Onderskei die beginsel en toon sodoende volwassenheid
SLEGTE omgang bederf nuttige gewoontes. Jy maai wat jy saai (1 Korintiërs 15:33; Galasiërs 6:7). In fisiese of geestelike sin is albei stellings ’n voorbeeld van ’n grondwaarheid—’n beginsel—en elkeen dien as ’n grondslag vir wette. Wette kan egter kom en gaan en is dikwels spesifiek. Beginsels daarenteen is algemeen, en hulle kan vir ewig duur. God se Woord moedig ons gevolglik aan om waar moontlik in terme van beginsels te dink.
Webster’s Third New International Dictionary definieer ’n beginsel as “’n algemene of grondwaarheid: ’n omvattende en grondliggende wet, leerstelling of veronderstelling waarop ander gebaseer is of waarvan ander afgelei is”. Vir ’n kind sal ’n mens byvoorbeeld die wet gee: “Jy mag nie aan die stoof raak nie.” Maar vir ’n volwassene sal die stelling: “Die stoof is warm” voldoende wees. Let op dat laasgenoemde ’n algemener stelling is. Omdat dit ’n invloed het op ’n mens se dade—miskien kook, bak of die stoof afskakel—word dit in sekere sin ’n beginsel.
Die belangrikste beginsels in die lewe is natuurlik geestelik; hulle het ’n uitwerking op ons aanbidding van God en ons geluk. Maar party deins terug vir die inspanning wat nodig is om oor beginsels te redeneer. Hulle verkies die gerief van ’n reël wanneer hulle voor ’n besluit te staan kom. Dit is onverstandig en vorm ’n teenstelling met die voorbeeld wat deur getroue manne in Bybeltye gestel is.—Romeine 15:4.
Manne met Goddelike beginsels
Onder onvolmaakte manne kan Abel die eerste man met Goddelike beginsels genoem word. Hy het waarskynlik diep nagedink oor die belofte van die “saad” en het onderskei dat verlossing van sonde ’n bloedofferande sou behels (Genesis 3:15). Hy het dus “van die eersgeborenes van sy kleinvee” aan God geoffer. Die uitdrukking “naamlik van hulle vet” toon dat Abel Jehovah sy allerbeste gegee het. Maar God sou eers meer as tweeduisend jaar ná Abel se dood breedvoerige vereistes vir offerandes uitspel. In teenstelling met die godvresende, beginselvaste man Abel het sy broer Kain bloot die nodige gedoen toe hy ’n offer aan God gebring het. Maar sy gesindheid het veel te wense oorgelaat, terwyl iets aangaande sy offerande getoon het dat sy hart beginselloos was.—Genesis 4:3-5.
Noag was ook ’n man met Goddelike beginsels. Hoewel die Bybelverslag toon dat God hom spesifiek beveel het om ’n ark te bou, lees ons nie van enige opdrag aan hom om vir ander te preek nie. Nietemin word Noag “’n prediker van regverdigheid” genoem (2 Petrus 2:5). Al het God Noag waarskynlik beveel om te preek, het sy beginselvastheid en sy liefde vir sy naaste hom ongetwyfeld ook beweeg om dit te doen. Laat ons, aangesien ons in tye soos dié van Noag lewe, sy goeie gesindheid en voorbeeld navolg.
Anders as die geestelikes van sy dag het Jesus die mense geleer om in terme van beginsels te dink. Sy Bergpredikasie is ’n voorbeeld hiervan. Die hele strekking daarvan is ’n pleidooi om deur beginsels gerig te word (Matteus, hoofstukke 5-7). Jesus het op hierdie manier onderrig omdat hy God waarlik geken het, net soos Abel en Noag voor hom. Selfs as ’n jong seun het hy die grondwaarheid eerbiedig: ‘Die mens lewe nie van brood alleen nie, maar van alles wat uit die mond van die HERE uitgaan’ (Deuteronomium 8:3; Lukas 2:41-47). Ja, as jy ’n persoon met Goddelike beginsels wil wees, moet jy Jehovah werklik ken, weet waarvan hy hou, waarvan hy nie hou nie en wat sy voornemens is. Wanneer hierdie grondwaarhede omtrent God ons lewe rig, word hulle in werklikheid lewende beginsels.—Jeremia 22:16; Hebreërs 4:12.
Beginsels en die hart
Dit is moontlik om ’n wet maar teësinnig te gehoorsaam, miskien uit vrees om vir ongehoorsaamheid gestraf te word. Maar nakoming van ’n beginsel sluit so ’n gesindheid uit, want die blote aard van beginsels bepaal dat diegene wat daardeur gerig word uit die hart gehoorsaam moet wees. Dink aan Josef wat, soos Abel en Noag, gelewe het voor die Mosaïese Wetsverbond ingestel is. Toe Potifar se vrou hom probeer verlei het, het Josef gesê: “Hoe kan ek dan hierdie groot kwaad doen en sondig teen God?” Ja, Josef het die beginsel geken dat man en vrou “een vlees” is.—Genesis 2:24; 39:9.
Vandag is die wêreld sonder regverdige beginsels. Dit het ’n onversadigbare honger na geweld en onsedelikheid. Die gevaar is dat ’n Christen in die versoeking kan kom om, miskien in die geheim, aan dieselfde gemorskos—die rolprente, video’s of boeke—te proe. Hoe prysenswaardig is dit dan wanneer ons soos Josef uit beginsel die kwaad verwerp en onthou dat God net die lojales deur die komende “groot verdrukking” behoue sal laat bly (Matteus 24:21). Ja, dit is hoofsaaklik wat ons agter geslote deure doen, en nie in die openbaar nie, wat toon watter soort persoon ons werklik van binne is.—Psalm 11:4; Spreuke 15:3.
Daaruit volg dat ons nie na vermeende skuiwergate in God se wette sal soek as ons deur Bybelbeginsels gelei word nie; ons sal ook nie probeer kyk hoe ver ons kan gaan sonder om werklik ’n sekere wet te breek nie. Sulke denke is selfverydelend; op die ou end benadeel dit ons.
Kyk na wat agter die wet sit
Wette speel natuurlik ’n belangrike rol in ’n Christen se lewe. Hulle is soos wagte wat ons help beskerm, en hulle is op talle belangrike beginsels gebaseer. As ons hierdie beginsels nie onderskei nie, kan dit ons liefde vir die verwante wette laat afneem. Die eertydse nasie Israel is ’n bewys hiervan.
God het vir Israel die Tien Gebooie gegee, waarvan die eerste die aanbidding van enige ander god behalwe Jehovah verbied het. Die feit dat Jehovah alle dinge geskep het, is ’n grondwaarheid agter hierdie wet (Exodus 20:3-5). Maar het die nasie hierdie beginsel nageleef? Jehovah antwoord self: “Vir ’n blok hout [het die Israeliete gesê]: ‘Jy is ons vader’ en vir ’n klip [het hulle gesê]: ‘Moeder’. Maar op my [Jehovah] het hulle die rug gedraai, en hulle gesigte het hulle van my weggedraai” (Jeremia 2:27, The New English Bible). Watter gevoellose en beginsellose dwaasheid! En hoeveel droefheid het dit tog vir Jehovah veroorsaak!—Psalm 78:40, 41; Jesaja 63:9, 10.
Christene het ook wette wat van God kom. Hulle moet byvoorbeeld afgodediens, geslagsonsedelikheid en die misbruik van bloed vermy (Handelinge 15:28, 29). Wanneer ’n mens daaroor nadink, kan jy onderliggende beginsels sien, soos: God verdien ons uitsluitlike toegewydheid; ons moet getrou wees aan ons huweliksmaat, en Jehovah is ons Lewegewer (Genesis 2:24; Exodus 20:5, NW; Psalm 36:10). As ons die beginsels agter hierdie voorskrifte onderskei en opreg waardeer, sien ons dat hulle vir ons eie beswil is (Jesaja 48:17). Vir ons is God se “gebooie nie swaar nie”.—1 Johannes 5:3.
Terwyl die Israeliete God se gebooie vroeër geïgnoreer het, het hulle “doktors in die wet”, die skrifgeleerdes, teen Jesus se tyd tot die ander uiterste oorgegaan. Hulle het ’n berg reëls en tradisies geformuleer wat ware aanbidding belemmer en Goddelike beginsels verberg het (Matteus 23:2, NEB). Mense het maar aanvaar dat mislukking, wanhoop of huigelary onvermydelik was (Matteus 15:3-9). En baie van die mensgemaakte reëls was onmenslik. Net voor Jesus ’n man met ’n verdorde hand genees het, het hy die Fariseërs wat daar was, gevra: “Is dit op die sabbat geoorloof om ’n goeie daad te doen?” Hulle stilte was ’n duidelike blyk van hulle afkeuring en het Jesus “diep bedroef oor die ongevoeligheid van hulle hart” laat voel (Markus 3:1-6). Die Fariseërs sou dalk ’n vasgevalde of beseerde huisdier (’n finansiële belegging) op die Sabbat help, maar nooit ’n man of ’n vrou nie—tensy dit ’n saak van lewe of dood was. Trouens, hulle was so behep met mensereëls en tegniese punte dat hulle, soos miere wat op ’n skildery rondskarrel, nie die geheelbeeld—die Goddelike beginsels—gesien het nie.—Matteus 23:23, 24.
Maar selfs jongmense kan Jehovah eer deur hulle waardering vir Bybelbeginsels as hulle harte opreg is. Die dertienjarige Rebecca se onderwyser het die klas gevra wie van hulle sou dobbel. Die meeste het gesê dat hulle dit nie sou doen nie. Maar toe verskeie situasies genoem is, het almal behalwe Rebecca toegegee dat hulle op die een of ander manier sou dobbel. Die onderwyser het Rebecca gevra of sy ’n loterykaartjie van 90 sent sou koop vir ’n goeie saak. Rebecca het nee gesê en het die skriftuurlike redes gegee waarom dit ’n vorm van dobbelary sou wees. Haar onderwyser het toe vir die hele klas gesê: ‘Na my mening is Rebecca die enigste een hier wat dít het wat ek “beginsels” in die ware sin van die woord noem.’ Ja, Rebecca kon eenvoudig geantwoord het: “Dit is teen my geloof”, maar sy het dieper daaroor gedink; sy kon ’n rede verskaf waarom dobbel verkeerd is en waarom sy weier om daaraan deel te neem.
Voorbeelde soos Abel, Noag, Josef en Jesus toon vir ons hoe ons bevoordeel word wanneer ons ons “denkvermoë” gebruik in ons aanbidding van God (Spreuke 2:11, NW; Romeine 12:1). Christen- ouer manne doen goed as hulle Jesus navolg terwyl hulle “as herders toesig [hou] oor die kudde van God wat onder [hulle] sorg is” (1 Petrus 5:2). Soos Jesus se voorbeeld goed toegelig het, is liefhebbers van Goddelike beginsels diegene wat onder Jehovah se soewereiniteit floreer.—Jesaja 65:14.