Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w92 5/1 bl. 19-23
  • Bly wakker gedurende “die tyd van die einde”

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Bly wakker gedurende “die tyd van die einde”
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1992
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Stry hard teen dinge wat jou aandag aftrek
  • Bid in alle opregtheid
  • Bly na aan God se organisasie en bly besig met die werk wat dit doen
  • Ondersoek jouself
  • Peins oor profesieë wat vervul is
  • Verlossing is nader as toe ons gelowiges geword het
  • “Hou aan waak”!
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2003
  • Wees gereed vir Jehovah se dag
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2003
  • “Bly wakker”
    Ons Koninkryksbediening—2000
  • Bly ons wakker deur nie afgelei te word nie?
    Ons Koninkryksbediening—1995
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1992
w92 5/1 bl. 19-23

Bly wakker gedurende “die tyd van die einde”

“Bly kyk, bly wakker, want julle weet nie wanneer die bestemde tyd is nie.”—MARKUS 13:33, NW.

1. Hoe moet ons reageer namate opwindende gebeure in hierdie “tyd van die einde” plaasvind?

HOE moet Christene op die opwindende gebeure gedurende hierdie “tyd van die einde” reageer? (Daniël 12:4). Hulle word nie in die duister gelaat nie. Jesus Christus het die profesie van die saamgestelde teken uitgespreek wat gedurende hierdie 20ste eeu vervul word. Hy het al die dinge voorspel wat hierdie tydperk sedert 1914 uniek maak. Aangesien Jesus vertroud was met Daniël se profesie oor “die tyd van die einde” het hy sy dissipels ná sy eie belangrike profesie aangespoor om ‘wakker te bly’.—Lukas 21:36, NW.

2. Waarom is dit dringend nodig dat ons geestelik wakker bly?

2 Waarom moet ons wakker bly? Want dit is nou die gevaarlikste tyd in die mens se geskiedenis. Dit sal rampspoedig wees as Christene nou geestelik gesproke insluimer. As ons oorgerus raak en toelaat dat ons harte deur die sorge van die lewe beswaar word, sal ons in gevaar verkeer. Jesus Christus het ons in Lukas 21:34, 35 gewaarsku: “Pas op vir julleself, dat julle harte nie miskien beswaar word deur swelgery en dronkenskap en sorge van die lewe nie, en dié dag julle nie skielik oorval nie. Want soos ’n strik sal hy kom oor almal wat op die hele aarde woon.”

3, 4. (a) Wat het Jesus bedoel toe hy gesê het dat God se dag van die grimmigheid ons skielik ‘soos ’n strik’ sal oorval? (b) Waarom sal daardie dag mense oor die algemeen onverhoeds betrap, aangesien God nie die strik stel nie?

3 Jesus het tereg gesê dat Jehovah se dag ons ‘skielik soos ’n strik sal oorval’. ’n Strik is dikwels toegerus met ’n skuiflus, en dit word gebruik om voëls en soogdiere mee te vang. Die strik het ’n snellermeganisme, en enigiemand wat in die strik inloop, laat die sneller afgaan. Dan trek die strik toe, en die slagoffer is gevang. Dit gebeur alles baie vinnig. Jesus het gesê dat mense wat geestelik onbedrywig is net so onverhoeds oorval en betrap sal word in God se “dag van die grimmigheid”.—Spreuke 11:4.

4 Is dit Jehovah God wat die strik vir mense stel? Nee, hy sit nie net en wag om mense onverhoeds te vang en hulle te vernietig nie. Maar daardie dag sal mense oor die algemeen onverhoeds betrap omdat hulle nie die Koninkryk van God as van die allergrootste belang beskou nie. Hulle lewe soos hulle wil en ignoreer die betekenis van die gebeure om hulle. Maar dit verander nie God se rooster nie. Hy het sy eie vasgestelde tyd om rekenskap te eis. En genadiglik laat hy die mensdom nie in die duister oor sy komende oordeel nie.—Markus 13:10.

5, 6. (a) Watter liefdevolle voorsiening het die Skepper, vanweë die komende oordeel, vir menseskepsele gemaak, maar wat is die gevolge oor die algemeen? (b) Wat gaan ons bespreek om ons te help om wakker te bly?

