-
Praat oor die heerlikheid van God se koningskapDie Wagtoring – 1987 | Oktober 15
-
-
Praat oor die heerlikheid van God se koningskap
“Oor die heerlikheid van u koningskap sal hulle praat, en oor u mag sal hulle spreek.”—PSALM 145:11, NW.
1. Hoofsaaklik waarom het Jehovah ons met spraak begaaf?
JEHOVAH het ’n doel gehad toe hy ons met spraak begaaf het (Exodus 4:11). Dit was hoofsaaklik sodat ons lippe lof aan hom kan “uitstroom” (Psalm 119:171, 172). Soos die psalmis Dawid gesê het: “Al u werke sal u prys, o Jehovah, en u lojale dienaars sal u seën. Oor die heerlikheid van u koningskap sal hulle praat, en oor u mag sal hulle spreek, om u magtige dade aan die mense bekend te maak, en die heerlikheid van die mag van u koningskap. U koningskap is ’n koningskap vir alle tye van onbepaalde duur, en u heerskappy is gedurende alle opeenvolgende geslagte.”—Psalm 145:10-13, NW.
2. Op watter maniere kan ons ‘lof aan God laat uitstroom’?
2 Gesalfde volgelinge van Jesus Christus en hulle metgeselle van die “groot menigte” is gretig om Jehovah, die “Koning van die ewigheid”, te loof (Openbaring 7:9; 15:3, NW). Deur ywerige studie van die Bybel met behulp van Die Wagtoring en ander Christelike publikasies kan ons juiste kennis aangaande God opdoen wat soos ’n fontein van suiwer, verkwikkende, lewegewende water is. In ons geval word ‘die fontein van wysheid dus ’n stroom wat bruis’ (Spreuke 18:4). Ons word beweeg om ‘lof te laat uitstroom’ in die getuieniswerk van huis tot huis en ander vorme van die veldbediening. Maar daar is ook ’n Skriftuurlike rede om informele getuienis te doen.
Skriftuurlike voorbeelde
3. Meld asseblief ’n voorbeeld waar Jesus Christus informeel getuig het.
3 Nadat Jesus met die heilige gees gesalf is, was dit by sy verblyfplek, waarheen hy Johannes, Andreas en blykbaar Petrus genooi het, dat hy die eerste keer vir ander gepreek het. Hulle het die dag daar deurgebring en het klaarblyklik onder daardie informele omstandighede ’n goeie getuienis ontvang (Johannes 1:35-42). Dit was ook onder informele omstandighede—“toe Jesus daarvandaan verder gaan”—dat hy Mattheüs by die tolhuis gesien en goeie resultate behaal het toe Hy gesê het: “Volg My.”—Mattheüs 9:9.
4. Wat het Jesus gesê toe hy vir ’n Samaritaanse vrou getuig het, en waartoe het dit gelei?
4 Jesus was die beste voorbeeld van ‘’n stroom van wysheid wat bruis’. Hoewel hy honger en moeg was toe hy by die fontein van Jakob naby Sigar gesit het, het hy getuig vir ’n Samaritaanse vrou wat water kom skep het. “Elkeen wat drink van die water wat Ek hom sal gee, sal in ewigheid nooit dors kry nie”, het Jesus gesê, “maar die water wat Ek hom sal gee, sal in hom word ’n fontein van water wat [opborrel om ewige lewe te gee].” Hierdie informele getuienis het daartoe gelei dat Jesus gepreek het vir ’n groep wat deur die vrou aangespoor is om te vergader en te hoor wat hy te sê het.—Johannes 4:6-42, vgl. NW.
5. Watter voorbeelde van informele getuieniswerk voorsien Filippus die evangelis en die apostel Paulus?
5 Filippus die evangelis het ’n verbygaande wa voorgekeer en informeel getuig vir die insittende, wat besig was om Jesaja se profesie te lees. Filippus is gevra om op die wa te klim en het “die evangelie van Jesus” aan daardie Ethiopiese hofdienaar verduidelik, en sy waarderende reaksie het tot sy doop gelei (Handelinge 8:26-38). Toe die apostel Paulus se boeie in ’n groot aardbewing by Filippi losgeraak het, het hy informeel vir die tronkbewaarder getuig. Die gevolg? ‘Hy en al sy mense is onmiddellik gedoop.’—Handelinge 16:19-34.
6. Van watter bedrywighede van Jesus se dissipels, ná Stefanus se steniging, het informele getuienis waarskynlik deel uitgemaak?
6 Informele getuieniswerk is vandag een manier om die goeie nuus te verkondig waar ons Christelike werk onder beperking staan. Al word ons vervolg, beweeg ons hart ons om oor die heerlikheid van God se koningskap te praat. Nadat Stefanus gestenig is, is die meeste van die vervolgde dissipels verstrooi. Hulle het egter aangehou om die goeie nuus te verkondig, en hulle pogings om die Koninkryk te verkondig, het ongetwyfeld informele getuienis ingesluit.—Handelinge 8:4-8; 11:19-21.
7. Wat het Paulus gedoen toe hy aan sy huis gekluister was, en watter vraag laat dit ontstaan?
7 Informele getuieniswerk is een manier om oor die heerlikheid van God se koningskap te praat as ons opgesluit is of weens siekte of ongesteldheid aan ons huise gekluister is. Paulus was twee jaar lank onder Romeinse bewaking onder huisarres. Maar in plaas van weg te kwyn, het hy mense laat kom en het hy “almal ontvang wat na hom gekom het, terwyl hy die koninkryk van God gepreek en onderrig gegee het aangaande die Here Jesus Christus, met volle vrymoedigheid” (Handelinge 28:16-31). Wat ’n goeie voorbeeld! Kan jy iets soortgelyks doen as jy ’n getuie van Jehovah is wat aan jou huis gekluister is?
8. Hoe doeltreffend was Paulus se informele getuieniswerk?
8 Wanneer Paulus se wagte van tyd tot tyd afgelos is, het verskillende wagte hom met ander oor die heerlikheid van God se koningskap hoor praat. Ons kan egter seker wees dat hy ook regstreeks vir daardie wagte getuig het. Hierdie informele getuieniswerk was so doeltreffend dat Paulus kon skryf: ‘Wat ek wedervaar het, het eerder op bevordering van die evangelie uitgeloop, sodat my boeie openbaar geword het in Christus onder die hele keiserlike lyfwag en by al die ander, en die meeste van die broeders wat in die Here deur my boeie vertroue gekry het, waag dit des te meer om die woord van God onbevrees te spreek’ (Filippense 1:12-14, vgl. NW). As ons opgesluit en geleenthede vir formele getuienis ontneem word, kan ons steeds, soos Paulus, oor God se koningskap praat. En hoe sal dit ons broers tog bemoedig!
9, 10. Watter wêreldlike bewyse is daar dat vroeë Christene informeel getuig het?
9 Informele getuieniswerk was so algemeen onder vroeë Christene dat daar selfs van latere jare gesê kon word: “’n Christenskrywer, waarskynlik omstreeks 200 in Carthago, gee ’n beskrywing . . . van hoogs geleerde mense. Drie jong regsgeleerdes, boesemvriende, bring ’n vakansiedag op die strand deur. Twee is Christene, die derde ’n ongelowige. Hulle begin weldra oor godsdiens gesels . . . Die verslag oor die lang bespreking eindig: ‘Ons het al drie gelukkig huis toe gegaan. Die een was gelukkig omdat hy die Christelike geloof aanvaar het, die ander omdat hulle hom gehelp het om dit te doen.’ Die geskrif maak nie daarop aanspraak dat dit ware geskiedenis is nie; dit is ’n Apologie, deur Minucius Felix. Maar dit is wel ’n voorstelling van die soort ding wat onder die meer bevoorregte mense plaasgevind het” (Church History 1—The First Advance: AD 29—500, deur John Foster, bladsye 46, 48). Ja, en hierdie verslag toon dat informele getuieniswerk nie onder belydende Christene van daardie tyd uitgesterf het nie.
10 Daar is ook aangaande die vroeë Christene gesê: “Daar was eenvoudig ’n immer toenemende aantal individuele Christengelowiges wat Christus verkondig het waar hulle ook al gegaan het, hetsy in hulle gewone werksaamhede of wanneer hulle deur vervolging verstrooi is . . . Daar was talle wat hulle geloof deur middel van hulle ambag, hulle nering, hulle daaglikse werk, van watter aard ook al, uitgedra het” (The Missionary Enterprise, deur Edwin Munsell Bliss, bladsy 14). Ja, vroeë Koninkryksverkondigers het formeel en informeel getuig.
Oorleg en voorbereiding
11. Wat kan ons by Jesus leer oor hoe om die aandag op God se waarheid te vestig?
11 Soos Jesus en sy vroeë volgelinge, moet ons formeel sowel as informeel getuig. Oorleg en voorbereiding is nodig om dit bekwaam te doen. Wanneer Jesus informeel getuig of onderrig het, het hy melding gemaak van kinders, voedsel, klere, voëls, blomme, weerstoestande en nerings (Mattheüs 4:18, 19; 6:25-34; 11:16-19; 13:3-8; 16:1-4). Ons kan ook feitlik enige onderwerp gebruik as ’n grondslag om aandag op God se waarheid te vestig.
12. Hoe kan ’n mens vir informele getuieniswerk voorberei wanneer jy ’n reis beplan?
12 Ons kan informeel getuig vir mense wat in parke sit, in winkelsentrums toustaan, ensovoorts. In Athene het Paulus “elke dag op die mark met die wat hom teëkom”, geredeneer (Handelinge 17:17). Maar ons moet vir informele getuieniswerk voorberei. Beplan jy byvoorbeeld ’n reis per vliegtuig, trein of bus? Neem dan ’n Bybel en ’n paar traktate, tydskrifte of brosjures saam. Dit lei dikwels tot ’n gesprek wanneer jy Christelike publikasies lees terwyl jy met openbare vervoer reis of elders is.
13. Lig toe hoe jy vir ’n bejaarde persoon kan begin getuig terwyl jy reis.
13 ’n Vriendelike inleiding is natuurlik die eerste stap. Die handleiding Redenering uit die Skrif stel inleidings vir gebruik in die veldbediening voor, maar sommige van hulle kan gewysig word vir gebruik in informele getuieniswerk. As jy byvoorbeeld langs ’n bejaarde persoon sit terwyl jy reis, kan jy sê: “My naam is . Ek dink nogal baie oor die doel van die lewe. Baie mense is so besig om ’n bestaan te maak dat hulle nouliks tyd het om oor die doel van die lewe na te dink. Maar namate ons ouer word, besef ons dat die lewe nogal kort is en wonder ons dalk: ‘Is dit al wat die lewe veronderstel is om in te hou?’ Dink u dat God ’n doel met ons bestaan het?” Laat die persoon antwoord. Dan kan jy oor God se voorneme met die mensdom praat en kommentaar lewer oor die grootse dinge wat in Openbaring 21:3, 4 belowe word. Jy kan ook ander goeie punte wat jy by gemeentelike vergaderinge en in Christelike publikasies geleer het, toepas om informele getuieniswerk doeltreffend te maak.
Ons kan goeie resultate verwag
14. Watter sukses het een broer behaal toe hy gedurende ’n reis informeel getuig het?
14 Ons kan, soos Jesus en sy vroeë volgelinge, sukses behaal wanneer ons informeel getuig. Ter toeligting: Een Getuie het gedurende ’n vliegtuigreis met ’n leëroffisier gepraat wat 20 jaar lank getroud was. Daardie man se vrou was aan dwelms verslaaf, het etlike kere selfmoord probeer pleeg en het op die punt gestaan om hom vir ’n jonger man te verlaat. Toe die Getuie gepraat het van die Skriftuurlike hulp wat hy uit Die Wagtoring en sy medetydskrif Ontwaak! ontvang het, het die offisier daarop ingeteken en wou hy hê dat die tydskrifte aan sy vrou gestuur word. Ander passasiers het gehoor wat die Getuie gesê het. Die gevolg? Omdat hy by daardie geleentheid getuig het, het hy glad 22 intekenings gekry en 45 tydskrifte en 21 boeke versprei!
15, 16. (a) Meld voorbeelde van geslaagde informele getuieniswerk aan medewerkers. (b) Tot watter slotsom laat hierdie resultate jou kom?
15 Wat van informele getuienis aan medewerkers? Een broer het eksemplare van ons tydskrifte in die waskamer by sy werk gelaat. ’n Medewerker het die tydskrifte gelees, met die broer in aanraking gekom en daarop ingeteken. Die man het ook ’n Bybelstudie aanvaar en sy losbandige lewenswyse laat vaar. Sy vrou het egter telkens wanneer God se naam genoem is die huis verlaat. Toe die man uit die plaaslike kerk wou bedank, het die predikant dit kom bespreek, maar net die man se vrou was tuis. Die predikant se gebrek aan geloof en sy leuens oor Jehovah se Getuies het haar geskok, want sy het gesien dat haar man ten goede verander het. Sy het vir die predikant gesê: “Jy kan vir my en die kinders ook ’n bedankingsertifikaat uitskryf!” Na verloop van tyd het hierdie man en sy vrou gedoopte Getuies geword.
16 Jare gelede het ’n broer wat nou in die Verenigde State woon informeel vir ’n medewerker in Engeland getuig en die jong man na ’n filmvertoning van Jehovah se Getuies geneem. Een-en-dertig jaar later het die broer hierdie brief ontvang: “Ek wil jou nou graag vertel dat die getuienis wat jy [die jong man] gegee het, vrugte afgewerp het, want ongeveer twee jaar later het ’n ander broer met hom gepraat, tydskrifte by hom gelaat en hom na die plaaslike Koninkryksaal geneem . . . Hy het ’n Getuie geword, is in 1959 gedoop en is nou ’n ouere man in sy gemeente . . . Na sowat 14 jaar het sy vrou ’n Getuie geword en is sy ook gedoop. Twee jaar later is sy dogter gedoop, en sy is nou ’n gewone pionier in noordelike Derbyshire . . . As gevolg van jou kort getuienis daar in Ashford het daardie man, sy vrou en dogter, ’n niggie en haar dogter, dié se man en vyf kinders, en een kind van die niggie se ander dogter almal Getuies geword. . . . Ted, ek wil jou innig bedank, want ek is die staaloprigter, en die verhaal wat ek pas vertel het, is my eie verhaal van jou getuienis aan my en hoe dit alles afgeloop het.”
17. Watter geleenthede vir informele getuieniswerk het jonger knegte van Jehovah?
17 Julle jonger knegte van Jehovah het ook ’n goeie gebied vir getuienis—julle skoolmaats en onderwysers. Lewer julle ’n informele getuienis in opstelle, mondelinge hersienings, ensovoorts? ’n Ecuadoriaanse hoërskoolleerling met wie ’n Bybelstudie gehou is, het die voorbladreeks van Ontwaak! van 22 Augustus 1985, “Hirosjima—Het die les verlore gegaan?”, as bronmateriaal vir ’n opstel gebruik. Haar opstel is in ’n internasionale wedstryd deur beoordelaars geprys en het ’n gratis reis na Japan meegebring. Die doel van Christelike publikasies is natuurlik nie om wedstryde te wen nie. Maar hierdie ondervinding toon die waarde van sulke lektuur en die doeltreffendheid van ’n getuienis tot God se eer op skool.
18. Wat was die resultate van ’n kort getuienis aan ’n persoon wat ’n kamer wou huur?
18 ’n Suster moes om geldelike redes ’n kamer verhuur. Sy het vir ’n vrou wat per telefoon daaroor navraag gedoen het, gesê dat sy een van Jehovah se Getuies is en nie promiskuïteit in haar huis kon toelaat nie. Besoekers sou vroeg moes vertrek, en manlike besoekers sou te alle tye in sig moes wees. Die persoon het gehuiwer en toe gesê: “Ek het gestudeer toe ek ’n tiener was, maar dit het nie ’n indruk op my gemaak nie. Ek het derhalwe universiteit toe gegaan.” Toe sy gevra is of sy haar Bybelstudie wou hervat, het sy geantwoord: “Ja.” Mettertyd het die vrou, haar moeder en haar suster toegewyde knegte van Jehovah geword—alles omdat ’n suster informeel getuig het.
19. Wat het informele getuieniswerk tot gevolg gehad in die geval van ’n vrou in die Bahamas?
19 In die Bahamas het ’n sekere Katolieke vrou se gewete haar gepla omdat sy vyf jaar lank nie kerk toe gegaan het nie. Sy het derhalwe een reënerige Sondagoggend kerk toe begin stap. Drie Getuies het verbygekom en haar laat saamry—en vir haar getuig. Toe hulle by die kerk kom, wou sy meer hoor en het sy saamgery toe hulle ’n Bybelstudent gaan oplaai het. Hulle het weer verby die kerk gery, maar sy wou meer hoor en het saam met hulle na die Koninkryksaal toe gegaan. Die openbare toespraak was juis oor die onderwerp wat in die motor bespreek is. ’n Bybelstudie is met die vrou begin, en sy het die man met wie sy saamgewoon het (die vader van haar vier kinders), weggestuur en is tydens ’n byeenkoms in 1986 in Nassau gedoop. Hoe bly was sy tog dat iemand informeel vir haar getuig het!
Hou aan om oor God se koningskap te praat!
20. (a) Hoe moet informele getuieniswerk met betrekking tot die veldbediening beskou word? (b) Wat word voorgestel as ’n mens huiwerig is om informeel te getuig?
20 Informele getuieniswerk is nie ’n plaasvervanger vir die gewone veldbediening van Jehovah se Getuies nie. Prediking van huis tot huis is onteenseglik Skriftuurlik sowel as doeltreffend (Handelinge 5:42; 20:20, 21, NW). Informele getuieniswerk is nietemin vrugbaar, en Jehovah se knegte moet daaraan deelneem. Waar daar ook al mense is—familielede, medeleerlinge, medewerkers, ander—is daar geleenthede om oor die heerlikheid van God se koningskap te praat. Moet dus nie toelaat dat vrees of skugterheid jou verhinder nie (Spreuke 29:25; 2 Timotheüs 1:6-8). As jy huiwerig is om informeel te getuig, kan jy gerus soos Jesus se vervolgde dissipels bid. Hulle het gesmeek: “[Jehovah], . . . gee aan u diensknegte om met alle vrymoedigheid u woord te spreek.” Is hulle gebed verhoor? Ja, want ‘die plek waar hulle saam was, is geskud, en hulle is almal vervul met die Heilige Gees en het die woord van God met vrymoedigheid gespreek’.—Handelinge 4:23-31, vgl. NW.
21. Wat sal ’n persoon beweeg om onder alle omstandighede te getuig?
21 Kweek dus ’n positiewe gesindheid teenoor informele getuieniswerk aan. Laat liefde vir God jou beweeg om onder alle omstandighede te getuig. Wees geesdriftig, laat die waarheid by elke geleentheid feitlik uitstroom. Ja, hou aan om oor die heerlikheid van God se koningskap te praat.
Wat is jou antwoorde?
◻ Watter Skriftuurlike grondslag is daar vir informele getuieniswerk?
◻ Wat is sommige maniere waarop ’n mens vir informele getuieniswerk kan voorberei?
◻ Watter resultate kan ons verwag as ons informeel getuig?
◻ Hoe moet ons informele getuieniswerk met betrekking tot die gewone veldbediening beskou?
[Prent op bladsy 23]
Getuig jy, as jy aan jou huis gekluister is, soos Paulus gedoen het toe hy onder huisarres was?
[Prent op bladsy 25]
Voorbereiding sal ons in staat stel om op bekwame wyse informeel te getuig
-
-
Hoe die weg tot vermeerdering in Gibraltar gebaan isDie Wagtoring – 1987 | Oktober 15
-
-
Hoe die weg tot vermeerdering in Gibraltar gebaan is
DIE stadion kan van Gibraltar af gesien word—dit is net sowat 1,5 kilometer daarvandaan. Tog moes die Gibraltarese vir meer as 13 jaar ’n reis van ten minste tien uur onderneem om daar te kom. Dit het eers ’n seereis na Noord-Afrika, dan terug na Spanje, en uiteindelik ’n busrit behels. Waarom so ’n lang reis om by so ’n nabygeleë plek uit te kom?
In 1969 het Spanje se Franco-regime die grens by die smal landengte tussen Spanje en Gibraltar gesluit. Dit was weens ’n dispuut tussen Spanje en Brittanje oor gebiedsoewereiniteit ten opsigte van die Rots, soos Gibraltar dikwels genoem word. So ’n ongerief was egter nie vir die Gibraltarese iets nuuts nie. Vanweë sy unieke strategiese belang is Gibraltar ’n vesting wat al dikwels van buurlande afgesonder is.
Vroeg in die agtste eeu het Moorse invallers onder Ṭārik hierdie stuk land verower en dit “Jabal Ṭāriq” (Ṭārik se berg) genoem, wat sedertdien tot “Gibraltar” gewysig is. Die More het die Rots, wat ongeveer 430 meter bo seevlak uitstyg, sterk verskans. Dit was deur die eeue heen die toneel van talryke beleëringe deur die More en die Spanjaarde. Die Spanjaarde het Gibraltar uiteindelik in 1462 oorgeneem en dit tot 1704 behou, toe die Britte dit verower en ’n vlootbasis aldaar opgerig het.
Benewens die garnisoen het mense uit
-