Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • si bl. 261-263
  • Bybelboek nommer 65—Judas

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Bybelboek nommer 65—Judas
  • “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig”
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • INHOUD VAN JUDAS
  • WAAROM NUTTIG
  • ‘Stry hard vir die geloof’!
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1998
  • Ons moet hard stry om in die waarheid te bly
    Ons Christelike lewe en bediening – Vergaderingwerkboek – 2019
  • Wees op julle hoede vir afvalliges!
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1991
  • Pas op vir valse leermeesters!
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1997
Sien nog
“Die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig”
si bl. 261-263

Bybelboek nommer 65—Judas

Skrywer: Judas

Waar geskryf: Palestina (?)

Geskrif voltooi: ca. 65 G.J.

1. Watter toestande in die gemeente het Judas beweeg om sy kragtige brief aan sy broers te skryf?

JUDAS se Christenbroers het in gevaar verkeer! Gedurende die tyd wat verloop het sedert die dood en opstanding van Christus Jesus het vreemde elemente die Christengemeente op sluwe wyse binnegedring. Die vyand het ingesypel met die doel om die geloof te ondermyn, net soos die apostel Paulus nagenoeg 14 jaar tevore gewaarsku het (2 Thess. 2:3). Hoe moes die broers gewaarsku word sodat hulle op hulle hoede sou wees vir die gevaar? Die brief van Judas, kragtig en fors in sy openhartige uiteensetting, het die antwoord verskaf. Judas het sy standpunt in verse 3 en 4 duidelik gestel: ‘Ek het dit nodig gevind om aan julle te skryf omdat sekere mense ingesluip het, goddelose mense wat die onverdiende goedheid van ons God as ’n verskoning vir losbandige gedrag gebruik.’ Ja, die fondamente van die gesonde leer en sedes is bedreig. Judas het hom geroepe gevoel om die stryd aan te knoop ten behoewe van sy broers sodat hulle op hulle beurt hard kon stry vir die geloof.

2. (a) Wie was Judas? (b) Aan watter verwantskap met Jesus het Judas die grootste waarde geheg?

2 Maar wie was Judas? Die eerste woorde deel ons mee dat die brief geskryf is deur “Judas, ’n dienskneg van Jesus Christus en broer van Jakobus, aan die wat geroep [is]”. Was Judas ’n apostel, aangesien 2 van Jesus se oorspronklike 12 apostels die naam Judas gehad het? (Luk. 6:16). Judas noem homself nie ’n apostel nie, maar praat eerder van die apostels in die derde persoon as “hulle”, waardeur hy homself duidelik uitsluit (Jud. 17, 18). Bowendien noem hy homself ’n “broer van Jakobus”, waarmee hy klaarblyklik die skrywer van die brief Jakobus bedoel, wat ’n halfbroer van Jesus was (v. 1). As een van die “pilare” van die gemeente in Jerusalem was hierdie Jakobus welbekend, en daarom maak Judas van hom melding wanneer hy homself voorstel. Judas is derhalwe ook ’n halfbroer van Jesus, en hy word as sodanig vermeld (Gal. 1:19; 2:9; Matt. 13:55; Mark. 6:3). Judas het egter nie probeer munt slaan uit sy vleeslike verwantskap met Jesus nie, maar hy het nederig die klem gelê op sy geestelike verwantskap as “’n dienskneg van Jesus Christus”.—1 Kor. 7:22; 2 Kor. 5:16; Matt. 20:27.

3. Wat bewys dat die brief van Judas eg is?

3 Die egtheid van hierdie Bybelboek word gestaaf deur die vermelding daarvan in die Canon Muratori van die tweede eeu G.J. Daarbenewens het Clemens van Alexandrië (tweede eeu G.J.) dit as kanoniek aanvaar. Origines het daarna verwys as ’n werk van “weinig verse, maar vol kragtige woorde van hemelse genade”.a Ook Tertullianus het dit as eg beskou. Dit hoort ongetwyfeld by die res van die geïnspireerde Skrif.

4. Watter soort brief is Judas, waar is dit waarskynlik geskryf en wat word vermoed met betrekking tot wanneer dit geskryf is?

4 Jakobus skryf ‘aan die wat geroep is’, sonder om ’n bepaalde gemeente of persoon by name te noem. Sy brief is dus ’n algemene brief wat wyd en syd onder alle Christene gesirkuleer moes word. Hoewel dit nie gesê word nie, is Palestina die waarskynlikste plek van waar die brief geskryf is. Dit is ook moeilik om met sekerheid vas te stel wanneer dit geskryf is. Die ontwikkeling van die Christengemeente moes egter reeds in ’n gevorderde stadium gewees het, want Judas vestig die aandag op ‘die woorde wat tevore gespreek is deur die apostels van onse Here Jesus Christus’ en haal blykbaar 2 Petrus 3:3 aan (Jud. 17, 18). Bowendien is daar ’n sterk ooreenkoms tussen Judas en die tweede hoofstuk van Tweede Petrus. Dit dui daarop dat hy omstreeks dieselfde tyd as Petrus geskryf het en dat albei diep besorg was oor die gevaar wat die gemeente in daardie tyd bedreig het. Daar word dus aangeneem dat die brief omstreeks 65 G.J. geskryf is. Hierdie jaartal vind ook steun in die feit dat Judas nie melding maak van Cestius Gallus se veldtog om die Joodse opstand in 66 G.J. te onderdruk nie; hy rep ook geen woord oor die val van Jerusalem in 70 G.J. nie. Judas verwys in sy brief na bepaalde goddelike oordele wat aan sondaars voltrek is, en dit is logies dat indien Jerusalem reeds geval het, hy sy argument sou versterk het deur die vermelding van hierdie voltrekking van oordeel, veral aangesien Jesus die gebeurtenis voorspel het.—Jud. 5-7; Luk. 19:41-44.

INHOUD VAN JUDAS

5. (a) Waarom vind Judas dit nodig om aan die geroepenes te skryf “om kragtig te stry vir die geloof”? (b) Watter waarskuwende voorbeelde haal Judas aan?

5 Waarskuwings teen hoerery en minagting van heerskappy (v. 1-16). Nadat hy liefdevolle groete oorgedra het aan ‘die wat geroep is’, sê Judas dat hy aanvanklik “oor ons gemeenskaplike saligheid” wou skryf, maar nou het hy dit nodig gevind om vir hulle te skryf “om kragtig te stry vir die geloof”. Waarom? Omdat goddelose mense ingesluip het en die onverdiende goedheid van God as ’n verskoning vir losbandige gedrag gebruik. Hierdie mense, sê Judas, ‘verloën die enigste Heerser, God, en onse Here Jesus Christus’ (v. 1, 3, 4). Hy herinner hulle dat hoewel Jehovah ’n volk uit Egipteland gered het, Hy daarna “die wat ongelowig was, omgebring het”. Boonop het Jehovah die engele wat hulle regte woonplek verlaat het “vir die oordeel van die groot dag” bewaar. So is ook die ewige straf wat oor Sodom en Gomorra en die stede rondom hulle gekom het ’n waarskuwende voorbeeld van die lot van dié wat ‘buitensporig hoerery bedryf en agter vlees aan loop vir onnatuurlike gebruik’.—V. 5-7, vgl. NW.

6. Waaraan gee goddelose mense hulle oor, en hoe lig Judas die verkeerdheid en die uiteinde van hulle gedrag toe?

6 Op dieselfde wyse ‘besoedel goddelose mense die vlees en verag hulle die heerskappy en laster hulle die heerlike wesens’. Maar selfs Migael, die aartsengel, het nie lasterlik met die Duiwel gepraat toe hulle in ’n woordestryd oor Moses se liggaam gewikkel was nie, maar hy het eenvoudig gesê: “Die Here bestraf jou!” Tog gebruik hierdie mense lasterlike taal en gaan hulle te gronde soos redelose diere. Hulle bewandel die weg van Kain, Bileam en die opstandige Korag. Hulle is soos verborge klippe onder water, soos waterlose wolke, soos bome sonder vrugte wat twee maal gesterf het en ontworteld is, soos woeste golwe wat hulle skandes laat opskuim en soos dwaalsterre. Vir hulle word “die donkerheid van die duisternis vir ewig bewaar” (v. 8, 9, 13). Henog het geprofeteer dat Jehovah oordeel aan hierdie goddeloses sal voltrek. Hulle is murmureerders en klaers, en hulle bewonder persoonlikhede om selfsugtige redes.

7. (a) Watter oordeel wag op die goddeloses, en hoe het die apostels aangaande hulle gewaarsku? (b) Wat moet die “geliefdes”, met die oog op die hoop van die ewige lewe, vir hulleself en ander doen?

7 Vermaning om in God se liefde te bly (v. 17-25). Judas herinner die broers aan hoe die apostels van die Here Jesus Christus tevore gewaarsku het dat daar ‘in die laaste dae spotters sal wees wat volgens hulle eie goddelose begeerlikhede wandel’. Hierdie onrusstokers is “sinnelike mense wat die Gees nie het nie”. Die “geliefdes” moet hulleself derhalwe opbou in die geloof en hulle in die liefde van God bewaar, terwyl hulle die barmhartigheid van Christus “tot die ewige lewe” verwag. Laat hulle op hulle beurt barmhartigheid bewys en hulp verleen aan dié wat twyfel. Ten slotte skryf Judas deur die Here Jesus Christus heerlikheid toe aan “God, ons Verlosser”, die Een wat hulle van struikeling kan bewaar.—V. 18-21, 25.

WAAROM NUTTIG

8. Hoe het Judas van die geïnspireerde Skrif en van “die boek van die natuur” gebruik gemaak om sy broers te vermaan?

8 Judas self het die geïnspireerde Skrif nuttig gevind om die “geliefdes” te waarsku, aan te spoor, aan te moedig, te onderrig en te vermaan. Waar hy die growwe sonde van die goddelose indringers aan die kaak stel, gebruik hy sprekende voorbeelde uit die Hebreeuse Geskrifte, soos dié van die afvallige Israeliete, die engele wat gesondig het en die inwoners van Sodom en Gomorra, waardeur hy aantoon dat almal wat soortgelyke verderflike dinge beoefen ’n soortgelyke straf sal ondergaan. Hy het die verdorwe mense met redelose diere vergelyk en gesê dat hulle die weg van Kain bewandel, hulleself in die verleiding van Bileam stort en soos Korag omkom weens hulle opstandige praatjies. Hy het ook aanskoulike beelde aan “die boek van die natuur” ontleen. Judas se reguit brief het self ’n deel van “die hele Skrif” geword wat saam met die res van die Skrif bestudeer moet word en wat tot die regte gedrag “in die laaste tyd” aanspoor.—Jud. 17, 18, 5-7, 11-13; Num. 14:35-37; Gen. 6:4; 18:20, 21; 19:4, 5, 24, 25; 4:4, 5, 8; Num 22:2-7, 21; 31:8; 16:1-7, 31-35.

9. Waarom is Judas se waarskuwing vandag nog nodig, en op watter gebiede moet Christene aanhou om hulleself op te bou?

9 Teenstand en beproewinge van buite kon nie die groei van die Christelike godsdiens stuit nie, maar nou het die broers in gevaar verkeer deur verderf van binne. Verborge klippe onder die oppervlak het gedreig om die hele gemeente te laat skipbreuk ly. Wetende dat hierdie gevaar selfs verwoestender kan wees, het Judas oortuigende argumente aangevoer ten gunste van ’n ‘kragtige stryd vir die geloof’. Sy brief is vandag net so tydig soos dit destyds was. Dieselfde waarskuwing is steeds nodig. Die geloof moet nog steeds bewaak word en daar moet nog steeds daarvoor gestry word, onsedelikheid moet nog steeds uitgeroei word en twyfelaars steeds met barmhartigheid gehelp en ‘uit die vuur geruk word’, indien dit moontlik is. In die belang van morele onkreukbaarheid, geestelike doeltreffendheid en ware aanbidding moet Christene vandag aanhou om hulleself op te bou in die allerheiligste geloof. Hulle moet vasstaan vir die regte beginsels en tot God nader in die gebed. Hulle moet ook die nodige agting vir “heerskappy” hê deur godgegewe gesag in die Christengemeente te eerbiedig.—Jud. 3, 23, 8.

10. (a) Hoe moet die gemeente sinnelike mense behandel, en waartoe sal dit lei? (b) Watter beloning wag op die Koninkrykserfgename, en waarin voeg hulle hulle by Judas?

10 “Sinnelike mense wat die Gees nie het nie”, sal nooit in God se Koninkryk ingaan nie en sal net ’n gevaar wees vir ander wat op die weg na die ewige lewe is (Jud. 19; Gal. 5:19-21). Die gemeente moet teen hulle gewaarsku word en moet van hulle ontslae raak! Aldus sal “barmhartigheid en vrede en liefde” vir die geliefdes vermenigvuldig word, en hulle sal hulle in die liefde van God bewaar ‘terwyl hulle die barmhartigheid van hulle Here Jesus Christus tot die ewige lewe verwag’. God, die Verlosser, sal die Koninkrykserfgename ‘sonder gebrek voor sy heerlikheid stel met gejuig’. Hulle voeg hulle gewis by Judas wanneer hy deur middel van Jesus Christus “heerlikheid en majesteit, krag en mag” aan God toeskryf.—Jud. 2, 21, 24, 25, vgl. NW.

[Voetnoot]

a The Canon of the New Testament, 1987, deur B. M. Metzger, bladsy 138.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel