Kies artikels oor dinge waarin mense veral belangstel
1 Soos boogskutters wat noukeurig met hulle pyle mik, geniet baie gemeentelike verkondigers en pioniers uitstekende sukses deur gebruik te maak van uitgesoekte artikels in Die Wagtoring en Ontwaak! oor dinge waarin die mense in hulle gebied spesifiek belangstel. Hulle besluit wie heel waarskynlik sekere artikels in die tydskrifte sal wil lees. Hoe doen hulle dit?
2 Eers lees hulle elke tydskrif van voor tot agter. Dan vra hulle hulle af: By watter tipe persoon sal elk van die artikels byval vind? ’n Poging word dan aangewend om diegene te besoek wat waarskynlik in daardie artikel sal belangstel. Wanneer hulle verwag dat ’n spesifieke nommer goed in hulle gebied ontvang sal word, bestel hulle ekstra tydskrifte.
3 Ons tydskrifte word hoog aangeskryf: Een van ons intekenaars wat vir Nigerië se mees gelese internasionale tydskrif werk, het oor die Ontwaak! gesê: “Baie geluk met die wêreld se beste tydskrif oor algemene belange.” ’n Ywerige leser van ons tydskrifte het opgemerk: “Watter wonderlike juwele van onskatbare wysheid! Daar is feitlik nie ’n onderwerp waarin ek belangstel wat nie iewers in die bladsye van een van hierdie [tydskrifte] bespreek is nie.”
4 Die tydskrifte dek ’n wye verskeidenheid onderwerpe, waaronder die Bybel, wêreldgebeure, gesinsprobleme, maatskaplike probleme, die geskiedenis, die wetenskap, dier- en plantlewe, om maar net ’n paar te noem. Mense is beslis meer geneig om iets te lees wanneer dit op hulle behoeftes, omstandighede of beroep betrekking het. Aangesien ons met baie mense praat, elk met sy eie spesifieke voorkeure en probleme, is dit baie doeltreffend om artikels te kies wat veral byval sal vind by die mense wat ons ontmoet.
5 Neem byvoorbeeld wat gebeur het toe twee Getuies die Ontwaak! van 8 September 1996 vir ’n koerantrubriekskrywer aangebied het. Hy het geskryf: “Voor ek kon sê ek stel nie belang nie, het een bygevoeg: ‘Daar is ’n artikel in oor Indiane. Ons weet dat jy deesdae baie oor die onderwerp skryf.’” Hy het die tydskrif geneem en, gedurende ontbyt, die materiaal oor die Indiane gelees; later het hy erken dat “dit uitstekend was” en dat dit “deur en deur eerlik was”.
6 Waarin stel die mense in jou gebied belang? Wat het jy in onlangse maande in die tydskrifte gesien wat dalk byval sal vind by winkeliers en beroepsmense in jou gebied of by jou bure, werksmaats en klasmaats? Waarin sal prokureurs, opvoedkundiges, gesins- en skoolraadgewers, jeugvoorligters, mense wat dienste aan die gemeenskap lewer en gesondheidspraktisyns veral belangstel? As jy die mense vir wie jy preek in gedagte hou terwyl jy elke nommer noukeurig deurgaan, sal dit jou uitstekende maniere bied om die woord van waarheid bekend te maak.
7 Wanneer jy iemand vind wat veral in ’n sekere artikel in Die Wagtoring of Ontwaak! belangstel en die tydskrif neem, kan jy sê: “Wanneer daar in ’n toekomstige nommer ’n artikel is waarin ek meen jy ook sal belangstel, sal ek graag vir jou ’n eksemplaar wil bring.’ Jy sal die persoon dalk by jou tydskrifroete kan voeg en gereeld met die nuutste tydskrifte teruggaan. Dit kom ooreen met wat gedoen is om ’n oop uitnodiging te kry om herbesoeke by mense te doen wat dalk veral belangstel in sekere artikels wat in ons tydskrifte verskyn.
8 Bied geestelike hulp: ’n Paar jaar gelede het ’n beroepsgeoriënteerde man ’n Ontwaak! gekry oor ’n onderwerp waarin hy belanggestel het. Hierdie godsdienstige man het egter ook die bygaande nommer van Die Wagtoring gelees waarin daar ’n artikel was wat hom beweeg het om sy lewenslange geloof in die Drie-eenheid noukeurig te ondersoek. Hy is ses maande later gedoop! Moet dus nie huiwer om ’n geestelike gesprek met die lesers van ons tydskrifte aan te knoop nie. Jy kan vir hulle die brosjure Wat vereis God van ons? wys en aanbied om elke keer wanneer jy met ’n nuwe stel tydskrifte terugkeer net ’n paar minute te gebruik om met hulle ’n les daaruit te bespreek.
9 Dink mooi na oor wie van jou herbesoeke en sakekennisse dit waarskynlik sal waardeer om die huidige nommers van Die Wagtoring en Ontwaak! te ontvang. Wend dan ’n ywerige poging aan om by hulle uit te kom. Bied hierdie waardevolle tydskrifte vir soveel mense moontlik aan. En onthou altyd dat ‘jy jou brood op die water werp’ wanneer jy daarna streef om meer mense te help om ons tydskrifte te lees. Dalk sal jy mettertyd welslae behaal en toekomstige mededissipels vind.—Pred. 11:1, 6.