Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • jv hfst. 27 bl. 603-615
  • Die druk en verspreiding van God se heilige Woord

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die druk en verspreiding van God se heilige Woord
  • Jehovah se Getuies—Verkondigers van God se Koninkryk
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ’n Bybeluitgewersgenootskap
  • Die Bybel word op ons eie perse gedruk
  • Vertaling van die New World Translation
  • Vertaal in ander tale
  • Die Bybel word in baie formate beskikbaar gestel
  • Studie nommer 7—Die Bybel in die nuwe tyd
    “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig”
  • Die Nuwe Wêreld-vertaling word wêreldwyd deur miljoene waardeer
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2001
  • ’n Mylpaal vir liefhebbers van God se Woord
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1999
  • New World Translation
    Redenering uit die Skrif
Sien nog
Jehovah se Getuies—Verkondigers van God se Koninkryk
jv hfst. 27 bl. 603-615

Hoofstuk 27

Die druk en verspreiding van God se heilige Woord

BUITE teen die muur van die hooffabriekskompleks by hulle wêreldhoofkwartier vertoon Jehovah se Getuies reeds dekades lank ’n teken wat almal aanspoor: “Read God’s Word the Holy Bible Daily.”

Hulle is self ernstige studente van God se Woord. Oor die jare heen het hulle talle verskillende Bybelvertalings gebruik in ’n poging om vas te stel wat die presiese betekenis van die oorspronklik geïnspireerde Skrif is. Elke Getuie word aangemoedig om persoonlik ’n daaglikse Bybelleesprogram te hê. Benewens hulle studie van Bybelonderwerpe werk hulle tydens hulle gemeentelike vergaderinge progressief deur God se Woord deur dit te lees en te bespreek. Hulle doel is nie om tekste te soek om hulle idees te staaf nie. Hulle erken die Bybel as God se geïnspireerde Woord. Hulle besef dat dit teregwysing en onderwysing bevat, en hulle strewe daarna om hulle denke en gedrag in ooreenstemming daarmee te bring.—2 Tim. 3:16, 17; vergelyk 1 Thessalonicense 2:13.

Omdat hulle oortuig is dat die Bybel God se heilige Woord is en omdat hulle vertroud is met die glorieryke goeie nuus wat dit bevat, is Jehovah se Getuies ook ywerige uitgewers en verspreiders van die Bybel.

’n Bybeluitgewersgenootskap

Dit was in 1896 dat regstreekse verwysing na die Bybel amptelik ingesluit is in die naam van die wetlike korporasie wat toe deur die Bybelstudente in hulle uitgewerswerk gebruik is. Destyds is Zion’s Watch Tower Tract Society wetlik na Watch Tower Bible and Tract Societya verander. Die Genootskap het nie dadelik ’n Bybeldrukker en -binder geword nie, maar was ’n bedrywige Bybeluitgewer, wat spesifikasies opgestel het, waardevolle materiaal vir aanhangsels voorsien het en dan met handelsfirmas gereël het om die druk- en bindwerk te doen.

Selfs vóór 1896 het die Genootskap baie as ’n Bybelverspreider gedoen. Die Genootskap het, sonder winsoogmerke, maar as ’n diens aan sy lesers, die aandag gevestig op verskillende beskikbare Bybelvertalings, hulle in groot hoeveelhede aangekoop om hulle teen ’n goeie prys te bekom en hulle dan beskikbaar gestel teen ’n prys wat soms net 35 persent van die gewone verkoopprys was. Onder hierdie Bybels was talle uitgawes van die King James Version wat maklik saamgedra en gebruik kon word, asook groter ‘Teachers’ Bibles’ (King James Version met hulpmiddele soos ’n konkordansie, landkaarte en kruisverwysings), The Emphatic Diaglott met sy interlineêre vertaling van Grieks na Engels, Leeser se vertaling met die Engelse teks langs die Hebreeus, Murdock se vertaling uit die eertydse Siries, The Newberry Bible met sy kruisverwysings wat die aandag gevestig het op plekke waar die Goddelike naam in die oorspronklike taal voorkom, asook op ander waardevolle besonderhede wat in die Hebreeuse en Griekse teks weergegee word, Tischendorf se New Testament met sy voetnootverwysings na variante lesings in drie van die volledigste ou Griekse Bybelmanuskripte (die Sinaiticus, Vaticanus en Alexandrinus), die Variorum-Bybel met sy voetnote wat nie net variante lesings van ou manuskripte aangee nie, maar ook verskillende vertalings van dele van die teks deur vooraanstaande geleerdes en Young se letterlike vertaling. Die Genootskap het ook hulpmiddele soos die Cruden’s Concordance en Young se Analytical Concordance met sy kommentaar oor die oorspronklike Hebreeuse en Griekse woorde beskikbaar gestel. Gedurende die daaropvolgende jare het Jehovah se Getuies oor die wêreld heen dikwels van ander Bybelgenootskappe derduisende Bybels gekoop in watter tale hulle ook al beskikbaar was en hulle dan versprei.

Reeds in 1890 het die Genootskap, volgens beskikbare gegewens, gereël dat ’n spesiale oplaag van die tweede uitgawe van The New Testament Newly Translated and Critically Emphasised—soos voorberei deur die Engelse Bybelvertaler Joseph B. Rotherham—met die Genootskap se naam op die titelblad gedruk word. Waarom hierdie vertaling? Vanweë sy letterlike vertaling en sy strewe om volle nut te trek uit die navorsing wat gedoen is om ’n suiwerder Griekse teks te bepaal en omdat die vertaler klemtekens gebruik het om die leser te help sien watter woorde of uitdrukkings in die Griekse teks spesiale klem ontvang het.

In 1902 is reëlings getref om ’n spesiale oplaag van die Holman Linear Parallel-uitgawe van die Bybel vir die Wagtoringgenootskap te laat druk. Dit het breë kantruimtes gehad waarin verwysings na Wagtoringpublikasies gedruk is, waar verskillende verse verduidelik is, en dit het ook ’n indeks bevat wat talle onderwerpe aangegee het saam met Bybeltekste en nuttige verwysings na die Genootskap se publikasies. Hierdie Bybel het die bewoording van twee vertalings bevat—die King James-weergawe bokant dié van die Revised Version waar daar ’n verskil was. Dit het ook ’n omvattende konkordansie bevat wat die gebruiker gewys het op die verskillende betekenisse van woorde in die oorspronklike tale.

Daardie selfde jaar het die Wagtoringgenootskap die eienaar geword van die drukplate vir The Emphatic Diaglott, wat J. J. Griesbach se Griekse teks van die Christelike Griekse Geskrifte (die uitgawe van 1796-1806) asook ’n Engelse interlineêre vertaling bevat het. Langsaan hierdie interlineêre vertaling het die oorsetting van die teks deur die gebore Brit Benjamin Wilson verskyn, wat in Geneva, Illinois, VSA, gewoon het. Hierdie plate en die uitgewerskopiereg is gekoop en toe aan die Genootskap geskenk. Nadat die eksemplare uitgestuur is wat hulle in voorraad gehad het, het die Genootskap reëlings getref om meer te laat druk, en dit het in 1903 beskikbaar gekom.

Vier jaar later, in 1907, is die uitgawe vir Bybelstudente van die King James Version uitgegee. Die “Berean Bible Teachers’ Manual” is as ’n aanhangsel hiermee saamgebind. Dit het bondige kommentare oor verse uit alle dele van die Bybel bevat, asook verwysings na Wagtoringpublikasies vir ’n breedvoeriger verduideliking. ’n Uitgawe met ’n omvattender aanhangsel is sowat ’n jaar later uitgegee.

Hierdie Bybels is in oplae van tussen 5 000 en 10 000 op ’n slag van die drukkers en binders bestel om die koste laag te hou. Die Genootskap wou graag ’n verskeidenheid Bybelvertalings en verwante navorsingshulpe geredelik aan soveel mense as moontlik beskikbaar stel.

Toe, in 1926, het die Wagtoringgenootskap ’n belangrike stap in die uitgee van Bybels gedoen.

Die Bybel word op ons eie perse gedruk

Dit was 36 jaar nadat hulle die eerste keer onderneem het om Bybels uit te gee dat die Wagtoring- Bybel- en Traktaatgenootskap ’n Bybel in hulle eie fabriek gedruk en gebind het. Die eerste Bybel wat so gedruk is, was The Emphatic Diaglott, waarvan die plate reeds 24 jaar in die Genootskap se besit was. In Desember 1926 is hierdie Bybel op ’n platvormpers in die Genootskap se fabriek in Concordstraat, Brooklyn, gedruk. Tot op hede is 427 924 hiervan gedruk.

Sestien jaar later, te midde van die Tweede Wêreldoorlog, het die Genootskap onderneem om die hele Bybel te druk. Met dié doel is plate vir die King James Version met kruisverwysings in 1942 van die A. J. Holman-maatskappy, van Philadelphia, Pennsilvanië, gekoop. Hierdie vertaling van die hele Bybel in Engels is gemaak, nie uit die Latynse Vulgaat nie, maar deur geleerdes wat vroeë vertalings met die oorspronklike Hebreeus, Aramees en Grieks kon vergelyk. ’n Konkordansie wat met die samewerking van meer as 150 knegte van Jehovah voorberei is, is hierby ingesluit. Dit was spesiaal saamgestel om Jehovah se Getuies te help om gepaste tekste gou te vind wanneer hulle in die veldbediening was, en sodoende kon hulle die Bybel behendig as “die swaard van die gees” gebruik om godsdiensdwaling te weerlê en aan die kaak te stel (Ef. 6:17). Om die Bybel aan alle mense teen ’n lae prys beskikbaar te stel, is dit op ’n rolrotasiepers gedruk—iets wat nog nooit tevore deur ander Bybeldrukkers aangepak is nie. Tot en met 1992 is altesaam 1 858 368 van hierdie Bybels gedruk.

Jehovah se Getuies wou graag meer doen as om net eksemplare van die Bybel, die boek self, in die hande van mense te kry. Die Getuies wou mense help om die persoonlike naam, asook die voorneme, van die Bybel se Goddelike outeur, Jehovah God, te leer ken. Daar was ’n Engelse vertaling—die American Standard Version van 1901—wat die Goddelike naam op die meer as 6 870 plekke gebruik het waar dit voorgekom het in die bronne waaruit die vertalers vertaal het. Ná etlike maande van onderhandeling het die Wagtoringgenootskap in 1944 die reg gekoop om ’n stel meesterplate vir hierdie Bybel te maak van plate en setwerk wat deur Thomas Nelson and Sons, van New York, verskaf is. Gedurende die volgende 48 jaar is 1 039 482 eksemplare gedruk.

Steven Byington, van Ballard Vale, Massachusetts, VSA, het ook ’n moderne Engelse vertaling van die Bybel gemaak wat aan die Goddelike naam sy regmatige plek gegee het. Die Wagtoringgenootskap het in 1951 sy ongepubliseerde manuskrip bekom en in 1961 die alleenreg as uitgewer verkry. Hierdie volledige vertaling is in 1972 gedruk. Tot in 1992 is daar 262 573 gedruk.

Intussen het daar egter iets anders gebeur.

Vertaling van die New World Translation

Dit was vroeg in Oktober 1946 dat Nathan H. Knorr, destyds die president van die Wagtoringgenootskap, die eerste keer voorgestel het dat die Genootskap ’n splinternuwe vertaling van die Christelike Griekse Geskrifte moet maak. Die werk aan die vertaling self het op 2 Desember 1947 begin. Die volledige teks is sorgvuldig hersien deur die hele vertalingskomitee, almal geesgesalfde Christene. Toe, op 3 September 1949, het broer Knorr ’n gesamentlike vergadering van die direksies van die Genootskap se New York- en Pennsilvanië-korporasies byeengeroep. Hy het hulle meegedeel dat die New World Bible Translation Committee ’n moderne vertaling van die Christelike Griekse Geskrifte voltooi het en dit aan die Genootskap gegee het om te publiseer.b Dit was ’n splinternuwe vertaling uit die oorspronklike Grieks.

Was nog ’n vertaling werklik nodig? Destyds was die volledige Bybel reeds in 190 tale gepubliseer, en ten minste dele daarvan was reeds in 928 ander tale en dialekte vertaal. Jehovah se Getuies het die meeste van hierdie vertalings al die een of ander tyd gebruik. Maar dit is so dat die meeste van hierdie vertalings deur geestelikes en sendelinge van die Christendom se godsdienssektes gedoen is en dat hulle vertalings in ’n meerdere of mindere mate beïnvloed is deur die heidense filosofieë en onskriftuurlike tradisies wat hulle godsdiensstelsels uit die verlede geërf het asook deur die vooroordeel van hoër kritiek. Daarbenewens het ouer en betroubaarder Bybelmanuskripte beskikbaar begin kom. As gevolg van argeologiese ontdekkings het geleerdes ’n duideliker begrip van die eerste-eeuse Grieks begin kry. Die tale waarin vertalings verskyn het, het ook oor die jare heen veranderings ondergaan.

Jehovah se Getuies wou ’n vertaling hê wat al die voordele van die jongste vakkunde sou bevat; ’n vertaling wat nie gekleur sou wees deur die geloofsbelydenisse en tradisies van die Christendom nie; ’n letterlike vertaling wat getrou weergee wat in die oorspronklike geskrifte staan en wat sodoende as die basis kon dien om voortdurend in kennis van die Goddelike waarheid te groei; ’n vertaling wat duidelik en verstaanbaar vir die hedendaagse leser sou wees. Die New World Translation of the Christian Greek Scriptures, wat in 1950 vrygestel is, het in hierdie behoefte voorsien—ten minste wat daardie deel van die Bybel betref. Namate Jehovah se Getuies dit begin gebruik het, is talle met geesdrif vervul, nie net omdat hulle die moderne taal makliker gevind het om te lees nie, maar omdat hulle besef het dat hulle ’n duideliker begrip kry van die betekenis van God se geïnspireerde Woord.

Een van die vernaamste kenmerke van hierdie vertaling is dat dit die Goddelike naam, God se persoonlike naam, Jehovah, 237 keer in die Christelike Griekse Geskrifte herstel het. Dit was nie die eerste vertaling wat die naam herstel het nie.c Maar dit is moontlik die eerste wat dit deurgaans in die hoofteks van Mattheüs tot Openbaring gedoen het. ’n Breedvoerige bespreking van hierdie onderwerp in die voorwoord het die grondslag voorsien vir wat gedoen is.

Daarna is die Hebreeuse Geskrifte in Engels vertaal en van 1953 af deel vir deel in vyf afsonderlike boekdele vrygestel. Soos in die geval van die Christelike Griekse Geskrifte is groot sorg aan die dag gelê om die inhoud van die teks van die oorspronklike taal so letterlik moontlik weer te gee. Spesiale aandag is daaraan gegee om die oorsetting eenvormig te maak, om die handeling of vorm van die werkwoorde akkuraat weer te gee en om eenvoudige taal te gebruik wat hedendaagse lesers maklik sal verstaan. Oral waar die Tetragrammaton in die Hebreeuse teks voorgekom het, is dit gepas as die persoonlike naam van God weergegee, pleks van dit met ’n ander term te vervang, soos so algemeen in talle ander vertalings gedoen is. Aanhangselartikels en voetnote in hierdie boekdele het ywerige studente in staat gestel om die grondslag te ondersoek waarop dinge op ’n sekere manier vertaal is.

Op 13 Maart 1960 het die New World Bible Translation Committee sy finale leeswerk voltooi aan die teks van die Bybeldeel wat die vyfde boekdeel sou uitmaak. Dit was 12 jaar, 3 maande en 11 dae nadat die werklike vertaalwerk aan die Christelike Griekse Geskrifte begin het. Enkele maande later is hierdie laaste boekdeel van die Hebreeuse Geskrifte, in gedrukte vorm, vir verspreiding vrygestel.

Die vertalingskomitee het nie ontbind nadat hulle hierdie projek voltooi het nie, maar hulle het eerder aangehou werk. Die hele vertaling is tot in die fynste besonderhede hersien. Toe is die volledige New World Translation of the Holy Scriptures, ’n hersiene uitgawe in een boek, in 1961 deur die Wagtoringgenootskap uitgegee. Dit is vir verspreiding beskikbaar gestel teen ’n bydrae van slegs een (Amerikaanse) dollar sodat almal, ongeag hulle ekonomiese situasie, ’n eksemplaar van God se Woord kon aanskaf.

Twee jaar later is ’n spesiale studenteuitgawe uitgegee. Dit het al die oorspronklike los boekdele, onhersien, met hulle duisende waardevolle voetnote oor die teks, asook voorwoord- en aanhangselbesprekings, in een boek bevat. Dit het ook die waardevolle kruisverwysings behou wat die lesers gerig het na parallelle woorde, parallelle gedagtes of gebeurtenisse, biografiese inligting, geografiese besonderhede, die vervulling van profesieë en direkte aanhalings in of uit ander dele van die Bybel.

Sedert die uitgawe in een boek in 1961 gepubliseer is, is vier ander bygewerkte hersiene uitgawes uitgegee. Die jongste hiervan het in 1984 verskyn, toe ’n uitgawe in grootdruk met ’n omvattende aanhangsel, 125 000 kruisverwysings, 11 400 insiggewende voetnote en ’n konkordansie gepubliseer is. Die kenmerke van hierdie uitgawe help studente om te verstaan waarom verskeie tekste ter wille van akkuraatheid op ’n bepaalde manier vertaal moet word, en ook wanneer tekste tereg op meer as een manier vertaal kan word. Die kruisverwysings help hulle ook om die onderlinge harmonie tussen die verskillende Bybelboeke te waardeer.

As deel van die New World Bible Translation Committee se ernstige poging om liefhebbers van God se Woord te help om vertroud te raak met die inhoud van die grondteks in Koine (gewone Grieks) van die Christelike Griekse Geskrifte, het die komitee The Kingdom Interlinear Translation of the Greek Scriptures uitgegee. Hierdie Bybel is die eerste keer in 1969 deur die Wagtoringgenootskap uitgegee en toe in 1985 bygewerk. Dit bevat The New Testament in the Original Greek, soos saamgestel deur B. F. Westcott en F. J. A. Hort. Aan die regterkant van die bladsy verskyn die New World Translation-teks (die 1984-hersiening in die bygewerkte uitgawe). Maar dan is daar tussen die reëls van die Griekse teks ’n ander vertaling, ’n baie letterlike, woord-vir-woord-vertaling van wat die Grieks eintlik sê volgens die basiese betekenis en die grammatiese vorm van elke woord. Dit stel selfs studente wat nie Grieks kan lees nie in staat om na te gaan wat werklik in die oorspronklike Griekse teks staan.

Sou hierdie werk aan die New World Translation slegs tot nut wees van diegene wat Engels kan lees? Op baie plekke het Wagtoringsendelinge dit moeilik gevind om genoeg Bybels in die plaaslike tale te bekom om onder mense te versprei wat graag ’n persoonlike eksemplaar van God se Woord wou hê. Dit was nie ongewoon dat hierdie sendelinge, in sommige dele van die wêreld, die vernaamste verspreiders was van Bybels wat deur ander Bybelgenootskappe gedruk is nie. Maar die godsdienspersoneel wat hierdie Bybelgenootskappe verteenwoordig het, het nie altyd daarvan gehou nie. Boonop was party van hierdie Bybels nie die beste vertalings nie.

Vertaal in ander tale

Die jaar toe die volledige New World Translation die eerste keer in een boek verskyn het, dit wil sê 1961, is ’n groep bedrewe vertalers byeengebring om die Engelse teks oor te sit in ses ander tale wat deur baie mense gepraat word—naamlik Duits, Frans, Italiaans, Nederlands, Portugees en Spaans. ’n Hervertaling uit die Engels, wat ook met die Hebreeus en die Grieks vergelyk kon word, was moontlik vanweë die letterlikheid van die Engelse vertaling self. Die vertalers het as ’n internasionale komitee by die Genootskap se hoofkwartier in Brooklyn, New York, in samewerking met die New World Bible Translation Committee gewerk. In 1963 is die Christelike Griekse Geskrifte in al ses tale gedruk en vrygestel.

Teen 1992 was die volledige New World Translation of the Holy Scriptures in 12 tale beskikbaar—Deens, Duits, Engels, Frans, Italiaans, Japannees, Nederlands, Portugees, Slowaaks, Spaans, Sweeds en Tsjeggies. Die Christelike Griekse Geskrifte was in twee addisionele tale beskikbaar. Dit het beteken dat hierdie vertaling beskikbaar was in die moedertaal van nagenoeg 1 400 000 000 mense, of meer as ’n kwart van die wêreld se bevolking, en baie meer mense het die voordeel daarvan gekry deur die vertaling van aanhalings daaruit in Die Wagtoring in 97 ander tale. Diegene wat hierdie 97 tale lees, was egter gretig om die volledige New World Translation in hulle eie taal te hê. In 1992 was reëlings reeds in werking om hierdie vertaling in 16 van hierdie tale te doen en om die Hebreeuse Geskrifte te voltooi in die 2 tale waarin net die Christelike Griekse Geskrifte reeds verskyn het.

Aangesien hierdie Bybels deur vrywilligers in die Genootskap se eie fabrieke gedruk is, kon hulle teen ’n minimum prys beskikbaar gestel word. Toe ’n Oostenrykse Getuie in 1972 die New World Translation in Duits aan ’n boekbinder gewys en hom gevra het hoeveel hy gedink het dit kos, was die man verbaas om te verneem dat die voorgestelde bydrae slegs ’n tiende van die prys was wat hy gesê het.

Enkele voorbeelde lig die trefkrag van hierdie vertaling toe. In Frankryk het die Katolieke Kerk leke eeue lank verbied om die Bybel te besit. Katolieke vertalings wat beskikbaar gekom het, was betreklik duur en in min huise te vinde. Die New World Translation of the Christian Greek Scriptures is in 1963 in Frans vrygestel en is in 1974 deur die volledige Bybel gevolg. Teen 1992 is altesaam 2 437 711 eksemplare van die New World Translation vir verspreiding in Frankryk versend; en die aantal Getuies van Jehovah in Frankryk het gedurende dieselfde tydperk met 488 persent vermeerder en ’n totaal van 119 674 bereik.

Die situasie in Italië was soortgelyk aan dié in Frankryk. Die mense is ook lank verbied om ’n eksemplaar van die Bybel te besit. Sedert die vrystelling van die Italiaanse uitgawe van die New World Translation en tot 1992 is daar 3 597 220 eksemplare versprei; die grootste gros hiervan was die volledige Bybel. Mense wou self ondersoek wat in God se Woord staan. Dit is interessant dat die aantal Getuies van Jehovah in Italië gedurende dieselfde tydperk vinnig vermeerder het—van 7 801 tot 194 013.

