Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • km 5/00 bl. 3-6
  • Die instandhouding van ons Koninkryksale

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die instandhouding van ons Koninkryksale
  • Ons Koninkryksbediening—2000
Ons Koninkryksbediening—2000
km 5/00 bl. 3-6

Die instandhouding van ons Koninkryksale

1 Net soos die getroue Israeliete gewerk het om die tempel van Jehovah in ’n goeie toestand te hou, lê gemeentes van Jehovah se volk vandag sorg aan die dag dat hulle Koninkryksale nie agteruitgaan nie (2 Kron. 24:13). Hoewel dit aansienlike finansiële verlies tot gevolg kan hê as ’n Koninkryksaal nie in ’n goeie toestand gehou word nie, is die indruk wat die Koninkryksaal van Jehovah, sy volk en die Koninkryksboodskap gee van selfs groter belang. Mense wat gemeentelike vergaderinge vir die eerste keer bywoon, vorm dikwels menings op grond van wat hulle sien. Watter indruk sal hulle van julle Koninkryksaal kry?

2 Alle gemeentes het riglyne gekry oor die instandhouding en herstel van Koninkryksale. Daarbenewens hersien die Genootskap van tyd tot tyd belangrike instandhoudingsvereistes met die liggaam van ouer manne. Daar is natuurlik dinge waarop die ouer manne altyd moet let. Is die dak in ’n goeie toestand? Wat van die pype, lugversorging, verhitting en elektriese bedrading? Is dit alles in ’n werkende toestand? Die ouer manne moet hierdie dinge ten minste een keer per jaar noukeurig nagaan. Hulle moet ook na die algemene voorkoms van die Koninkryksaal kyk. Moet dit binne of buite geverf word? Is herstelwerk nodig? In watter toestand is die stoele, die mat, die gordyne? Instandhouding sal tot ’n minimum beperk word as almal versigtig is om nie toerusting te breek of stoele, ensovoorts te beskadig nie. Het die tuin of die parkeerterrein aandag nodig? As daar ’n grasperk of struike is, moet dit gereeld versorg word. Is daar maniere, wat die gemeente kan bekostig, om die binnekant van die saal aantrekliker te maak? Soms kan klein dingetjies gedoen word wat relatief goedkoop is, maar wat die binneversiering aansienlik verbeter. Onthou dat ’n vergaderplek wat skoon, prakties gemeubeleer en behoorlik in stand gehou word, Jehovah en sy volk in ’n goeie lig stel.

3 Ons is baie bly wanneer ons jongmense by die Koninkryksaal sien. Hulle moet daar saam met hulle ouers wees om onderrigting uit Jehovah se Woord te ontvang en te leer hoe om bekwame jong lowers van Jehovah te wees. Om by die Koninkryksaal te wees, is nie dieselfde as om by jou huis of in jou agterplaas te wees nie. Dit is ouers se verantwoordelikheid om ’n ogie oor hulle kinders te hou en hulle in toom te hou wanneer hulle by die saal is. Kinders moenie toegelaat word om onnodig na die toilette toe te gaan of om voor of ná vergaderinge te speel nie. Wanordelike kinders veroorsaak verleentheid as hulle ‘aan hulleself oorgelaat word’ (Spr. 29:15). Wanneer ouer manne hieroor met jou praat, moet jy daarop reageer en dankbaar wees, aangesien hulle wil hê dat die Koninkryksaal Jehovah se ware aanbidding in die gemeenskap in alle opsigte moet verteenwoordig.

4 Skoonmaakreëlings: Aangesien die Koninkryksaal ’n paar keer elke week gebruik word, sal dit natuurlik nodig wees om die saal skoon te maak en in stand te hou. Waardeer jy die voorreg wat jy het om dit netjies en skoon te hou? Die Koninkryksaal moet volgens ’n gereelde rooster skoongemaak word, afhangende van hoe julle dit gebruik en wat die behoefte is. Almal moet ’n deelname hê, selfs die kinders. Sodoende sal almal leer watter verantwoordelikheid hulle in verband met die onderhoud van die Koninkryksaal het, en dit meer waardeer. Hoe aangenaam is dit tog om in ’n skoon en netjiese Koninkryksaal in te stap en om nuwelinge na so ’n saal te nooi! Gewoonlik word daar gereël dat boekstudiegroepe die saal skoonmaak. Die ouer manne (en die Koninkryksaalbedryfskomitee, as meer as een gemeente die saal gebruik) kan reël dat elke groep om die beurt ’n week kry om die saal skoon te maak onder leiding van die boekstudiehouer of ’n ander broer in die groep. Julle kan ’n lys van die dinge wat skoongemaak moet word op die kennisgewingbord aanbring. Voorraad en toerusting moet byderhand wees wanneer die saal skoongemaak word. ’n Bedieningskneg kan aangestel word oor die algemene onderhoud van die Koninkryksaal, soos om voorraad te bestel en op te let na dinge wat instandhouding nodig het. Almal moet seker maak dat hulle die rooster wat voorsien word pligsgetrou volg sodat die instandhouding van die saal “welvoeglik en volgens reëling” gedoen kan word (1 Kor. 14:40). Daarbenewens kan ’n spesiale dag om die saal deeglik skoon te maak van tyd tot tyd gereël word.

5 Wanneer meer as een gemeente die Koninkryksaal gebruik, is dit veral belangrik om bewus te wees van ons verantwoordelikheid om die saal in stand te hou. In sulke gevalle het die saal meer aandag nodig, maar ons kry minder gereeld ’n beurt om dit skoon te maak. Ons moet die datum van ons volgende skoonmaaktoewysing op ons kalender skryf om ons daaraan te herinner. Boekstudiehouers en hulle assistente moet wakker wees om hulle groepe vroegtydig aan elke toewysing te herinner.—Sien Ons bediening-boek, bladsy 61, paragraaf 2.

6 Ons almal moet ons groep ondersteun wanneer dit ons beurt is om die Koninkryksaal skoon te maak. Dit verseker dat die werklas nie net deur ’n paar gedra word nie, en ons vind baat by die heilsame werk en goeie assosiasie. Maar ons hoef nie te wag tot dit ons beurt is om skoon te maak nie. As individue en as gesinne kan ons na afloop van vergaderinge help om die saal netjies te maak. As ons ’n papiertjie op die vloer sien lê, kan ons dit optel; as stoele skeef staan, kan ons help om dit reguit te skuif. Hoe bevredigend is dit tog om Jehovah se plek van aanbidding silwerskoon te sien as gevolg van ons pogings!

7 Nehemia het besef hoe belangrik dit is om ‘nie die huis van onse God te verwaarloos nie’ (Neh. 10:39; 13:11). Ons besef dat ons Koninkryksaal die sentrum van ware aanbidding in ons gemeenskap is, en daarom verdien dit ons liefdevolle aandag en sorg. Mag almal van ons, deur ons gedrag en deur die skoonmaakreëlings te ondersteun, tot die waardigheid van Jehovah se plek van aanbidding bydra.

8 Moet nooit van kougom ontslae raak deur dit onder ’n stoel vas te plak nie. En jy weet dat dit baie moeilik is om vloere skoon te hou as kougom of lekkers op die mat of vloer laat val word, of as melk wat uitgestort het nie dadelik skoongemaak word nie, of as ’n mens nie jou voete afvee voordat jy in die saal inkom nie. Party mure en stoele kan maklik vuilsmeer of beskadig word. Nalatigheid kan veroorsaak dat ons die saal op die een of ander manier ontsier, en om dit te herstel, kan baie tyd in beslag neem en baie geld kos. As elkeen net ’n bietjie moeite doen om versigtig te wees, sal almal dit waardeer.

9 Skenk aandag aan sekuriteit by die Koninkryksaal: In die lig van die kritieke tye waarin ons lewe, moet ons gesonde oordeel aan die dag lê wat sekuriteit by die Koninkryksaal betref. Net soos ons voorsorg tref om ons huis te beveilig, moet ons ook ons Koninkryksaal beveilig. Dit is die verantwoordelikheid van die ouer manne om toe te sien dat elke Koninkryksaal behoorlike sekuriteit het. Die feit dat al hoe meer gevalle van vandalisme en diefstal by sale op verskillende plekke gerapporteer word, toon dat dit beslis nodig is. Dit is raadsaam om die klanktoerusting in ’n staalkabinet te sit wat kan sluit. As die gordyne gesteel word, kan julle dit met vertikale blindings vervang of Spaanse diefwering aan die buitekant van die vensters aanbring.

10 Julle moet natuurlik sorg dat julle alle deure, hekke en vensters behoorlik toemaak en sluit elke keer nadat die Koninkryksaal gebruik is. Verantwoordelike, betroubare broers moet oor hierdie veiligheidsmaatreëls toesig hou elke keer wanneer die saal gebruik word. Dit sluit tye in wanneer die saal vir ander geleenthede as gewone gemeentelike vergaderinge gebruik word, soos vir ’n troue of wanneer dit skoongemaak word.

11 As ’n Koninkryksaal ’n parkeerterrein het, sal dit verstandig wees as dit op gepaste tye goed verlig word. Dit sal vandale ontmoedig om motors te beskadig, asook moontlike skade of beserings verminder wanneer broers en susters die saal verlaat. Party gemeentes het dit raadsaam gevind dat broers gedurende vergaderinge beurte maak om buite die saal ’n ogie oor die geparkeerde motors te hou om diefstal en vandalisme te voorkom.

12 Sommige gemeentes vind dit nodig om die deure gedurende vergaderinge te sluit. In sulke uiterste gevalle moet betroubare saalwagters ten alle tye by die deur wees om te sien wie by die saal inkom. Die liggaam van ouer manne moet besluit watter maatreëls gepas is in ooreenstemming met plaaslike wette oor openbare vergaderplekke. As hulle so ’n reëling instel, moet hulle die gemeente vooraf hiervan in kennis stel sodat hulle sal weet dat die ingang tot die Koninkryksaal gesluit sal word.

13 Ons wil hê dat die broers en nuwe belangstellendes veilig moet voel wanneer hulle vergaderinge by die Koninkryksaal bywoon, en ons wil die eiendom teen vandalisme en diefstal beskerm. Die ouer manne in elke gemeente moet dus die plaaslike omstandighede in ag neem en dan in ooreenstemming daarmee optree om eiendom te beskerm en die veiligheid van diegene by die vergaderinge te help verseker.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel