’n Nuwe instrument om mense te help om te leer wat God se vereistes is
“DIE eenvoudige, direkte en liefdevolle benadering daarvan sal resultate lewer wat ons verwagtinge oortref. Die onderwerpe word op so ’n maklik verstaanbare en aangename manier aangebied dat enige opregte, soekende persoon beweeg sal word om te sê: ‘God is werklik onder julle’” (1 Korintiërs 14:25). Dit is wat een van Jehovah se Getuies van Thailand gesê het toe hy die nuwe brosjure, Wat vereis God van ons?, beskryf het. Dit is gedurende 1996/97 by die “Boodskappers van Goddelike Vrede”-Streekbyeenkomste deur die Wagtoringgenootskap vrygestel.
Hierdie volkleur brosjure met 32 bladsye is ontwerp as ’n Bybelstudiekursus. Dit dek die grondleringe van die Bybel. Die bewoording is eenvoudig en bondig en toon duidelik wat God van ons vereis. Lesers behoort dit glad nie moeilik te vind om dit te verstaan nie. Hoe kan jy ’n Bybelstudie in hierdie nuwe brosjure hou?
Gebruik die vrae. Daar is vrae aan die begin van elke les. Die nommers van die paragrawe waarin die antwoorde gevind kan word, verskyn tussen hakies na elke vraag. Hierdie vrae kan as ’n onderrigmiddel gebruik word om die les in te lei en te hersien. Jy kan die student byvoorbeeld aan die begin van ’n tuisbybelstudie die vrae vra sodat jy sy kommentare kan kry. Pleks van enige verkeerde antwoorde onmiddellik reg te stel, kan jy met die studie voortgaan. Aan die einde van die les kan jy teruggaan na die vrae om te sien of die student hulle nou in ooreenstemming met die Bybel kan beantwoord.
Slaan die tekste na. In elke les word kort verklarings van Bybelwaarhede gevolg deur stawende tekste. Aangesien die meeste van die tekste aangegee en nie aangehaal word nie, is dit belangrik om die student aan te moedig om hierdie tekste in sy eie Bybel na te slaan. Hy moet God se Woord lees en daaroor peins voordat hy dit in sy lewe kan toepas.—Josua 1:8.
Vestig die aandag op die prente. Daar is baie foto’s en skilderye in die brosjure—altesaam meer as 50 kunsstukke. Hulle word nie net vir visuele trefkrag voorsien nie, maar ook as bykomende onderrigmiddels. Die laaste twee lesse (een bladsy elk op teenoorstaande bladsye) het byvoorbeeld die titel “Help ander om God se wil te doen” en “Jou besluit om God te dien”. Die foto’s wat oor die twee bladsye gesprei is, toon die geestelike vooruitgang van dieselfde persoon, waar hy informeel getuig, aan die huis-tot-huis-werk deelneem, hom toewy en uiteindelik gedoop word. Deur die student se aandag op hierdie prente te vestig, help jy hom om te sien watter stappe hy moet neem om God te dien.
Sê nou ’n belangstellende lees swak of kan glad nie lees nie? Die Genootskap is besig om hierdie nuwe brosjure in ’n aantal tale op oudiokasset beskikbaar te stel. Die kasset bevat die teks van die brosjure sowel as baie van die teksverwysings. Dit is soos volg opgeneem: Die eerste vraag word gelees, gevolg deur die paragraaf (of paragrawe) wat dit beantwoord, tesame met sommige van die teksverwysings. Dan word die volgende vraag gelees, gevolg deur die deel en tekste wat dit beantwoord, ensovoorts. Die student kan na die opname luister terwyl hy vir die studie voorberei. Die kasset kan ook tydens die studie gebruik word.
Diegene wat by die streekbyeenkoms was, was gretig om hierdie nuwe brosjure in hulle veldbediening te gebruik. Net ’n paar dae nadat twee pioniers (voltydse evangeliedienaars) van die Verenigde State byvoorbeeld die brosjure ontvang het, het hulle dit by ’n jong paartjie gelaat by wie hulle besoeke gedoen het. Toe die paartjie na die inhoudsopgawe kyk, het die les “Gedrag wat God haat” hulle aandag getrek. “Ek is altyd geleer dat God nie kan haat nie—hy’s net liefde”, het die jong vrou gesê. “Dit is die les wat ek heel eerste gaan lees.” Toe die twee pioniers die volgende week terugkeer, het die jong vrou gesê: “Ek het die nuwe brosjure gelees. Dis so moeilik om alles te doen wat ons veronderstel is om te doen. Jehovah is nie tevrede met ons nie—ons is nie getroud nie. Maar ons het ’n besluit geneem. Ons het gereël om volgende Vrydag te trou.” Hulle het die pionieregpaar omhels en gesê: “Ons is jammer dat ons nie die studie gereeld gehad het nie, maar dit is ’n groot las van ons skouers af.”
Gebruik gerus die Vereis-brosjure. Dit is ’n uitstekende instrument om ander te help om God se vereistes te leer.
[Prente op bladsy 17]
Hoe gaan jy die nuwe brosjure gebruik?