Toe die New World Translation of the Christian Greek Scriptures in Portugees beskikbaar gestel is, was daar net 30 118 Getuies in Brasilië en 1 798 in Portugal. Gedurende die daaropvolgende jare, tot en met 1992, is altesaam 213 438 eksemplare van die Christelike Griekse Geskrifte en 4 153 738 eksemplare van die volledige Bybel in Portugees aan persone en gemeentes in hierdie lande uitgestuur. Wat was die resultate? In Brasilië is daar meer as 11 keer soveel bedrywige lowers van Jehovah; en in Portugal 22 keer soveel. Tienduisende mense wat nooit ’n Bybel gehad het nie, was dankbaar om een te kry, en ander het dit waardeer om ’n Bybel te hê wat woorde gebruik wat hulle kan verstaan. Toe die New World Translation of the Holy Scriptures—With References in Brasilië beskikbaar gestel is, het die nuusmedia daarop gewys dat dit die volledigste vertaling (dit wil sê met meer kruisverwysings en voetnote) is wat in dié land beskikbaar is. Dit het ook gemeld dat die eerste oplaag tien maal groter is as dié van die meeste nasionale uitgawes.

Die Spaanse uitgawe van die New World Translation of the Christian Greek Scriptures is ook in 1963 vrygestel, gevolg deur die volledige Bybel in 1967. Daar is 527 451 eksemplare van die Christelike Griekse Geskrifte gepubliseer, en daarna, tot en met 1992, altesaam 17 445 782 eksemplare van die volledige Bybel in Spaans. Dit het bygedra tot ’n buitengewone vermeerdering in die aantal lowers van Jehovah in Spaanssprekende lande. Gevolglik het die getalle van Jehovah se Getuies in die oorwegend Spaanssprekende lande waar hulle met hulle bediening besig is van 1963 tot 1992 van 82 106 tot 942 551 toegeneem. En in die Verenigde State was daar in 1992 ’n addisionele 130 224 Spaanssprekende Getuies van Jehovah.

Dit was nie net in die gebiede van die Christendom wat die New World Translation geesdriftig ontvang is nie. In die eerste jaar wat die Japannese uitgawe verskyn het, het die takkantoor in Japan bestellings vir ’n halfmiljoen eksemplare ontvang.

Tot en met 1992 is daar 70 105 258 eksemplare gedruk van die volledige New World Translation in die 12 tale waarin dit toe beskikbaar was. Daarbenewens is daar 8 819 080 eksemplare van dele van die vertaling gedruk.

Die Bybel word in baie formate beskikbaar gestel

Die rekenarisering van die Wagtoringgenootskap se werksaamhede, wat in 1977 begin het, het met Bybelproduksie gehelp, soos dit in ander aspekte van drukwerk gedoen het. Dit het vertalers gehelp om groter konsekwentheid in hulle werk te verkry; dit het dit ook makliker gemaak om die Bybel in ’n verskeidenheid formate te druk.

Nadat die volledige teks van die Bybel in die rekenaar ingevoer is, was dit nie moeilik om ’n elektroniese fotosetmasjien te gebruik om die teks in ’n verskeidenheid groottes en formate te druk nie. Daar het in 1981 eers ’n uitgawe in die gewone grootte in Engels verskyn met ’n konkordansie en ander nuttige aanhangsels. Dit was die eerste uitgawe wat deur die Wagtoringgenootskap op ’n rolrubberdrukpers gedruk is. Nadat die voordele van hersiening ingelyf is by die teks wat in die rekenaar gestoor was, is daar in 1984 ’n grootdrukuitgawe in Engels uitgereik; dit het talle waardevolle navorsingsmiddele bevat. ’n Gewone grootte Engelse uitgawe van hierdie selfde hersiening is daardie jaar beskikbaar gestel; kruisverwysings en ’n konkordansie is daarby ingesluit, maar nie voetnote nie; en sy aanhangsel is vir die veldbediening pleks van dieper studie saamgestel. Toe is daar vir diegene wat graag ’n baie klein sakformaatuitgawe wou hê in 1987 een in Engels uitgegee. Al hierdie uitgawes is ook spoedig in ander tale uitgegee.

Daarbenewens is daar ook aandag geskenk aan diegene wat bepaalde behoeftes het. Vir diegene wat kan sien, maar wat ’n baie groot druk nodig het, is die volledige Engelse New World Translation in 1985 in vier groot boekdele gepubliseer. Kort daarna is dieselfde uitgawe in Duits, Frans, Spaans en Japannees gedruk. Vantevore, in 1983, is die New World Translation of the Christian Greek Scriptures, in vier boekdele, in graad-twee Engelse braille beskikbaar gestel. Binne die volgende vyf jaar is die volledige New World Translation in 18 boekdele in Engelse braille gedruk.

Sou sommige mense gehelp kan word as hulle na ’n bandopname van die Bybel kon luister? Beslis. Daarom het die Wagtoringgenootskap onderneem om dit ook te maak. Die eerste kassetopname was The Good News According to John, in Engels, wat in 1978 vrygestel is. Mettertyd is die hele New World Translation in Engels op 75 kassette beskikbaar gestel. Wat as ’n klein onderneming begin het, het baie gou in ’n groot projek verander. Hierdie kassetopnames was gou in ander tale beskikbaar. Teen 1992 was die New World Translation, volledig of gedeeltelik, in 14 tale op kassette beskikbaar. Aanvanklik het sommige van die takkantore die werk deur handelsfirmas laat doen. Tot en met 1992 het die Wagtoringgenootskap meer as 31 000 000 van hierdie kassetopnames op hulle eie toerusting gemaak.

Die voordele van die Bybelkassette en die maniere waarop hulle benut is, het aanvanklike verwagtinge ver oortref. In alle dele van die aarde het mense kassetspelers gebruik. Baie wat nie kon lees nie, is op hierdie manier gehelp om persoonlik by God se heilige Woord baat te vind. Vroue kon na die kassette luister terwyl hulle hulle huiswerk doen. Mans kon op ’n bandspeler daarna luister terwyl hulle met die motor werk toe ry. Die onderrigvermoë van individuele Getuies het verbeter omdat hulle gereeld na God se Woord geluister het en op die uitspraak van Bybelname en die manier waarop Skrifgedeeltes gelees is, gelet het.

Tot en met 1992 is verskeie uitgawes van die New World Translation op die Genootskap se perse in Noord- en Suid-Amerika, Europa en die Ooste gedruk. Altesaam 78 924 338 New World Translation-eksemplare is reeds gedruk en vir verspreiding beskikbaar gestel. Net in Brooklyn is daar drie baie groot snelrolrubberdrukperse wat hoofsaaklik vir Bybelproduksie gebruik word. Hierdie perse kan gesamentlik tot 7 900 Bybels per uur druk, en soms was dit nodig om hulle ’n ekstra skof te laat loop.

Maar Jehovah se Getuies bied mense meer aan as ’n Bybel wat net op die rak geplaas kan word. Hulle bied ook ’n gratis tuisbybelstudie aan vir enigeen wat in die Bybel belangstel—hetsy hy ’n eksemplaar by Jehovah se Getuies gekry het of nie. Hierdie studies hou nie onbepaald aan nie. Sommige studente neem die dinge wat hulle leer ter harte, word gedoopte Getuies en neem dan deel aan die werk om ander te onderrig. As studente ná ’n aantal maande nie redelike vordering gemaak het deur die dinge wat hulle leer toe te pas nie, word die studies dikwels gestaak ten gunste van ander mense wat werklik belangstel. In 1992 het Jehovah se Getuies hierdie gratis Bybelstudiediens aan 4 278 127 mense of huisgesinne verskaf, gewoonlik op ’n weeklikse grondslag.

Jehovah se Getuies is dus uitgewers en verspreiders van die Bybel en onderrigters van God se heilige Woord soos geen ander organisasie nie.

[Voetnote]

a Soos Die Wagtoring (Engelse uitgawe) van 15 Julie 1892 (bl. 210) getoon het, is die naam Watch Tower Bible and Tract Society reeds etlike jare gebruik voordat hierdie naam wetlik geregistreer is. ’n Traktaat wat in 1890 in die Old Theology-reeks gepubliseer is, het die uitgewers aangegee as Tower Bible and Tract Society.

b Hierdie vertaling is aan die Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania gegee om te publiseer met die versoek dat die name van die vertalers nooit bekend gemaak moet word nie. Hulle wou hê dat al die eer Jehovah God, die Goddelike Outeur van sy geïnspireerde Woord, moet toekom.

c Sommige vroeëre vertalings in Hebreeus, Duits en Engels, asook talle sendingvertalings, het die Goddelike naam in die Christelike Griekse Geskrifte herstel.

[Venster op bladsy 609]

’n Splinternuwe vertaling

Toe die eerste deel van die “New World Translation of the Hebrew Scriptures” verskyn het, het Alexander Thomson, ’n Engelse Bybelkritikus, geskryf: “Daar is besonder min oorspronklike vertalings van die Hebreeuse Geskrifte in Engels. Dit verskaf ons dus groot genoeë om die publikasie van die New World Translation se eerste deel [van die Hebreeuse Geskrifte], Genesis tot Rut, te ontvang. . . . Dit is duidelik dat ’n spesiale poging aangewend is om hierdie vertaling baie leesbaar te maak. Niemand kan sê dat dit hierdie vertaling aan varsheid en oorspronklikheid ontbreek nie. Sy terminologie is hoegenaamd nie op dié van vorige vertalings gebaseer nie.”—“The Differentiator”, Junie 1954, bl. 131.

[Venster/Prent op bladsy 610]

“’n Teks met ’n kitswoordeskat”

In “The Classical Journal” het Thomas N. Winter van die Universiteit van Nebraska ’n resensie oor “The Kingdom Interlinear Translation of the Greek Scriptures” geskryf waarin hy gesê het: “Dit is geen gewone interlineêre vertaling nie: die getrouheid van die teks is behou, en die Engels wat daaronder verskyn, is eenvoudig die basiese betekenis van die Griekse woord. Die interlineêre deel van hierdie boek is derhalwe geensins ’n vertaling nie. ’n Teks met ’n kitswoordeskat is ’n korrekter beskrywing. ’n Vertaling in vloeiende Engels verskyn in ’n smal kantkolom aan die regterkant van die bladsye. . . .

“Die teks is gegrond op dié van Brooke F. Westcott en Fenton J. A. Hort (weerg., 1881), maar die vertaling deur die anonieme komitee is volkome modern en deurgaans akkuraat.”—Nommer vir April-Mei 1974, bl. 375-6.

[Prent]

Uitgawes van 1969 en 1985

[Venster/Prent op bladsy 611]

Die mening van ’n Hebraïkus

Oor die “New World Translation” het professor dr. Benjamin Kedar, ’n Hebraïkus in Israel, in 1989 gesê: “Ek raadpleeg dikwels die Engelse uitgawe van wat as die ‘New World Translation’ bekend staan tydens my taalkundige navorsing in verband met die Hebreeuse Bybel en vertalings. Sodoende vind ek dat my mening herhaaldelik bevestig word dat hierdie werk ’n opregte poging weerspieël om so ’n akkuraat moontlike begrip van die teks weer te gee. Dit gee blyk van groot meesterskap oor die oorspronklike taal en gee die oorspronklike woorde op verstaanbare wyse in ’n tweede taal weer sonder dat dit onnodig van die spesifieke struktuur van die Hebreeus afwyk. . . . Enige verklaring, in watter taal ook al, laat ’n sekere mate van vryheid in vertolking of vertaling toe. Die taalkundige oplossing in enige gegewe geval kan dus oop wees vir bespreking. Maar ek het nog nooit in die ‘New World Translation’ enige bevooroordeelde opset ontdek om meer uit die teks af te lei as wat dit bevat nie.”

[Grafieke op bladsy 613]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

Toename in Getuies sedert die verskyning van die “New World Translation”

Frankryk

150,000

100,000

50,000

1963 1970 1980 1992

Italië

150,000

100,000

50,000

1963 1970 1980 1992

Portugal en Brasilië

300,000

200,000

100,000

1963 1970 1980 1992

Spaanssprekende lande

900,000

600,000

300,000

1963 1970 1980 1992

[Prente op bladsy 604]

Enkele van die vertalings wat die vroeë Bybelstudente gebruik het

Young se letterlike vertaling

Leeser se vertaling (Engels langsaan die Hebreeus)

Tischendorf se “New Testament” (met variante lesings uit Griekse MSS)

Murdock se vertaling (uit Siries)

“The Emphatic Diaglott” (Grieks na Engels)

Variorum-Bybel (met verskillende Engelse oorsettings)

“The Newberry Bible” (met waardevolle kanttekeninge)

[Prent op bladsy 605]

Inleiding van die oplaag van Rotherham se “New Testament” wat in ca. 1890 vir die Wagtoringgenootskap gedruk is

[Prent op bladsy 606]

“Holman Linear Parallel”-uitgawe van die Bybel, wat in 1902 spesiaal vir die Wagtoringgenootskap gedruk is

[Prent op bladsy 606]

Die Wagtoringuitgawe van die “King James Version”, met ’n spesiaal saamgestelde konkordansie (1942)

[Prent op bladsy 607]

“American Standard Version”, ’n vertaling wat die Goddelike naam, Jehovah, meer as 6 870 keer gebruik; Wagtoringuitgawe (1944)

[Prent op bladsy 607]

Byington se vertaling (1972)

[Prent op bladsy 608]

“New World Translation”, eers in ses boekdele in Engels vrygestel, van 1950 tot 1960; later in ’n spesiale studenteuitgawe saamgebind

In 1961 uitgegee as ’n kompakte, enkele boek

Grootdrukuitgawe, met verwysings vir studie, uitgegee in 1984

[Prent op bladsy 612]

Die “New World Translation” is mettertyd in meer tale beskikbaar gestel

[Prente op bladsy 614]

“New World Translation” in baie groot druk

. . . in braille

. . . op kassette

. . . op rekenaardiskette

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel