Toon respek vir Jehovah se plek van aanbidding
1 Wanneer ons ’n gas in iemand se huis is, toon ons respek vir daardie persoon se eiendom deur niks te doen wat dit sal beskadig nie, en ons ontwrig ook nie die ordelike roetine van die huisgesin nie. Hoeveel te meer moet dit die geval wees wanneer ons ’n gas van Jehovah is! Ons behoort te weet hoe om ons in sy huisgesin te gedra (Ps. 15:1; 1 Tim. 3:15). Hetsy ons Christelike vergaderinge in die Koninkryksaal, ’n huis of ’n openbare fasiliteit gehou word, die meeste van ons toon altyd respek vir ons plek van aanbidding asof dit die huis is van Jehovah, wie se “majesteit . . . oor aarde en hemel” is.—Ps. 148:13.
2 Party broers toon ’n gebrek aan respek by die vergaderinge deur luidrugtig te wees of te maak asof die inligting wat aangebied word onbelangrik is. Van die volwassenes voer onnodige gesprekke in die voorportaal, toilet of buitekant die Koninkryksaal terwyl die vergadering aan die gang is. Wanneer ’n ouer kind by ’n jonger een gelaat word om hom op te pas, begin hulle soms speel en baat hulle min by die program. Daar is al gesien hoe sommige kinders ná die vergaderinge buite die Koninkryksaal speel, terwyl hulle ’n groot geraas maak en selfs karatebewegings teenoor mekaar uitvoer. In sommige gevalle het hulle die bure gesteur of die verkeer in die parkeerterrein of straat ontwrig.
3 Hoe om te voorkom dat jy oneerbiedig is: As ons die waardigheid en heiligheid van ons aanbidding besef, sal ons beslis nie ander se aandag wil aftrek deur te fluister, te eet, kougom te kou, papiere te frommel, onnodig na die toilet te gaan of altyd laat vir vergaderinge op te daag nie. Eerbiedige en waarderende ouers laat nie toe dat hulle kinders die mat, sitplekstoffering of mure van die Koninkryksaal of die huis waar die boekstudie gehou word, vuil smeer nie. En ons sal almal ongetwyfeld saamstem dat daar by ons vergaderinge beslis geen plek is vir enige skandelike gedrag, dwase praatjies of onwelvoeglike skertsery nie.—Ef. 5:4.
4 As ons altyd die doel van ons Christelike vergaderinge onthou, sal ons seker maak dat ons en ons kinders gepaste eerbied vir die aanbidding van Jehovah toon in die plek waar ons ‘gekies het om te staan’.—Ps. 84:10, NW.