5 Hierdie waarskuwing is ’n liefdevolle voorsiening van die groot Skepper, wat in die welsyn van sy menseskepsele hier op sy simboliese voetbank belangstel (Jesaja 66:1). Hy beskou hierdie bewoners van die plek waar sy voete rus as kosbaar. Daarom waarsku hy hulle deur middel van sy aardse ambassadeurs en gesante teen die gebeurtenisse wat vir hulle voorlê (2 Korinthiërs 5:20). En tog sal daardie gebeurtenisse, ondanks al die waarskuwings wat gegee is, so onverwags oor die mensegesin kom asof hulle in ’n strik getrap het. Waarom? Omdat die meeste mense geestelik gesproke aan die slaap is (1 Thessalonicense 5:6). Daar is maar ’n betreklike klein groepie wat ag slaan op die waarskuwing en wat behoue sal bly en in die nuwe wêreld sal ingaan.—Mattheüs 7:13, 14.

6 Maar hoe kan ons dan in hierdie tyd van die einde wakker bly sodat ons onder daardie groep mense sal wees wat gered gaan word? Jehovah voorsien die nodige hulp. Ons gaan sewe dinge bespreek wat ons kan doen.

Stry hard teen dinge wat jou aandag aftrek

7. Watter waarskuwing het Jesus gegee oor dinge wat ons aandag kan aftrek?

7 Ten eerste, ons moet hard stry teen dinge wat ons aandag aftrek. In Mattheüs 24:42, 44 het Jesus gesê: “Waak dan [“Waak daarom voortdurend”, NW], omdat julle nie weet watter uur julle Here kom nie. Daarom moet julle ook gereed wees, want die Seun van die mens kom op ’n uur dat julle dit nie verwag nie.” Die woorde wat Jesus hier gebruik het, dui daarop dat daar in hierdie kritieke tyd baie dinge sal wees wat ons aandag kan aftrek, en verdeelde aandag kan tot vernietiging lei. In Noag se dag was daar baie dinge wat die mense besig gehou het. Gevolglik het die mense wat toegelaat het dat hulle aandag afgetrek word, ‘nie ag geslaan’ op wat besig was om te gebeur nie, en die Vloed het hulle almal weggevoer. Daarom het Jesus gewaarsku: “So sal ook die koms van die Seun van die mens wees.”—Mattheüs 24:37-39, vgl. NW.

8, 9. (a) Hoe kan die strewe na gewone dinge in die lewe gevaarlik wees en ons aandag aftrek? (b) Watter waarskuwings het Paulus en Jesus ons gegee?

8 Onthou ook dat Jesus, in sy waarskuwing in Lukas 21:34, 35, van die gewone dinge in die lewe gepraat het, soos eet, drink en die sorge daaraan verbonde om ’n bestaan te maak. Dit is dinge wat alle mense gemeen het, en dit sluit die dissipels van die Here Jesus in. (Vergelyk Markus 6:31.) Hierdie dinge is op sigself onskadelik, maar as ons dit toelaat, kan hulle nietemin ons aandag aftrek, ons besig hou en sodoende ’n gevaarlike geestelike lomerigheid by ons laat ontstaan.

9 Ons moet derhalwe nie die allerbelangrikste ding—om God se goedkeuring te verkry—afskeep nie. Ons moet die gewone dinge in die lewe eerder net in die beperkte mate gebruik wat nodig is om ’n bestaan te maak as om heeltemal verdiep te raak daarin (Filippense 3:8). Hulle moenie Koninkryksbelange verdring nie. Romeine 14:17 stel dit so: “Die koninkryk van God is nie spys en drank nie, maar geregtigheid en vrede en blydskap in die Heilige Gees.” Onthou Jesus se woorde toe hy gesê het: “Soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word” (Mattheüs 6:33). Daarbenewens het Jesus in Lukas 9:62 gesê: “Niemand wat sy hand aan die ploeg slaan en agtertoe kyk, is geskik vir die koninkryk van God nie.”

10. Wat is die gevaar as ons nie ons oë reguit voor ons op die doel gevestig hou nie?

10 As ons figuurlik gesproke eers begin ploeg het, moet ons aanhou om reguit te ploeg. ’n Ploeër wat agtertoe kyk, sal nie ’n reguit voor ploeg nie. Sy aandag word afgetrek en hy kan maklik skeef begin ploeg of hom teen die een of ander hindernis vasloop. Ons moenie soos Lot se vrou wees wat agtertoe gekyk het en nie gered is nie. Ons moet ons oë reguit voor ons op die doel gevestig hou. Om dit te kan doen, moet ons hard stry teen dinge wat ons aandag aftrek.—Genesis 19:17, 26; Lukas 17:32.

Bid in alle opregtheid

11. Wat het Jesus beklemtoon nadat hy ons gewaarsku het teen die gevaar van dinge wat ons aandag kan aftrek?

11 Daar is egter baie ander dinge wat ons kan doen om wakker te bly. ’n Tweede belangrike ding is: Bid in alle opregtheid. Nadat Jesus ons gewaarsku het dat ons nie moet toelaat dat ons aandag deur die gewone dinge van die lewe afgetrek word nie, het hy hierdie raad gegee: “Waak dan en bid altyddeur, sodat julle waardig geag mag word om al hierdie dinge wat kom, te ontvlug en voor die Seun van die mens te staan.”—Lukas 21:36.

12. Watter soort gebed is nodig, en wat sal die gevolg wees?

12 Ons moet dus voortdurend bid oor die gevaar van ons situasie en die feit dat ons wakker moet wees. Gaan biddend na God met ernstige versoeke. Paulus sê in Romeine 12:12: “Volhard in die gebed.” En in Efesiërs 6:18 lees ons: “Terwyl julle met alle gebed en smeking by elke geleentheid bid in die Gees, en juis daartoe waak met alle volharding.” Ons moet nie net bid asof dit ’n bykomstige saak is wat nie juis van groot belang is nie. Ons lewe is in gevaar. Ons moet dus ernstig smeek om goddelike hulp. (Vergelyk Hebreërs 5:7.) Op dié manier sal ons sorg dat ons aan Jehovah se kant bly. Daar is niks wat ons meer sal help om dit te doen as om ‘altyddeur te bid’ nie. Dan sal Jehovah sorg dat ons voortdurend wakker bly. Hoe belangrik is dit dan om te volhard in die gebed!

Bly na aan God se organisasie en bly besig met die werk wat dit doen

13. Watter assosiasie is nodig sodat ons wakker kan bly?

13 Ons wil ontvlug aan al hierdie dinge wat oor die wêreld gaan kom. Ons wil voor die Seun van die mens staan en sy goedkeuring geniet. Om dit te bereik, is daar ’n derde ding wat ons kan doen: Kleef onlosmaaklik aan Jehovah se teokratiese organisasie vas. Ons moet onvoorwaardelik met daardie organisasie assosieer en deelneem aan die werk wat dit doen. Sodoende sal ons ons onmiskenbaar identifiseer as Christene wat waaksaam is.

14, 15. (a) Watter soort werk sal ons help om wakker te bly? (b) Wie bepaal wanneer die predikingswerk voltooi is, en hoe moet ons daaroor voel? (c) Wat sal ons besef as ons ná die groot verdrukking terugkyk na die Koninkrykspredikingswerk wat gedoen is?

14 Daar is ’n vierde ding wat regstreeks hiermee verband hou en wat ons kan help om wakker te bly. Ons moet onder diegene wees wat mense waarsku teen die naderende einde van hierdie stelsel van dinge. Die algehele einde van hierdie ou stelsel van dinge sal nie plaasvind voordat “hierdie evangelie van die koninkryk” verkondig is in die mate wat die almagtige God dit wil hê nie (Mattheüs 24:14). Dit is nie Jehovah se Getuies wat besluit wanneer die predikingswerk voltooi is nie. Jehovah behou daardie reg vir homself (Markus 13:32, 33). Maar ons is vasbeslote om so hard soos ons kan en so lank as wat nodig is te werk om die beste regering wat die mensdom kan hê, die Koninkryk van God, te verkondig. Die “groot verdrukking” sal uitbreek terwyl ons nog besig is met hierdie werk (Mattheüs 24:21). Gedurende al die toekomstige dekades sal mense wat gered is, kan terugkyk en van harte kan bevestig dat Jesus Christus geen valse profeet was nie (Openbaring 19:11). Die predikingswerk sal in groter mate vervul wees as wat die deelnemers daaraan verwag het.

15 Gevolglik sal daar waarskynlik meer mense as ooit besig wees om aan die predikingswerk deel te neem wanneer die belangrike tyd aanbreek dat die werk volgens God bevredigend voltooi is. Hoe dankbaar sal ons tog wees dat ons aan hierdie groot werk kon deelneem! Die apostel Petrus verseker ons dat Jehovah nie “wil . . . hê dat sommige moet vergaan nie, maar dat almal tot bekering moet kom” (2 Petrus 3:9). Gevolglik is die werkende krag van die almagtige God vandag bedrywiger as ooit, en die Getuies van Jehovah wil volhou met hierdie geesgerigte bedrywigheid. Bly dus na aan Jehovah se organisasie, en bly besig met die openbare bediening. Dit sal jou help om wakker te bly.

Ondersoek jouself

16. Waarom moet ons onsself ondersoek om te sien waar ons geestelik staan?

16 Daar is ’n vyfde ding wat ons kan doen om wakker te bly. Elkeen van ons moet homself ondersoek om te sien waar hy nou staan. Dit is nou meer gepas as ooit dat ons dit doen. Ons moet bewys aan wie se kant ons vasstaan. In Galasiërs 6:4 het Paulus gesê: “Laat elkeen sy eie werk op die proef stel.” Ondersoek jouself aan die hand van Paulus se woorde in 1 Thessalonicense 5:6-8: “Laat ons dan nie slaap soos die ander nie, maar laat ons waak en nugter wees. Want die wat slaap, slaap in die nag; en die wat dronk word, is in die nag dronk. Maar laat ons wat van die dag is, nugter wees, met die borswapen van geloof en liefde aan, en as helm die hoop op die saligheid [“redding”, NW].”

17. Watter vrae moet ons ons afvra wanneer ons onsself ondersoek?

17 Wat van ons? Sien ons, wanneer ons onsself aan die hand van die Skrif ondersoek, dat ons wakker bly, en dat ons as helm die hoop op redding het? Is ons mense wat ons heeltemal van die ou stelsel van dinge afgeskei het en nie meer soos daardie stelsel dink nie? Het ons werklik die gees van God se nuwe wêreld? Is ons ten volle bewus van die ramp waarop hierdie stelsel afstuur? Indien wel, sal Jehovah se dag ons nie soos ’n dief oorval nie.—1 Thessalonicense 5:4.

18. Watter ander vrae moet ons ons afvra, en waartoe moet dit ons aanspoor?

18 Maar sê nou ons selfondersoek toon dat ons ’n lekker, gemaklike, gerieflike lewenswyse probeer nastreef? Sê nou ons ontdek dat ons geestelike oë swaar geword het van lomerigheid en slaap? Verkeer ons in ’n droomtoestand terwyl ons die een of ander wêreldse fantasie najaag? As dit die geval is, laat ons dan wakker word!—1 Korinthiërs 15:34.

Peins oor profesieë wat vervul is

19. Noem ’n paar van die profesieë wat ons al in vervulling sien gaan het.

19 Nou kom ons by ’n sesde ding wat ons sal help om wakker te bly: Peins oor die talle profesieë wat al in hierdie tyd van die einde vervul is. Ons is reeds verby die 77ste jaar sedert die vasgestelde tye van die nasies in 1914 geëindig het. As ons oor ’n driekwarteeu terugkyk, kan ons sien hoe een profesie na die ander vervul is—die herstel van ware aanbidding; die gesalfde oorblyfsel en hulle metgeselle wat bevry en in ’n geestelike paradys ingebring is; die verkondiging van die goeie nuus van die Koninkryk op ’n wêreldskaal; die verskyning van die groot menigte (Jesaja 2:2, 3; hoofstuk 35; Sagaria 8:23; Mattheüs 24:14; Openbaring 7:9). Jehovah se groot naam en universele soewereiniteit is verheerlik, en die kleinste het ’n geslag geword en die geringste ’n magtige nasie, terwyl Jehovah dit op die regte tyd bespoedig het (Jesaja 60:22; Esegiël 38:23). En die apostel Johannes se visioene in die Openbaring nader nou hulle klimaks.

20. Watter oortuiging het Jehovah se Getuies, en hoe het hulle hulself geïdentifiseer?

20 Derhalwe is Jehovah se Getuies nou meer as ooit vantevore vas oortuig van die juistheid van hulle begrip van die betekenis van wêreldgebeure sedert 1914. Met hierdie oortuiging is hulle werktuie in die hand van die allerhoogste God. Dit is hulle wat die opdrag gekry het om die goddelike boodskap in hierdie betekenisvolle tyd te verkondig (Romeine 10:15, 18). Ja, Jehovah se woorde vir die tyd van die einde is bewaarheid (Jesaja 55:11). Dit moet ons nou aanspoor om voort te gaan totdat ons die uiteindelike verwesenliking van al God se beloftes deur Jesus Christus sien.

Verlossing is nader as toe ons gelowiges geword het

21. Watter sewende hulpmiddel het ons om geestelik wakker te bly?

21 Laastens is die sewende hulpmiddel om wakker te bly: Hou altyd in gedagte dat ons verlossing nader is as toe ons gelowiges geword het. En nog belangriker, die verheerliking van Jehovah se universele soewereiniteit en die heiliging van sy naam is baie nader. Dit is dus nou dringender as ooit dat ons bly waak. Die apostel Paulus skryf: “Dit te meer, omdat ons die tydsomstandighede ken, dat die uur vir ons reeds daar is om uit die slaap wakker te word; want die saligheid is nou nader by ons as toe ons gelowig geword het. Die nag het ver gevorder en dit is amper dag.”—Romeine 13:11, 12.

22. Hoe moet die feit dat ons verlossing naby is ons raak?

22 Aangesien ons verlossing soveel nader is, moet ons voortdurend waak! Ons moenie toelaat dat enige persoonlike of wêreldse belange ons waardering oorskadu vir wat Jehovah gedurende hierdie tyd van die einde vir sy volk doen nie (Daniël 12:3). Ons moet meer volharding as ooit toon sodat niks ons kan laat afwyk van die weg wat duidelik in die Woord van God uiteengesit word nie (Mattheüs 13:22). Die getuienis toon duidelik dat hierdie wêreld sy laaste dae beleef. Dit sal binnekort vernietig word sodat dit kan plek maak vir ’n nuwe wêreld van geregtigheid.—2 Petrus 3:13.

23. Hoe sal Jehovah ons help, en watter seëninge sal dit tot gevolg hê?

23 Laat ons dan te alle tye wakker bly. Ons moet soos nog nooit tevore nie bewus bly van waar ons ons in die tydstroom bevind. Onthou, Jehovah sal nooit in hierdie saak sluimer nie. Inteendeel, hy sal ons altyd help om in hierdie tyd van die einde wakker te bly. Die nag het ver gevorder. Dit is amper dag. Bly dus wakker! Ons sal binnekort die allerpragtigste dag beleef wanneer die Messiaanse Koninkryk Jehovah se voorneme met die aarde vervul!—Openbaring 21:4, 5.

Wat is jou antwoorde?

◻ Wat het Jesus bedoel toe hy gesê het dat God se dag van die grimmigheid mense ‘soos ’n strik’ sal oorval?

◻ Waarom moet ons hard stry teen dinge wat ons aandag kan aftrek, en hoe kan ons dit doen?

◻ Watter soort gebed is nodig sodat ons wakker kan bly?

◻ Watter soort assosiasie is noodsaaklik?

◻ Waarom moet ons onsself ondersoek om te sien waar ons geestelik staan?

◻ Hoe help profesieë ons om wakker te bly?

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel