Verenig onder ’n vaandel van liefde
Bo alles moet julle mekaar vurig liefhê.”—1 PETRUS 4:8.
1. Watter soort liefde sien ons vandag onder God se volk, en wat verkondig gesalfde Christene sedert 1922?
SIEN ons vandag daardie soort liefde onder God se volk? Beslis! Dit is ’n liefde wat gegrond is op erkenning en ondersteuning van Jehovah se soewereiniteit, net soos Dawid dit ondersteun het. Veral sedert die jaar 1922 verkondig gesalfde broers van Jesus Christus, “die Seun van Dawid”, oor die hele aarde dat God se Koninkryk ophande is en dat die voorstanders van Satan se onderdrukkende heerskappy deur God se aangestelde Regter, Jesus Christus, tereggestel gaan word.—Mattheüs 21:15, 42-44; Openbaring 19:11, 19-21.
2. Waarom kon Dawid ‘’n man na Jehovah se hart’ genoem word?
2 Dawid was ‘’n man na Jehovah se hart’. Dit het geblyk uit sy liefde vir Jehovah en Sy geregtigheid—selfs lafhartige koning Saul moes erken dat Dawid hierdie karaktertrekke gehad het—ja, uit sy onverskrokkenheid, hartgrondige toegewydheid aan Jehovah, leierskap en nederige onderdanigheid aan teokratiese orde.—1 Samuel 13:14, vgl. NW; 16:7, 11-13; 17:33-36; 24:9, 10, 17.
3. Wat was Jonatan se gesindheid teenoor Dawid, en waarom?
3 Na sy oorwinning oor Goliat het Dawid aan Saul gerapporteer. Dit was toe dat nog ’n liefhebber van geregtigheid na vore gekom het. Hy was Jonatan, oudste seun van koning Saul. “Nadat [Dawid] sy gesprek met Saul beëindig het, het die siel van Jonatan verkleef geraak aan die siel van Dawid, en Jonatan het hom liefgekry soos sy eie siel” (1 Samuel 18:1). Dit was nie Dawid se moed of vaardigheid met die slinger nie, maar sy brandende ywer om God se naam van smaad te suiwer, sy onselfsugtigheid en sy volkome vertroue op Jehovah wat Jonatan se opregte bewondering gewin het.—Vergelyk Psalm 8:2, 10; 9:2, 3.
4. Wat het Jonatan gedoen ter erkenning van die feit dat Dawid gesalf is om koning te wees?
4 Hoewel Jonatan sowat 30 jaar ouer as Dawid was, is hy met hierdie jong soldaat verenig in ’n blywende band van vriendskap. “Toe sluit Jonatan met Dawid ’n verbond, omdat hy hom liefgehad het soos sy eie siel. Daarby trek Jonatan sy mantel uit wat hy aangehad het, en gee dit aan Dawid; ook sy klere, ja, selfs sy swaard en sy boog en sy gordel” (1 Samuel 18:3, 4). Watter uitsonderlike blyk van erkenning deur Jonatan! Jonatan sou in die gewone loop van sake Saul se erfgenaam gewees het. Tog het hy ’n innige, beginselvaste liefde vir Dawid betoon en was hy onderdanig aan hom as die persoon wat gesalf is om koning te wees, die persoon wat by uitstek geywer het om Jehovah se naam en soewereiniteit te verdedig.—2 Samuel 7:18-24; 1 Kronieke 29:10-13.
5. Wat het Jonatan met betrekking tot teokratiese oorlogvoering besef?
5 Jonatan self was ook ’n stryder vir geregtigheid. Hy het gesê: “By die HERE is daar geen verhindering om deur baie of deur min te verlos nie.” Waarom nie? Omdat Jonatan besef het dat ’n mens altyd goddelike leiding moet vra om die oorwinning in teokratiese oorlogvoering te behaal. Toe Jonatan onwetend ’n oortreding begaan het waarvoor Saul hom ter dood veroordeel het, het hy daardie uitspraak nederig aanvaar. Gelukkig het die volk hom losgekoop.—1 Samuel 14:6, 9, 10, 24, 27, 43-45.
Die betoning van lojale liefde
6. Hoe het Jonatan se lojale liefde Dawid gered?
6 Saul het jaloers geword op Dawid se beroemdheid as ’n soldaat en wou hom doodmaak, maar Jonatan se lojale liefde het hom gered! Die verslag lui: “Jonatan, die seun van Saul, het baie van Dawid gehou; en Jonatan het dit aan Dawid meegedeel en gesê: My vader Saul soek geleentheid om jou dood te maak: pas dan nou môre vroeg op en hou jou verborge en steek jou weg.” By daardie geleentheid het Jonatan Saul gepaai, sodat Dawid gespaar is. Maar Dawid se verdere welslae toe hy “teen die Filistyne geveg en ’n groot slag onder hulle geslaan” het, het weer Saul se vyandigheid gewek. Hy het hom weer voorgeneem om Dawid dood te maak, sodat Dawid gevlug het.—1 Samuel 19:1-10.
7. Wat het Jonatan en die vlugteling Dawid tydens hul ontmoeting vir mekaar gesê om ’n verbond opnuut te bekragtig?
7 Na verloop van tyd het Jonatan en die vlugteling Dawid mekaar weer raakgeloop. Jonatan het gesê: “Wat jy begeer, sal ek vir jou doen.” Hulle het opnuut ’n verbond voor Jehovah bekragtig, en Dawid het beloof dat hy nooit guns aan Jonatan se huis sal onttrek nie—’n belofte wat hy getrou nagekom het. “En Jonatan het Dawid weer laat sweer by sy liefde vir hom; want hy het hom liefgehad met die liefde van sy siel.”—1 Samuel 20:4-17; 2 Samuel 21:7.
8. Waarom het Jonatan en Dawid mekaar in die geheim in ’n veld ontmoet, en wat het by daardie geleentheid gebeur?
8 Koning Saul was vasbeslote om Dawid dood te maak. Trouens, Saul het selfs ’n spies na sy eie seun Jonatan gegooi toe hy vir Dawid opgekom het! Jonatan het Dawid dus in die geheim in ’n veld ontmoet. “Dawid . . . val met sy aangesig op die aarde en buig drie maal; daarna het hulle mekaar gesoen en saam geween, totdat Dawid hardop gesnik het. En Jonatan sê vir Dawid: Gaan in vrede, omdat ons twee in die Naam van die HERE gesweer en gesê het: Die HERE sal tussen my en jou wees, en tussen my nageslag en jou nageslag vir altyd.” Toe het hulle uiteengegaan, en Dawid het ’n vlugteling in die woestyn Sif geword.—1 Samuel 20:41, 42.
9, 10. (a) Hoe het Jonatan Dawid verder bemoedig toe hulle mekaar waarskynlik die laaste keer ontmoet het? (b) Watter klaaglied het Dawid gekomponeer toe Jonatan en Saul deur die Filistyne doodgemaak is, en hoe het hy dit afgesluit?
9 Jonatan het liefdevol aangehou om Dawid te bemoedig. Soos die verslag sê: “Daarop het Jonatan, die seun van Saul, hom klaargemaak en na Dawid in Hores gegaan. En hy het hom bemoedig in God en vir hom gesê: Vrees nie, want die hand van Saul, my vader, sal jou nie vind nie, maar jy sal koning word oor Israel, en ek sal die tweede onder jou wees; en my vader Saul weet dit ook goed. Toe sluit hulle twee ’n verbond voor die aangesig van die HERE.”—1 Samuel 23:15-18.
10 Dit was blykbaar die laaste ontmoeting tussen Dawid en sy lojale metgesel Jonatan. Later, toe Jonatan sowel as Saul in ’n geveg teen die Filistyne gesneuwel het, het Dawid ’n klaaglied, “Die Booglied”, gekomponeer. Daarin het hy respek vir Saul as Jehovah se gesalfde betuig, maar hy het sy lied afgesluit met die woorde: “Jonatan lê verslaan op jou hoogtes. Ek is benoud om jou ontwil, my broer Jonatan! Jy was vir my baie lieflik; jou liefde was vir my wonderliker as die liefde van vroue. Hoe het die helde geval en die oorlogswapens verlore gegaan!” (2 Samuel 1:18, 21, 25-27). Dawid is toe die tweede keer gesalf, as koning oor Juda.
Hedendaagse parallelle
11, 12. (a) Van watter soort liefde was Dawid en Jonatan ’n voorbeeld? (b) Wat het die vurige liefde tussen Dawid en Jonatan voorafgeskadu?
11 Wat leer ons uit die verslag oor Dawid en Jonatan aangesien ‘die hele Skrif deur God ingegee en nuttig tot lering is’? (2 Timotheüs 3:16). Ons let op dat daar ’n liefde “wonderliker as die liefde van vroue” is. “Die liefde van vroue” kan weliswaar aangenaam en bevredigend wees wanneer Jehovah se wette aangaande die huwelik eerbiedig word (Mattheüs 19:6, 9; Hebreërs 13:4). Maar Dawid en Jonatan was ’n voorbeeld van ’n voortrefliker aspek van liefde, in ooreenstemming met die verbod: “Hoor, Israel, die HERE onse God is ’n enige HERE. Daarom moet jy die HERE jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met al jou krag.”—Deuteronomium 6:4, 5.
12 Dawid en Jonatan was verenig in die betoning van daardie liefde terwyl hulle gestry het om Jehovah se naam te suiwer van al die smaad wat Sy vyande dit aangedoen het. Sodoende het hulle ook ‘vurige liefde vir mekaar’ aangekweek (1 Petrus 4:8). Die kameraadskap wat hulle in hierdie opsig geniet het, het selfs verder gegaan as die bevel in Levitikus 19:18: “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.” Trouens, dit was ’n voorafskaduwing van die soort liefde wat aangedui is in Jesus se “nuwe gebod . . . dat julle mekaar moet liefhê; soos Ek julle liefgehad het, moet julle ook mekaar liefhê”. Jesus se liefde was selfopofferend nie net wat sy volkome onderdanigheid aan Jehovah se wil betref nie, maar ook met betrekking tot sy gewilligheid om selfs “sy lewe vir sy vriende [te] gee”.—Johannes 13:34; 15:13.
Een eensgesinde “kudde”
13. Watter groep Koninkryksverkondigers het veral sedert 1935 op die toneel verskyn, en watter eenheid geniet die gesalfde Christene met hulle?
13 Gesalfde Christene van die “klein kuddetjie” het die swaarste aanslae verduur in die stryd teen die hedendaagse Goliat. Maar sedert 1935 het Koninkryksverkondigers van ’n ander en groter “stal” by hulle aangesluit. Hierdie “ander skape” is met die oorblywende gesalfde “skape” verenig as “een kudde” onder die “een herder”, “die Seun van Dawid”, in ’n voortreflike band van liefdevolle eenheid—soos dié tussen Jonatan en Dawid.—Lukas 12:32; Johannes 10:16; Esegiël 37:24.
14. Wat het ooreengestem met Saul se pogings om Dawid dood te maak, en met die feit dat Jonatan hom liefdevol met Dawid verenig het?
14 Onderwyl hierdie Jonatan-groep tot ’n groot menigte begin vermeerder het, het die Tweede Wêreldoorlog uitgebreek, en die gesalfdes sowel as hulle metgeselle is gevolglik in hoë mate op die proef gestel. Dit was jare van wrede vervolging, dikwels op aanstigting van die geestelikes. Dit het ooreengestem met Saul se pogings om die gesalfde Dawid en, later, Jonatan dood te maak toe Jonatan hom liefdevol met Dawid verenig het. Watter vurige liefde het die Dawid- en die Jonatan-klas tog gedurende daardie tydperk aan mekaar betoon! Jesus se illustrasie in Mattheüs 25:35-40 is dikwels letterlik vervul.a
15. (a) Watter handelwyse van die Getuies verskil met dié van die hedendaagse Saul-klas? (b) Wat in ons dag stem moontlik ooreen met die “bose gees, deur die HERE gestuur”, wat koning Saul verskrik het?
15 Hoe verskil Jehovah se Getuies se handhawing van onkreukbaarheid tog van die handelwyse van die hedendaagse Saul-klas! Die Getuies, wat “nie van die wêreld is nie”, het Jesus se bevel om ‘mekaar lief te hê’ oor die hele wêreld gehoorsaam (Johannes 15:17-19). Daarenteen het die Christendom se geestelikes in die twee wêreldoorloë aan albei kante tot hulle “god” om oorwinning gebid, terwyl miljoene soldate deur hulle mede-godsdiensbeoefenaars van ander lande afgemaai is. Die “bose gees, deur die HERE gestuur”, wat Saul verskrik het, stem heel moontlik ooreen met die resultaat wanneer die engele die plae van Openbaring hoofstuk 8 uitgooi. Dit is duidelik dat die geestelikes van die Christendom nie Jehovah se heilige gees het nie.—1 Samuel 16:14; 18:10-12; 19:10; 20:32-34.
16. (a) Hoe het die geestelikes twee wêreldoorloë gebruik om Jehovah se volk te onderdruk? (b) Waarom ken daar gesê word dat ’n hedendaagse Saul in die laaste jare aangehou het om God se volk te vervolg?
16 In 1918 het die geestelikes die oorlogskrisis gebruik om die politieke magte in die Verenigde State te oorreed om teen die verantwoordelike amptenare van die Wagtoringgenootskap op te tree en hulle uiteindelik op te sluit. (Hierdie Bybelstudente is later geheel en al vrygespreek.) Gedurende die Tweede Wêreldoorlog is die werk van Jehovah se Getuies in die ryk van die Spilmoondhede en in die meeste lande van die Britse Statebond in die ban gedoen, dikwels as gevolg van godsdiensdruk. Let byvoorbeeld op die reproduksie hierbo van ’n brief wet die Aartsbiskop van Sydney (later ’n kardinaal) geskryf het net voordat die werk van Jehovah se Getuies in Australië in die ban gedoen is. Toe die verbod in die Hooggeregshof van Australië betwis is, het die verhoorregter, regter Starke, dit as “eiemagtig, impulsief en onderdrukkend” bestempel. Die verbod is op 14 Junie 1943 opgehef, en die regering moes skadevergoeding betaal. In die laaste jare het godsdiensdruk op etlike regerings in Afrika en Asië die wrede onderdrukking van Jehovah se Getuies tot gevolg gehad. ’n Hedendaagse Saul—die geestelikes van die Christendom—het dus aangehou om God se volk te vervolg.
17. (a) Hoe het Jehovah se Getuies die volgehoue polities-godsdienstige druk die hoof gebied? (b) Wat word deur die wêreldwye eenheid van die Getuies bewys?
17 Hoe het Jehovah se Getuies gedurende die tagtigerjare die volgehoue polities-godsdienstige druk die hoof gebied? Net soos Dawid voor Goliat, en Dawid en Jonatan voor koning Saul gestaan het! Hulle is onbevrees en vasbeslote om onkreukbaarheid in die geskil ten opsigte van soewereiniteit te handhaaf, want hulle weet dat God se Koninkryk gaan seëvier (Daniël 2:44). Ondanks vervolging is hulle verenig en bemoedig hulle mekaar in ’n internasionale band van liefde wat die wêreld nog nooit gesien het nie. As mense wat neutraal is ten tyde van oorlog vergiet hulle nie die bloed van hulle medegelowiges in ander nasies nie (Miga 4:3, 5). Sodoende bewys hulle dat hulle die groep is van wie Jesus die volgende gesê het: “Hieraan sal almal weet dat julle my dissipels is, as julle liefde onder mekaar het” (Johannes 13:35). As ’n wêreldwye broederskap het Jehovah se Getuies hulle ‘beklee met liefde, die volmaakte band van eenheid’, ’n band wet alle rasse-, stam- en volksgrense te bowe gaan.—Kolossense 3:14, NW.
Betoon ‘vurige liefde’
18. (a) Watter parallel is daar vandag in Jonatan se liefde vir Dawid, en hoe word dit bewys? (b) Wat was die gevolg oor die hele wêreld van die Dawid-klas se onversetlike standpunt?
18 Onthou dat “die siel van Jonatan verkleef geraak [het] aan die siel van Dawid, en Jonatan het hom liefgekry soos sy eie siel”. Wat ’n merkwaardige parallel was daar tog nie in hierdie “laaste dae” nie! (2 Timotheüs 3:1, 14). Deur die sinlose beroering van hierdie gewelddadige tydperk heen was daar een groep, Jehovah se Getuies, wat ’n liefdevolle, wêreldwye eenheid gehandhaaf het. As neutrale Christene het hulle hul Skepper as Soewereine Heer van alle mense vereer (Psalm 100:3). Die hedendaagse Refaïete—politieke stamverwante van “Goliat”—hou weliswaar aan om geestelike Israel uit te tart (2 Samuel 21:21, 22). En die hedendaagse Saul—die Christendom se geestelikes—veroorsaak steeds vir die Dawid- en die Jonatan-klas probleme (1 Samuel 20:32, 33). Maar ‘die stryd behoort aan Jehovah’. As Sowereine Heer sal hy die finale oorwinning vir sy lojale knegte behaal. Miljoene lede van die Jonatan-groep—in alle lande—en selfs voormalige vervolgers het op die onversetlike standpunt van die Dawid-klas gelet en hulle gevolglik onder Christus se ‘vaandel van liefde’ by hulle geskaar.b—1 Samuel 17:47; Hooglied 2:4.
19, 20. (a) Wat is volgens die tabel op bladsye 4-7 ’n paar van die hoogtepunte van die Getuies se bedrywigheid? (b) Wat was die groeitempo van die Getuies gedurende die dekade van 1979-1988? (c) Waarom kan daar gesê word dat die Getuies ’n volk is wat wêreldwyd waarlik verenig is, en watter vraag ontstaan gevolglik?
19 Jy kan die toenemende bedrywigheid van hierdie miljoene Getuies hersien deur die tabel op bladsye 4-7 van hierdie tydskrif te raadpleeg. Gedurende die dekade van 1979-1988 het die getal verkondigers van die goeie nuus van God se opgerigte Koninkryk van 2 186 075 tot 3 592 654 toegeneem, ’n toename van 64,3 persent. Dit is ’n volk wat wêreldwyd waarlik verenig is omdat hulle ’n gemeenskaplike oortuiging, gemeenskaplike diens aan God en ’n beginselvaste toegewydheid aan die sedebeginsels van die Bybel het. Dit is op hierdie hegte, internasionale groep dat Jesus se woorde vandag van toepassing is: “As julle my gebooie bewaar, sal julle in my liefde bly, net soos Ek die gebooie van my Vader bewaar en in sy liefde bly.”—Johannes 15:10; vergelyk 1 Korinthiërs 1:10.
20 Hoewel hulle in meer as 200 verskillende tale preek, praat hierdie getuies van Jehovah die “suiwer taal” van waarheid terwyl hulle God “skouer aan skouer” dien. In hierdie opsig volg hulle die liefdevolle voorbeeld van Dawid en Jonatan (Sefanja 3:9, NW; 1 Samuel 20:17; Spreuke 18:24). Sou jy nie graag ’n deel van die hedendaagse Jonatan-klas wou wees as jy nog nie met God se volk verenig is nie? Jy kan jou dit ten doel stel, en Jehovah se Getuies sal vurige liefde betoon deur jou te help om dit te bereik.
[Voetnote]
a ’n Goeie voorbeeld hiervan word gemeld in die 1972 Yearbook of Jehovah’s Witnesses, van bladsy 216, paragraaf 3, tot bladsy 217, paragraaf 3.
b Kyk die 1988 Yearbook of Jehovah’s Witnesses, bladsye 150-154.
Vrae ter hersiening
◻ Hoe het Jonatan lojale liefde vir Dawid getoon?
◻ Watter soort liefde is deur die liefde tussen Dawid en Jonatan voorafgeskadu?
◻ Hoe het die Christendom se geestelikes opgetree soos koning Saul toe hy Dawid vervolg het?
◻ Wat kan vandag met Jonatan se liefde vir Dawid vergelyk word?
◻ Wat word deur die wêreldwye eenheid van die Getuies bewys?
[Venster op bladsy 27]
St. Mary’s Cathedral
Sydney
August 20, 1940.
The Rt. Hon. W. M. Hughes, M.H.R.,K.C.,
Attorney General,
CANBERRA.
Dear Mr. Hughes:
Ek bedank u vir u brief van die 9de deser oor vertoë wat Mnr. Jennings, L.P., tot u gerig het.
Ek besef dat u in so ’n netelige saak, soos dié waaroor die vertoë gelewer is, die groots moontlike versigtigheid aan die dag moet lê.
As u enigste bedenking egter spruit uit die feit dat hierdie mense beweer dat hulle die leerstellings van die Christelike godsdiens verkondig, doen ek eerbiedig aan die hand dat u u bevinding oor sodanige verkondiging nie op hulle aanspraak baseer nie, maar op feite. As feite lê ek hulle eie publikasies en hulle eie woorde en dade voor, waarvan die polisie van Nieu-Suid-Wallis getuig. Dit sal moeilik wees om ’n mens iets voor te stel wat strydiger met die Christelike godsdiens is.
Die Polisiekommissaris in N.S.W. het die hoop uitgespreek dat die Gemenebesowerheid die genootskap onder bespreking tot onwettige liggaam sal verklaar sodat die polisie in staat sal wees om met groter welslae daarteen op te tree.
With every good wish, I remain,
Yours faithfully,
ARCHBISHOP OF SYDNEY