Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w85 6/15 bl. 31
  • Vrae van lesers

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Vrae van lesers
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1985
  • Soortgelyke materiaal
  • Dina kom in die moeilikheid
    My boek met Bybelverhale
  • Vermy skadelike assosiasie!
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2011
  • “Vlug vir die hoerery”
    ‘Hou julle in God se liefde’
  • Vind sekuriteit onder God se volk
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2010
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1985
w85 6/15 bl. 31

Vrae van lesers

▪ Is Dina, die dogter van Jakob, deur Sigem verkrag, en was dit bloot ’n gewelddaad of wou hy met haar trou?

Sigem het blykbaar teen Dina se sin geslagsomgang met haar gehad; hy het haar verkrag. Maar haar talle kuiertjies by die Kanaäniete het haar in ’n kompromitterende posisie geplaas en skynbaar daartoe gelei dat hy op haar verlief geraak het en met haar wou trou.

Die verslag in Genesis 34:1-3 (NW) lui: “En Dina . . . het gewoonlik uitgegaan om die dogters van die land te besoek. En Sigem, die seun van Hemor, die Hewiet, die vors van die land, het haar gesien en haar gegryp en by haar gaan lê en haar verkrag. En sy siel het aan Dina, die dogter van Jakob, verkleef geraak, en hy het die jongvrou lief gehad.” Ondanks haar vader se pogings om assosiasie met die onsedelike Kanaäniete te ontmoedig deur sy kamp buite die stad van Sigem op te slaan en ’n afsonderlike watervoorraad te gebruik, het Dina nogtans “gewoonlik uitgegaan om die dogters van die land te besoek” (Genesis 33:18; Johannes 4:12). Die Hebreeuse werkwoord wat met “gewoonlik uitgegaan” vertaal word, is in die onvoltooide verlede tyd, wat op volgehoue optrede dui. Die werkwoord in dieselfde tyd word ook na aanleiding van die agtergrond met ‘gereeld uitgegaan’ en “gewoonlik opgekom” vertaal (1 Samuel 18:13, NW; 1 Konings 10:29, NW). Dina se besoek was dus nie haar eerste uitstappie nie. Sy wou skynbaar haar bure in die stad “besoek” om hulle beter te leer ken.

By een geleentheid gedurende haar gereelde besoeke het Sigem Dina “gegryp en by haar gaan lê en haar verkrag”. A Hebrew and English Lexicon deur William Gesenius sê oor die Hebreeuse woord wat met “verkrag” vertaal word: “om ’n vrou te ontmaagd, gewoonlik deur geweld.” Dieselfde woord in Rigters 19:24 en 20:5 word met ‘onteer’ vertaal. Maar in Deuteronomium 22:24 waar dieselfde Hebreeuse woord gebruik word, word ’n mate van gewilligheid aan die vrou se kant aangedui. Miskien het nie Sigem of Dina aanvanklik geslagsgemeenskap in gedagte gehad nie, maar namate sy hartstog gewek is deur die bekoorlikheid van hierdie jong, nuuskierige maagd het hy, omdat hy geen goddelike sedelike beperkinge gehad het nie, gedoen wat die meeste Kanaänitiese mans as natuurlik sou beskou het. Sy het per slot van rekening sy milieu betree! Toe Dina skynbaar nie “so ver wou gaan” nie, het hy haar eenvoudig oorweldig.

Al het Dina ook geensins ingewillig nie, was sy steeds in ’n mate daarvoor verantwoordelik dat sy haar maagdelikheid verloor het. Hoewel sy slegs “die dogters van die land” wou besoek het, kan jy jou net hulle sedes voorstel. Die feit dat Esau se Hetitiese (of Kanaänitiese) vroue “’n bitter verdriet” vir godvrugtige Isak en Rebekka was, is beslis ’n aanduiding van die verdorwenheid wat alreeds onder die “dogters van die land” geheers het (Genesis 26: 34, 35; 27:46). Geslagsonsedelikheid, met inbegrip van bloedskande, homoseksualiteit, sodomie en bestialiteit, het uiteindelik ’n deel van “die werke van die land Kanaän” geword (Levitikus 18:2-25). Waaroor het Dina dus gedurende hierdie besoeke gesels? Het sy werklik geglo dat sy omgang met die meisies se broers en ‘kêrels’ kon vermy? Vir ’n vrou om skynbaar sonder toesig met sulke onsedelike mense te meng, was moeilikheid soek. Dina het geweet wat in Kanaän met haar voorouers Sara en Rebekka gebeur het. In die oë van die verdorwe mans van Kanaän het Dina regmatige prooi geword. Sy het haarself in ’n kompromitterende situasie geplaas en met die verlies van haar maagdelikheid daarvoor betaal, ondanks weerstand op die nippertjie.​—Genesis 20: 2, 3; 26:7.

Na die voorval het Sigem Dina in sy huis gehou en ‘oorredend met haar bly spreek’, as ’t ware ‘na haar hart’. Sy vader het gesê: “Die siel van my seun Sigem is verlief op [Dina].” Dit is onwaarskynlik dat sulke vurige liefde uit slegs een ontmoeting sou spruit. Hy het skynbaar haar goeie eienskappe vantevore opgemerk, miskien gedurende haar talle besoeke. Nou wou hy met haar trou. Hy en sy vader het moontlik ook gemeen dat die huweliksaansoek in ’n mate sou vergoed vir die seun se daad en die situasie sou regstel, en dat hulle sodoende vreedsame verhoudinge met die welvarende huis van Jakob sou behou.​—Genesis 34:3, 8.

Hierdie hele episode het gelei tot die slagting van Sigem, sy vader en al die manne van die stad. Dit het Jakob se huis gehaat gemaak en baie jare later gelei tot sy sterk veroordeling van sy seuns se toorn (Genesis 34:30; 49:5-7). Wat ’n verskriklike reeks gebeure, en alles omdat Dina nie op haar omgang gelet het nie. Hierdie episode in die geïnspireerde verslag dien as ’n waarskuwing vir jong Christinne vandag wat miskien uit nuuskierigheid sosiaal wil omgaan met diegene wat nie knegte van God is nie.​—Spreuke 13:20.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel