet spog as jy wil presteer. Ander meen dat dit jou selfbeeld verbeter. Die tydskrif Time sê: “Hoewel die ideaal van beskeidenheid nog bestaan, het dit byna iets oudmodies geword.” Die skryfster Jody Gaylin sê: “Ongelukkig is skaamtelose grootpratery . . . die jongste mode. Gesprekke met vriende of kennisse het nou iets nuuts bygekry: om jou eie beuel te blaas.”
Rolmodelle stel die standaard. Jy het dalk al die woorde van ’n voormalige bokskampioen gehoor: “Dis nie toeval dat ek op hierdie tydstip in die geskiedenis die beste man in die wêreld is nie.” Die woorde van ’n lid van die musiekgroep die Beatles is ook goed bekend: “Ons is nou gewilder as Jesus Christus.” Terwyl sommige gemeen het dat sulke kommentare in onskuld gesê is, het ander diegene wat dit gesê het as navolgenswaardige rolmodelle van selfverheerliking begin beskou.
Die feit dat grootpratery so algemeen voorkom, laat die vraag ontstaan: Is dit goed om oor jou eie bates en vermoëns te spog? Dit is net natuurlik om trots te voel oor jou prestasies en selfs vir intieme vriende en familielede daarvan te vertel. Maar wat van dié wat in ooreenstemming met hierdie gesegde lewe: “As jy dit het, spog dan daarmee”? En wat van die mense wat, hoewel hulle nie openlik spog nie, op subtiele wyse seker maak dat ander van hulle sterk punte en prestasies te hore kom? Is sulke selfreklame heilsaam, selfs nodig, soos sommige beweer?
Uitwerking op menseverhoudinge
Dink aan die uitwerking wat ander se grootpratery op jou het. Hoe reageer jy byvoorbeeld op die volgende bewerings?
“Die boeke wat ek nog nie geskryf het nie, is beter as die boeke wat ander mense reeds geskryf het.”—Bekende skrywer.
“As ek by was tydens die skepping sou ek ’n paar nuttige wenke gegee het oor hoe om die heelal beter te organiseer.”—Middeleeuse koning.
“Daar kan nie ’n God wees nie, want as daar een was, sou ek glo dat dit ek is.”—19de-eeuse filosoof.
Laat hierdie mense se kommentare jou aangetrokke tot hulle voel? Dink jy dat jy hulle geselskap sou geniet? Waarskynlik nie. Grootpratery—in erns of selfs net in ’n grap—laat ander gewoonlik gespanne, ergerlik of selfs afgunstig voel. Dit is die uitwerking wat dit op die psalmis Asaf gehad het wat erken het: “Ek was afgunstig op die grootpraters” (Psalm 73:3, NW). Niemand van ons wil tog die oorsaak daarvan wees dat ons vriende en metgeselle sleg voel nie! Eerste Korinthiërs 13:4 sê: “Die liefde praat nie groot nie.” Goddelike liefde en die inagneming van ander se gevoelens sal keer dat ons met ons veronderstelde vaardighede en bates spog.
Wanneer iemand selfbeheersing aan die dag lê en met beskeidenheid praat, laat hy ander om hom gemaklik en goed oor hulleself voel. Dit is ’n kosbare vermoë. Dit is moontlik wat die Britse staatsman lord Chesterfield in gedagte gehad het toe hy sy seun hierdie raad gegee het: “Wees verstandiger as ander mense as jy kan; maar moet dit nie vir hulle sê nie.”
Mense het nie dieselfde talente nie. Wat vir een mens relatief maklik is, is eenvoudig nie ’n ander se sterk punt nie. Liefde sal ’n mens beweeg om simpatiek op te tree teenoor diegene wat nie dieselfde talente as jy het nie. Die ander persoon het waarskynlik ander talente. Die apostel Paulus het vir ons gesê: “Deur die genade wat aan my gegee is, sê ek vir elkeen wat onder julle is, dat hy nie van homself meer moet dink as wat ’n mens behoort te dink nie; maar dat hy daaraan moet dink om besadig te wees na die maat van geloof soos God dit aan elkeen toebedeel het.”—Romeine 12:3.
Grootpratery is ’n teken van swakheid
Hoewel sommige hulle dalk van grootpraters sal onttrek omdat hulle minderwaardig in hulle teenwoordigheid voel, tree ander verskillend op. Hulle kom tot die gevolgtrekking dat grootpraters onseker van hulleself is. Die skrywer Frank Trippett verduidelik waarom iemand wat sy eie beuel blaas in werklikheid in ander se agting daal: “Almal weet in hulle hart dat grootpratery gewoonlik ’n teken van die een of ander patetiese, persoonlike swakheid is.” Is dit nie verstandiger om ’n mens liewer van windmakerige selfverheerliking te weerhou, aangesien baie mense dwarsdeur die grootprater sien nie?
“Maar dis waar!”
Dit is hoe sommige hulle selfverheerliking probeer regverdig. Hulle meen dat dit, aangesien hulle in sekere opsigte waarlik talentvol is, skynheilig sal wees om iets anders te wil voorgee.
Maar is hulle grootpratery waar? ’n Mens is geneig om bevooroordeeld te wees as jy jouself beoordeel. Wat ons as een van ons baie sterk punte beskou, kan vir ander na iets alledaags lyk. Die feit dat iemand hom genoodsaak voel om oor sy vermoë te spog, kan selfs ’n aanduiding daarvan wees dat dit nie werklik besonder goed is nie—nie goed genoeg om raakgesien te word sonder dat dit uitgebasuin word nie. Die Bybel erken dat die mens tot selfbedrog geneig is wanneer dit maan: “Wie meen dat hy staan, moet oppas dat hy nie val nie.”—1 Korinthiërs 10:12.
Is grootpratery geregverdig selfs wanneer iemand ’n buitengewone aanleg vir iets spesifieks het? Nee, want grootpratery verheerlik mense, terwyl ons talente van God af kom. Hy moet die eer kry. Waarom moet ons die eer kry vir iets waarmee ons gebore is? (1 Korinthiërs 4:7). Buitendien, net soos ons sterk punte het, het ons ook swakhede. Vereis eerlikheid dat ons die aandag op ons foute en tekortkominge vestig? Min grootpraters dink blykbaar so. Koning Herodes Agrippa I was moontlik werklik ’n talentvolle spreker. Tog het sy gebrek aan beskeidenheid tot ’n baie onaangename dood gelei. Daardie lelike voorval toon hoe aanstootlik verwaandheid vir God, en ook vir baie mense, is.—Handelinge 12:21-23.
Talente en sterk punte raak gewoonlik bekend sonder oormatige selfreklame. Wanneer ander ’n mens se eienskappe of bekwaamhede raaksien en jou daarvoor prys, stel dit die ontvanger in ’n beter lig. Spreuke 27:2 gee hierdie verstandige raad: “Laat ’n ander jou prys en nie jou eie mond nie; ’n vreemde, en nie jou eie lippe nie.”
Moet jy grootpraat om iets te bereik?
Party meen dat ’n mens selfversekerd jou eie beuel moet blaas as jy in die mededingende samelewing van vandag iewers wil kom. Hulle is bekommerd dat niemand hulle sal opmerk of waardeer as hulle niks sê en nie hulle sterk punte verkondig nie. Tipies van hulle kommer is hierdie kommentaar uit die tydskrif Vogue: “Waar ons in die verlede geleer is dat beskeidenheid ’n deug is, leer ons nou dat terughoudendheid ’n hindernis kan wees.”
Vir diegene wat graag volgens hierdie wêreld se standaarde vooruitgang wil maak, is dit moontlik ’n geldige rede tot kommer. Maar die Christen se situasie is anders. Hy weet dat God vir die nederiges, nie die hoogmoediges nie, omgee en dat hy hulle vermoëns gebruik. Daarom hoef die Christen hom nie tot egotistiese taktieke te wend nie. ’n Selfversekerde persoon sal miskien tydelike aansien verkry deur aanmatigend of manipulerend op te tree. Maar hy word mettertyd ontmasker en verkleineer, selfs verneder. Dit is soos Jesus Christus gesê het: “Wie homself verhoog, sal verneder word, en wie homself verneder, sal verhoog word.”—Mattheüs 23:12; Spreuke 8:13; Lukas 9:48.
Die voordele van beskeidenheid
Ralph Waldo Emerson het geskryf: “Elke mens wat ek ontmoet, is in die een of ander opsig my meerdere. Daarom leer ek by hom.” Sy kommentaar stem ooreen met die apostel Paulus se Goddelik geïnspireerde vermaning dat Christene ‘nie iets uit selfsug of uit ydele eer moet doen nie, maar dat die een in nederigheid die ander hoër moet ag as homself’ (Filippense 2:3). Hierdie beskeie beskouing stel ’n mens in staat om by ander te leer.
Maak dus seker dat jou sterk punt nie jou swakheid word nie. Moenie met grootpratery afbreuk doen aan jou vermoëns en prestasies nie. Maak beskeidenheid nog een van jou deugde. Dit is wat jou werklik in ander se agting sal laat styg. Dit help ’n mens om ’n beter verhouding met jou medemens te hê en bring Jehovah God se goedkeuring mee.—Miga 6:8; 2 Korinthiërs 10:18.