Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • kl hfst. 17 bl. 160-169
  • Vind veiligheid onder God se volk

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Vind veiligheid onder God se volk
  • Kennis wat tot die ewige lewe lei
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • “DIE GETROUE EN VERSTANDIGE SLAAF”
  • “VOEDSEL OP DIE REGTE TYD”
  • ‘BEKLEE JULLE MET LIEFDE’
  • ’N VEILIGE PLEK
  • GENIET VEILIGHEID SAAM MET JEHOVAH SE VOLK
  • Waarom jy Christelike vergaderinge moet bywoon
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1993
  • “Hou dié in gedagte wat die leiding onder julle neem”
    Georganiseer om Jehovah se wil te doen
  • Laat die gemeente opgebou word
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2007
  • Hoe rig Jehovah sy organisasie?
    Aanbid die enigste ware God
Sien nog
Kennis wat tot die ewige lewe lei
kl hfst. 17 bl. 160-169

Hoofstuk 17

Vind veiligheid onder God se volk

1, 2. Hoe kom die mensdom se situasie ooreen met dié van mense in ’n stormgeteisterde gebied?

STEL jou voor dat ’n hewige storm die gebied getref het waar jy woon. Jou huis is vernietig en al jou besittings is verlore. Voedsel is skaars. Die situasie lyk hopeloos. Dan kom daar skielik onverwagte noodlenigingsvoorrade. ’n Oorvloed van voedsel en klere word voorsien. ’n Nuwe huis word vir jou gebou. Jy sal ongetwyfeld dankbaar wees teenoor die persoon wat hierdie voorsienings beskikbaar gestel het.

2 Iets soortgelyks vind vandag plaas. Soos daardie storm, het die opstand van Adam en Eva die mensdom groot skade berokken. Die mensdom se Paradystuiste het verlore gegaan. Sedertdien was menseregerings nie daartoe in staat om mense teen oorlog, misdaad en ongeregtigheid te beskerm nie. Godsdiens het veroorsaak dat menigtes na heilsame geestelike voedsel honger. Geestelik gesproke voorsien Jehovah God egter nou voedsel, klere en beskutting. Hoe doen hy dit?

“DIE GETROUE EN VERSTANDIGE SLAAF”

3. Hoe verskaf Jehovah voorsienings aan die mensdom, soos getoon deur watter voorbeelde?

3 Noodlenigingsvoorrade word gewoonlik deur ’n georganiseerde kanaal versprei, en Jehovah het eweneens geestelike voorsiening vir sy volk gemaak. Die Israeliete was byvoorbeeld nagenoeg 1 500 jaar lank ‘die vergadering van Jehovah’. Onder hulle was dié wat as God se kanaal gedien het om ander in sy Wet te onderrig (1 Kronieke 28:8; 2 Kronieke 17:7-9). In die eerste eeu G.J. het Jehovah die Christenorganisasie tot stand gebring. Gemeentes is gevorm, en hulle het onder leiding van ’n bestuursliggaam gefunksioneer wat uit apostels en ouer manne bestaan het (Handelinge 15:22-31). Jehovah handel vandag eweneens deur ’n georganiseerde liggaam met sy volk. Hoe weet ons dit?

4. Wie is “die getroue en verstandige slaaf” in hedendaagse tye, en hoe word God se geestelike voorsienings beskikbaar gestel?

4 Jesus het gesê dat “die getroue en verstandige slaaf” gedurende die tyd wat Hy in Koninkryksmag teenwoordig sou wees “voedsel op die regte tyd” aan Sy volgelinge sou gee (Matteus 24:45-47). Wie was hierdie “slaaf” toe Jesus in 1914 as hemelse Koning gekroon is? Beslis nie die geestelikes van die Christendom nie. In die Eerste Wêreldoorlog het hulle hulle kuddes oor die algemeen propaganda ter ondersteuning van hulle eie landsregerings gevoer. Maar die regte en tydige geestelike voedsel is versprei deur die groep ware Christene wat deur God se heilige gees gesalf is en wat ’n deel was van wat Jesus die “klein kuddetjie” genoem het (Lukas 12:32). Hierdie gesalfde Christene het God se Koninkryk eerder as die mens se regerings verkondig. Gevolglik het miljoene regverdiggesinde “ander skape” oor die jare by die gesalfde “slaaf” in die beoefening van ware godsdiens aangesluit (Johannes 10:16). Deur die ‘getroue slaaf’ en sy hedendaagse Bestuursliggaam te gebruik, rig God sy georganiseerde volk om geestelike voedsel, klere en beskutting beskikbaar te stel vir almal wat hierdie voorsienings verlang.

“VOEDSEL OP DIE REGTE TYD”

5. Watter geestelike toestand bestaan vandag in die wêreld, maar wat doen Jehovah hieromtrent?

5 Jesus het gesê: “Die mens moet nie van brood alleen lewe nie, maar van elke uiting wat deur Jehovah se mond uitgaan” (Matteus 4:4). Ongelukkig skenk die oorgrote meerderheid van die mense nie aandag aan God se uitinge nie. Soos Jehovah se profeet Amos voorspel het, is daar “nie ’n honger na brood nie en nie ’n dors na water nie, maar om die woorde van die HERE te hoor” (Amos 8:11). Selfs uiters godsdienstige mense is geestelik uitgehonger. Jehovah se wil is nietemin dat “alle soorte mense gered moet word en tot juiste kennis van die waarheid moet kom” (1 Timoteus 2:3, 4). Gevolglik voorsien hy ’n oorvloed van geestelike voedsel. Maar waar kan dit verkry word?

6. Hoe het Jehovah sy volk in die verlede geestelik gevoed?

6 Deur die hele geskiedenis heen het Jehovah geestelike voedsel aan sy volk as ’n groep verskaf (Jesaja 65:13). Die Israelitiese priesters het byvoorbeeld manne, vroue en kinders vir groepsonderrig in God se Wet byeengebring (Deuteronomium 31:9, 12). Onder leiding van die bestuursliggaam het eerste-eeuse Christene gemeentes georganiseer en vergaderinge vir die onderrigting en aanmoediging van almal gehou (Romeine 16:5; Filemon 1, 2). Jehovah se Getuies volg hierdie patroon. Jy word hartlik uitgenooi om al hulle vergaderinge by te woon.

7. Hoe hou gereelde bywoning van Christelike vergaderinge verband met kennis en geloof?

7 Jy het dalk al baie in jou persoonlike studie van die Bybel geleer. Miskien het iemand jou gehelp (Handelinge 8:30-35). Maar jou geloof kan vergelyk word met ’n plant wat sal verwelk en doodgaan as dit nie die regte versorging kry nie. Gevolglik moet jy behoorlike geestelike voeding ontvang (1 Timoteus 4:6). Christelike vergaderinge voorsien ’n voortdurende onderrigprogram wat bedoel is om jou geestelik te voed en jou te help om aan te hou groei in geloof namate jy in die kennis van God toeneem.—Kolossense 1:9, 10.

8. Waarom word ons aangespoor om die vergaderinge van Jehovah se Getuies by te woon?

8 Vergaderinge het nog ’n noodsaaklike doel. Paulus het geskryf: “Laat ons op mekaar ag gee om tot liefde en voortreflike werke aan te spoor en nie ons onderlinge vergadering nalaat [nie]” (Hebreërs 10:24, 25). Die Griekse woord wat met ‘om aan te spoor’ vertaal is, kan ook beteken “om te slyp”. ’n Bybelspreuk sê: “Yster slyp yster, so slyp die een mens die persoon van die ander” (Spreuke 27:17). Ons almal moet voortdurend ‘geslyp’ word. Die daaglikse druk van die wêreld kan ons geloof afstomp. Wanneer ons Christelike vergaderinge bywoon, is daar ’n uitwisseling van aanmoediging (Romeine 1:11, 12). Gemeentelede volg die apostel Paulus se vermaning om ‘aan te hou om mekaar te vertroos en mekaar op te bou’, en sulke dinge slyp ons geloof (1 Tessalonisense 5:11). Gereelde bywoning van Christelike vergaderinge toon ook dat ons God liefhet en bied ons geleenthede om hom te loof.—Psalm 35:18.

‘BEKLEE JULLE MET LIEFDE’

9. Hoe het Jehovah die voorbeeld gestel in die betoning van liefde?

9 Paulus het geskryf: “Beklee julle . . . met liefde, want dit is ’n volmaakte band van eenheid” (Kolossense 3:14). Jehovah het hierdie kleding goedgunstiglik aan ons voorsien. In watter opsig? Christene kan liefde openbaar omdat dit een van die godgegewe vrugte van Jehovah se heilige gees is (Galasiërs 5:22, 23). Jehovah self het die grootste liefde geopenbaar deur sy enigverwekte Seun te stuur sodat ons die ewige lewe kan hê (Johannes 3:16). Hierdie allergrootste liefdeblyk is vir ons ’n voorbeeld van hoe hierdie eienskap betoon moet word. “As dit is hoe God ons liefgehad het”, het die apostel Johannes geskryf, “dan staan ons ook onder verpligting om mekaar lief te hê.”—1 Johannes 4:11.

10. Hoe kan ons baat vind by “die hele gemeenskap van broers”?

10 As jy die vergaderinge by die Koninkryksaal bywoon, sal dit jou ’n uitstekende geleentheid bied om liefde te betoon. Daar sal jy ’n groot verskeidenheid mense ontmoet. Jy sal ongetwyfeld dadelik tot baie van hulle aangetrokke voel. Persoonlikhede verskil natuurlik selfs onder dié wat Jehovah dien. Miskien het jy in die verlede mense bloot vermy wat nie in dieselfde dinge as jy belangstel of dieselfde eienskappe as jy het nie. Christene moet egter ‘vir die hele gemeenskap van broers lief wees’ (1 Petrus 2:17). Stel jou dit dus ten doel om almal by die Koninkryksaal te leer ken—selfs mense wie se ouderdom, persoonlikheid, ras of vlak van geleerdheid van joune verskil. Jy sal waarskynlik vind dat almal in die een of ander innemende eienskap uitblink.

11. Waarom moet die verskeidenheid persoonlikhede onder Jehovah se volk jou nie ontstel nie?

11 Die verskeidenheid persoonlikhede in die gemeente hoef jou nie te ontstel nie. Ter toeligting: Stel jou voor dat baie voertuie saam met jou op ’n pad ry. Nie almal ry ewe vinnig nie, en ook is nie almal in dieselfde toestand nie. Party het al baie kilometers afgelê, maar ander het, soos jy, pas begin. Ondanks hierdie verskille ry almal egter op die pad. Dit is dieselfde met die mense wat ’n gemeente uitmaak. Nie almal ontwikkel Christelike eienskappe ewe vinnig nie. Ook is nie almal in dieselfde fisiese of emosionele toestand nie. Party aanbid Jehovah al jare lank; ander het pas begin. Tog is almal op die weg na die ewige lewe en is hulle ‘paslik verenig in dieselfde denke en in dieselfde gedagtegang’ (1 Korintiërs 1:10). Let dus eerder op die sterk punte as op die swak punte van dié in die gemeente. As jy dit doen, sal dit jou hart verbly, want jy sal besef dat God werklik onder hierdie mense is. En dit is tog sekerlik waar jy wil wees.—1 Korintiërs 14:25.

12, 13. (a) Wat kan jy doen as iemand in die gemeente jou aanstoot gee? (b) Waarom is dit belangrik om nie ’n wrok te koester nie?

12 Aangesien alle mense onvolmaak is, sal iemand in die gemeente miskien soms iets sê of doen wat jou ontstel (Romeine 3:23). Die dissipel Jakobus het dié realistiese woorde geskryf: “Ons almal struikel baie kere. As iemand in woord nie struikel nie, is hy ’n volmaakte man” (Jakobus 3:2). Hoe sal jy reageer as iemand jou aanstoot gee? ’n Bybelspreuk sê: “Die verstand [insig, NW] van ’n mens maak hom lankmoedig, en dit is vir hom ’n eer om die oortreding te vergewe” (Spreuke 19:11). Om insig te hê, beteken om dieper as die oppervlak van ’n situasie te sien, om onderliggende faktore te verstaan wat iemand sekere dinge laat sê of doen. Die meeste van ons lê heelwat insig aan die dag om ons eie foute te verskoon. Waarom lê ons dit dan nie ook aan die dag om die onvolmaakthede van ander te verstaan en te vergewe nie?—Matteus 7:1-5; Kolossense 3:13.

13 Moet nooit vergeet dat ons ander moet vergewe as ons Jehovah se vergifnis wil ontvang nie (Matteus 6:9, 12, 14, 15). As ons die waarheid uitleef, sal ons ander liefdevol behandel (1 Johannes 1:6, 7; 3:14-16; 4:20, 21). As jy dus ’n probleem met iemand in die gemeente ondervind, moet jy daarteen stry om ’n wrok te koester. As jy met liefde beklee is, sal jy die probleem probeer oplos, en jy sal nie huiwer om verskoning te vra as jy iemand aanstoot gegee het nie.—Matteus 5:23, 24; 18:15-17.

14. Met watter eienskappe moet ons beklee wees?

14 Ons geestelike kleding moet ander eienskappe insluit wat nou verwant is aan liefde. Paulus het geskryf: “Beklee julle . . . met die tere geneenthede van medelye, goedhartigheid, ootmoed, sagmoedigheid en lankmoedigheid.” Hierdie eienskappe, wat deur liefde omvat word, is deel van die godvrugtige “nuwe persoonlikheid” (Kolossense 3:10, 12). Sal jy jou inspan om jou op hierdie manier te beklee? Veral as jy jou met broederliefde beklee, sal jy ’n kenmerk van Jesus se dissipels hê, want hy het gesê: “Hieraan sal almal weet dat julle my dissipels is, as julle liefde onder mekaar het.”—Johannes 13:35.

’N VEILIGE PLEK

15. Hoe is die gemeente soos ’n skuiling?

15 Die gemeente dien ook as ’n skuiling, ’n beskermende toevlug waar jy veilig kan voel. Daarin sal jy opregtes van hart vind wat probeer doen wat reg is in God se oë. Baie van hulle het dieselfde slegte gebruike en gesindhede afgelê wat jy moontlik sukkel om te bowe te kom (Titus 3:3). Hulle kan jou help, want ons word aangesê om ‘aan te hou om mekaar se laste te dra’ (Galasiërs 6:2). Op die ou end is dit natuurlik jou eie verantwoordelikheid om ’n weg te volg wat na die ewige lewe lei (Galasiërs 6:5; Filippense 2:12). Maar Jehovah het die Christengemeente as ’n wonderlike hulp- en ondersteuningsmiddel voorsien. Hoe ontstellend jou probleme ook al mag wees, jy het ’n waardevolle hulpmiddel tot jou beskikking—’n liefdevolle gemeente wat jou in tye van beproewing of ontbering sal bystaan.—Vergelyk Lukas 10:29-37; Handelinge 20:35.

16. Watter hulp verskaf gemeentelike ouer manne?

16 Onder diegene wat jou te hulp sal snel, is “gawes in die vorm van mense”—aangestelde gemeentelike ouer manne, of opsieners, wat gewillig en gretig as herders oor die kudde toesig hou (Efesiërs 4:8, 11, 12; Handelinge 20:28; 1 Petrus 5:2, 3). Jesaja het aangaande hulle voorspel: “Elkeen sal wees soos ’n toevlug teen die wind en ’n skuiling teen die stortreën, soos waterstrome in ’n dor streek, soos die skaduwee van ’n swaar rots in ’n land wat versmag.”—Jesaja 32:2.

17. (a) Veral watter soort hulp wou Jesus gee? (b) Watter voorsiening het God belowe om vir sy volk te maak?

17 Toe Jesus op die aarde was, was daar ’n jammerlike gebrek aan liefdevolle toesig deur die godsdiensleiers. Die mense se toestand het hom diep geroer, en hy wou hulle veral geestelik help. Jesus het vir hulle medelye gevoel, want “hulle was gestroop en rondgegooi soos skape sonder ’n herder” (Matteus 9:36). Hoe goed beskryf dit tog die benarde toestand van baie wat vandag verpletterende probleme het maar niemand het tot wie hulle hulle om geestelike hulp en vertroosting kan wend nie! Maar Jehovah se volk het wel geestelike bystand, want hy het belowe: “Ek sal herders oor hulle verwek wat hulle sal oppas; en hulle sal nie meer bevrees of verskrik wees of vermis word nie.”—Jeremia 23:4.

18. Waarom moet ons ’n ouer man nader as ons geestelike hulp nodig het?

18 Leer die aangestelde ouer manne in die gemeente ken. Hulle is baie ervare in die toepassing van die kennis van God, want hulle het voldoen aan die vereistes vir opsieners wat in die Bybel uiteengesit word (1 Timoteus 3:1-7; Titus 1:5-9). Moenie huiwer om een van hulle te nader as jy geestelike hulp nodig het om ’n gewoonte of ’n eienskap te bowe te kom wat in stryd met God se vereistes is nie. Jy sal vind dat die ouer manne Paulus se vermaning gehoorsaam: “Praat vertroostend met die terneergedrukte siele, ondersteun die swakkes, wees lankmoedig teenoor almal.”—1 Tessalonisense 2:7, 8; 5:14.

GENIET VEILIGHEID SAAM MET JEHOVAH SE VOLK

19. Watter seëninge skenk Jehovah aan diegene wat veiligheid in sy organisasie soek?

19 Hoewel ons nou te midde van onvolmaakte toestande lewe, voorsien Jehovah ons van geestelike voedsel, klere en beskutting. Ons moet natuurlik vir God se beloofde nuwe wêreld wag om die voordele van ’n fisiese paradys te geniet. Maar diegene wat lede van Jehovah se organisasie is, geniet nou die veiligheid van ’n geestelike paradys. Esegiël het aangaande hulle voorspel: “Hulle sal veilig woon sonder dat iemand hulle verskrik.”—Esegiël 34:28; Psalm 4:9.

20. Hoe sal Jehovah ons vergoed vir enigiets wat ons dalk ter wille van sy aanbidding opoffer?

20 Hoe dankbaar kan ons tog wees dat Jehovah liefdevolle geestelike voorsienings deur middel van sy Woord en organisasie verskaf! Kom na aan God se volk. Moenie dat vrees vir wat vriende of familielede dalk van jou sal dink omdat jy die kennis van God inneem jou terughou nie. Party keur dit dalk af dat jy met Jehovah se Getuies omgaan en vergaderinge by die Koninkryksaal bywoon. Maar God sal jou mildelik vergoed vir enigiets wat jy ter wille van sy aanbidding opoffer (Maleagi 3:10). Boonop het Jesus gesê: “Niemand het huis of broers of susters of moeder of vader of kinders of landerye ter wille van my en ter wille van die goeie nuus verlaat nie, of hy sal nou in hierdie tydperk honderdvoudig kry: huise en broers en susters en moeders en kinders en landerye, met vervolginge, en in die komende stelsel van dinge, die ewige lewe” (Markus 10:29, 30). Ja, ongeag wat jy moes agterlaat of moet verduur, jy kan wonderlike vriendskap en geestelike veiligheid onder God se volk vind.

TOETS JOU KENNIS

Wie is “die getroue en verstandige slaaf”?

Watter voorsiening het Jehovah gemaak om ons geestelik te voed?

Hoe kan dié in die Christengemeente ons help?

[Volbladillustrasie op bladsy 165]

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel