Sal jy getrou wees soos Elia?
“Ek stuur julle die profeet Elia voordat die groot en vreesinboesemende dag van Jehovah aanbreek.”—MALEAGI 4:5, NW.
1. Watter krisis ontstaan nadat Israel sowat 500 jaar in die Beloofde Land is?
“’N LAND wat oorloop van melk en heuning” (Exodus 3:7, 8). Dit is wat Jehovah God die Israeliete gegee het nadat hy hulle in die 16de eeu v.G.J. van slawerny aan die Egiptenaars bevry het. Maar kyk! Vyf eeue het verbygegaan, en nou is die tienstammeryk van Israel in die greep van ’n ernstige hongersnood. Dit is moeilik om groen gras te kry. Diere vrek, en daar het al drie en ’n half jaar lank geen reën geval nie (1 Konings 18:5; Lukas 4:25). Wat het tot hierdie ramp aanleiding gegee?
2. Wat is die oorsaak van Israel se nasionale krisis?
2 Afvalligheid het hierdie krisis veroorsaak. Koning Agab het God se Wet oortree deur met die Kanaänitiese prinses Isebel te trou en het haar toegelaat om Baälaanbidding in Israel in te voer. Nog erger, hy het ’n tempel vir hierdie valse god in Samaria, die hoofstad, gebou. Die Israeliete is verlei om te glo dat Baälaanbidding vir hulle oorvloedige oeste sou meebring! Soos Jehovah gewaarsku het, loop hulle egter nou gevaar om ‘uit hulle goeie land om te kom’.—Deuteronomium 7:3, 4; 11:16, 17; 1 Konings 16:30-33.
’n Dramatiese toets van Godheid
3. Hoe vestig die profeet Elia die aandag op Israel se ware probleem?
3 Toe die hongersnood begin, sê God se getroue profeet Elia vir koning Agab: “So waar as die HERE, die God van Israel, leef, voor wie se aangesig ek staan, daar sal geen dou of reën in hierdie jare wees nie, behalwe op my woord!” (1 Konings 17:1). Nadat die koning die vreeslike waarheid van hierdie verklaring ervaar het, blameer hy Elia daarvoor dat hy die ban oor Israel gebring het. Maar Elia antwoord dat Agab en sy huis die skuld daarvoor dra weens hulle afvalligheid as Baälaanbidders. Om die geskil te besleg, spoor Jehovah se profeet koning Agab aan om die hele Israel by die berg Karmel te laat bymekaarkom saam met die 450 profete van Baäl en 400 profete van die heilige paal. Agab en sy onderdane vergader daar, moontlik omdat hulle hoop dat die gebeurtenis die droogte sal beëindig. Maar Elia vestig die aandag op ’n ernstiger saak. “Hoe lank”, vra hy, “hink julle op twee gedagtes? As die HERE God is, volg Hom na; en as Baäl dit is, volg hom na!” Die Israeliete weet nie wat om te sê nie.—1 Konings 18:18-21, vgl. NW.
4. Wat stel Elia voor om die geskil oor Godheid te besleg?
4 Die Israeliete probeer al jare lank die aanbidding van Jehovah met Baälaanbidding vermeng. Om die geskil oor Godheid te besleg, stel Elia nou ’n kragmeting voor. Hy sal ’n jong bul as offer voorberei, en die profete van Baäl sal ’n ander een voorberei. Dan sê Elia: “Roep julle dan die naam van julle god aan, en ék sal die Naam van [Jehovah, NW] aanroep; en die God wat met vuur antwoord, Hy sal God wees” (1 Konings 18:23, 24). Stel jou voor: vuur uit die hemel in antwoord op ’n gebed!
5. Hoe word die nutteloosheid van Baälaanbidding blootgelê?
5 Elia laat die profete van Baäl begin. Hulle berei ’n bul as offer voor en lê dit op die altaar neer. Dan spring hulle om die altaar rond en bid: “o Baäl, gee ons antwoord!” Dit hou “van die môre tot die middag” aan. “Roep hard”, spot Elia. Baäl is seker met iets dringends besig of “miskien slaap hy en moet wakker word”! Kort voor lank is die profete van Baäl rasend. Kyk! Hulle sny hulleself met dolke, en bloed stroom uit hulle wonde. En wat ’n lawaai is daar tog wanneer al 450 luidkeels uitroep! Maar daar is geen antwoord nie.—1 Konings 18:26-29.
6. Watter voorbereidsels tref Elia vir die toets van Godheid?
6 Nou is dit Elia se beurt. Hy het die altaar van Jehovah herbou, ’n sloot daarom gemaak en die offer daarop geplaas. Dan laat hy water oor die hout en die offer uitgooi. Twaalf groot kruike water word oor die altaar uitgegooi totdat die sloot ook vol is. Stel jou die spanning voor wanneer Elia bid: “[Jehovah, NW], God van Abraham, Isak en Israel, laat dit vandag bekend word dat U God in Israel is, en ek u kneg, en dat ek al hierdie dinge op u woord gedoen het. Antwoord my, HERE, antwoord my, sodat hierdie volk kan erken dat U, HERE, God is, en dat Ú hulle hart tot U laat terugkeer.”—1 Konings 18:30-37.
7, 8. (a) Hoe antwoord Jehovah Elia se gebed? (b) Wat word bereik deur die gebeure op die berg Karmel?
7 In antwoord op Elia se gebed, ‘val die vuur van Jehovah neer en verteer dit die brandoffer en die hout en die klippe en die stof en lek dit die water op wat in die sloot was’. Die volk val op hulle gesig neer en sê: “[Jehovah, NW], Hy is God, [Jehovah, NW], Hy is God!” (1 Konings 18:38, 39). Elia tree nou kragtig op. Hy beveel: “Gryp die profete van Baäl! Laat niemand van hulle vryraak nie!” Nadat hulle in die Kisonvallei doodgemaak is, word die lug vol donker wolke. Uiteindelik bring ’n stortbui ’n einde aan die droogte!—1 Konings 18:40-45; vergelyk Deuteronomium 13:1-5.
8 Wat ’n wonderlike dag! Jehovah behaal die oorwinning in hierdie merkwaardige toets van Godheid. Daarbenewens laat hierdie gebeure die harte van baie Israeliete tot God terugkeer. Op hierdie en ander maniere toon Elia dat hy getrou is as ’n profeet, en hy vertolk self ook ’n profetiese rol.
Moet “die profeet Elia” nog kom?
9. Wat is in Maleagi 4:5, 6 voorspel?
9 Later het God deur middel van Maleagi voorspel: “Kyk! Ek stuur julle die profeet Elia voordat die groot en vreesinboesemende dag van Jehovah aanbreek. En hy moet die hart van vaders tot seuns terugbring, en die hart van seuns tot vaders; sodat ek nie kom en die aarde werklik slaan deur dit aan vernietiging oor te gee nie” (Maleagi 4:5, 6, NW). Elia het geleef sowat 500 jaar voor hierdie woorde geuiter is. Aangesien dit ’n profesie was, het Jode van die eerste eeu G.J. verwag dat Elia sou kom om dit te vervul.—Matteus 17:10.
10. Wie was die voorspelde Elia, en hoe weet ons dit?
10 Wie was hierdie komende Elia dan? Sy identiteit is bekend gemaak toe Jesus Christus gesê het: “Van die dae van Johannes die Doper af tot nou toe is die koninkryk van die hemele die doel waarna die mense vooruitbeur, en dié wat vooruitbeur, gryp dit. Want almal, die Profete en die Wet, het tot op Johannes geprofeteer; en as julle dit wil aanvaar: Hy self is ‘Elia wat bestem is om te kom’.” Ja, Johannes die Doper was die voorspelde teenbeeld van Elia (Matteus 11:12-14; Markus 9:11-13). ’n Engel het vir Johannes se vader, Sagaria, gesê dat Johannes “Elia se gees en krag” sou hê en dat hy “vir Jehovah ’n voorbereide volk gereed [sal] maak” (Lukas 1:17). Die doop van Johannes was ’n openbare simbool van ’n persoon se berou oor sy sondes teen die Wet, wat die Jode na Christus toe moes lei (Lukas 3:3-6; Galasiërs 3:24). Johannes se werk het dus ‘vir Jehovah ’n voorbereide volk gereedgemaak’.
11. Wat het Petrus met Pinkster oor die “dag van Jehovah” gesê, en wanneer het dit plaasgevind?
11 Die werk van Johannes die Doper as “Elia” het getoon dat ’n “dag van Jehovah” naby was. Die apostel Petrus het ook gepraat van die nabyheid van daardie dag wanneer God teen sy vyande sal optree en sy volk sal bewaar. Hy het gesê dat die wonderdadige gebeure wat met Pinkster 33 G.J. plaasgevind het ’n vervulling van Joël se profesie was oor die uitstorting van God se gees. Petrus het getoon dat dit voor “die groot en deurlugtige dag van Jehovah” sou gebeur (Handelinge 2:16-21; Joël 2:28-32). In 70 G.J. het Jehovah sy Woord vervul deur die Romeinse leërs Goddelike oordeel te laat voltrek aan die nasie wat sy Seun verwerp het.—Daniël 9:24-27; Johannes 19:15.
12. (a) Wat het Paulus en Petrus oor ’n komende “dag van Jehovah” gesê? (b) Waarom sou iets wat deur Elia se werk verteenwoordig is beslis gebeur?
12 Maar daar sou ná 70 G.J. nog meer gebeur. Die apostel Paulus het ’n komende “dag van Jehovah” met die teenwoordigheid van Jesus Christus verbind. Daarbenewens het die apostel Petrus van daardie dag gepraat in verband met die toekomstige “nuwe hemele en ’n nuwe aarde” (2 Tessalonisense 2:1, 2; 2 Petrus 3:10-13). Hou in gedagte dat Johannes die Doper ’n werk soos dié van Elia gedoen het voor die “dag van Jehovah” in 70 G.J. gekom het. Al hierdie dinge saam het duidelik getoon dat iets verder sou plaasvind wat verteenwoordig word deur die werk wat Elia gedoen het. Wat is dit?
Hulle het Elia se gees
13, 14. (a) Watter parallel is daar tussen die bedrywighede van Elia en dié van hedendaagse gesalfde Christene? (b) Wat het die afvalliges van die Christendom gedoen?
13 Elia se werk het nie net ’n parallel gehad in die bedrywighede van Johannes die Doper nie, maar het ook ’n parallel in dié van gesalfde Christene in hierdie kritieke tyd voor die komende “dag van Jehovah” (2 Timoteus 3:1-5). Met Elia se gees en krag is hulle lojale voorstanders van ware aanbidding. En hoe nodig was dit tog nie! Ná die dood van Christus se apostels was daar ’n afval van die ware Christelike geloof, net soos Baälaanbidding in Elia se dag in Israel gefloreer het (2 Petrus 2:1). Voorgewende Christene het die Christelike geloof met leerstellings en gebruike van valse godsdiens begin vermeng. Hulle het byvoorbeeld die heidense en onskriftuurlike leerstelling aangeneem dat die mens ’n onsterflike siel het (Prediker 9:5, 10; Esegiël 18:4). Die afvalliges van die Christendom het opgehou om die naam van die enigste ware God, Jehovah, te gebruik. Pleks daarvan aanbid hulle ’n Drie-eenheid. Hulle het ook die Baälagtige gebruik aangeneem om hulle voor beelde van Jesus en sy moeder, Maria, neer te buig (Romeine 1:23; 1 Johannes 5:21). Maar dit is nie al nie.
14 Van die 19de eeu af het leiers van die Christendom se kerke hulle twyfel oor baie dele van die Bybel begin uitspreek. Hulle het byvoorbeeld die Genesisverslag van die skepping verwerp en hulle voor die evolusieteorie neergebuig, en dit “wetenskaplik” genoem. Dit was lynreg in stryd met die leringe van Jesus Christus en sy apostels (Matteus 19:4, 5; 1 Korintiërs 15:47). Hedendaagse geesgesalfde Christene verdedig egter die Bybelverslag van die skepping, soos Jesus en sy vroeë volgelinge gedoen het.—Genesis 1:27.
15, 16. In teenstelling met die Christendom, wie het gereeld geestelike voedsel geniet, en deur middel waarvan?
15 Toe die wêreld “die tyd van die einde” binnegegaan het, het die Christendom in die greep van ’n geestelike hongersnood gekom (Daniël 12:4; Amos 8:11, 12). Maar die klein groepie gesalfde Christene het gereeld godgegewe geestelike voedsel “op die regte tyd” geniet, net soos Jehovah gesorg het dat Elia tydens die hongersnood in sy dag gevoed is (Matteus 24:45; 1 Konings 17:6, 13-16). Hierdie getroue knegte van God wat eers as Internasionale Bybelstudente bekend gestaan het, het later die skriftuurlike naam Jehovah se Getuies ontvang.—Jesaja 43:10, vgl. NW.
16 Elia se lewe het gestrook met die betekenis van sy naam, naamlik “My God is Jehovah”. As die amptelike tydskrif van Jehovah se aardse knegte het Die Wagtoring nog altyd God se naam gebruik. Trouens, die tweede nommer van die tydskrif (Augustus 1879 in Engels) het die vertroue uitgespreek dat Jehovah dit steun. Hierdie tydskrif en ander publikasies van die Wagtoringgenootskap lê die onskriftuurlike leerstellings van die Christendom en die res van Babilon die Grote, die wêreldryk van valse godsdiens, bloot, terwyl dit die waaragtigheid van God se Woord, die Bybel, verdedig.—2 Timoteus 3:16, 17; Openbaring 18:1-5.
Getrou tydens beproewing
17, 18. Hoe het Isebel op die slagting van die profete van Baäl gereageer, maar hoe is Elia gehelp?
17 Wanneer die geestelikes aan die kaak gestel word, is hulle reaksie baie soos dié van Isebel toe sy gehoor het dat Elia die profete van Baäl doodgemaak het. Sy het ’n boodskap aan Jehovah se getroue profeet gestuur waarin sy gesweer het om hom te laat doodmaak. Dit was glad nie ’n ydele dreigement nie, want Isebel het reeds baie van God se profete vermoor. Elia het uit vrees in ’n suidwestelike rigting na Berseba gevlug. Hy het sy dienaar daar agtergelaat en nog verder die woestyn ingegaan en het daar gebid om te sterf. Maar Jehovah het nie sy profeet verlaat nie. ’n Engel het aan Elia verskyn om hom voor te berei vir die lang reis na die berg Horeb. Hy het hierdeur voedsel gekry vir die reis van meer as 300 kilometer wat 40 dae sou duur. By Horeb het God met hom gepraat ná ’n ontsagwekkende magsvertoon in ’n groot wind, ’n aardbewing en ’n vuur. Jehovah was nie in hierdie verskynsels nie. Hulle was blyke van sy heilige gees, of werkende krag. Toe het Jehovah met sy profeet gepraat. Stel jou voor hoe hierdie ondervinding Elia versterk het (1 Konings 19:1-12). Sê nou ons word soos Elia bang wanneer ons deur vyande van ware aanbidding bedreig word? Sy ondervinding moet ons help besef dat Jehovah sy volk nie in die steek laat nie.—1 Samuel 12:22.
18 God het duidelik getoon dat daar nog werk was wat Elia as ’n profeet moes doen. Wat meer is, al het Elia gedink dat hy die enigste aanbidder van die ware God in Israel was, het Jehovah vir hom gewys dat 7000 nog nie voor Baäl neergebuig het nie. Daarna het God Elia na sy toewysing teruggestuur (1 Konings 19:13-18). Soos Elia word ons dalk deur vyande van ware aanbidding geteister. Ons word moontlik voorwerpe van hewige vervolging, soos Jesus voorspel het (Johannes 15:17-20). Soms word ons dalk bang. Maar ons kan soos Elia wees, wat deur God gerusgestel is en daarna getrou in Jehovah se diens volhard het.
19. Wat het gesalfde Christene gedurende die tydperk van die Eerste Wêreldoorlog ervaar?
19 Weens hewige vervolging gedurende die Eerste Wêreldoorlog het party gesalfde Christene voor vrees geswig en opgehou preek. Hulle het verkeerdelik gedink dat hulle werk op die aarde klaar was. Maar God het hulle nie verwerp nie. Hy het hulle eerder op barmhartige wyse ondersteun, net soos hy vir Elia voedsel voorsien het. Soos Elia het getroue gesalfdes Goddelike teregwysing aanvaar en van onbedrywigheid herstel. Hulle oë is geopen vir die wonderlike voorreg om die Koninkryksboodskap te verkondig.
20. Watter voorreg word toegestaan aan diegene wat vandag getrou is soos Elia?
20 In Jesus se profesie oor sy teenwoordigheid het hy die aardwye werk beskryf wat voltooi sou word voor die einde van hierdie goddelose stelsel van dinge (Matteus 24:14). Vandag word hierdie werk gedoen deur gesalfde Christene en hulle miljoene metgeselle wat uitsien na die lewe op ’n paradysaarde. Om die Koninkrykspredikingswerk te doen totdat dit voltooi is, is ’n voorreg wat net toegestaan word aan diegene wat getrou is soos Elia.
Wees getrou soos Elia
21, 22. (a) Met watter werk neem gesalfde Christene vandag die voortou? (b) Met watter hulp word die predikingswerk vandag uitgevoer, en waarom is dit nodig?
21 Die klein oorblyfsel van ware gesalfde Christene het hulle verantwoordelikheid om na die aardse belange van die gekroonde Koning, Jesus Christus, om te sien, nagekom met ywer soos dié van Elia (Matteus 24:47). En God gebruik hierdie gesalfdes nou al meer as 60 jaar lank om die voortou te neem in die werk om dissipels te maak van mense vir wie hy die wonderlike hoop van die ewige lewe op ’n paradysaarde gegee het (Matteus 28:19, 20). Hoe dankbaar kan hierdie miljoene tog wees dat die betreklik min oorblywende gesalfdes hulle verantwoordelikhede ywerig en getrou nakom!
22 Hierdie werk om die Koninkryk te verkondig, word deur onvolmaakte mense uitgevoer en alleenlik deur die krag wat Jehovah aan diegene gee wat biddend op hom vertrou. “Elia was ’n mens met gevoelens soos ons s’n”, het die dissipel Jakobus gesê toe hy die profeet se voorbeeld van gebed genoem het om te toon hoe kragtig ’n regverdige mens se gebed is (Jakobus 5:16-18). Elia het nie altyd geprofeteer of wonderwerke gedoen nie. Hy het dieselfde menslike gevoelens en swakhede gehad wat ons het, maar hy het God getrou gedien. Aangesien ons ook God se hulp het en hy ons versterk, kan ons getrou wees soos Elia.
23. Waarom het ons goeie rede om getrou en optimisties te wees?
23 Ons het goeie rede om getrou en optimisties te wees. Onthou dat Johannes die Doper ’n werk soos dié van Elia gedoen het voor die “dag van Jehovah” in 70 G.J. aangebreek het. Met Elia se gees en krag het gesalfde Christene ’n soortgelyke godgegewe werk in die hele wêreld gedoen. Dit toon duidelik dat die groot “dag van Jehovah” naby is.
Hoe sou jy antwoord?
◻ Hoe is Jehovah se Godheid op die berg Karmel bewys?
◻ Wie was die ‘Elia wat moes kom’, en wat het hy gedoen?
◻ Hoe het hedendaagse gesalfde Christene getoon dat hulle Elia se gees het?
◻ Waarom is dit vir ons moontlik om getrou te wees soos Elia?
[Venster op bladsy 15]
Na watter hemel het Elia opgevaar?
“EN TERWYL [Elia en Elisa] aldeur loop en spreek, kom daar meteens ’n wa van vuur met perde van vuur wat skeiding tussen hulle twee maak; en Elia het in die storm na die hemel opgevaar.”—2 Konings 2:11.
Wat word hier met die woord “hemel” bedoel? Die woord word soms toegepas op die geestelike woonplek van God en sy engeleseuns (Matteus 6:9; 18:10). “Hemel” kan ook na die fisiese heelal verwys (Deuteronomium 4:19). En die Bybel gebruik hierdie woord om te verwys na die aarde se atmosfeer, waar die voëls vlieg en die winde waai.—Psalm 78:26; Matteus 6:26.
Na watter van hierdie hemele het die profeet Elia opgevaar? Hy is klaarblyklik deur die aarde se atmosfeer heen verplaas en op ’n ander deel van die aardbol neergesit. Elia was jare later nog steeds op die aarde, want hy het ’n brief aan koning Joram van Juda geskryf (2 Kronieke 21:1, 12-15). Die feit dat Elia nie na die geestelike woning van Jehovah God opgevaar het nie, is later deur Jesus Christus bevestig, wat gesê het: “Geen mens het in die hemel opgevaar nie, behalwe hy wat uit die hemel neergedaal het, die Seun van die mens”, dit wil sê Jesus self (Johannes 3:13). Vir onvolmaakte mense is die weg na die hemelse lewe eers ná die dood, opstanding en hemelvaart van Jesus Christus geopen.—Johannes 14:2, 3; Hebreërs 9:24; 10:19, 20.