Het jy geloof soos Elia s’n?
DIE hedendaagse mensegemeenskap ondermyn geloof. Intellektuele spot met God se bestaan. Godsdiensgeveinsdes maak ’n bespotting van God. En die sekulêre wêreld tree al hoe meer op asof God eenvoudig nie saak maak nie. Hetsy hierdie gesindhede iemand intimideer, hom ontmoedig of hom onverskillig laat staan, die resultaat is in alle gevalle dieselfde: Sy geloof word vernietig. Dit is geen wonder dat die apostel Paulus ’n gebrek aan geloof “die sonde wat ons so maklik verstrik”, noem nie!—Hebreërs 12:1, NW.
Dit is miskien waarom Paulus hom dit ten doel gestel het om ons aandag op die lewe van mans en vroue van sterk geloof te vestig (Hebreërs, hoofstuk 11). Sulke voorbeelde kan ons aanvuur en ons geloof opbou. Kom ons beskou byvoorbeeld die profeet Elia en vestig ons aandag op net die vroeë deel van sy lang en vol profetiese loopbaan. Hy het gedurende die heerskappy van koning Agab en sy heidense vrou, koningin Isebel, gelewe toe geloof in die ware God, soos nou, in verval was.
Die verdorwe tienstammeryk
Wat ’n egpaar was hulle tog! Agab was die sewende koning van die tienstammeryk van Israel. Sy ses voorgangers was goddeloos, maar Agab was erger. Hy het nie net die land se verdorwe kalfaanbidding bestendig nie, maar hy het met die buitelandse prinses Isebel getrou en gevolglik ’n sterker vorm van aanbidding van die valse god Baäl begin as wat die land ooit geken het.—1 Konings 16:30-33.
Isebel was van kleins af diep betrokke by Baälaanbidding. Haar pa Et-Baäl, ’n priester van Astarte (Baäl se vrou), het ander vermoor om koning van Sidon, die koninkryk net noord van Israel, te word. Isebel het haar beginsellose man beïnvloed om Baälaanbidding in Israel te vestig. Kort voor lank was daar 450 profete van daardie valse god en 400 profete van die godin Asjera in die land, en almal het aan die koninklike tafel geëet. Hoe afskuwelik was hulle vorm van aanbidding tog in die oë van die ware God, Jehovah! Falliese simbole, vrugbaarheidsrites, tempelprostitute (mans sowel as vroue), selfs kinderofferandes—dit was die kenmerke van hierdie verfoeilike godsdiens. Met Agab se seën het dit ongehinderd deur die koninkryk versprei.
Miljoene Israeliete het Jehovah, die Skepper van die aarde en sy waterkringloop, vergeet. Volgens hulle het Baäl die land aan die einde van die droë seisoen met reën geseën. Hulle het elke jaar vol verwagting op hierdie ‘Ruiter van die wolke’, hierdie sogenaamde god van vrugbaarheid en die reënseisoen, gewag om die droë seisoen te beëindig. Die reën het jaar na jaar gekom. Baäl het jaar na jaar die eer gekry.
Elia maak bekend dat daar ’n droogte gaan wees
Dit was waarskynlik aan die einde van ’n lang, reënlose somerseisoen—net toe die mense begin dink het dat Baäl die lewegewende reëns gaan bring—dat Elia op die toneel verskyn het.a Hy verskyn so skielik soos ’n donderknal in die Bybelverslag. Daar word vir ons min oor sy agtergrond vertel en niks oor sy afkoms nie. Maar anders as donderweer was Elia nie die aankondiger van ’n reënstorm nie. Hy het vir Agab gesê: “So waar as die HERE, die God van Israel, leef, voor wie se aangesig ek staan, daar sal geen dou of reën in hierdie jare wees nie, behalwe op my woord!”—1 Konings 17:1.
Stel jou hierdie man in sy eenvoudige harige mantel voor. Hy is in die ruwe heuwels van Gilead gebore en is waarskynlik tussen nederige skaapherders grootgemaak. Nou staan hy voor die magtige koning Agab, moontlik daar in sy ontsaglike paleis met sy beroemde ivoorhuis, sy ryk en eksotiese versiersels en indrukwekkende afgode. Daar, in die bedrywige, versterkte stad Samaria, waar die aanbidding van Jehovah byna vergete is, sê hy vir Agab dat hierdie god van hom, hierdie Baäl, magteloos is, in werklikheid nie bestaan nie. Elia sê dat daar hierdie jaar en in die jare wat nog kom geen reën of dou sal wees nie!
Waar het hy sulke geloof gekry? Het hy nie bang gevoel om voor hierdie arrogante, afvallige koning te staan nie? Moontlik. Jesus se halfbroer Jakobus gee ons meer as duisend jaar later die versekering dat Elia “’n mens net soos ons” was (Jakobus 5:17). Maar let op Elia se woorde: “So waar as die HERE, die God van Israel, leef, voor wie se aangesig ek staan.” Elia het in gedagte gehou dat hy as Jehovah se kneg voor ’n baie hoër troon as Agab s’n staan—die Soewereine Heer van die heelal se troon! Hy was ’n verteenwoordiger, ’n afgesant, van daardie troon. Wat het hy, met hierdie perspektief, van Agab te vrese gehad, ’n nietige menslike monarg wat Jehovah se seën verloor het?
Dit was nie toeval dat Jehovah so werklik vir Elia was nie. Die profeet het ongetwyfeld die verslag van God se handelinge met Sy volk bestudeer. Jehovah het die Jode gewaarsku dat hy hulle met droogte en hongersnood sou straf as hulle valse gode sou begin aanbid (Deuteronomium 11:16, 17). Elia was vol vertroue dat Jehovah sy woord altyd gestand doen en daarom het hy “gebid dat dit nie moes reën nie”.—Jakobus 5:17.
Geloof getoon deur instruksies te volg
Maar die feit dat Elia bekend gemaak het dat daar droogte gaan wees, het daartoe gelei dat hy vir die oomblik in lewensgevaar verkeer het. Die tyd het aangebreek dat ’n ander aspek van sy geloof na vore kom. Om aan die lewe te kon bly, moes hy Jehovah se opdragte getrou nakom: “Gaan hiervandaan weg en draai jou na die ooste toe en steek jou weg by die spruit Krit wat oos van die Jordaan is; en jy moet uit die spruit drink, en Ek het aan die kraaie bevel gegee om jou daar te onderhou.”—1 Konings 17:3, 4.
Elia het dadelik gehoor gegee. As hy die droogte en hongersnood wou oorleef wat oor sy land gekom het, moes hy staatmaak op watter voorsieninge Jehovah ook al vir hom gemaak het. Dit was glad nie maklik nie. Dit het beteken dat hy hom moes versteek, dat hy maande aaneen in algehele afsondering moes leef. Dit het beteken dat hy vleis en brood moes eet wat kraaie vir hom gebring het—aasvretende voëls wat onder die Mosaïese Wet as onrein beskou is—en dat hy op Jehovah moes vertrou dat daardie vleis nie aas was nie maar dat dit behoorlik gebloei was soos die wet vereis het. Sommige Bybelkommentators meen dat hierdie groot wonderwerk so onwaarskynlik is dat hulle sê die oorspronklike woord hier “Arabiere” moes gewees het en glad nie “kraaie” nie. Maar kraaie was die ideale keuse. Niemand sou kon raai dat hierdie eenvoudige, onrein diere wat met hulle stukkies kos die woestyn in gevlieg het in werklikheid vir Elia, na wie Agab en Isebel in al die omliggende koninkryke gesoek het, kos geneem het nie!—1 Konings 18:3, 4, 10.
Elia het heel moontlik bekommerd geraak oor sy watervoorraad by die spruit Krit terwyl die droogte voortgeduur het. Die meeste van Israel se spruite droog op ten tye van droogte, en “ná verloop van tyd” het hierdie een ook opgedroog. Kan jy jou Elia se gevoelens voorstel toe die water geleidelik opgehou vloei het en die water in die poele elke dag al hoe laer gesak het? Hy moes beslis gewonder het wat gaan gebeur wanneer die water op is. Elia het nogtans getrou gebly waar hy was. Eers toe die stroom droog was, het Jehovah hom sy volgende stel opdragte gegee. Hy het vir die profeet gesê om na Sarfat te gaan. Daar sou hy by die huis van ’n weduwee onderhou word.—1 Konings 17:7-9.
Sarfat! Daardie dorp was deel van die stad Sidon waar Isebel vandaan gekom het en waar haar pa as koning geregeer het! Elia het moontlik gewonder: Sal dit veilig wees? Maar hy het “hom gereed gemaak en na Sarfat gegaan”.—1 Konings 17:10.
Jehovah voorsien onderhoud en lewe
Sy gehoorsaamheid is gou beloon. Hy het die weduwee teëgekom soos daar vir hom gesê is, en hy het in haar presies die soort geloof aangetref wat so skreiend by sy landgenote ontbreek het. Hierdie arm weduwee het net genoeg meel en olie gehad om een laaste maaltyd vir haar en haar jong seun te berei. Hoewel sy uiters behoeftig was, was sy nogtans bereid om eers vir Elia brood te maak in volle vertroue op sy belofte dat Jehovah die olie in haar kruik en die meel in haar pot nie sou laat opraak solank daar gebrek was nie. Dit is geen wonder nie dat Jesus Christus hierdie weduwee se getroue voorbeeld genoem het toe hy die trouelose Israeliete in sy tyd aan die kaak gestel het!—1 Konings 17:13-16; Lukas 4:25, 26.
Maar ten spyte van die weduwee sowel as Elia se geloof sou hulle spoedig voor ’n groot toets te staan kom. Haar seun het skielik gesterf. Die weduwee was verpletter, en al wat sy kon dink, was dat hierdie tragiese slag iets met Elia, die “man van God”, te doen gehad het. Sy het gewonder of sy oor die een of ander oortreding in die verlede gestraf is. Maar Elia het haar lewelose seun uit haar arms geneem en hom na ’n bo-kamer gedra. Hy het geweet dat Jehovah meer as net onderhoud kon voorsien. Jehovah is die bron van die lewe self! Elia het dus ernstig en aanhoudend gebid dat die kind weer moet lewe.
Elia was nie die eerste mens wat sulke geloof in die opstanding gestel het nie, maar hy was die eerste mens in die Bybelverslag wat gebruik is om iemand op te wek. Die seun het “weer lewendig geword”! Die ma se vreugde moes iets gewees het om te aanskou toe Elia haar seun met dié eenvoudige woorde na haar gebring het: “Kyk, jou seun lewe.” Sy het ongetwyfeld in trane gesê: “Nou weet ek dit dat u ’n man van God is en dat die woord van die HERE in u mond waarheid is.”—1 Konings 17:17-24.
“My God is Jehovah”
Hoe roerend en hoe gepas is dit tog dat Elia se naam “My God is Jehovah” beteken! Ten tye van droogte en hongersnood het Jehovah hom kos en water gegee; ten tye van sedelike chaos het Jehovah hom betroubare leiding gegee; ten tye van dood het Jehovah hom gebruik om iemand op te wek. En dit lyk of Elia elke keer wanneer hy geloof in sy God moes beoefen—deur op Hom te vertrou om in sy behoeftes te voorsien, deur Sy instruksies te volg, deur op Hom te vertrou om Sy naam te heilig—beloon is met groter rede om geloof in Jehovah te stel. Hierdie patroon is volgehou terwyl hy telkens moeilike en selfs skrikwekkende toewysings van sy God, Jehovah, aanvaar het; trouens, party van sy skouspelagtigste wonderwerke het nog vir hom voorgelê.—Sien 1 Konings, hoofstuk 18.
Dit is baie dieselfde vir Jehovah se hedendaagse knegte. Ons word nou wel nie wonderbaarlik gevoed of gebruik om iemand op te wek nie; dit is nie nou die tyd vir sulke wonderwerke nie. Maar Jehovah self het nog glad nie verander sedert Elia se dag nie.—1 Korinthiërs 13:8; Jakobus 1:17.
Ons kan ook ontmoedigende toewysings ontvang, moeilike en angswekkende gebied wat ons met ons godgegewe boodskap moet bereik. Ons moet heel moontlik vervolging verduur. Ons kan selfs honger ly. Maar Jehovah het herhaaldelik aan getroue mense en aan sy organisasie bewys dat hy steeds sy knegte lei en bewaar. Hy gee hulle steeds die krag om enige taak wat hy hulle gee te verrig. En hy help hulle steeds om watter beproewinge hulle ook al in hierdie moeilike wêreld het te verduur.—Psalm 55:23.
[Voetnoot]
a Jesus sowel as Jakobus sê dat dit “drie jaar en ses maande lank” nie in die land gereën het nie. Tog word daar gesê dat Elia “in die derde jaar” voor Agab verskyn het om die droogte te beëindig—hy het ongetwyfeld getel van die dag af toe hy die droogte aangekondig het. Dit moes dus ná ’n lang, reënlose somerseisoen gewees het dat hy die eerste keer voor Agab verskyn het.—Lukas 4:25; Jakobus 5:17; 1 Konings 18:1.
[Prent op bladsy 18]
Het jy, soos Elia, geloof dat Jehovah in die behoeftes van sy knegte sal voorsien?