“Dit is hoe God ons liefgehad het”
“As dit is hoe God ons liefgehad het, dan staan ons ook onder verpligting om mekaar lief te hê.”—1 JOHANNES 4:11.
1. Waarom sal miljoene mense ná sononder op 23 Maart in Koninkryksale en ander vergaderplekke regoor die aarde bymekaarkom?
NÁ SONONDER op Sondag, 23 Maart 1997, sal daar ongetwyfeld meer as 13000 000 mense regoor die wêreld bymekaarkom in Koninkryksale en ander vergaderplekke wat deur Jehovah se Getuies gebruik word. Waarom? Omdat hulle harte geraak is deur God se grootste blyk van liefde teenoor die mensdom. Jesus Christus het die aandag op daardie wonderlike bewys van God se liefde gevestig deur te sê: “God het die wêreld so liefgehad dat hy sy enigverwekte Seun gegee het, sodat elkeen wat geloof in hom beoefen, nie vernietig sal word nie maar die ewige lewe kan hê.”—Johannes 3:16.
2. Watter vrae kan ons almal ons gerus afvra met betrekking tot ons reaksie op God se liefde?
2 Terwyl ons aan die liefde dink wat God aan ons betoon het, kan ons ons gerus afvra: ‘Waardeer ek werklik wat God gedoen het? Getuig die manier waarop ek my lewe lei van daardie waardering?’
“God is liefde”
3. (a) Waarom is dit nie vir God iets buitengewoons om liefde te betoon nie? (b) Hoe word krag en wysheid in sy skeppingswerke geopenbaar?
3 Dit is nie vir God iets buitengewoons om liefde te betoon nie, want “God is liefde” (1 Johannes 4:8). Liefde is sy oorheersende eienskap. Toe hy die aarde voorberei het om deur die mens bewoon te word, het hy ’n asemrowende vertoon van sy krag gelewer deur die berge te laat verrys en water in mere en oseane te versamel (Genesis 1:9, 10). Toe God die water- en suurstofkringloop in werking gestel het, toe hy tallose mikro-organismes en ’n verskeidenheid plantsoorte ontwerp het om chemiese elemente van die aarde om te sit in ’n vorm wat deur mense verteer kan word sodat hulle aan die lewe kan bly, toe hy ons biologiese horlosies gestel het om met die lengte van dae en maande op die planeet Aarde ooreen te stem, het dit groot wysheid geopenbaar (Psalm 104:24; Jeremia 10:12). Maar die fisiese skepping lewer selfs opvallender bewys van God se liefde.
4. Watter bewyse van God se liefde behoort ons almal in die fisiese skepping te sien en te waardeer?
4 Ons verhemelte vertel ons van God se liefde wanneer ons ’n sappige, ryp vrug eet wat sonder twyfel nie net gemaak is om ons te voed nie, maar om ons ook genot te verskaf. Ons oë sien onmiskenbare bewys daarvan in asemrowende sonsondergange, die sterbesaaide hemel op ’n helder aand, die verskillende vorme en helder kleure van blomme, die manewales van jong diere en die hartlike glimlag van vriende. Ons neus maak ons bewus daarvan wanneer ons die soet geur van lenteblomme inasem. Ons ore neem dit waar wanneer ons na die geluid van ’n waterval, die sang van voëls en die stemme van dierbares luister. Ons voel dit wanneer ’n geliefde ons hartlik omhels. Party diere het die vermoë om dinge te sien, te hoor of te ruik wat mense nie kan waarneem nie. Maar die mens, wat na die beeld van God geskep is, het die vermoë om God se liefde aan te voel op ’n manier wat geen dier kan nie.—Genesis 1:27.
5. Hoe het Jehovah oorvloedige liefde aan Adam en Eva betoon?
5 Toe Jehovah God die eerste mense, Adam en Eva, geskep het, het hy hulle met bewyse van sy liefde omring. Hy het ’n tuin, ’n paradys, geplant en allerhande bome daarin laat groei. Hy het ’n rivier voorsien om dit nat te maak en dit met fassinerende voëls en diere gevul. Hy het dit alles aan Adam en Eva gegee as hulle tuiste (Genesis 2:8-10, 19). Jehovah het hulle as sy kinders, as deel van sy universele gesin, behandel (Lukas 3:38). Nadat die hemelse Vader van hierdie eerste mensepaar Eden as ’n patroon voorsien het, het hy hulle die bevredigende toewysing gegee om die Paradys regoor die aarde uit te brei. Die hele aarde moes met hulle nageslag bevolk word.—Genesis 1:28.
6. (a) Hoe voel jy oor die opstandige weg wat Adam en Eva ingeslaan het? (b) Wat kan toon dat ons geleer het uit wat in Eden plaasgevind het en dat ons by daardie kennis baat gevind het?
6 Dit was egter nie lank voordat Adam en Eva voor ’n toets van gehoorsaamheid, ’n toets van lojaliteit, te staan gekom het nie. Eers die een en toe die ander het versuim om waardering te toon vir die liefde wat aan hulle betoon is. Wat hulle gedoen het, was skokkend. Dit was onverskoonbaar! Hulle het gevolglik hulle verhouding met God verloor, is uit sy gesin gesit en uit Eden verdryf. Ons ervaar vandag nog steeds die gevolge van hulle sonde (Genesis 2:16, 17; 3:1-6, 16-19, 24; Romeine 5:12). Maar het ons geleer uit wat gebeur het? Hoe reageer ons op God se liefde? Toon die besluite wat ons daagliks neem dat ons sy liefde waardeer?—1 Johannes 5:3.
7. Hoe het Jehovah, ten spyte van wat Adam en Eva gedoen het, liefde vir hulle nakomelinge getoon?
7 Selfs die ernstige gebrek aan waardering wat ons eerste menseouers getoon het vir alles wat God vir hulle gedoen het, het nie God se eie liefde onderdruk nie. Uit medelye vir mense wat toe nog nie gebore was nie—met inbegrip van dié van ons wat vandag lewe—het God Adam en Eva toegelaat om ’n gesin groot te maak voordat hulle gesterf het (Genesis 5:1-5; Matteus 5:44, 45). As hy dit nie gedoen het nie, sou geeneen van ons gebore gewees het nie. Deur die progressiewe openbaring van sy wil het Jehovah ook ’n grondslag vir hoop voorsien vir al Adam se nakomelinge wat geloof sou beoefen (Genesis 3:15; 22:18; Jesaja 9:5, 6). Sy reëling het die middel ingesluit waardeur mense van alle nasies kon terugkry wat Adam verloor het, naamlik volmaakte lewe as goedgekeurde lede van God se universele gesin. Hy het dit gedoen deur ’n losprys te voorsien.
Waarom ’n losprys?
8. Waarom kon God nie net bepaal het dat geeneen van Adam en Eva se gehoorsame nakomelinge sou hoef te sterf nie, al moes Adam en Eva sterf?
8 Was dit werklik nodig dat ’n losprys in die vorm van ’n menselewe betaal moes word? Kon God nie net bepaal het dat al Adam en Eva se nakomelinge wat aan God gehoorsaam sou wees vir ewig kon lewe nie, al moes Adam en Eva weens hulle opstand sterf? Dit klink dalk redelik as ’n mens dit uit ’n kortsigtige menslike oogpunt beskou. Maar Jehovah het “geregtigheid en reg lief” (Psalm 33:5). Adam en Eva het eers nadat hulle sondaars geword het kinders voortgebring; nie een van daardie kinders is dus volmaak gebore nie (Psalm 51:7). Hulle het almal sonde geërf, en die straf vir sonde is die dood. Watter soort voorbeeld sou dit vir die lede van sy universele gesin gestel het as Jehovah dit geïgnoreer het? Hy kon nie sy eie regverdige standaarde ignoreer nie. Hy het die vereistes van geregtigheid gerespekteer. Niemand kon ooit tereg foutvind met die manier waarop God die geskille hanteer het wat ontstaan het nie.—Romeine 3:21-23.
9. Watter soort losprys was nodig volgens die Goddelike standaard van geregtigheid?
9 Hoe kon ’n geskikte grondslag dus voorsien word om Adam se nakomelinge wat liefdevolle gehoorsaamheid aan Jehovah sou toon te verlos? Indien ’n volmaakte mens ’n offerdood sou sterf, kon geregtigheid toelaat dat die waarde van daardie volmaakte lewe versoening doen vir die sondes van diegene wat in geloof die losprys aanvaar. Aangesien die sonde van een mens, Adam, daarvoor verantwoordelik was dat die hele mensdom sondaars geword het, kon die vergote bloed van ’n ander volmaakte mens die skaal van geregtigheid laat balanseer, aangesien dit ’n ooreenstemmende waarde het (1 Timoteus 2:5, 6). Maar waar kon so iemand gevind word?
Hoe groot was die prys?
10. Waarom kon Adam se nakomelinge nie die nodige losprys voorsien nie?
10 Onder die nakomelinge van die sondaar Adam was daar niemand wat kon voorsien wat nodig was om die lewensvooruitsigte wat Adam verloor het, terug te koop nie. “Niemand kan ooit ’n broer loskoop nie; hy kan aan God sy losprys nie gee nie (want die losprys van hulle lewe is te kosbaar en vir ewig ontoereikend), dat hy vir ewig sou voortlewe, die vernietiging nie sou sien nie” (Psalm 49:8-10). Jehovah het die mensdom nie sonder uitweg gelaat nie, maar het eerder uit barmhartigheid self voorsiening gemaak.
11. Hoe het Jehovah die volmaakte menselewe voorsien wat nodig was vir ’n geskikte losprys?
11 Jehovah het nie ’n engel aarde toe gestuur om voor te gee dat hy sterf deur ’n vleeslike liggaam op te offer terwyl hy as ’n gees voortgelewe het nie. Hy het eerder, deur ’n wonderwerk te doen wat slegs God, die Skepper, kon bedink, die lewenskrag en persoonlikheidspatroon van ’n hemelse seun oorgeplaas na die baarmoeder van ’n vrou, Maria die dogter van Heli, van die stam van Juda. God se werkende krag, sy heilige gees, het die ontwikkeling van die kind in sy moeder se baarmoeder beskerm, en hy is as ’n volmaakte mens gebore (Lukas 1:35; 1 Petrus 2:22). Hy het dus die prys tot sy beskikking gehad wat nodig was om ’n losprys te voorsien wat ten volle aan die vereistes van Goddelike geregtigheid sou voldoen.—Hebreërs 10:5.
12. (a) In watter sin is Jesus God se “enigverwekte Seun”? (b) Hoe is God se liefde vir ons beklemtoon deurdat Hy hierdie een gestuur het om die losprys te voorsien?
12 Aan watter een van sy tallose hemelse seuns het Jehovah hierdie toewysing gegee? Aan die een wat in die Skrif beskryf word as sy “enigverwekte Seun” (1 Johannes 4:9). Hierdie uitdrukking word nie gebruik om te beskryf wat hy geword het toe hy as ’n mens gebore is nie, maar wat hy voor daardie tyd in die hemel was. Hy is die enigste een wat regstreeks deur Jehovah geskep is sonder die medewerking van enigiemand anders. Hy is die Eersgeborene van die hele skepping. Hy is die een wat deur God gebruik is om alle ander skepsele voort te bring. Die engele is seuns van God, soos Adam ’n seun van God was. Maar Jesus word beskryf as een wat “’n heerlikheid [het] soos dié van ’n enigverwekte seun wat van ’n vader kom”. Daar word van hom gesê dat hy “in die boesemposisie by die Vader” woon (Johannes 1:14, 18). Sy verhouding met die Vader is heg, vertroulik en teer. Hy deel sy Vader se liefde vir die mensdom. Spreuke 8:30, 31 (NW) beskryf hoe sy Vader oor hierdie Seun voel en hoe die Seun oor die mensdom voel: “Ek het die een geword vir wie hy [Jehovah] dag vir dag besonder lief was, terwyl ek heeltyd voor sy aangesig bly was, . . . en die dinge waarvoor ek [Jesus, Jehovah se Meesterwerker, die verpersoonliking van wysheid] lief was, was met die seuns van die mens.” Dit was hierdie uiters kosbare Seun wat deur God aarde toe gestuur is om die losprys te voorsien. Hoe betekenisvol is Jesus se verklaring dus: “God het die wêreld so liefgehad dat hy sy enigverwekte Seun gegee het”!—Johannes 3:16.
13, 14. Wat behoort die Bybelverslag oor Abraham se poging om Isak op te offer ons te help om te waardeer omtrent dit wat Jehovah gedoen het? (1 Johannes 4:10).
13 Om ons te help om in sekere mate te begryp wat dit beteken, het God ongeveer 3890 jaar gelede, lank voordat Jesus aarde toe gekom het, aan Abraham dié opdrag gegee: “Neem jou seun, jou enigste, wat jy liefhet, Isak, en gaan na die land Moria en offer hom daar as brandoffer op een van die berge wat Ek jou sal aanwys” (Genesis 22:1, 2). Weens sy geloof het Abraham gehoorsaam. Stel jou in Abraham se posisie. Sê nou dit was jou seun, jou enigste seun vir wie jy baie lief is? Watter gevoelens sou by jou opgekom het terwyl jy die hout vir die brandoffer kap, die reis van etlike dae na die land Moria onderneem en jou seun op die altaar plaas?
14 Waarom het ’n medelydende ouer sulke gevoelens? Genesis 1:27 sê dat God die mens na Sy beeld geskep het. Ons gevoelens van liefde en medelye weerspieël op ’n baie klein skaal Jehovah se eie liefde en medelye. In Abraham se geval het God tussenbeide getree sodat Isak nie opgeoffer is nie (Genesis 22:12, 13; Hebreërs 11:17-19). Maar in sy eie geval het Jehovah nie ingegryp en gekeer dat die losprys voorsien word nie, al het dit ’n groot opoffering van hom sowel as van sy Seun geverg. God het dit nie gedoen omdat hy onder enige verpligting was nie, maar eerder as ’n blyk van uitsonderlike onverdiende goedhartigheid. Waardeer ons dit ten volle?—Hebreërs 2:9.
Wat dit moontlik maak
15. Watter uitwerking het die losprys selfs in hierdie huidige stelsel van dinge op mense se lewens gehad?
15 Daardie liefdevolle voorsiening wat deur God gemaak is, het ’n diepgaande uitwerking op die lewe van diegene wat dit in geloof aanvaar. Hulle was voorheen vervreemd van God as gevolg van sonde. Hulle was, soos sy Woord sê, ‘vyande omdat hulle verstande gerig was op werke wat goddeloos was’ (Kolossense 1:21-23). Maar hulle het “met God versoen geraak . . . deur die dood van sy Seun” (Romeine 5:8-10). Weens die feit dat hulle hulle lewenswandel verander het en die vergifnis aanvaar het wat God moontlik maak vir diegene wat geloof in Christus se offerande beoefen, verkry hulle ’n rein gewete.—Hebreërs 9:14; 1 Petrus 3:21.
16. Watter seëninge ontvang die klein kuddetjie weens hulle geloof in die losprys?
16 Jehovah het aan ’n beperkte getal van hulle, ’n klein kuddetjie, die onverdiende guns bewys om saam met sy Seun in die hemelse Koninkryk te dien, met die doel om God se oorspronklike voorneme met die aarde uit te voer (Lukas 12:32). Hulle is geneem “uit elke stam en taal en volk en nasie . . . [om] ’n koninkryk en priesters vir ons God [te wees], en hulle gaan as konings oor die aarde heers” (Openbaring 5:9, 10). Aan hulle het die apostel Paulus geskryf: “Julle het ’n gees van aanneming as seuns ontvang, deur welke gees ons uitroep: ‘Abba, Vader!’ Die gees self getuig met ons gees dat ons God se kinders is. As ons dan kinders is, is ons ook erfgename: ja, erfgename van God, maar mede-erfgename met Christus” (Romeine 8:15-17). Omdat hulle deur God as sy seuns aangeneem is, word aan hulle die kosbare verhouding toegestaan wat Adam verloor het; maar hierdie seuns sal die bykomende voorregte van hemelse diens ontvang—iets wat Adam nooit gehad het nie. Dit is geen wonder dat die apostel Johannes gesê het nie: “Kyk watter liefde het die Vader ons gegee, sodat ons kinders van God genoem sou word”! (1 Johannes 3:1). Aan sulke persone betoon God nie net beginselvaste liefde (a·gaʹpe) nie, maar ook tere geneentheid (fi·liʹa), wat kenmerkend is van die band wat tussen ware vriende bestaan.—Johannes 16:27.
17. (a) Watter geleentheid word aan almal gebied wat geloof in die losprys beoefen? (b) Wat sal “die glorieryke vryheid van die kinders van God” vir hulle beteken?
17 Ook aan ander—almal wat geloof beoefen in God se vrygewige voorsiening vir lewe deur Jesus Christus—bied Jehovah die geleentheid om die kosbare verhouding te verkry wat Adam verloor het. Die apostel Paulus het verduidelik: “Die reikhalsende verwagting van die skepping [die menseskepping wat van Adam afstam] wag op die openbaring van die seuns van God [dit wil sê, hulle wag op die tyd wanneer dit heeltemal duidelik word dat die seuns van God wat erfgename saam met Christus van die hemelse Koninkryk is positiewe stappe ten behoewe van die mensdom doen]. Want die skepping is aan nietigheid onderwerp [hulle is in sonde gebore met die dood as vooruitsig, en daar was geen manier waarop hulle hulleself kon bevry nie], nie uit eie wil nie, maar deur hom wat dit onderwerp het, op grond van hoop [wat deur God gegee is] dat die skepping self ook van die slawerny van die verderflikheid vrygemaak sal word en die glorieryke vryheid van die kinders van God sal hê” (Romeine 8:19-21). Wat sal daardie vryheid beteken? Dat hulle vrygemaak is van slawerny aan sonde en die dood. Hulle sal verstandelik en liggaamlik volmaak wees, die Paradys as hulle tuiste hê en die ewige lewe hê waartydens hulle hulle volmaaktheid kan geniet en hulle waardering vir Jehovah, die enigste ware God, kan toon. En hoe is al hierdie dinge moontlik gemaak? Deur middel van die losprysofferande van God se enigverwekte Seun.
18. Wat gaan ons ná sononder op 23 Maart doen, en waarom?
18 Op 14 Nisan 33 G.J., in ’n bovertrek in Jerusalem, het Jesus die herdenking van sy dood ingestel. Die jaarlikse herdenking van sy dood het ’n belangrike gebeurtenis in die lewe van alle ware Christene geword. Jesus self het beveel: “Hou aan om dit tot my gedagtenis te doen” (Lukas 22:19). In 1997 sal die Gedenkmaal ná sononder op 23 Maart (wat die begin van 14 Nisan is) gehou word. Op daardie dag kan niks belangriker wees as om vir hierdie Gedenkmaal teenwoordig te wees nie.
Hoe sal jy antwoord?
◻ Op watter maniere het God oorvloedige liefde vir die mensdom betoon?
◻ Waarom was ’n volmaakte lewe nodig om Adam se nakomelinge los te koop?
◻ Watter groot opoffering het dit van Jehovah geverg om die losprys te voorsien?
◻ Wat word deur die losprys moontlik gemaak?
[Prent op bladsy 10]
God het sy enigverwekte Seun gegee