Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w96 4/1 bl. 6-8
  • Vier die Gedenkmaal op waardige wyse

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Vier die Gedenkmaal op waardige wyse
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1996
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Op waardige wyse—Hoe?
  • Onderskeidingsvermoë is nodig
  • Waarom ons die Here se Aandmaal herdenk
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2015
  • Wat beteken die Here se Aandmaal vir jou?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2003
  • Waarom die Here se Aandmaal vir jou betekenis inhou
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1993
  • Die Here se Aandmaal—Hoe moet dit herdenk word?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2004
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1996
w96 4/1 bl. 6-8

Vier die Gedenkmaal op waardige wyse

DIT was op die aand van 14 Nisan, 33 G.J. wat Jesus die Gedenkmaal ingestel het.a Hy het so pas die Pasga saam met sy 12 apostels gevier; dus kan ons seker wees van die datum. Nadat Jesus die verraaier, Judas, weggestuur het, het hy “’n brood geneem, ’n seën gevra, dit gebreek en dit vir hulle gegee en gesê: ‘Neem dit, dit beteken my liggaam.’ En hy het ’n beker geneem, gedank en dit vir hulle gegee, en hulle het almal daaruit gedrink. En hy het vir hulle gesê: ‘Dit beteken my “bloed van die verbond”, wat ten behoewe van baie uitgestort gaan word.’”—Markus 14:22-24.

Jesus het sy dissipels beveel om sy dood te herdenk weens die belangrikheid daarvan (Lukas 22:19; 1 Korintiërs 11:23-26). Sy offerande was die enigste wat die mensdom van die vloek van oorgeërfde sonde en die dood kon loskoop (Romeine 5:12; 6:23). Die brood en die wyn wat hy gebruik het, was simbole van sy volmaakte liggaam en van sy bloed. Omdat ons weet wat die oorspronklike datum was, kan ons die geleentheid elke jaar op die ooreenstemmende dag vier, net soos die Joodse Pasga gevier is. Maar ons moet dit op waardige wyse doen. Waarom?

Die apostel Paulus het gesê dat diegene wat die embleme, die brood en die wyn, gebruik, sou ‘aanhou om die dood van die Here te verkondig, totdat hy kom’ (1 Korintiërs 11:26). Die viering sou dus die aandag op Jesus se dood en die betekenis daarvan vir die mensdom vestig. Die geleentheid sou ernstig wees, ’n tyd om na te dink oor God se goedheid en oor die waardering wat ons vir Jehovah en sy Seun moet hê (Romeine 5:8; Titus 2:14; 1 Johannes 4:9, 10). Daarom het Paulus gewaarsku: “Gevolglik sal enigeen wat op onwaardige wyse die brood eet of die beker van die Here drink, skuldig wees met betrekking tot die liggaam en die bloed van die Here.”—1 Korintiërs 11:27.

Op waardige wyse—Hoe?

Dit sou God natuurlik nie behaag as ons die geleentheid ontheilig deur twyfelagtige dinge te beoefen of deur heidense gebruike aan te neem nie (Jakobus 1:27; 4:3, 4). Dit sou die gewilde gebruike van die Paastyd uitskakel. In navolging van Jesus se opdrag ‘om aan te hou om dit tot sy gedagtenis te doen’, sal ons graag die Gedenkmaal wil vier net soos hy dit ingestel het (Lukas 22:19; 1 Korintiërs 11:24, 25). Dit sal die bykomstighede uitsluit wat die Christendom se kerke by die viering bygevoeg het. Die New Catholic Encyclopedia erken dat “die hedendaagse mis grootliks verskil van die baie eenvoudige seremonie wat Christus en Sy Apostels gevolg het”. En deur die mis baie gereeld, selfs daagliks, te hou, het die Christendom afgewyk van wat Jesus in gedagte gehad het en ’n alledaagse geleentheid daarvan gemaak.

Paulus het aan die Korintiese Christene geskryf oor die onwaardige wyse waarop hulle die embleme gebruik het omdat daar ’n probleem met betrekking tot die Here se Aandmaal in die gemeente ontstaan het. Party het nie die heiligheid daarvan geëerbiedig nie. Hulle het hulle aandete saam met hulle gebring en dit voor of gedurende die vergadering geëet. Dikwels het hulle te veel geëet en gedrink. Dit het hulle lomerig laat voel en hulle verstand benewel. Omdat hulle nie verstandelik en geestelik wakker was nie, kon hulle “die liggaam nie onderskei nie” en het dus “skuldig . . . met betrekking tot die liggaam en die bloed van die Here” geword. Intussen was diegene wat nie aandete gehad het nie honger, en hulle aandag is ook afgelei. Feitlik nie een van hulle was in staat om die embleme te gebruik met waardering en die volle besef van die erns van die geleentheid nie—dat die herdenking ter nagedagtenis aan die Here se dood was. Dit het tot ’n oordeel teen hulle gelei, omdat hulle oneerbiedig, selfs minagtend, daarteenoor was.—1 Korintiërs 11:27-34.

Onderskeidingsvermoë is nodig

Party het die Gedenkmaalembleme gebruik, maar het later besef dat hulle nie moes nie. Diegene wat met reg die Gedenkmaalembleme gebruik, is deur God gekies en hulle het die getuienis van God se gees in dié verband (Romeine 8:15-17; 2 Korintiërs 1:21, 22). Dit is nie hulle persoonlike besluit of vasberadenheid wat hulle hiervoor waardig maak nie. God het die getal van diegene wat saam met Christus in die hemele gaan heers tot 144 000 beperk, ’n relatief klein getal in vergelyking met almal wat by Christus se losprys baat vind (Openbaring 14:1, 3). Die insameling het in Jesus se dag begin; daar is dus vandag net ’n paar gebruikers. En namate party van hulle sterf, behoort daardie getal kleiner te word.

Waarom sal iemand dalk verkeerdelik die embleme gebruik? Dit is dalk toe te skryf aan vorige godsdiensopvattings—dat al die getroues hemel toe gaan. Of dit kan as gevolg van ambisie of selfsug wees—’n gevoel dat ’n mens verdiensteliker as ander is—en ’n begeerte na vernaamheid. Miskien is dit weens sterk gevoelens wat voortspruit uit ernstige probleme of ’n tragedie wat ’n mens jou belangstelling in lewe op die aarde laat verloor. Dit kan ook wees as gevolg van ’n goeie vriendskap met iemand wat die hemelse roeping het. Ons almal moet onthou dat die besluit uitsluitlik by God berus, nie by ons nie (Romeine 9:16). As iemand dus, “ná noukeurige ondersoek”, vind dat hy in werklikheid nie die embleme moes gebruik het nie, moet hy nou ophou.—1 Korintiërs 11:28.

Die hoop wat God vir die meeste mense in die vooruitsig stel, is dié van ewige lewe op ’n paradysaarde. Dit is ’n wonderlike seën om na uit te sien en een waarmee ons ons maklik kan vereenselwig (Genesis 1:28; Psalm 37:9, 11). Dit is op die aarde wat die getroues weer met hulle verrese dierbares verenig sal word en waar hulle die regverdiges van die ou tyd, soos Abraham, Sara, Moses, Ragab, Dawid en Johannes die Doper, sal ontmoet—almal mense wat dood is voor Jesus die weg tot hemelse lewe gebaan het.—Matteus 11:11; vergelyk 1 Korintiërs 15:20-23.

Hoewel diegene wat die aardse hoop het nie die brood en die wyn gebruik nie, vier hulle die Here se Aandmaal op waardige wyse deur dit by te woon en met eerbied aandag te skenk. Hulle vind ook baat by Christus se offerande, wat dit vir hulle moontlik maak om ’n gunstige posisie voor God te hê (Openbaring 7:14, 15). Terwyl hulle luister na die toespraak wat gehou word, word hulle waardering vir heilige dinge versterk en word hulle begeerte vergroot om in eenheid met God se hele volk te bly.

Hierdie jaar sal die Gedenkmaal ná sononder op Dinsdag, 2 April, in elkeen van die meer as 78 000 gemeentes van Jehovah se Getuies wêreldwyd gevier word. Gaan jy dit bywoon?

[Voetnoot]

a Die Joodse dag het in die aand begin. Volgens ons kalender het daardie 14 Nisan van die begin van Donderdagaand, 31 Maart, tot sononder Vrydagaand, 1 April, geloop. Die Gedenkmaal is op Donderdagaand ingestel, en Jesus se dood het op die Vrydagmiddag van dieselfde Joodse dag plaasgevind. Hy is op die derde dag, vroeg Sondagoggend, opgewek.

[Prent op bladsy 8]

Jehovah se Getuies vier die Gedenkmaal een keer elke jaar

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel