Die seëninge van die pionierbediening
“Die seën van Jehovah—dít maak ryk‚ en hy voeg daar geen pyn by nie.”—SPREUKE 10:22, NW.
1, 2. (a) Hoe het een pionier sy gevoelens oor die voltydse bediening uitgedruk? (b) Waarom is pioniers in ’n posisie om die vreugdes van die dissipelmaakwerk in voller mate te geniet?
“KAN daar enige groter vreugde wees as om te sien hoe iemand met wie jy studeer ’n bedrywige lower van Jehovah word? Dit is opwindend en geloofversterkend as ’n mens sien hoe kragtig God se Woord is om mense te motiveer om veranderinge in hulle lewe aan te bring sodat hulle Jehovah kan behaag.” So het ’n pionier uit Kanada geskryf wat al meer as 32 jaar in die voltydse bediening is. Hy sê van sy pionierbediening: “Ek kan my nie voorstel hoe dit sou wees om iets anders te doen nie. Ek kan my beslis niks voorstel wat my soveel vreugde sal bring nie.”
2 Stem jy saam dat ’n mens groot vreugde daaruit kan put as jy iemand op die weg na die lewe help? Pioniers is natuurlik nie die enigstes wat hierdie vreugde ervaar nie. Al Jehovah se knegte het die opdrag gekry om ‘dissipels te maak van mense’, en hulle probeer dit ook doen (Matteus 28:19). Maar aangesien pioniers baie ure in die veldbediening deurbring, is hulle dikwels in ’n posisie om die vreugdes van die dissipelmaakwerk in voller mate te geniet. Maar pionierdiens bring ook ander belonings mee. Praat met pioniers, en hulle sal vir jou sê dat die pionierdiens ’n wonderlike manier is om te ervaar hoe ‘die seën van Jehovah ’n mens ryk maak’.—Spreuke 10:22.
3. Wat sal ons moontlik aanmoedig terwyl ons voortgaan met ons diens aan Jehovah?
3 Onlangs is pioniers uit verskillende wêrelddele gevra om die seëninge te beskryf wat hulle in die voltydse bediening gesmaak het. Kom ons kyk na wat hulle gesê het. Jy moet egter nie ontmoedig voel as jou diens as gevolg van swak gesondheid, die ouderdom of ander omstandighede beperk word nie. Onthou, wat belangrik is, is dat ons Jehovah met ons hele siel dien, in watter hoedanigheid dit ook al is. Nogtans sal die kommentare van party pioniers jou dalk beweeg om daarin belang te stel om hierdie lonende werk te begin doen indien dit enigsins moontlik is.
Diepe tevredenheid en vreugde
4, 5. (a) Waarom is dit so ’n lonende ondervinding om ander van die goeie nuus te vertel? (b) Hoe voel pioniers daaroor om voltyds aan die bediening deel te neem?
4 “Dit verskaf groter geluk om te gee as om te ontvang”, het Jesus gesê (Handelinge 20:35). Ja, as ons onselfsugtig gee, bring dit op sigself belonings mee (Spreuke 11:25). Dit is veral waar wat die verkondiging van die goeie nuus aan ander betref. Ja, watter groter geskenk kan ons ’n ander mens gee as om hom te help om die kennis van God te verkry wat tot die ewige lewe lei?—Johannes 17:3.
5 Dit is te verstane dat diegene wat voltyds aan die bediening deelneem dikwels kommentaar lewer oor die vreugde en diepe voldoening wat hulle uit hulle bediening put. “Ek weet dat geen ander werk my die bevrediging kon bring wat ek kry deur ander van die waarheid te vertel nie”, sê ’n 64-jarige pionier uit Brittanje. ’n Weduwee uit Zaïre het gesê wat pionierdiens vir haar beteken: “Die pionierdiens was vir my ’n ware vertroosting ná my dierbare man se dood. Hoe meer ek in die bediening uitgaan om ander te help, hoe minder voel ek die tragiese verlies. Ek stel my vertroue in Jehovah se beloftes en dink meestal oor hoe ek dié met wie ek studeer, kan help om veranderinge in hulle lewens aan te bring. Aan die einde van elke dag is my slaap soet, en my hart is vreugdevol.”
6. Watter spesiale vreugde het party pioniers gesmaak?
6 Party wat al baie dekades lank pionierdiens doen, het die spesiale vreugde gehad om in afgeleë gebiede te dien en gemeentes te stig, wat later kringe geword het. In Abasjiri, Hokkaido (die noordelikste eiland van Japan), is daar byvoorbeeld ’n suster wat al 33 jaar lank ’n pionier is. Sy onthou dat daar by haar eerste kringbyeenkoms—vir die hele Hokkaido—net 70 teenwoordig was. En nou? Daar is 12 kringe op daardie eiland, met altesaam meer as 12 000 verkondigers. Stel jou voor hoe haar hart oorloop van vreugde wanneer sy kring- en streekbyeenkomste bywoon saam met die menigtes mede-Koninkryksverkondigers op daardie eiland!
7, 8. Watter vreugde het die meeste pioniers wat al lank dien, gesmaak?
7 Ander pioniers wat al lank dien, het die vreugde gehad om te sien hoe Bybelstudente gedoop word en dan groter diensvoorregte nastreef. In Japan onthou ’n suster wat sedert 1957 al in nege verskillende pioniertoewysings gedien het hoe sy ’n Ontwaak! by ’n jong vrou gelaat het wat in ’n bank gewerk het. Binne nege maande is die jong vrou gedoop. Later het sy getrou, en sy en haar man het spesiale pioniers geword. Hoe bly was die pioniersuster tog toe haar gemeente in haar derde toewysing besoek is deur die nuwe kringopsiener en sy vrou—haar gewese Bybelstudent!
8 Dit is geen wonder nie dat diegene wat die pionierbediening hulle loopbaan gemaak het dit beskou as “’n kosbare voorreg wat hoog op prys gestel moet word”, soos een pionier wat al 22 jaar dien, gesê het!
Bewyse van Jehovah se sorg
9. Wat belowe Jehovah, die Groot Voorsiener, vir sy knegte, en wat beteken dit vir ons?
9 Jehovah, die Groot Voorsiener, belowe om sy knegte te onderhou deur geestelik en materieel na hulle om te sien. Koning Dawid van die ou tyd kon tereg sê: “Ek was jonk, ook het ek oud geword, maar nooit het ek die regverdige verlate gesien, of dat sy nageslag brood soek nie” (Psalm 37:25). Hierdie Goddelike versekering stel ons natuurlik nie vry van die verpligting om materieel vir ons gesin te sorg nie, en dit gee ons ook nie die reg om misbruik te maak van die vrygewigheid van ons Christenbroers nie (1 Tessalonisense 4:11, 12; 1 Timoteus 5:8). Maar wanneer ons gewillig opofferings in ons lewe maak om Jehovah in groter mate te dien, sal hy ons nooit in die steek laat nie.—Matteus 6:33.
10, 11. Wat weet baie pioniers uit ondervinding van Jehovah se vermoë om vir hulle te voorsien?
10 Pioniers in alle wêrelddele weet uit ondervinding dat Jehovah vir diegene sorg wat hulle in sy liefdevolle hande laat. Let op die geval van ’n pionieregpaar wat na ’n klein dorpie verhuis het waar meer Koninkryksverkondigers nodig was. Ná ’n paar maande het sekulêre werk skaars begin word, en hulle spaargeld was op. Toe kry hulle ’n motorversekeringsrekening vir R359. “Daar was geen manier waarop ons dit kon betaal nie”, verduidelik die broer. “Ons het daardie aand baie hard gebid.” Die volgende dag het hulle ’n kaartjie van ’n gesin ontvang wat dit self finansieel moeilik gehad het. Die gesin het ’n belastingterugbetaling gekry, het die kaartjie verduidelik, en aangesien dit meer was as wat hulle verwag het, wou hulle ’n deel daarvan vir die pionieregpaar gee. ’n Tjek vir R359 was daarby ingesluit! “Ek sal daardie dag nooit vergeet nie—die hare op my nek het penregop gestaan!” sê die pionierbroer. “Ons het daardie gesin se vrygewigheid opreg waardeer.” Jehovah waardeer ook sulke goedhartigheid, wat kenmerkend is van die vrygewige gees wat hy sy knegte aanmoedig om te openbaar.—Spreuke 19:17; Hebreërs 13:16.
11 Baie pioniers kan van soortgelyke ondervindinge vertel. Vra hulle, en hulle sal jou vertel dat hulle nog nooit “heeltemal verlate” was nie. Wanneer ’n 72-jarige pionier op sy 55 jaar in die voltydse diens terugkyk, sê hy: “Jehovah het my nog nooit in die steek gelaat nie.”—Hebreërs 13:5, 6.
“’n Uitstekende manier om nader aan Jehovah te kom”
12. Waarom is die werk om die goeie nuus te verkondig so ’n buitengewone voorreg?
12 Die blote feit dat Jehovah ons vra om die goeie nuus van sy Koninkryk te verkondig, is vir ons ’n voorreg. Al is ons onvolmaakte mense, beskou hy ons as sy “medewerkers” in hierdie lewensreddende taak (1 Korintiërs 3:9; 1 Timoteus 4:16). Wanneer ons vir ander oor God se Koninkryk getuig, wanneer ons ’n einde aan goddeloosheid verkondig, wanneer ons vir mense sy groot liefde verduidelik deurdat hy ’n losprys voorsien het, wanneer ons sy lewende Woord oopmaak en opregte mense in die kosbare inhoud daarvan onderrig, kom ons uiteraard nader aan ons Skepper, Jehovah.—Psalm 145:11; Johannes 3:16; Hebreërs 4:12.
13. Wat sê party oor die uitwerking van hulle pionierbediening op hulle verhouding met Jehovah?
13 Pioniers kan elke maand heelwat tyd gebruik om self van Jehovah te leer en om ander van hom te leer. Watter uitwerking voel hulle het dit op hulle verhouding met God? “Pionierdiens is ’n uitstekende manier om nader aan Jehovah te kom”, antwoord ’n ouer man in Frankryk wat al meer as tien jaar ’n pionier is. ’n Ander pionier in daardie land, wat al 18 jaar in die voltydse bediening is, sê: “Die pionierdiens gee ons die geleentheid om ‘te smaak en te sien dat Jehovah goed is’ en om dag vir dag ’n sterker verhouding met ons Skepper op te bou” (Psalm 34:8, NW). ’n Suster in Brittanje wat al 30 jaar lank ’n pionier is, voel ook so. “Dit bring my nader aan Jehovah as ek op die leiding van sy gees in my bediening moet vertrou”, sê sy. “Ek het werklik gevoel dat Jehovah se gees my by baie geleenthede op die regte tyd na ’n spesifieke huis gerig het.”—Vergelyk Handelinge 16:6-10.
14. Hoe vind pioniers daarby baat as hulle elke dag die Bybel en Bybelpublikasies gebruik om ander te leer?
14 Baie pioniers vind dat dit hulle help om in kennis van God se Woord te groei as hulle elke dag die Bybel en Bybelpublikasies gebruik om skriftuurlike waarhede te verduidelik en ander daarvan te leer. ’n Vyf-en-tagtigjarige broer in Spanje wat al 31 jaar lank ’n pionier is, verduidelik: “Die pionierdiens het my gehelp om ’n grondige kennis van die Bybel te kry, ’n kennis wat ek gebruik het om baie mense te help om Jehovah en sy voornemens te leer ken.” ’n Suster uit Brittanje wat al 23 jaar lank pionierdiens doen, sê: “Die voltydse bediening het my gehelp om ’n groot begeerte na geestelike voedsel aan te kweek.” Wanneer ’n mens die ‘rede vir die hoop in jou’ aan ander verduidelik, kan dit jou groter versekering gee van die oortuigings wat vir jou kosbaar is (1 Petrus 3:15). ’n Pionier uit Australië sê: “Die pionierdiens laat my geloof toeneem wanneer ek met ander praat.”
15. Wat is baie mense bereid om te doen sodat hulle die pionierbediening kan betree en daarin kan bly, en waarom?
15 Hierdie pionierbedienaars is klaarblyklik oortuig dat hulle ’n vorm van diens gekies het wat tallose seëninge van Jehovah meebring. Dit is geen wonder nie dat baie mense bereid is om aanpassings in hulle lewe te maak, en selfs ’n sekulêre loopbaan en materiële rykdom op te offer sodat hulle die pionierbediening kan betree en daarin kan bly!—Spreuke 28:20, NW.
Smag jou hart daarna om meer te doen?
16, 17. (a) Wat kan jy doen as jy wonder of dit vir jou moontlik is om pionierdiens te doen? (b) Hoe voel party mense wanneer dit nie vir hulle moontlik is om pionierdiens te doen nie?
16 Nadat jy gesien het wat pioniers oor die seëninge van die pionierbediening sê, wonder jy dalk of dit vir jou prakties is om pionierdiens te doen. Indien wel, kan jy gerus met ’n pionier praat wat welslae behaal het in die voltydse bediening. Jy sal dit moontlik ook nuttig vind om met een van die ouer manne in die gemeente te praat, iemand wat jou ken—jou gesondheid, jou beperkinge en jou gesinsverantwoordelikhede (Spreuke 15:22). Die realistiese kommentare van ander sal jou kan help om goed daaroor na te dink of dit vir jou moontlik sal wees om pionierdiens te doen. (Vergelyk Lukas 14:28.) As dit vir jou moontlik is om pionierdiens te doen, sal jy beslis groot seëninge geniet.—Maleagi 3:10.
17 Maar wat van al die getroue Koninkryksverkondigers wat nie pionierdiens kan doen nie, al wil hulle baie graag meer doen in die bediening? Dink byvoorbeeld aan die gevoelens van een Christensuster wat sukkel om haar vier kinders alleen groot te maak. “Ek voel sleg”, sê sy, “omdat ek ’n gewone pionier was, maar weens my omstandighede nou nie soveel in velddiens kan uitgaan as vroeër nie.” Hierdie suster is baie lief vir haar kinders en wil in hulle behoeftes voorsien. Terselfdertyd smag sy daarna om meer in die predikingswerk te doen. “Ek is lief vir die bediening”, verduidelik sy. Ander toegewyde Christene wie se liefde vir God hulle beweeg om Jehovah ‘met hulle hele hart’ te wil dien, voel ook so.—Psalm 86:12.
18. (a) Wat verwag Jehovah van ons? (b) Waarom moet ons nie mismoedig raak as omstandighede ons beperk ten opsigte van wat ons kan doen nie?
18 Onthou dat Jehovah van ons verwag om hom met ons hele siel te dien. Wat dit beteken, kan van siel tot siel grootliks verskil. Party kan hulle sake so reël om as gewone pioniers te dien. Baie ander skryf van tyd tot tyd of op ’n voortdurende grondslag as hulppioniers in en bestee elke maand 60 uur aan die bediening. Die meerderheid van Jehovah se volk wy hulle egter met hulle hele siel as gemeentelike verkondigers aan die predikings- en onderrigtingswerk. As swak gesondheid, die ouderdom, gesinsverantwoordelikhede of ander omstandighede jou dus werklik beperk, moet jy nie mismoedig raak nie. Solank jy jou beste gee, is jou diens net so kosbaar in God se oë as die diens van diegene wat in die voltydse bediening is!
Almal kan die pioniergees openbaar
19. Wat is die pioniergees?
19 Al kan jy nie as ’n pionier inskryf nie, kan jy die pioniergees openbaar. Wat is die pioniergees? Ons Koninkryksbediening vir Julie 1988 het gesê: “Dit kan soos volg gedefinieer word: Om ’n positiewe gesindheid te hê ten opsigte van die bevel om te preek en dissipels te maak, om jou ten volle daaraan te wy om liefde en besorgdheid vir mense te betoon, om selfopofferend te wees, om vreugde daaruit te put om die Meester ten strengste na te volg en om jou in geestelike dinge, nie materiële dinge nie, te verbly.” Hoe kan jy die pioniergees openbaar?
20. Hoe kan ouers die pioniergees openbaar?
20 As jy ’n ouer met jong kinders is, kan jy hulle heelhartig aanmoedig om ’n loopbaan as pionier na te streef. Jou positiewe gesindheid teenoor die bediening sal hulle laat besef hoe nodig dit is om Jehovah se diens die belangrikste plek in hulle lewe te gee. Jy kan pioniers en reisende opsieners en hulle vrouens na jou huis toe nooi sodat jou kinders baat kan vind by die voorbeelde van diegene wat in die voltydse diens vreugde gevind het. (Vergelyk Hebreërs 13:7.) Selfs in godsdienstig verdeelde huise kan gelowige ouers hulle kinders deur hulle woorde en voorbeeld help om die voltydse bediening ’n doelwit in die lewe te maak.—2 Timoteus 1:5; 3:15.
21. (a) Hoe kan ons almal diegene wat pionierdiens doen, ondersteun? (b) Wat kan ouer manne doen om die pioniers aan te moedig?
21 In die gemeente kan ons almal diegene vir wie dit moontlik is om pionierdiens te doen heelhartig ondersteun. Kan jy byvoorbeeld ’n spesiale poging aanwend om saam met ’n pionier in die bediening uit te gaan, veral wanneer die pionier andersins alleen sou werk? Jy sal heel moontlik vind dat daar “’n uitwisseling van aanmoediging” sal wees (Romeine 1:11, 12). As jy ’n ouer man is, kan jy selfs meer doen om die pioniers aan te moedig. Wanneer die liggaam van ouer manne vergader, moet hulle gereeld die behoeftes van die pioniers bespreek. Wanneer ’n pionier mismoedig voel of probleme ervaar, moet julle nie te gou voorstel dat hy of sy ophou om pionierdiens te doen nie. Terwyl dit in sommige gevalle dalk nodig sal wees om dit aan te beveel, moet julle nie vergeet dat die pionierdiens ’n kosbare voorreg is wat die voltydse dienaar moontlik hoog op prys stel nie. ’n Bietjie aanmoediging en praktiese raad of hulp is dalk al wat nodig is. Die Genootskap se takkantoor in Spanje skryf: “Wanneer ouer manne pionierdiens aanmoedig, die pioniers in die veldbediening ondersteun en gereeld herdersbesoeke op hulle doen, ervaar pioniers groter vreugde, voel hulle dat hulle nuttig is en wil hulle voortgaan, ondanks hindernisse wat dalk opduik.”
22. Wat moet ons vasbeslote wees om in hierdie kritieke tyd in die mensegeskiedenis te doen?
22 Ons lewe in ’n kritieke tyd in die mensegeskiedenis. Jehovah het ons ’n lewensreddende werk gegee om te doen (Romeine 10:13, 14). Of ons as pioniers voltyds aan hierdie werk kan deelneem of nie, laat ons die pioniergees openbaar. Laat ons ’n gevoel van dringendheid en ’n selfopofferende gees aan die dag lê. Laat ons vasbeslote wees om Jehovah te gee wat hy van ons vra—diens wat met ons hele siel verrig word. En laat ons onthou dat ons met ons hele siel dien wanneer ons alles doen wat vir ons moontlik is, hetsy ons diens soos die weduwee se muntstukkies of soos Maria se duur olie is, en Jehovah waardeer diens wat met ons hele siel verrig word!
Onthou jy?
◻ Waarom bring die voltydse bediening tevredenheid en vreugde mee?
◻ Wat weet baie pioniers uit ondervinding van Jehovah se vermoë om vir sy knegte te sorg?
◻ Watter uitwerking voel pioniers het hulle bediening op hulle verhouding met Jehovah?
◻ Hoe kan jy die pioniergees openbaar?
[Prent op bladsy 23]
Pioniers put groot vreugde uit die dissipelmaakwerk
[Prent op bladsy 23]
Jou kinders kan baat vind by assosiasie met voltydse Koninkryksverkondigers
[Prent op bladsy 23]
Ouer manne kan pioniers in die veldbediening aanmoedig