Jongmense vra . . .
Wie moet my rolmodel wees?
“Hy het ongelooflike talent as ’n basketbal- speler gehad. Al my vriende het van hom gehou. Hy was my rolmodel, en ek wou soos hy wees en wou hê wat hy gehad het.” —Ping, ’n jong Asiaat.
MENSE wat bewonder en nagevolg word, word dikwels rolmodelle genoem. Die skrywer Linda Nielsen het gesê: “Jongmense volg mense na met wie hulle hulle kan vereenselwig en wat aandag of belonings ontvang wat hulle begeer.” Jongmense is derhalwe geneig om hulle portuurs wat gewild of aantreklik is te bewonder. Maar baie jongmense voel veral aangetrokke tot rolprentsterre, musikante en atlete as rolmodelle.
Gewoonlik is die openbare beeld van die meeste beroemdes natuurlik weinig meer as ’n oordadige skyn, ’n goed uitgewerkte plan wat bedoel is om gebreke te verberg, bewondering uit te lok en bowenal om geld te maak! Ping, wat vroeër aangehaal is, erken: “Ek het al my basketbalheld se video’s gekoop en het klere en skoene met dieselfde handelsmerk as syne gedra. Party jongmense trek soos hulle TV- of sportsterre aan, het dieselfde haarstyl as hulle en loop en praat selfs soos hulle helde.
Rolmodelle—goed en sleg
‘Maar wat is daarmee verkeerd om iemand te bewonder?’ vra jy. Dit hang af van wie jy bewonder. Die Bybel sê: “Gaan met die wyse om, dan word jy wys; maar hy wat met dwase verkeer, versleg” (Spreuke 13:20). Die Bybel moedig ons nie aan om volgelinge van mense te wees nie (Matteus 23:10). Maar dit sê wel vir ons om “navolgers [te] wees van dié wat deur geloof en geduld die beloftes beërf” (Hebreërs 6:12). Die skrywer van daardie woorde, die apostel Paulus, het ’n goeie voorbeeld vir vroeë Christene gestel. Hy kon dus sê: “Word navolgers van my, net soos ek dit van Christus is.”—1 Korintiërs 11:1.
Dit is presies wat ’n jong man met die naam Timoteus gedoen het. Hy het ’n hegte vriendskap met Paulus opgebou terwyl hulle saam op hulle sendingreise was (Handelinge 16:1-4). Paulus het aan Timoteus begin dink as sy “geliefde en getroue kind in die Here” (1 Korintiërs 4:17). Met Paulus se hulp het Timoteus ’n voortreflike Christenman geword.—Filippense 2:19-23.
Maar wat kan gebeur as jy die verkeerde rolmodel kies? ’n Jong man met die naam Richard vertel: “Toe ek 15 jaar oud was, het ’n skoolmaat met die naam Mario my beste vriend geword. My ouers is Christene, en hulle het my geestelik probeer help. Maar Mario het al die pret gehad—disko’s, partytjies, motorfietse en sulke dinge. Hy kon doen wat hy wou, wanneer hy wou. Nie ek nie. Toe ek 16 was, het ek dus vir my ouers gesê dat ek nie meer ’n Christen gaan wees nie.”
Hou dit soortgelyke gevare in om beroemdes en sporthelde as rolmodelle te beskou? Ja. Daar is natuurlik niks daarmee verkeerd om die vaardigheid van ’n atleet, ’n akteur of ’n musikant te bewonder nie. Maar vra jou af: ‘Watter soort voorbeeld stel hierdie mense in hulle persoonlike lewe?’ Is baie sporthelde, musikante en ander kunstenaars nie daarvoor bekend dat hulle hulle aan geslagsonsedelikheid, dwelms en alkohol oorgee nie? Is dit nie ook waar dat baie ’n ongelukkige, onbevredigende lewe lei nie, al het hulle geld en roem? Wanneer ’n mens sake uit hierdie oogpunt beskou, moet jy jou afvra of enigiets goeds daarvan kan kom as jy sulke mense navolg?
Om ’n beroemde se haarstyl, klere of spraak na te boots, lyk dalk weliswaar na iets kleins. Maar dit is hoe jy kan begin toelaat dat die wêreld “jou in sy eie vorm druk” (Romeine 12:2, Phillips). Daardie vorm kan in die begin aangenaam voorkom. Maar as jy ten volle voor die invloed daarvan swig, kan dit jou op maniere vorm wat jou beslis in konflik met God gaan bring. “Vriendskap met die wêreld [is] vyandskap met God”, sê die Bybel in Jakobus 4:4.
Hoe ’n goeie rolmodel jou kan help
Maar as jy iemand navolg wat ’n goeie voorbeeld stel, kan dit ’n positiewe uitwerking op jou lewe hê! Onder mede-Christene kan jy baie vind wat “’n voorbeeld . . . in woord, in gedrag, in liefde, in geloof, in kuisheid” is (1 Timoteus 4:12). ’n Mens moet weliswaar versigtig wees wie jy as metgeselle kies, selfs in die Christengemeente (2 Timoteus 2:20, 21). Maar gewoonlik is dit nie moeilik om te onderskei wie in die gemeente waarlik “in die waarheid wandel” nie (2 Johannes 4). Die beginsel in Hebreërs 13:7 lui: “Namate julle die uiteinde van hulle gedrag aanskou, moet julle hulle geloof navolg.” Die uiteinde van die meeste van jou portuurs se gedrag moet nog gesien word. Maar daar is ouer mense in die gemeente wat hulle getrouheid al bewys het, en dit is verstandig om hulle te leer ken.
‘Ouer mense leer ken?’ vra jy dalk. Die gedagte klink miskien aanvanklik nie te aantreklik nie. Maar dink terug aan die verhouding wat Timoteus met sy ouer vriend die apostel Paulus gehad het. Paulus het Timoteus se potensiaal gesien en het hom aangemoedig om ‘die gawe van God in hom soos ’n vuur aan te wakker’ (2 Timoteus 1:6). Sal dit nie voordelig wees om iemand te hê wat jou kan help en aanmoedig nie, iemand wat jou aanspoor om jou godgegewe gawes te koester nie?
’n Jeugdige met die naam Bryan het gevind dat dit so is. Hy het teen gevoelens van minderwaardigheid gestry toe hy met ’n ouer, ongetroude bedieningskneg in die gemeente bevriend geraak het. Bryan sê: “Ek bewonder sy liefdevolle besorgdheid oor ander, my inkluis; sy ywer vir die bediening en sy goeie toesprake.” Bryan vind alreeds baat by die persoonlike aandag wat hy van hierdie ouer Christen ontvang het. Hy erken openlik: “Dit het my gehelp om te verander van wat ek tevore was—iemand met ’n skaam en dooie persoonlikheid.”
Ouers as rolmodelle
Die boek Adolescence—Generation Under Pressure sê dat ouers “die belangrikste eksterne invloed is wat die gemiddelde adolessent help of verhinder om ’n bevredigende identiteit te verkry”. Sonder daardie duidelike gevoel van rigting en identiteit, voeg die boek by, sal jongmense “soos ’n skip sonder ’n roer word wat met elke golf van koers verander”.
Hierdie raad weerspieël wat die dissipel Jakobus meer as 1900 jaar gelede geskryf het, soos opgeteken in Jakobus 1:6: “Laat hom aanhou om in geloof te vra, sonder om enigsins te twyfel, want hy wat twyfel, is soos ’n golf van die see wat deur die wind gedryf en heen en weer gewaai word.” Jy ken waarskynlik sommige jongmense wat presies so is. Hulle is geneig om vir vandag se opwinding te lewe, sonder om enigsins aan môre te dink.
Is jy geseën met godvresende ouers wat ’n goeie voorbeeld in die gemeente stel? Indien wel, onderwerp jy jou aan hulle invloed? Of verset jy jou gedurig teen hulle? Jou ouers is weliswaar nie volmaak nie. Maar moenie blind wees vir hulle goeie eienskappe nie—eienskappe wat jy wyslik kan navolg. “Ek het groot bewondering vir my ouers”, skryf ’n jong Christen met die naam Jarrod. “Die ywer wat hulle altyd in die bediening toon, die manier waarop hulle ekonomiese ontberinge te bowe gekom het en die aanmoediging wat hulle my gegee het om aan die voltydse bediening deel te hê, het alles ’n goeie uitwerking op my gehad. My ouers was nog altyd my rolmodelle.”
Die beste rolmodel
Toe die Gallup-organisasie ’n opname onder jeugdiges in die Verenigde State gedoen het en hulle gevra het wie hulle dink die grootste persoon in die geskiedenis is, het die meeste Amerikaanse politieke figure gekies. Net 6 persent het Jesus Christus gekies. Die Bybel sê egter vir ons dat Jesus Christus vir ons ’n volmaakte “voorbeeld gelaat het sodat [ons] sy voetstappe noukeurig kan volg” (1 Petrus 2:21; Hebreërs 12:3). Hy moedig sy dissipels aan om by hom te leer (Matteus 11:28, 29). Maar presies hoe gaan ’n mens te werk om dit te doen?
Raak deeglik vertroud met die lewe van Jesus. Probeer die Evangelieverslae deurlees, asook die boek Die grootste mens wat nog geleef het.a Let op na hoe Jesus onderrig het, die medelydende manier waarop hy mense behandel het en die moed wat hy aan die dag gelê het wanneer hy onder druk was. Jy sal vind dat Jesus die allerbeste rolmodel is wat jy kan volg.
Hoe meer jy vertroud raak met die volmaakte rolmodel, hoe minder sal jy aangetrokke voel tot portuurs of beroemdes wat ’n slegte invloed op jou kan hê. Onthou jy Ping se bewondering vir ’n sportheld? Ping geniet dit nog steeds om van tyd tot tyd basketbal te speel, maar hy het tot die besef gekom dat dit dwaas is om beroemdes na te volg.
En wat van Richard? Sy keuse van ’n rolmodel het daartoe gelei dat hy die Christelike geloof verlaat het. Richard het egter ’n jong man in sy twintigerjare, met die naam Simon, leer ken wat een van Jehovah se Getuies is. “Simon het my vriend geword”, sê Richard, “en het my gehelp om te sien dat ’n mens die lewe kán geniet sonder om Bybelbeginsels prys te gee. Ek het gou respek vir Simon ontwikkel, en sy voorbeeld het grootliks daartoe bygedra dat ek na die gemeente teruggekeer en my lewe aan Jehovah toegewy het. Ek is nou baie gelukkiger, en my lewe is werklik sinvol.”
Ja, jou keuse van rolmodelle maak werklik saak!
[Voetnoot]
a Uitgegee deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc.
[Prent op bladsy 13]
Jy kan baat vind by assosiasie met gerespekteerde ouer mense