Die Teokratiese Bedieningskool vir 2000
1 Die Teokratiese Bedieningskool is werklik ’n ryk seën vir Jehovah se volk. Oor die afgelope 50 jaar het dit miljoene gehelp om hulle vermoëns as openbare sprekers en onderrigters van Bybelwaarhede te ontwikkel (Ps. 145:10-12; Matt. 28:19, 20). Kan jy sien hoe die skool jou gehelp het? Dit kan jou verder gedurende 2000 help as jy ’n volle deelname daaraan het en die raad toepas wat gegee word.
2 Instruksies oor toewysings en die publikasies wat gebruik sal word, verskyn op die eerste bladsy van die skoolrooster vir 2000. Die tydsbepaling van elke deel, die bronnemateriaal, hoe die materiaal aangebied moet word en ander besonderhede word bespreek. Neem asseblief die tyd om die instruksies noukeurig deur te lees en dit toe te pas.
3 Weeklikse Skrifgedeelte: Daar is twee aparte programme vir weeklikse Bybellees wat op die skoolrooster uiteengesit word. Een is die gewone leesprogram wat ongeveer vyf bladsye van die Bybel dek. Die Bybelglanspunte is op hierdie leesgedeelte gebaseer. Die ander leesprogram is aanvullend en dek twee keer soveel materiaal. Deur hierdie program te volg, sal jy die hele Bybel in drie jaar kan deurlees. Dit is te verstane dat party dalk meer sal wil lees as wat in die aanvullende leesprogram uiteengesit word, en dat ander weer nie daarby sal kan bybly nie. Moenie jou met ander vergelyk nie, maar verheug jou eerder in wat jy wel kan doen (Gal. 6:4). Wat belangrik is, is om God se Woord daagliks te lees.—Ps. 1:1-3.
4 As jy by die Teokratiese Bedieningskool wil aansluit, moet jy met die skoolopsiener praat. Neem asseblief jou toewysing ernstig op en moenie dit onnodig kanselleer nie. Waardeer die skool as ’n voorsiening van Jehovah. Berei goed voor, raak deeglik vertroud met die toegewese materiaal en praat uit die hart sodat jy ten volle by hierdie unieke skool baat kan vind.