Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • kl hfst. 3 bl. 23-31
  • Wie is die ware God?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Wie is die ware God?
  • Kennis wat tot die ewige lewe lei
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • DIE WARE GOD HET ’N NAAM
  • WAAROM JY GOD SE NAAM MOET GEBRUIK
  • EIENSKAPPE VAN DIE WARE GOD
  • ’N “BARMHARTIGE EN GENADIGE GOD”
  • LANKMOEDIG, ONPARTYDIG EN REGVERDIG
  • “JEHOVAH, ONS GOD, IS EEN”
  • Leer ken Jehovah se weë
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2005
  • God het ’n naam
    Leer by die Groot Onderwyser
  • Jehovah—die waaragtige en lewende God
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1993
  • Die allergrootste naam
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1984
Sien nog
Kennis wat tot die ewige lewe lei
kl hfst. 3 bl. 23-31

Hoofstuk 3

Wie is die ware God?

1. Waarom is baie dit eens met die Bybel se eerste woorde?

VERBAAS dit jou nie om so baie sterre te sien wanneer jy op ’n helder nag na die hemel kyk nie? Hoe verklaar jy hulle bestaan? En wat van die lewende dinge op die aarde—kleurvolle blomme, voëls met hulle pragtige sang, kragtige walvisse wat in die see spring? Die lys is nimmereindigend. Al hierdie dinge kon nie per toeval ontstaan het nie. Geen wonder nie dat baie dit eens is met die Bybel se eerste woorde: “In die begin het God die hemel en die aarde geskape”!—Genesis 1:1.

2. Wat sê die Bybel oor God, en wat spoor dit ons aan om te doen?

2 Die mensdom is uiters verdeeld oor die kwessie van God. Party dink dat God ’n onpersoonlike krag is. Miljoene aanbid afgestorwe voorouers, want hulle glo dat God te ver is om genader te word. Maar die Bybel openbaar dat die ware God ’n werklike persoon is wat opreg in ons as individue belangstel. Daarom spoor dit ons aan om ‘God te soek’ en sê: ‘Hy is nie ver van elkeen van ons af nie.’—Handelinge 17:27.

3. Waarom is dit onmoontlik om ’n beeld van God te maak?

3 Hoe lyk God? ’n Paar van sy knegte het visioene van sy glorieryke teenwoordigheid gesien. Hierin het hy homself uitgebeeld as iemand wat op ’n troon sit met ontsagwekkende helderheid wat van hom uitgaan. Maar dié wat sulke visioene gesien het, het nooit spesifieke gelaatstrekke beskryf nie (Daniël 7:9, 10; Openbaring 4:2, 3). Dit is omdat ‘God ’n Gees is’; hy het nie ’n fisiese liggaam nie (Johannes 4:24). Trouens, dit is onmoontlik om ’n juiste fisiese beeld van ons Skepper te maak, want “geen mens het God ooit gesien nie” (Johannes 1:18; Exodus 33:20). Tog leer die Bybel ons baie van God.

DIE WARE GOD HET ’N NAAM

4. Wat is ’n paar betekenisvolle titels wat in die Bybel op God toegepas word?

4 Die ware God word in die Bybel geïdentifiseer deur uitdrukkings soos “God, die Almagtige”, “die Allerhoogste”, “Grootse Skepper”, “Grootse Onderrigter”, “Soewereine Heer” en “Koning van die ewigheid” (Genesis 17:1; Psalm 50:14; Prediker 12:1, NW; Jesaja 30:20, NW; Handelinge 4:24; 1 Timoteus 1:17). As ons oor sulke titels peins, kan dit ons help om in die kennis van God te groei.

5. Wat is God se naam, en hoe dikwels kom dit in die Hebreeuse Geskrifte voor?

5 God het egter ’n unieke naam wat byna 7 000 keer in die Hebreeuse Geskrifte alleen voorkom—meer as enigeen van sy titels. Ongeveer 1 900 jaar gelede het die Jode weens bygelowigheid opgehou om die Goddelike naam uit te spreek. Die Bybelse Hebreeus is sonder klinkers geskryf. Daar is gevolglik geen manier waarop daar presies vasgestel kan word hoe Moses, Dawid en ander van die ou tyd die vier medeklinkers (יהוה) waaruit die Goddelike naam bestaan, uitgespreek het nie. Party geleerdes doen aan die hand dat God se naam moontlik “Jahweh” uitgespreek is, maar hulle weet dit nie met sekerheid nie. Die uitspraak “Jehovah” is al eeue lank in gebruik en die ekwivalent daarvan in baie tale word vandag algemeen aanvaar.

WAAROM JY GOD SE NAAM MOET GEBRUIK

6. Wat sê Psalm 83:18 oor Jehovah, en waarom moet ons sy naam gebruik?

6 God se unieke naam, Jehovah, onderskei hom van al die ander gode. Dit is waarom daardie naam so dikwels in die Bybel verskyn, veral in die Hebreeuse teks. Baie vertalers versuim om die Goddelike naam te gebruik, maar Psalm 83:18 sê duidelik: “Sodat mense kan weet dat u, wie se naam alleen JEHOVAH is, die allerhoogste oor die hele aarde is” (King James Version). Dit is derhalwe vir ons gepas om God se persoonlike naam te gebruik wanneer ons van hom praat.

7. Wat leer die betekenis van die naam Jehovah ons van God?

7 Die naam Jehovah is ’n vorm van ’n Hebreeuse werkwoord wat “om te word” beteken. God se naam beteken gevolglik “Hy laat word”. Jehovah God identifiseer homself daardeur as die Groot Voornemer. Hy laat sy voornemens altyd verwesenlik word. Slegs die ware God kan tereg hierdie naam dra, want mense kan nooit daarvan seker wees dat hulle planne sal slaag nie (Jakobus 4:13, 14). Net Jehovah kan sê: “So sal my woord wees wat uit my mond uitgaan: dit sal . . . voorspoedig wees in alles waartoe Ek dit stuur.”—Jesaja 55:11.

8. Watter voorneme het Jehovah deur Moses bekend gemaak?

8 Die Hebreeuse aartsvaders Abraham, Isak en Jakob het almal “die naam van Jehovah aangeroep”, maar hulle het nie die volle betekenis van die Goddelike naam geken nie (Genesis 21:33, NW; 26:25, NW; 32:9, NW; Exodus 6:3, NW). Toe Jehovah later sy voorneme geopenbaar het om hulle nakomelinge, die Israeliete, van slawerny in Egipte te bevry en vir hulle “’n land wat oorloop van melk en heuning” te gee, het dit miskien onmoontlik gelyk (Exodus 3:17). God het nietemin die ewige betekenis van sy naam beklemtoon deur vir sy profeet Moses te sê: “Dit moet jy vir die kinders van Israel sê: ‘Jehovah‚ die God van julle voorvaders‚ die God van Abraham‚ die God van Isak en die God van Jakob‚ het my na julle toe gestuur.’ Dit is my naam tot onbepaalde tyd‚ en dit is die gedagtenis aan my van geslag tot geslag.”—Exodus 3:15, NW.

9. Hoe het Farao Jehovah beskou?

9 Moses het Farao, die koning van Egipte, versoek om die Israeliete te laat gaan sodat hulle Jehovah in die woestyn kon aanbid. Maar Farao, wat self as ’n god beskou is en wat ander Egiptiese gode aanbid het, het geantwoord: “Wie is Jehovah, sodat ek sy stem moet gehoorsaam om Israel weg te stuur? Ek ken Jehovah glad nie en, wat meer is, ek gaan Israel nie wegstuur nie.”—Exodus 5:1, 2, NW.

10. Hoe het Jehovah in eertydse Egipte opgetree om sy voorneme met betrekking tot die Israeliete te verwesenlik?

10 Jehovah het toe daadwerklik opgetree om sy voorneme te verwesenlik en het in ooreenstemming met die betekenis van sy naam gehandel. Hy het tien plae oor die eertydse Egiptenaars gebring. Die laaste plaag het al Egipte se eersgeborenes gedood, met inbegrip van die trotse Farao se seun. Toe was die Egiptenaars gretig om Israel te laat gaan. Party Egiptenaars was egter so beïndruk deur Jehovah se krag dat hulle Egipte saam met die Israeliete verlaat het.—Exodus 12:35-38.

11. Watter wonderwerk het Jehovah by die Rooi See verrig, en wat was sy vyande verplig om te erken?

11 Die hardnekkige Farao en sy leër, wat honderde strydwaens gehad het, het uitgetrek om sy slawe weer gevange te neem. Terwyl die Egiptenaars nader gekom het, het God die Rooi See op wonderdadige wyse verdeel sodat die Israeliete op droë grond kon deurtrek. Toe die agtervolgers die seebedding inry, het Jehovah “die wiele van hulle strydwaens laat insak en hulle met moeite laat voortgaan”. Die Egiptiese krygsmanne het uitgeroep: “Laat ons van Israel af wegvlug, want die HERE stry vir hulle teen die Egiptenaars.” Maar dit was te laat. Die ontsaglike watermure het neergestort en “die strydwaens en die ruiters van Farao se hele leërmag . . . oordek” (Exodus 14:22-25, 28). Jehovah het sodoende vir hom ’n groot naam gemaak, en daardie gebeurtenis is tot vandag toe nie vergeet nie.—Josua 2:9-11.

12, 13. (a) Watter betekenis het God se naam vandag vir ons? (b) Wat moet mense dringend leer, en waarom?

12 Die naam wat God vir hom gemaak het, is vandag vir ons van groot betekenis. Sy naam, Jehovah, is ’n waarborg dat hy alles wat hy hom voorgeneem het waar sal laat word. Dit sluit die verwesenliking in van sy oorspronklike voorneme dat ons aarde ’n paradys moet word (Genesis 1:28; 2:8). Met dié doel sal God alle hedendaagse teenstanders van sy soewereiniteit uitwis, want hy het gesê: “Hulle sal moet weet dat ek Jehovah is” (Esegiël 38:23, NW). Dan sal God sy belofte vervul om sy aanbidders tot in ’n nuwe wêreld van regverdigheid behoue te laat bly.—2 Petrus 3:13.

13 Almal wat God se guns wil verkry, moet leer om sy naam in geloof aan te roep. Die Bybel beloof: “Elkeen wat die naam van Jehovah aanroep, sal gered word” (Romeine 10:13). Ja, die naam van Jehovah is baie betekenisvol. As jy Jehovah as jou God en Verlosser aanroep, kan dit vir jou tot eindelose geluk lei.

EIENSKAPPE VAN DIE WARE GOD

14. Watter basiese eienskappe van God word in die Bybel beklemtoon?

14 ’n Studie van Israel se verlossing uit Egipte bring vier basiese eienskappe na vore wat God in volmaakte ewewig besit. Sy handelinge met Farao het sy ontsagwekkende krag geopenbaar (Exodus 9:16). Die meesterlike wyse waarop God daardie ingewikkelde situasie hanteer het, het sy ongeëwenaarde wysheid getoon (Romeine 11:33). Hy het sy geregtigheid geopenbaar deur hardnekkige teenstanders en verdrukkers van sy volk te straf (Deuteronomium 32:4, NW). ’n Uitnemende eienskap van God is liefde. Jehovah het uitsonderlike liefde betoon deur sy belofte met betrekking tot Abraham se nakomelinge te vervul (Deuteronomium 7:8). Hy het ook liefde betoon deur party Egiptenaars toe te laat om valse gode te versaak en grootliks baat te vind by die feit dat hulle hulle aan die kant van die enigste ware God geskaar het.

15, 16. Op watter maniere het God liefde betoon?

15 Wanneer jy die Bybel lees, sal jy opmerk dat liefde God se vernaamste eienskap is, en hy openbaar dit op baie maniere. Dit was byvoorbeeld uit liefde dat hy ’n Skepper geword het en eers die vreugde van lewe aan geesskepsele gegee het. Daardie honderdmiljoene engele het God lief en loof hom (Job 38:4, 7; Daniël 7:10). God het ook liefde betoon deur die aarde te skep en dit voor te berei sodat mense in vreugde daarop kan woon.—Genesis 1:1, 26-28; Psalm 115:16.

16 Die maniere waarop ons by God se liefde baat vind, is te veel om op te noem. In die eerste plek het God uit liefde ons liggaam so wonderlik gemaak dat ons die lewe kan geniet (Psalm 139:14). Sy liefde word getoon deurdat hy ‘reëns uit die hemel en vrugbare tye gee en ons harte geheel en al met voedsel en vrolikheid vul’ (Handelinge 14:17). God laat selfs ‘sy son opgaan oor goddeloses en goeies en laat dit reën op regverdiges en onregverdiges’ (Matteus 5:45). Liefde beweeg ook ons Skepper om ons te help om die kennis van God te verkry en hom met vreugde as sy aanbidders te dien. Ja, “God is liefde” (1 Johannes 4:8). Maar daar is nog baie ander aspekte van sy persoonlikheid.

’N “BARMHARTIGE EN GENADIGE GOD”

17. Wat leer ons in Exodus 34:6, 7 van God?

17 Nadat die Israeliete deur die Rooi See getrek het, moes hulle God nog beter leer ken. Moses was bewus van hierdie behoefte en het gebid: “As ek dan nou genade in u oë gevind het, maak my dan tog u weë bekend, dat ek U kan ken; sodat ek genade in u oë kan vind” (Exodus 33:13). Moses het God beter leer ken toe hy gehoor het wat God self gesê het: “HERE, HERE, barmhartige en genadige God, lankmoedig en groot van goedertierenheid en trou; wat die goedertierenheid bewaar vir duisende, wat ongeregtigheid en oortreding en sonde vergewe, maar nooit ongestraf laat bly nie” (Exodus 34:6, 7). God hou sy liefde in ewewig met geregtigheid, sodat hy opsetlike sondaars nie teen die gevolge van hulle oortredings beskerm nie.

18. Hoe toon Jehovah dat hy barmhartig is?

18 Soos Moses dan uitgevind het, betoon Jehovah barmhartigheid. ’n Barmhartige persoon voel jammer vir dié wat ly en probeer om vir hulle verligting te bring. God het dus medelye vir die mensdom getoon deur voorsiening te maak vir blywende verligting van lyding, siekte en die dood (Openbaring 21:3-5). Aanbidders van God ondervind moontlik teenspoed as gevolg van toestande in hierdie goddelose wêreld, of hulle tree dalk onverstandig op en kom in die moeilikheid. Maar as hulle hulle nederig tot Jehovah om hulp wend, sal hy hulle vertroos en help. Waarom? Omdat hy barmhartig is en tere geneentheid vir sy aanbidders toon.—Psalm 86:15; 1 Petrus 5:6, 7.

19. Waarom kan ons sê dat God genadig is?

19 Baie gesaghebbendes behandel ander hardvogtig. Maar hoe genadig is Jehovah tog teenoor sy nederige knegte! Hoewel hy die hoogste gesag in die heelal is, betoon hy uitsonderlike goedhartigheid aan die mensdom in die algemeen (Psalm 8:4, 5; Lukas 6:35). Jehovah is ook genadig teenoor individue en verhoor hulle spesifieke smekinge om guns (Exodus 22:26, 27; Lukas 18:13, 14). God is natuurlik nie verplig om aan enigiemand guns of barmhartigheid te betoon nie (Exodus 33:19). Ons moet dus diepe waardering vir God se barmhartigheid en genade toon.—Psalm 145:1, 8.

LANKMOEDIG, ONPARTYDIG EN REGVERDIG

20. Wat toon dat Jehovah lankmoedig asook onpartydig is?

20 Jehovah is lankmoedig, oftewel stadig om kwaad te word. Dit beteken egter nie dat hy nie optree nie, want hy het dit wel gedoen deur die hardnekkige Farao en sy leër in die Rooi See te vernietig. Jehovah is ook onpartydig. Gevolglik het sy begunstigde volk, die Israeliete, uiteindelik sy guns verloor as gevolg van hulle volgehoue oortreding. God aanvaar mense uit alle nasies as sy aanbidders, maar slegs diegene wat hulle na sy regverdige weë skik.—Handelinge 10:34, 35.

21. (a) Wat leer Openbaring 15:2-4 ons van God? (b) Wat sal dit vir ons makliker maak om te doen wat God sê reg is?

21 Die Bybelboek Openbaring beklemtoon die belangrikheid daarvan om God se “regverdige verordeninge” te leer ken. Dit sê vir ons dat hemelse skepsele sing: “Groot en wonderbaar is u werke, Jehovah God, die Almagtige. Regverdig en waaragtig is u weë, Koning van die ewigheid. Wie sal u nie werklik vrees nie, Jehovah, en u naam nie verheerlik nie, omdat u alleen lojaal is? Want al die nasies sal kom en voor u aanbid, omdat u regverdige verordeninge openbaar gemaak is” (Openbaring 15:2-4). Ons toon ’n gesonde vrees of ontsag vir Jehovah deur ons te skik na wat hy sê reg is. Dit is makliker om dit te doen as ons ons aan God se wysheid en liefde herinner. Al sy gebooie is vir ons beswil.—Jesaja 48:17, 18.

“JEHOVAH, ONS GOD, IS EEN”

22. Waarom aanbid diegene wat die Bybel aanvaar nie ’n Drie-eenheid nie?

22 Die eertydse Egiptenaars het baie gode aanbid, maar Jehovah is “’n God wat uitsluitlike toegewydheid vereis” (Exodus 20:5, NW). Moses het die Israeliete daaraan herinner dat ‘Jehovah, ons God, een Jehovah is’ (Deuteronomium 6:4, NW). Jesus Christus het daardie woorde herhaal (Markus 12:28, 29). Diegene wat die Bybel as God se Woord aanvaar, aanbid dus nie ’n Drie-eenheid wat uit drie persone of gode in een bestaan nie. Trouens, die woord “Drie-eenheid” kom nie eens in die Bybel voor nie. Die ware God is een Persoon, afsonderlik van Jesus Christus (Johannes 14:28; 1 Korintiërs 15:28). God se heilige gees is nie ’n persoon nie. Dit is Jehovah se werkende krag, wat deur die Almagtige gebruik word om sy voornemens te verwesenlik.—Genesis 1:2, vgl. NW; Handelinge 2:1-4, 32, 33; 2 Petrus 1:20, 21.

23. (a) Hoe sal jou liefde vir God toeneem? (b) Wat het Jesus oor liefde vir God gesê, en wat moet ons van Christus leer?

23 Stem jy nie saam dat Jehovah jou aanbidding verdien wanneer jy dink aan hoe wonderlik hy is nie? Namate jy sy Woord, die Bybel, bestudeer, sal jy hom beter leer ken en leer wat hy van jou vereis vir jou ewige beswil en geluk (Matteus 5:3, 6). Boonop sal jou liefde vir God toeneem. Dit is gepas, want Jesus het gesê: “Jy moet Jehovah jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand en met jou hele krag” (Markus 12:30). Dit is duidelik dat Jesus sulke liefde vir God gehad het. Maar wat openbaar die Bybel oor Jesus Christus? Wat is sy rol in Jehovah se voorneme?

TOETS JOU KENNIS

Wat is God se naam, en hoe dikwels word dit in die Hebreeuse Geskrifte gebruik?

Waarom moet jy God se naam gebruik?

Watter eienskappe van Jehovah God vind jy besonder treffend?

[Prent op bladsy 29]

Hoe goed ken jy die Skepper van alle dinge?

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel