Abraham—’n Voorbeeld vir almal wat God se vriendskap nastreef
“Sy geloof [het] nie verswak nie. . . . Hy was ook ten volle daarvan oortuig dat God mag het om te doen wat Hy beloof het.”—ROMEINE 4:19-21, “NAV”.
1. Waarom het Satan die verslag oor Abraham probeer diskredi- teer?
DIE goddelike woord wat in die Skrif uiteengesit word, is “lewend en kragtig” (Hebreërs 4:12). Daarom is die verslag oor Jehovah se handelinge met Abraham, al is dit meer as 3 500 jaar gelede geskryf, ’n bron van bemoediging vir almal wat God se vriendskap nastreef (Romeine 15:4). Die aartsvyand, Satan, weet dit en het godsdiensleiers gebruik om hierdie verslag te probeer diskrediteer deur dit as ’n mite te bestempel.—2 Korinthiërs 11:14, 15.
2. Hoe het Jesus se dissi- pels Abraham beskou?
2 As deel van “die hele Skrif [wat] deur God ingegee” is, is die geskiedenis van Abraham waar en “nuttig tot [Christelike] lering” (2 Timotheüs 3:16; Johannes 17:17). Jesus se vroeë dissipels het dit beslis so beskou, want Abraham word 74 keer in die Christelike Griekse Skrifte gemeld. In die geloofversterkende 11de hoofstuk van Hebreërs word daar meer oor hom as oor enige ander voorchristelike kneg van God gesê.
3. Hoe is Abraham grootliks geëer?
3 Abraham was nie ’n gewone “profeet” nie, want Jehovah het hom gebruik om ’n groot “simboliese drama” uit te leef waarin die patriarg grootliks geëer is deur as ’n profetiese tipe van God self op te tree (Genesis 20:7; Galasiërs 4:21-26, vgl. NW). Daarom het Jesus gepraat van “die boesemposisie van Abraham” toe hy ’n posisie van guns by God toegelig het.—Lukas 16:22, NW.
Sy eerste geloofsdaad
4. Hoe het God se handelinge met Abram, volgens die Bybel, begin?
4 Abram, soos hy oorspronklik genoem is, is in “Ur van die Chaldeërs” grootgemaak. Terwyl hy daar gewoon het, het Jehovah God aan hom verskyn en gesê: “Gaan jy uit jou land en uit jou familie en uit jou vader se huis, na die land wat Ek jou sal wys. En Ek sal jou ’n groot nasie maak en jou seën en jou naam so groot maak, dat jy ’n seën sal wees. En Ek sal seën diegene wat jou seën, en hom vervloek wat jou vervloek; en in jou sal al die geslagte van die aarde geseën word.”—Genesis 12:1-3; 15:7; Handelinge 7:2, 3.
5. (a) Hoe moes God se belofte Abram se hart geraak het? (b) Hoe het Abram op die belofte gereageer?
5 Wat ’n uitdagende oproep! Vir Abram sou gehoorsaamheid daaraan beteken dat hy ’n baie goeie omgewing en sy familielede moes verlaat vir ’n lewe ver weg in ’n vreemde land. Maar God se liefdevolle belofte het Abram se hart diep geraak. As ’n kinderlose ou man met ’n onvrugbare vrou het dit gelyk asof sy naam gou vergeet sou word. God se belofte het die teenoorgestelde verseker: “’n Groot nasie” sou van hom afstam. Daarbenewens het God se belofte ’n wonderlike bekendmaking van goeie nuus vir die hele mensdom ingesluit en op ’n toekomstige tyd gedui wanneer al die nasies geseën sou word (Galasiërs 3:8). Abram het geloof beoefen in Jehovah se belofte en ’n sentrum van gevorderde beskawing verlaat. “Hy het weggetrek”, deel die Bybel ons mee, “sonder om te weet waar hy sou kom.”—Hebreërs 11:8.
6. (a) Waarom skryf Genesis 11:31 die trek aan Tera toe? (Handelinge 7:2-4). (b) In watter opsigte was Sara ’n voorbeeld vir hedendaagse Christinne?
6 Abram se geloof het ander beïnvloed. Sy huishouding, sowel as Tera, sy vader, en Lot, sy broerskind, het saam met hom getrek. Maar omdat Tera die patriargale familiehoof was, word die trek aan hom toegeskryf (Genesis 11:31). Die ondersteuning wat Abram ontvang het van sy vrou, Sarai, later Sara genoem, is noemenswaardig. Sy was die res van haar lewe tevrede met ’n laer lewenstandaard (Genesis 13:18; 24:67). Dit is te begrype dat Abraham gekom het “om oor Sara te rouklaag en haar te beween” toe sy gesterf het (Genesis 23:1, 2). Weens haar sterk geloof en heelhartige vroulike onderdanigheid word sy as ’n voorbeeld van ware geestelike skoonheid aan Christinne voorgehou.—Hebreërs 11:11, 13-15; 1 Petrus 3:1-6.
7. Op watter maniere het Christene vandag geloof soortgelyk aan dié van Abraham en Sara geopenbaar?
7 Talle Christene het vandag soortgelyke geloof getoon deur hul vrywillig aan te bied om God se boodskap op plekke te verkondig waar Koninkryksverkondigers dringend nodig is en om te help met die oprigting van en werksaamhede by nuwe fasiliteite vir die druk en versending van Bybellektuur (Mattheüs 24:14). Hierdie Christene was gehoorsaam aan die gebod: “Gaan . . . , maak dissipels van al die nasies.” Omdat hulle na ’n onbekende land getrek het, moes hulle hul dikwels by ’n ander lewenstandaard aanpas. Ander het aansienlike materiële opofferinge gedoen om in hulle eie gebied dissipels te maak.—Mattheüs 28:19.
Ander geloofsdade
8. Wat het aanleiding gegee tot Jehovah se tweede verskyning aan Abram?
8 Abram het tot die dood van sy vader Tera in die stad Haran vertoef (Genesis 11:31, 32). Toe het sy huishouding die Eufraat oorgesteek en suidwaarts getrek. Uiteindelik het hulle “die plek Sigem” in die middel van die land Kanaän bereik. Wat ’n aangename gesig moes dit tog gewees het! Sigem lê in ’n vrugbare vallei tussen twee bergreekse wat hul hoogste punte by die berge Ebal en Gerisim bereik. Dit is al beskryf as die “paradys van die Heilige Land”. Hier het Jehovah heel gepas weer aan Abram verskyn en gesê: “Aan jou nageslag sal Ek hierdie land gee.”—Genesis 12:5-7.
9. (a) Op watter uitsonderlike manier het Abram voorts geloof geopenbaar? (b) Watter les leer ons hieruit?
9 Abram het met nog ’n geloofsdaad gereageer. Soos die verslag sê: “Hy [het] daar ’n altaar vir die HERE [gebou]” (Genesis 12:7). Dit het waarskynlik ook behels dat hy ’n diereofferande gebring het, want die Hebreeuse woord vir “altaar” beteken “plek van offerande”. Later het Abram hierdie geloofsdade in ander dele van die land herhaal. Daarbenewens het hy ‘die naam van Jehovah aangeroep’ (Genesis 12:8, vgl. NW; 13:18; 21:33, vgl. NW). Die Hebreeuse uitdrukking ‘die naam aanroep’ beteken ook “die naam verkondig (preek)”. Abram se huishouding sowel as die Kanaäniete moes gehoor het hoe hy met vrymoedigheid die naam van sy God, Jehovah, verkondig (Genesis 14:22-24, vgl. NW). Almal wat vandag God se vriendskap nastreef, moet eweneens sy naam in geloof aanroep. Dit sal deelname aan die openbare predikingswerk behels, naamlik om “gedurig . . . aan God ’n lofoffer [te] bring, dit is die vrug van die lippe wat sy Naam bely”.—Hebreërs 13:15; Romeine 10:10.
10. (a) Op watter ander manier het Abram geloof beoefen? (b) Watter voorbeeld het hy vir Christengesinshoofde gestel? (1 Timotheüs 3:12).
10 Abram het sy geloof in Jehovah ook op talle ander maniere beoefen. Hy het opofferinge gedoen ter wille van vrede, maar krisisse nogtans moedig aangepak (Genesis 13:7-11; 14:1-16). Hoewel hy ryk was, was hy nie materialisties nie (Genesis 14:21-24). Inteendeel, hy was gasvry en het Jehovah se aanbidding vrygewig ondersteun (Genesis 14:18-20; 18:1-8). Bowenal was hy ’n voorbeeldige gesinshoof en het hy Jehovah se instruksie gevolg deur sy seuns en sy huishouding ná hom bevel te gee sodat hulle ‘die weg van die HERE gehou het om geregtigheid te doen’ (Genesis 18:19). Sodoende het Abram se huishouding ’n weg ingeslaan wat ’n skerp kontras gevorm het met dié van die seksueel verdorwe Kanaäniete in naburige Sodom en Gomorra. Abram sou beslis nie sulke growwe sondes in sy huishouding toegelaat het nie. Die feit dat hy sy huishouding goed beheer het, word weerspieël in die manier waarop lede daarvan hom nagevolg het deur die naam van Jehovah in geloof aan te roep.—Genesis 16:5, 13; 24:26, 27; 25:21.
‘Sy geloof het nie verswak nie’
11. Hoe kon Abram honderd jaar lank “as vreemdeling . . . in ’n vreemde land” volhard?
11 Abram se sterk geloof het hom gehelp om moeilike situasies te verduur gedurende die honderd jaar wat hy tussen mense gelewe het wat beweer het dat die land hul eie is (Genesis 12:4; 23:4; 25:7). Die Bybel sê: “Hy [het] as vreemdeling gaan woon in die land van belofte soos in ’n vreemde land en in tente gewoon met Isak en Jakob, die mede-erfgename van dieselfde belofte. Want hy het die stad [God se Koninkryk] verwag wat fondamente het, waarvan God die boumeester en oprigter is. En as [hy] bly dink het aan dié vaderland waaruit [hy] weggetrek het, sou [hy] geleentheid gehad het om terug te keer.”—Hebreërs 11:9, 10, 15; vergelyk Hebreërs 12:22, 28.
12. Watter vroeë geleentheid het Abram gehad om na Ur terug te keer, en hoe het hy die krisis hanteer?
12 Abram was nie lank in Kanaän nie toe ’n kwaai hongersnood hom ’n “geleentheid” gebied het “om terug te keer”. Ur, wat die oorvloedige water van die Eufraat tot sy beskikking gehad het, was nie van direkte reën afhanklik nie. Maar pleks van daarheen terug te keer, het Abram geloof in Jehovah gestel en in die teenoorgestelde rigting—Egipte—getrek. Dit was gevaarlik. Aangesien die vreemdeling, Abram, ’n pragtige vrou gehad het, het hy gevaar geloop om sy lewe in daardie vreemde land te verloor. Hy het nogtans voorsorg getref deur Sarai te vra om hulle egtelike verhouding weg te steek. Jehovah het Abram geseën vir sy geloof, en hy kon eerlank met groter rykdom as voorheen na die Beloofde Land terugkeer.—Genesis 12:10–13:2; 20:12.
13. Wat word afgebeeld deur Sarai se onvrugbaarheid en die feit dat Abram sy egtelike verhouding met haar weggesteek het?
13 Dit het ook deel uitgemaak van die profetiese drama wat Abram onwetend tot ons lering uitgeleef het. Sarai, wat steeds onvrugbaar was, het Jehovah se hemelse gemalinorganisasie van lojale engele afgebeeld. Hierdie pragtige figuurlike vrou moes meer as 4 000 jaar wag voordat sy die ware saad van die Grotere Abraham, Jehovah God, kon voortbring. Die openlike vervolging van getroue knegte van God gedurende al daardie jare van wag, het dit partymaal laat lyk asof Jehovah sy verhouding met haar as haar eggenoot weggesteek het.—Genesis 3:15; Jesaja 54:1-8; Galasiërs 3:16, 27, 29; 4:26.
14. (a) Hoe het Sarai uiteindelik op haar onvrugbaarheid gereageer? (b) Wat het in Abram se 100ste jaar gebeur, en waarom?
14 Nadat Abram tien jaar lank as ’n vreemdeling volhard het, het hy steeds nie ’n seun as erfgenaam gehad nie. Uit wanhoop het Sarai hom gesmeek om ’n nageslag by haar slavin, Hagar, te verwek. Abram het ingestem, en Ismael is gebore (Genesis 12:4; 16:1-4, 16). Maar die beloofde saad van seën sou deur iemand anders kom. In Abram se 100ste jaar is sy naam na Abraham verander, want, soos God gesê het, “Ek maak jou ’n vader van ’n menigte van nasies”. Sarai se naam is verander na Sara, met die belofte dat sy ’n seun sou baar.—Genesis 17:1, 5, 15-19.
15. (a) Waarom het Abraham gelag oor die gedagte dat Sara vir hom ’n seun sou baar? (b) Watter verdere bewys het Abraham van sy sterk geloof gelewer?
15 Abraham (en later Sara) het gelag oor die gedagte, want sowel hy as Sara het reeds hul voortplantingsvermoë verloor (Genesis 17:17; 18:9-15). Maar dit was nie die gelag van ongelowige twyfel nie. Soos die Bybel verduidelik: “Sy geloof [het] nie verswak nie. Hy . . . [is weens] die belofte van God . . . in sy geloof versterk en het aan God die eer gegee. Hy was ook ten volle daarvan oortuig dat God mag het om te doen wat Hy beloof het” (Romeine 4:18-21, NAV). Op daardie selfde dag het Abraham bewys gelewer van sy sterk geloof. As ’n teken van God se verbond met hom het Jehovah Abraham beveel om hom saam met elke manlike lid van sy groot huishouding te laat besny (Genesis 15:18-21; 17:7-12, 26). Hoe het hy op hierdie pynlike opdrag gereageer? “Hy het die vlees van hulle voorhuid nog op daardie selfde dag besny, soos God met hom gespreek het.”—Genesis 17:22-27.
16. (a) Wat het gebeur op die dag toe Isak gespeen is? (b) Wat het die verdrywing van Hagar en Ismael afgebeeld?
16 Isak, wie se naam “Gelag” beteken, is die volgende jaar vir Sara gebore (Genesis 21:5, 6). Die tyd dat hy gespeen moes word, het gou aangebreek. Gedurende die fees het jaloerse Ismael Isak vervolg. Hierop het Sara by Abraham aangedring om die slavin, Hagar, en haar seun uit die huishouding te verdryf. Jehovah God het Sara se versoek gesteun. Hoewel dit vir hom pynlik was, het Abraham stipte gehoorsaamheid getoon (Genesis 21:8-14). Volgens Galasiërs 4:21-30 het dit afgebeeld hoe die Grotere Abraham sy verhouding met die natuurlike nasie Israel sou beëindig. Hulle is, soos die res van die mensdom, as slawe van sonde gebore (Romeine 5:12). Maar hulle het ook Jesus Christus verwerp, die ware Saad van Abraham, wat gekom het om hulle te bevry (Johannes 8:34-36; Galasiërs 3:16). En net soos Ismael Isak vervolg het, het hulle die pas gestigte Christengemeente geestelike Israeliete, wat die sekondêre deel van Abraham se saad was, vervolg.—Mattheüs 21:43; Lukas 3:7-9; Romeine 2:28, 29; 8:14-17; 9:6-9; Galasiërs 3:29.
Die grootste toets van sy geloof
17. Hoe is Abraham se geloof vervolgens kwaai getoets?
17 Dit is onwaarskynlik dat enige mensevader groter liefde vir ’n seun gehad het as wat die bejaarde Abraham vir Isak gehad het. Wat ’n verskriklike skok moes dit dus gewees het toe hy hierdie opdrag ontvang het: “Neem jou seun, jou enigste, wat jy liefhet, Isak, en gaan na die land Moria en offer hom daar as brandoffer op een van die berge wat Ek jou sal aanwys.”—Genesis 22:1, 2.
18. Hoe het Abraham gereageer op Jehovah se opdrag om Isak te offer?
18 Dit moes vir Abraham moeilik gewees het om die rede vir hierdie smartlike opdrag te verstaan. Maar hy het sy gewone stipte gehoorsaamheid getoon (Genesis 22:3). Dit het drie folterende dae geduur voordat hy die gekose berg bereik het. Daar het hy ’n altaar gebou en brandhout daarop gepak. Teen hierdie tyd het hy seker reeds God se opdrag aan Isak verduidelik, wat maklik kon weggehardloop het. Maar Isak het sy bejaarde vader eerder toegelaat om sy hande en voete vas te bind en hom bo-op die altaar te sit (Genesis 22:4-9). Waaraan kan ons sulke gehoorsaamheid toeskryf?
19. (a) Waaraan kan ons Isak se moedige onderdanigheid toeskryf? (b) Hoe is die verhouding tussen Abraham en Isak ’n les vir hedendaagse Christengesinne?
19 Abraham het sy verantwoordelikhede met betrekking tot Isak, soos uiteengesit in Genesis 18:19, getrou nagekom. Hy het Isak ongetwyfeld Jehovah se voorneme om die dode op te wek op die hart gedruk (Genesis 12:3; Hebreërs 11:17-19). Wat Isak betref, hy het Abraham se innige liefde ontvang en sou sy vader in alles wou behaag, veral as dit die uitvoering van God se wil behels het. Wat ’n uitstekende les is dit tog vir hedendaagse Christengesinne!—Efesiërs 6:1, 4.
20. Hoe het Abraham gehoorsaam, en watter beloning het hy ontvang?
20 Nou het die klimaks van die toets gekom. Abraham het die slagmes in sy hand geneem. Maar net toe hy sy seun wou doodmaak, het Jehovah hom gekeer en gesê: “Nou weet Ek dat jy God vrees en jou seun, jou enigste, van My nie teruggehou het nie” (Genesis 22:11, 12). Hoe ryklik is Abraham tog beloon deur te hoor hoe God self hom regverdig verklaar! Hy kon nou daarvan seker wees dat hy voldoen het aan wat God van ’n onvolmaakte mens vereis. Selfs belangriker is die feit dat Jehovah se vroeëre beoordeling van sy geloof geregverdig is (Genesis 15:5, 6). Hierna het Abraham ’n ram geoffer wat wonderdadig voorsien is om Isak te vervang. Toe het hy gehoor hoe Jehovah, met ’n geswore eed, die verbondsbeloftes bevestig. Later het hy as Jehovah se vriend bekend geword.—Genesis 22:13-18; Jakobus 2:21-23.
21. Watter profetiese illustrasie is hier voorsien, en wat moet dit ons aanspoor om na te streef?
21 Abraham se offerande was “by wyse van illustrasie” (Hebreërs 11:19, NW). Dit was ’n tipe van die pynlike, duur opoffering wat Jehovah God gedoen het toe hy sy geliefde Seun na die aarde gestuur het om te sterf as “die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem” (Johannes 1:29). En Isak se gewilligheid om te sterf, illustreer hoe die Grotere Isak, Jesus Christus, hom liefdevol aan die uitvoering van sy hemelse Vader se wil onderwerp het (Lukas 22:41, 42; Johannes 8:28, 29). Laastelik, net soos Abraham sy seun lewend van die altaar ontvang het, het Jehovah sy geliefde Seun as ’n glorieryke geesskepsel terugontvang uit die dood (Johannes 3:16; 1 Petrus 3:18). Hoe bemoedigend is al hierdie dinge tog vir diegene wat vandag God se vriendskap nastreef!
22. Hoe het ’n gekose groep mense baat gevind by die ongeëwenaarde liefde van God?
22 ’n Gekose groep mense is regverdig verklaar as seuns van God omdat hulle geloof beoefen het in hierdie ongeëwenaarde liefdedaad deur die Grotere Abraham, Jehovah God (Romeine 5:1; 8:15-17). Hierdie persone, wat eers uit die Jode en toe uit die nie-Jode gekies is, is inderdaad geseën deur middel van die Saad van Abraham, Jesus Christus (Handelinge 3:25, 26; Galasiërs 3:8, 16). Op hulle beurt maak hulle die sekondêre deel van Abraham se saad uit (Galasiërs 3:29). Hulle tel uiteindelik 144 000 en word, soos Jesus, tot hemelse lewe opgewek nadat hulle hulself tot die dood toe getrou bewys het.—Romeine 6:5; Openbaring 2:10; 14:1-3.
23. (a) Hoe word miljoene reeds deur die oorblyfsel van Abraham se saad geseën? (2 Korinthiërs 5:20). (b) Watter verdere seëninge lê vir die “groot menigte” voor?
23 Intussen is daar miljoene uit alle nasies wat ‘hulleself seën’ deurdat hulle ag slaan op die liefdevolle bediening van die klein oorblyfsel van Abraham se saad (Genesis 22:18, NW). Dit het hulle groot vreugde verskaf om te leer hoe sondige mense regverdig verklaar kan word as vriende van God. Gevolglik geniet “’n groot menigte . . . uit alle nasies” nou God se guns, aangesien hulle “hul klere gewas en hul klere wit gemaak [het] in die bloed van die Lam”. Met die oorblyfsel wat die leiding gee, lewer hulle God ook “dag en nag” heilige diens. Die wonderlike hoop op die ewige lewe in die Paradys as aardse “kinders van God” word vir hierdie groot menigte in die vooruitsig gestel (Openbaring 7:9-17; 21:3-5; Romeine 8:21; Psalm 37:29). Maar voor sulke seëninge ’n werklikheid word, moet belangriker gebeure plaasvind, soos ons in die volgende artikel sal sien.
Hersieningsvrae
◻ Hoe is die geloof van Abraham en sy familielede getoets?
◻ Hoe het Christene vandag soortgelyke geloof getoon?
◻ Op watter ander maniere het Abraham geloof beoefen?
◻ Hoe is Abraham, Sara en Isak voorbeelde vir Christengesinne?
◻ Wat is deur Abraham se grootste geloofsdaad geïllustreer?