Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • fy hfst. 11 bl. 128-141
  • Handhaaf vrede in julle huisgesin

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Handhaaf vrede in julle huisgesin
  • Die geheim van gesinsgeluk
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • AS JOU MAN ’N ANDER GELOOF HET
  • WANNEER DIE VROU AAN ’N ANDER GELOOF BEHOORT
  • DIE OPVOEDING VAN DIE KINDERS
  • AS JOU GELOOF NIE DIESELFDE AS JOU OUERS S’N IS NIE
  • DIE UITDAGING OM ’N STIEFOUER TE WEES
  • WORD JULLE HUIS DEUR MATERIËLE STREWES VERDEEL?
  • Jou gesin kan gelukkig wees
    Wat kan die Bybel ons leer?
  • Twee sleutels tot ’n blywende huwelik
    Die geheim van gesinsgeluk
  • Gesinslewe wat God behaag
    Wat vereis God van ons?
  • Toon liefde en respek as vrou
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1989
Sien nog
Die geheim van gesinsgeluk
fy hfst. 11 bl. 128-141

HOOFSTUK ELF

Handhaaf vrede in julle huisgesin

1. Wat is party dinge wat verdeeldheid in gesinne kan veroorsaak?

GELUKKIG is diegene wat aan ’n gesin behoort waarin daar liefde, begrip en vrede is. Hopelik is julle so ’n gesin. Ongelukkig kom tallose gesinne nie met daardie beskrywing ooreen nie en is hulle om die een of ander rede verdeeld. Wat veroorsaak verdeeldheid in huisgesinne? In hierdie hoofstuk gaan ons drie dinge bespreek. In party gesinne behoort al die lede nie aan dieselfde geloof nie. In ander het die kinders dalk nie dieselfde biologiese ouers nie. In ander weer lyk dit of die stryd om ’n bestaan te maak of die begeerte na meer materiële dinge gesinslede uitmekaardryf. Maar omstandighede wat een huisgesin verdeel, het moontlik nie ’n uitwerking op ’n ander nie. Wat maak die verskil?

2. Waar soek party na leiding in verband met gesinslewe, maar wat is die beste bron van sulke leiding?

2 Sienswyse is een faktor. As jy opreg probeer om die ander persoon se sienswyse te verstaan, sal jy heel waarskynlik kan bepaal hoe om ’n verenigde gesin te behou. ’n Tweede faktor is jou bron van leiding. Baie mense volg die raad van werkmaats, bure, koerantrubriekskrywers of ander raadgewers. Maar sommige het uitgevind wat God se Woord oor hulle situasie sê, en hulle het dan toegepas wat hulle geleer het. Hoe kan dít ’n gesin help om vrede in ’n huisgesin te handhaaf?—2 Timoteus 3:16, 17.

AS JOU MAN ’N ANDER GELOOF HET

Prent op bladsy 130

Probeer om die ander persoon se sienswyse te verstaan

3. (a) Wat is die Bybel se raad aan diegene wat met iemand van ’n ander geloof wil trou? (b) Wat is ’n paar basiese beginsels wat geld as die een huweliksmaat ’n gelowige is en die ander een nie?

3 Die Bybel vermaan ons ten sterkste om nie met iemand van ’n ander geloof te trou nie (Deuteronomium 7:3, 4; 1 Korintiërs 7:39). Maar jy het dalk ná jou troue die waarheid in die Bybel geleer, hoewel jou man dit nie geleer het nie. Wat dan? Die huweliksgeloftes is natuurlik steeds geldig (1 Korintiërs 7:10). Die Bybel beklemtoon die duursaamheid van die huweliksband en spoor getroude persone aan om hulle verskille uit die weg te ruim pleks van dit te ontwyk (Efesiërs 5:28-31; Titus 2:4, 5). Maar sê nou jou man is hewig daarteen gekant dat jy die godsdiens van die Bybel beoefen? Hy probeer jou dalk keer om gemeentelike vergaderinge by te woon of hy sê dalk dat hy nie wil hê dat sy vrou van huis tot huis moet gaan om oor godsdiens te praat nie. Wat sal jy doen?

4. Op watter manier kan ’n vrou empatie betoon as haar man nie aan dieselfde geloof as sy behoort nie?

4 Vra jou af: ‘Waarom voel my man so?’ (Spreuke 16:20, 23, NW). As hy nie werklik verstaan wat jy doen nie, bekommer hy hom dalk oor jou. Of familielede oefen dalk druk op hom uit omdat jy nie meer aan sekere gebruike deelneem wat vir hulle belangrik is nie. “Ek het verlate gevoel wanneer ek alleen in die huis was”, het een man gesê. Hierdie man het gevoel dat hy sy vrou aan ’n godsdiens afstaan. Maar trots het hom verhinder om te erken dat hy eensaam was. Jou man het dalk die versekering nodig dat jou liefde vir Jehovah nie beteken dat jy hom nou minder liefhet as wat jy hom in die verlede gehad het nie. Maak seker dat jy tyd saam met hom deurbring.

5. Watter balans moet die vrou handhaaf wie se man aan ’n ander geloof behoort?

5 Maar iets selfs belangrikers moet in ag geneem word as jy verstandig in die situasie wil optree. God se Woord spoor vrouens aan: “Wees onderdanig aan julle mans, soos dit betaamlik is in die Here” (Kolossense 3:18). Dit waarsku dus teen ’n gees van onafhanklikheid. Deur te sê “soos dit betaamlik is in die Here”, toon hierdie teks ook dat onderdanigheid aan jou man met inagneming van onderdanigheid aan die Here bewys moet word. Balans moet gehandhaaf word.

6. Watter beginsels moet ’n Christenvrou in gedagte hou?

6 Om gemeentelike vergaderinge by te woon en vir ander aangaande jou Bybelse geloof te getuig, is vir ’n Christen belangrike aspekte van ware aanbidding wat nie nagelaat kan word nie (Romeine 10:9, 10, 14; Hebreërs 10:24, 25). Wat sal jy dus doen as ’n mens jou uitdruklik beveel om ’n spesifieke vereiste van God te verontagsaam? Die apostels van Jesus Christus het gesê: “Ons moet eerder aan God as heerser gehoorsaam wees as aan mense” (Handelinge 5:29). Hulle voorbeeld stel ’n presedent wat in baie lewensituasies van toepassing is. Sal liefde vir Jehovah jou beweeg om aan hom die toegewydheid te gee wat hom toekom? Sal jou liefde en respek vir jou man terselfdertyd maak dat jy dit op ’n manier probeer doen wat vir hom aanvaarbaar is?—Matteus 4:10; 1 Johannes 5:3.

7. Wat moet ’n Christenvrou vasbeslote wees om te doen?

7 Jesus het getoon dat dit nie altyd moontlik sal wees nie. Hy het gewaarsku dat teenstand teen ware aanbidding gelowige lede van sommige gesinne afgesny sou laat voel, asof ’n swaard tussen hulle en die res van die gesin gekom het (Matteus 10:34-36). ’n Vrou in Japan het dit ondervind. Haar man het haar 11 jaar lank teëgestaan. Hy het haar wreed mishandel en haar dikwels uitgesluit. Maar sy het volhard. Vriende in die Christengemeente het haar gehelp. Sy het onophoudelik gebid en is grootliks aangemoedig deur 1 Petrus 2:20. Hierdie Christenvrou was daarvan oortuig dat haar man Jehovah eendag saam met haar sou dien as sy standvastig bly. En hy het.

8, 9. Hoe moet ’n vrou optree sodat sy nie onnodige struikelblokke in haar man se weg lê nie?

8 Daar is heelwat praktiese dinge wat jy kan doen om jou huweliksmaat se gesindheid te beïnvloed. As jou man byvoorbeeld teen jou godsdiens beswaar het, moet jy hom nie geldige redes gee om oor ander dinge te kla nie. Hou die huis skoon. Let op jou voorkoms. Betoon oorvloedige liefde en waardering. Ondersteun hom pleks van hom te kritiseer. Toon dat jy op sy hoofskap staatmaak. Moenie in gelyke munt terugbetaal as jy meen dat jy te na gekom is nie (1 Petrus 2:21, 23). Neem menslike onvolmaaktheid in ag, en as ’n geskil ontstaan, moet jy die eerste wees wat nederig verskoning vra.—Efesiërs 4:26.

9 Moenie dat jou vergaderingbywoning ’n rede wees dat sy maaltye laat is nie. Jy sal dalk ook aan die Christelike bediening wil deelneem wanneer jou man nie tuis is nie. Dit is verstandig van ’n Christenvrou om nie vir haar man te preek as hy nie daarvan hou nie. Sy volg eerder die apostel Petrus se raad: “Vrouens, wees . . . onderdanig aan julle eie mans, sodat, as sommige nie aan die woord gehoorsaam is nie, hulle sonder ’n woord deur die gedrag van hulle vrouens gewen kan word, omdat hulle ooggetuies was van julle kuis gedrag tesame met diep respek” (1 Petrus 3:1, 2). Christenvrouens lê hulle daarop toe om die vrugte van God se gees in groter mate te openbaar.—Galasiërs 5:22, 23.

WANNEER DIE VROU AAN ’N ANDER GELOOF BEHOORT

10. Hoe moet ’n gelowige man teenoor sy vrou optree as sy aan ’n ander geloof behoort?

10 Sê nou die man is ’n ware Christen en die vrou nie? Die Bybel gee riglyne vir sulke situasies. Dit sê: “As enige broer ’n ongelowige vrou het en sy nietemin bereid is om met hom saam te woon, laat hy haar dan nie verlaat nie” (1 Korintiërs 7:12). Dit vermaan mans ook: “Hou aan om julle vrouens lief te hê.”—Kolossense 3:19.

11. Hoe kan ’n man onderskeidingsvermoë aan die dag lê en op ’n taktvolle wyse hoofskap oor sy vrou uitoefen as sy nie ’n ware Christen is nie?

11 As jy die man is van ’n vrou wie se geloof van joune verskil, moet jy veral nie nalaat om eerbied aan jou vrou te betoon en haar gevoelens in ag te neem nie. As ’n volwassene is sy geregtig op ’n sekere mate van vryheid om haar godsdiens te beoefen, al verskil dit van joune. Die eerste keer wat jy met haar oor jou geloof praat, moet jy nie verwag dat sy lank gehuldigde oortuigings ten gunste van iets nuuts gaan prysgee nie. Pleks van prontuit te sê dat gebruike wat sy en haar familie lank al koester vals is, moet jy geduldig met haar uit die Skrif probeer redeneer. Sy voel dalk verwaarloos as jy baie tyd aan die bedrywighede van die gemeente bestee. Sy staan dalk jou pogings teë om Jehovah te dien, maar miskien probeer sy net sê: “Ek het meer van jou tyd nodig!” Wees geduldig. As jy haar liefdevol in ag neem, kan sy mettertyd gehelp word om ware aanbidding aan te neem.—Kolossense 3:12-14; 1 Petrus 3:8, 9.

DIE OPVOEDING VAN DIE KINDERS

12. Hoe moet skriftuurlike beginsels met die opvoeding van kinders toegepas word, al behoort ’n man en vrou aan verskillende gelowe?

12 In ’n huisgesin wat nie in aanbidding verenig is nie, raak die kinders se godsdiensonderrig soms ’n geskilpunt. Hoe moet skriftuurlike beginsels toegepas word? Die Bybel gee die vader die vernaamste verantwoordelikheid om die kinders te onderrig, maar die moeder speel ook ’n belangrike rol. (Spreuke 1:8; vergelyk Genesis 18:19; Deuteronomium 11:18, 19.) Selfs al aanvaar die vader nie die hoofskap van Christus nie, is hy nog steeds die gesinshoof.

13, 14. Wat kan die vrou doen as die man haar belet om die kinders na Christelike vergaderinge te neem of om met hulle te studeer?

13 Party ongelowige vaders maak nie daarteen beswaar as die moeder die kinders godsdiensonderrig gee nie. Ander doen dit wel. Gestel jou man weier dat jy die kinders na gemeentelike vergaderinge neem of belet jou selfs om die Bybel tuis met hulle te studeer, wat dan? Jy het nou ’n paar verpligtinge wat jy in ewewig moet hou—jou verpligting teenoor Jehovah God, teenoor jou man as jou hoof en teenoor jou geliefde kinders. Hoe kan jy aan almal reg laat geskied?

14 Jy sal dit beslis ’n saak van gebed maak (Filippense 4:6, 7; 1 Johannes 5:14). Maar jy is die een wat uiteindelik moet besluit watter weg jy gaan volg. As jy taktvol voortgaan en duidelik vir jou man toon dat jy nie sy hoofskap betwis nie, sal sy teenstand dalk uiteindelik afneem. Selfs al belet jou man jou om jou kinders vergaderinge toe te neem of om ’n formele Bybelstudie met hulle te hou, kan jy hulle nog steeds leer. Probeer om deur jou daaglikse gesprekke en jou goeie voorbeeld ’n mate van liefde vir Jehovah by hulle in te skerp, asook geloof in sy Woord, respek vir ouers—onder andere vir hulle vader—liefdevolle besorgdheid oor ander mense en waardering vir goeie werkgewoontes. Die vader sal dalk mettertyd die goeie resultate opmerk en die waarde van jou pogings waardeer.—Spreuke 23:24.

15. Wat is ’n gelowige vader se verantwoordelikheid wat die opvoeding van sy kinders betref?

15 As jy ’n gelowige man is en jou vrou nie ’n gelowige is nie, rus die verantwoordelikheid op jou om jou kinders “in die dissipline en verstandsregulering van Jehovah op te voed” (Efesiërs 6:4). Terwyl jy dit doen, moet jy natuurlik op ’n vriendelike, liefdevolle en redelike wyse met jou vrou handel.

AS JOU GELOOF NIE DIESELFDE AS JOU OUERS S’N IS NIE

16, 17. Watter Bybelbeginsels moet kinders onthou as hulle ’n geloof aanneem wat van hulle ouers s’n verskil?

16 Dit is nie meer iets ongewoons dat selfs minderjarige kinders godsdiensbeskouings huldig wat van dié van hulle ouers verskil nie. Is dit in jou geval waar? Indien wel, het die Bybel raad vir jou.

17 God se Woord sê: “Wees gehoorsaam aan julle ouers in eenheid met die Here, want dít is regverdig: ‘Eer jou vader en jou moeder’” (Efesiërs 6:1, 2). Dit sluit heilsame respek vir ouers in. Maar hoewel gehoorsaamheid aan ouers belangrik is, moet dit nie sonder inagneming van die ware God betoon word nie. Wanneer ’n kind oud genoeg is om sy eie besluite te begin neem, dra hy ’n groter mate van verantwoordelikheid vir sy dade. Dit is nie net waar wat sekulêre wette betref nie, maar veral met betrekking tot God se wette. ‘Elkeen van ons sal vir homself aan God rekenskap gee’, sê die Bybel.—Romeine 14:12.

18, 19. Hoe kan kinders hulle ouers help om hulle geloof beter te verstaan as hulle ’n ander geloof as hulle ouers het?

18 As jy vanweë jou oortuigings veranderinge in jou lewe aanbring, moet jy jou ouers se sienswyse probeer verstaan. Hulle sal waarskynlik bly wees as jy, weens die Bybelleringe wat jy leer en toepas, eerbiediger, gehoorsamer en pligsgetrouer word wanneer hulle jou vra om iets te doen. Maar as jou nuwe geloof ook tot gevolg het dat jy oortuigings en gebruike verwerp wat hulle persoonlik koester, sal hulle dalk meen dat jy ’n erfenis verag wat hulle jou probeer gee het. Hulle is dalk ook oor jou welsyn bekommerd as dít wat jy doen nie in die gemeenskap gewild is nie of as dit jou aandag aftrek van strewes wat hulle meen jou kan help om materiële vooruitgang te maak. Trots kan ook ’n hindernis wees. Hulle voel dalk dat jy as ’t ware sê dat jy reg en hulle verkeerd is.

19 Probeer dus so gou moontlik reël dat jou ouers party van die ouer manne of ander ervare Getuies van die plaaslike gemeente ontmoet. Moedig jou ouers aan om na ’n Koninkryksaal te gaan om self te hoor wat bespreek word en persoonlik te sien watter soort mense Jehovah se Getuies is. Jou ouers se gesindheid sal dalk mettertyd versag. Selfs wanneer ouers hulle kinders kwaai teëstaan, Bybellektuur vernietig en die kinders verbied om Christelike vergaderinge by te woon, is daar gewoonlik geleenthede om êrens anders te lees, met mede-Christene te praat en op informele wyse vir ander te getuig en hulle te help. Jy kan ook tot Jehovah bid. Party jongmense moet dalk wag totdat hulle oud genoeg is om die huis te verlaat voordat hulle meer kan doen. Maar ongeag wat die situasie in die huis is, jy moet nie vergeet om ‘jou vader en jou moeder te eer’ nie. Dra jou deel by om die vrede in die huis te bewaar (Romeine 12:17, 18). Streef bowenal vrede met God na.

DIE UITDAGING OM ’N STIEFOUER TE WEES

20. Watter gevoelens kan kinders dalk ondervind as hulle vader of moeder ’n stiefouer is?

20 In baie huise is die situasie wat die grootste uitdaging bied nie godsdienstig van aard nie maar biologies. In baie huisgesinne is daar vandag kinders uit vorige huwelike van een of albei die ouers. In so ’n gesin ondervind kinders dalk jaloesie en gegriefdheid of miskien botsende lojaliteite. Gevolglik verwerp hulle dalk die stiefouer se opregte pogings om ’n goeie vader of moeder te wees. Wat kan tot die sukses van ’n stiefgesin bydra?

Prent op bladsy 138

Vertrou op die Bybel vir leiding, hetsy jy ’n biologiese ouer of ’n stiefouer is

21. Waarom moet stiefouers, ten spyte van hulle spesiale omstandighede, hulle tot beginsels in die Bybel wend om hulp?

21 Ten spyte van die spesiale omstandighede moet julle besef dat Bybelbeginsels wat tot sukses in ander huisgesinne lei ook hier van toepassing is. As julle daardie beginsels ignoreer, mag dit lyk of ’n probleem voorlopig opgelos is, maar dit sal waarskynlik later tot hartseer lei (Psalm 127:1; Spreuke 29:15). Verkry wysheid en onderskeidingsvermoë—wysheid om godvrugtige beginsels toe te pas met langtermynvoordele in gedagte en onderskeidingsvermoë om vas te stel waarom gesinslede sekere dinge sê en doen. Dit is ook noodsaaklik om empatie te betoon.—Spreuke 16:21; 24:3, NW; 1 Petrus 3:8.

22. Waarom vind kinders dit dalk moeilik om ’n stiefouer te aanvaar?

22 As jy ’n stiefouer is, onthou jy dalk dat jy as ’n vriend van die gesin moontlik deur die kinders verwelkom is. Maar toe jy hulle stiefouer geword het, het hulle gesindheid dalk verander. Omdat die kinders die biologiese ouer onthou wat nie meer by hulle woon nie, voer hulle dalk ’n stryd teen botsende lojaliteite en meen hulle moontlik dat jy hulle liefde vir die ouer wat weg is, wil hê. Hulle sal jou dalk soms prontuit daaraan herinner dat jy nie hulle vader of hulle moeder is nie. Sulke woorde maak seer. Maar “wees nie haastig in jou gees om jou te vererg nie” (Prediker 7:9). Jy het onderskeidingsvermoë en empatie nodig sodat die kinders se emosies jou nie onderkry nie.

23. Hoe kan dissipline in ’n gesin met stiefkinders uitgeoefen word?

23 Daardie eienskappe is uiters belangrik wanneer jy dissipline uitoefen. Konsekwente dissipline is noodsaaklik (Spreuke 6:20; 13:1, NW). En aangesien kinders nie almal dieselfde is nie, kan dissipline van een geval na die ander verskil. Party stiefouers vind dat dit dalk beter is as die biologiese ouer ten minste aan die begin hierdie aspek van ouerlike opvoeding behartig. Dit is egter belangrik dat albei ouers oor die dissipline saamstem en dit handhaaf en dat hulle nie hulle eie kind bo ’n stiefkind begunstig nie (Spreuke 24:23). Gehoorsaamheid is belangrik, maar neem hulle onvolmaaktheid in ag. Moenie oorreageer nie. Dissiplineer in liefde.—Kolossense 3:21.

24. Wat kan help om sedelike probleme tussen lede van albei geslagte in ’n stiefgesin te voorkom?

24 Gesinsbesprekings kan baie daartoe bydra om moeilikheid te voorkom. Dit kan die gesin help om hulle aandag op die belangrikste sake in die lewe gevestig te hou. (Vergelyk Filippense 1:9-11.) Dit kan ook elkeen help om te sien watter bydrae hy of sy kan lewer om gesinsdoelwitte te bereik. Daarbenewens kan openhartige gesinsbesprekings sedelike probleme voorkom. Meisies moet verstaan watter klere en gedrag gepas is wanneer hulle saam met hulle stiefvader en enige stiefbroers is, en seuns het raad nodig oor wat gepaste gedrag teenoor hulle stiefmoeder en enige stiefsusters is.—1 Tessalonisense 4:3-8.

25. Watter eienskappe kan help om vrede in ’n stiefgesin te bewaar?

25 Wees geduldig terwyl jy die spesiale uitdaging om ’n stiefouer te wees die hoof probeer bied. Dit verg tyd om nuwe verhoudings te ontwikkel. Dit kan ’n ontsaglike taak wees om kinders se liefde en respek te wen as daar geen biologiese band tussen jou en hulle is nie. Maar dit is moontlik. ’n Verstandige en opmerksame hart, tesame met ’n sterk begeerte om Jehovah te behaag, is die sleutel tot vrede in ’n stiefgesin (Spreuke 16:20, NW). Hierdie eienskappe kan jou ook help om ander situasies die hoof te bied.

WORD JULLE HUIS DEUR MATERIËLE STREWES VERDEEL?

26. Op watter maniere kan probleme en gesindhede ten opsigte van materiële dinge ’n gesin verdeel?

26 Probleme en gesindhede ten opsigte van materiële dinge kan gesinne op baie maniere verdeel. Ongelukkig word sommige gesinne ontwrig omdat hulle oor geld stry en graag ryk wil wees—of ten minste ’n bietjie ryker. Verdeeldheid kan ontstaan wanneer albei huweliksmaats sekulêre werk doen en die gesindheid ontwikkel dat dit “my geld en jou geld” is. Selfs as daar nie gestry word nie, vind huweliksmaats, as hulle albei werk, dat hulle ’n roetine het wat hulle met min tyd vir mekaar laat. ’n Toenemende neiging in die wêreld is dat vaders lang tye—maande of selfs jare—van hulle gesinne af weg is om meer geld te verdien as wat hulle ooit tuis sou verdien. Dit kan tot baie ernstige probleme lei.

27. Wat is party beginsels wat ’n gesin kan help wat onder finansiële druk verkeer?

27 Geen reëls kan neergelê word oor hoe hierdie situasies hanteer moet word nie, aangesien die druk wat gesinne ervaar en hulle behoeftes verskil. Maar Bybelraad kan help. Spreuke 13:10 sê byvoorbeeld dat ’n onnodige stryd soms vermy kan word deur ‘saam te beraadslaag’ (NW). Dit behels nie net dat jy jou eie menings lug nie, maar dat jy raad vra en uitvind hoe die ander persoon ’n saak beskou. Daarbenewens kan dit help om gesinspogings te verenig as ’n realistiese begroting uitgewerk word. Soms is dit nodig—miskien tydelik—dat albei huweliksmaats sekulêre werk doen om bykomende onkoste te dek, veral wanneer daar kinders of ander afhanklikes is. Wanneer dít die geval is, kan die man sy vrou verseker dat hy steeds tyd vir haar het. Hy en die kinders kan op liefdevolle wyse help met van die werk wat sy dalk gewoonlik alleen doen.—Filippense 2:1-4.

28. Watter vermanings sal ’n gesin help om hulle vir vrede te beywer indien hulle daarop ag slaan?

28 Hou egter in gedagte dat geld nie geluk meebring nie, al is dit ’n noodsaaklikheid in hierdie stelsel van dinge. Dit het beslis nie die lewe tot gevolg nie (Prediker 7:12). Trouens, as materiële dinge oorbeklemtoon word, kan dit tot geestelike en sedelike ondergang lei (1 Timoteus 6:9-12). Hoeveel beter is dit tog om God se Koninkryk en sy regverdigheid eerste te stel, met die versekering dat hy ons pogings sal seën om ons lewensbenodigdhede te verkry! (Matteus 6:25-33; Hebreërs 13:5). As jy geestelike belange eerste stel en ten eerste vrede met God nastreef, sal jy dalk vind dat jou huisgesin, hoewel dit miskien deur sekere omstandighede verdeeld is, op die belangrikste maniere ’n waarlik verenigde gesin sal word.

HOE KAN HIERDIE BYBELBEGINSELS . . . GESINSLEDE HELP OM VREDE IN DIE HUIS TE BEWAAR?

Christene verkry onderskeidingsvermoë.—Spreuke 16:21; 24:3, NW.

’n Egpaar hoef nie aan dieselfde godsdiens te behoort om liefde en respek in hulle huwelik te betoon nie.—Efesiërs 5:23, 25.

’n Christen sal God se wet nooit opsetlik verbreek nie.—Handelinge 5:29.

Christene is vredemakers.—Romeine 12:18.

Moet jou nie gou vererg nie.—Prediker 7:9.

WETTIGE HUWELIKE HET WAARDIGHEID EN VREDE TOT GEVOLG

In ons tyd woon baie mans en vrouens saam sonder enige wettige verbintenis. Dit is ’n situasie waaraan ’n nuwe gelowige dalk aandag moet gee. In party gevalle word die verbintenis dalk deur die gemeenskap of stamgewoontes goedgekeur, maar dit is nie wettig nie. Die Bybelstandaard vereis egter dat ’n huwelik behoorlik geregistreer moet wees (Titus 3:1; Hebreërs 13:4). Vir persone in die Christengemeente sê die Bybel ook dat daar net een man en een vrou in ’n huwelik verenig moet wees (1 Korintiërs 7:2; 1 Timoteus 3:2, 12). As jy aan hierdie standaard voldoen, is dit die eerste stap tot vrede in julle huis (Psalm 119:165). Jehovah se vereistes is nie onrealisties of swaar nie. Dit wat hy ons leer, is bedoel om ons te bevoordeel.—Jesaja 48:17, 18, NW.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel