Bly ons wakker deur nie afgelei te word nie?
1 Jesus het ’n waarskuwing gegee: ‘Bly wakker dat julle daarin sal slaag om te ontkom’ aan rampe wat beslis sal plaasvind (Luk. 21:36). Ons lewe in die gevaarlikste tyd in die mensegeskiedenis. Rampspoed wag op diegene wat geestelik lomerig word. Dit hou vir elkeen van ons gevaar in. Jesus het etery, drinkery en die sorge van die alledaagse lewe genoem. Waarom? Omdat selfs hierdie dinge ons besig kan hou, ons aandag kan begin aflei en gevaarlike geestelike lomerigheid kan veroorsaak.
2 Dinge wat dikwels die aandag aflei: Party het met oormatige of twyfelagtige ontspanning behep geraak en selfs TV-verslaafdes geword. Om die Koninkryk eers te soek, beteken natuurlik nie dat ons alle vorme van ontspanning moet vermy nie. Wanneer ons redelikheid en matigheid voor oë hou, kan ontspanning voordelig wees. (Vergelyk 1 Timoteus 4:8.) Maar dit is iets wat ons aandag kan aflei wanneer dit ’n belangrike deel van ons lewe word, wat baie van ons tyd en middele kos of inbreuk maak op ons deelname aan die Koninkrykspredikingswerk.
3 Nog iets wat dikwels mense se aandag aflei en geestelike lomerigheid veroorsaak, is die begeerte na onnodige materiële dinge. Dit vereis dat ’n mens meer tyd by jou sekulêre werk moet deurbring en veroorsaak dat geestelike doelwitte verdring word. Party het geestelike doelwitte uit die oog verloor deur behep te raak met die verwerwing van materiële besittings om ’n gemakliker lewe te kan lei. Hoewel ons “voedsel, klere en onderdak” nodig het, moet ons daarteen waak dat ons ’n liefde vir geld ontwikkel, wat ons van die geloof af op ’n dwaalspoor kan bring (1 Tim. 6:8-10). As ons versuim om ons oë op Koninkryksbelange gevestig te hou, kan ons begin nalaat om na die geestelike behoeftes van ons gesin om te sien en ons bediening uit te voer.—1 Tim. 5:8; 2 Tim. 4:5.
4 Nog ander laat hulle harte in so ’n mate ‘beswaar word met die sorge van die lewe’ dat hulle geestelik aan die slaap raak (Luk. 21:34). Soms is ’n mens besorg weens gesondheidsprobleme of onrusbarende situasies in die gesin. Maar ons moenie toelaat dat sulke persoonlike bekommernisse ons bewustheid van die vinnig naderende einde van hierdie stelsel van dinge laat afneem nie.—Mark. 13:33.
5 Daar is niks wat die Duiwel gelukkiger sal maak as om daarin te slaag om ons in ’n droomtoestand te plaas nie, terwyl ons die een of ander wêreldse fantasie najaag. Ons moet ’n stryd voer om geestelik wakker te bly. Ons weet dat ‘Jehovah se dag soos ’n dief kom’, en dit is lewensbelangrik dat ons “wakker en nugter van verstand bly” (1 Tess. 5:2,6). As ons tekens van lomerigheid in onsself bespeur, is dit dringend dat ons “die werke wat tot die duisternis behoort, aflê”.—Rom. 13:11-13.
6 Hulpmiddele om wakker te bly: Wat is hierdie hulpmiddele? Gebed is onontbeerlik. Ons moet onophoudelik bid (1 Tess. 5:17). As ons na aan die Christengemeente is, sal ons ‘tot liefde en voortreflike werke aangespoor’ word (Heb. 10:24). ’n Gereelde, eerlike selfondersoek kan ons help om bewus te bly van hoe belangrik dit is dat ons ons swakhede oorkom (2 Kor. 13:5). Goeie persoonlike studiegewoontes sal ons ‘met die woorde van die geloof gevoed’ hou (1 Tim. 4:6). As ons in hierdie opsig ywerig is, kan ons die vertroue hê dat ons in staat sal wees om dinge wat ons aandag kan aflei te vermy, ‘wakker te bly en vas te staan in die geloof’.—1 Kor. 16:13.