Wie sal “die dag van Jehovah” oorleef?
“Watter soort mense behoort julle dan te wees in heilige gedragshandelinge en dade van godvrugtige toegewydheid, terwyl julle die teenwoordigheid van die dag van Jehovah verwag en goed in gedagte hou!”—2 PETRUS 3:11, 12.
1. Wie werk met Elia se gees en krag?
JEHOVAH GOD het uit die mensdom mense gekies wat mede-erfgename saam met sy Seun, Jesus Christus, in die hemelse Koninkryk gaan word (Romeine 8:16, 17). Terwyl gesalfde Christene nog op die aarde is, werk hulle met Elia se gees en krag (Lukas 1:17). In die vorige artikel het ons sekere parallelle tussen hulle bedrywighede en dié van die profeet Elia bespreek. Maar wat van die werk van Elia se opvolger, die profeet Elisa?—1 Konings 19:15, 16.
2. (a) Wat was Elia se laaste en Elisa se eerste wonderwerk? (b) Watter bewys is daar dat Elia nie hemel toe gegaan het nie?
2 Die laaste wonderwerk wat Elia verrig het, was om die water van die Jordaanrivier te verdeel deur dit met sy mantel te slaan. Dit het Elia en Elisa in staat gestel om die rivier op droë grond oor te steek. Terwyl hulle aan die oostekant van die rivier geloop het, het ’n windstorm Elia na ’n ander plek op die aarde weggevoer. (Sien die venster op bladsy 15 met die titel “Na watter hemel het Elia opgevaar?”) Elia se mantel het agtergebly. Toe Elisa die Jordaan daarmee slaan, is die water weer verdeel en kon hy op droë grond terugkeer. Hierdie wonderwerk het duidelik getoon dat Elisa Elia se opvolger geword het om ware aanbidding in Israel te bevorder.—2 Konings 2:6-15.
Godvrugtige eienskappe noodsaaklik
3. Wat het Paulus en Petrus gesê oor Jesus se teenwoordigheid en “die dag van Jehovah”?
3 Eeue ná die dae van Elia en Elisa het die apostels Paulus en Petrus ’n naderende “dag van Jehovah” met Jesus Christus se teenwoordigheid en die “nuwe hemele en ’n nuwe aarde” geassosieer wat destyds nog toekomstig was (2 Tessalonisense 2:1, 2; 2 Petrus 3:10-13). As ons Jehovah se groot dag—wanneer God sy vyande vernietig en sy volk red—wil oorleef, moet ons Jehovah soek en ootmoedigheid en geregtigheid betoon (Sefanja 2:1-3). Maar ’n paar bykomende eienskappe word duidelik wanneer ons na gebeure kyk waarby die profeet Elisa betrokke was.
4. Watter rol speel ywer in Jehovah se diens?
4 Ywer vir God se diens is noodsaaklik as ons “die dag van Jehovah” wil oorleef. Elia en Elisa was ywerig in Jehovah se diens. Die oorblyfsel van gesalfde Christene verrig vandag met soortgelyke ywer heilige diens aan Jehovah en neem die leiding in die verkondiging van die goeie nuus.a Sedert die middel-dertigerjare het hulle almal wat die Koninkryksboodskap aanneem en hoop om vir ewig op die aarde te lewe, aangemoedig om hulle aan Jehovah toe te wy en gedoop te word (Markus 8:34; 1 Petrus 3:21). Miljoene het op hierdie aanmoediging ag geslaan. Hulle was eers in geestelike duisternis en dood in sonde, maar hulle het nou God se waarheid geleer, die hoop op die ewige lewe in ’n aardse paradys aangeneem en is ywerig in Jehovah se diens (Psalm 37:29; Openbaring 21:3-5). Deur hulle ywer, samewerking, gasvryheid en ander goeie werke verkwik hulle Christus se geestelike broers wat nog op aarde is grootliks.—Matteus 25:31-46.
5. Waarom is dit so belangrik om goeie dinge vir Jesus se “broers” te doen, en watter voorbeeld het ons uit Elisa se dag?
5 Diegene wat goeie dinge vir Jesus se “broers” doen omdat hierdie gesalfdes sy volgelinge is, het die hoop om “die dag van Jehovah” te oorleef. ’n Egpaar in die dorpie Sunem is grootliks geseën omdat hulle goedhartig en gasvry teenoor Elisa en sy dienaar was. Hierdie egpaar het nie ’n seun gehad nie, en die man was oud. Maar Elisa het die Sunamitiese vrou belowe dat sy ’n seun sou hê, en dit het gebeur. Toe hierdie enigste seun ’n paar jaar later gesterf het, het Elisa na Sunem gegaan en hom opgewek (2 Konings 4:8-17, 32-37). Watter wonderlike belonings omdat hulle gasvryheid teenoor Elisa betoon het!
6, 7. Watter voorbeeld het Naäman gestel, en wat het dit te doen met ons oorlewing van “die dag van Jehovah”?
6 Nederigheid is nodig om Bybelse riglyne van Christus se “broers” te aanvaar sodat ons die hoop kan hê om Jehovah se dag te oorleef. Die melaatse Siriese leërowerste Naäman moes nederig wees om te luister na die voorstel van ’n gevange Israelitiese meisie en na Israel te gaan om Elisa te soek in ’n poging om genees te word. Pleks van uit sy huis uit te kom om Naäman te ontmoet, het Elisa hierdie boodskap aan hom gestuur: “Was jou sewe maal in die Jordaan; dan sal jou vlees terugkeer, en jy sal rein wees” (2 Konings 5:10). Naäman is in sy eer gekrenk en het kwaad geword, maar nadat hy nederig gegaan en hom sewe keer in die Jordaan gedompel het, het “sy vlees . . . teruggekeer soos die vlees van ’n jong seun, en hy het rein geword” (2 Konings 5:14). Voor Naäman teruggekeer het huis toe het hy die hele pad na Samaria toe teruggegaan om Jehovah se profeet te bedank. Elisa was vasbeslote om nie materieel voordeel te trek uit sy godgegewe krag nie en het Naäman tegemoetgegaan, maar wou geen geskenke van hom aanvaar nie. Naäman het nederig vir Elisa gesê: “U dienaar sal nie meer brandoffer of slagoffer aan ander gode bring nie as net aan die HERE.”—2 Konings 5:17.
7 Deur nederig die skriftuurlike raad van gesalfdes te volg, word miljoene vandag ryklik geseën. Daarbenewens is hierdie opregtes van hart geestelik gereinig omdat hulle geloof in Jesus se losprysofferande beoefen het. Hulle geniet nou die voorreg om vriende van Jehovah God en Jesus Christus te wees (Psalm 15:1, 2; Lukas 16:9). En hulle toegewydheid aan God en sy diens sal beloon word deurdat hulle gespaar sal word wanneer trotse, onberouvolle sondaars vir ewig vernietig word in die “dag van Jehovah” wat vinnig nader kom.—Lukas 13:24; 1 Johannes 1:7.
“Wie is vir my, wie?”
8. (a) Watter gesindheid moet dié wat “die dag van Jehovah” sal oorleef teenoor die uitvoering van God se wil hê? (b) Watter opdrag het Jehu gekry? (c) Wat sou met Isebel gebeur?
8 Dié wat hoop om “die dag van Jehovah” te oorleef, moet ook beslis wees in die manier waarop hulle God se wil doen. Elia het moedig voorspel dat koning Agab se moorddadige familie wat Baäl aanbid het, vernietig sou word (1 Konings 21:17-26). Maar voordat hierdie teregstelling voltrek kon word, moes Elia se opvolger Elisa eers ’n onvoltooide taak afhandel (1 Konings 19:15-17). Toe Jehovah se vasgestelde tyd gekom het, het Elisa ’n dienaar aangesê om die leërowerste Jehu as Israel se nuwe koning te salf. Nadat die boodskapper olie op Jehu se kop uitgegooi het, het hy vir hom gesê: “So spreek die HERE, die God van Israel: Ek salf jou as koning oor die volk van die HERE, oor Israel. En jy sal die huis van Agab, jou heer, verwoes, sodat Ek die bloed van my knegte, die profete, en die bloed van al die knegte van die HERE op Isebel kan wreek; en die hele huis van Agab sal omkom.” Die goddelose koningin Isebel sou vir die honde gegooi word en nie ’n behoorlike begrafnis hê nie.—2 Konings 9:1-10.
9, 10. Hoe is Elia se woord in die geval van Isebel vervul?
9 Jehu se manne het die geldigheid van sy salwing erken en hom tot die nuwe koning van Israel uitgeroep. Jehu het met beslistheid opgetree en na Jisreël gejaag om met sy werk te begin om die afvallige belhamels van Baälaanbidding tereg te stel. Die eerste een wat Jehu se pyl van teregstelling gevoel het, was Agab se seun, koning Joram. Hy het uit die stad uitgery om te vra of Jehu op ’n vredesending gekom het. “Wat? Vrede, solank as die hoererye van jou moeder Isebel en haar towerye so baie is?” het Jehu geantwoord. Daarop het Jehu se pyl Joram se hart deurboor.—2 Konings 9:22-24.
10 Godvrugtige vroue vermy dit om soos Isebel of mense soos sy te wees (Openbaring 2:18-23). Teen die tyd dat Jehu in Jisreël aangekom het, het sy haar probeer mooimaak. Sy het vanuit ’n venster op hom afgekyk en hom met ’n bedekte dreigement gegroet. Hy het haar dienaars gevra: “Wie is vir my, wie?” Onmiddellik het twee of drie hofdienaars afgekyk. Was hulle aan Jehu se kant? “Gooi haar af!” het hy gesê. Daarop het hulle met beslistheid opgetree en die bose Isebel by die venster uitgegooi. Sy is vertrap, waarskynlik onder die perde se hoewe. Toe mense gekom het om haar te begrawe, ‘kon hulle van haar niks kry nie as net die hoofskedel en die voete en die handpalms’. Wat ’n dramatiese vervulling van Elia se woord: “Die honde [sal] die vlees van Isebel eet”!—2 Konings 9:30-37.
Opregte ondersteuning van ware aanbidding
11. Wie was Jonadab, en hoe het hy sy ondersteuning van ware aanbidding getoon?
11 Diegene wat hoop om “die dag van Jehovah” te oorleef en vir ewig op die aarde te lewe, moet ware aanbidding heelhartig ondersteun. Hulle moet wees soos Jonadab, ’n nie-Israelitiese aanbidder van Jehovah. Terwyl Jehu voortgegaan het om sy opdrag met ywer uit te voer, wou Jonadab sy goedkeuring en ondersteuning toon. Daarom het hy Israel se nuwe koning tegemoetgegaan, wat op pad was na Samaria om die oorblywende lede van Agab se huis tereg te stel. Toe Jehu vir Jonadab sien, het hy gevra: “Is jou hart reg soos my hart met jou hart is?” Jonadab se bevestigende antwoord het Jehu aangespoor om sy hand uit te steek en Jonadab te nooi om saam met hom in sy strydwa te ry, terwyl hy sê: “Gaan saam met my en aanskou met welgevalle my ywer vir die HERE.” Jonadab het die voorreg om sy ondersteuning van Jehovah se gesalfde skerpregter te toon sonder aarseling aanvaar.—2 Konings 10:15-17.
12. Waarom vereis Jehovah tereg uitsluitlike toegewydheid?
12 Opregte ondersteuning van ware aanbidding is beslis gepas, want Jehovah is die Skepper en Universele Soewerein, wat tereg ons uitsluitlike toegewydheid vereis en verdien. Hy het die Israeliete beveel: “Jy mag vir jou geen gesnede beeld of enige gelykenis maak van wat bo in die hemel is, of van wat onder op die aarde is, of van wat in die waters onder die aarde is nie. Jy mag jou voor hulle nie neerbuig en hulle nie dien nie; want Ek, die HERE jou God, is ’n [God wat uitsluitlike toegewydheid vereis, NW]” (Exodus 20:4, 5). Diegene wat hoop om “die dag van Jehovah” te oorleef, moet hom uitsluitlik aanbid en dit “met gees en waarheid” doen (Johannes 4:23, 24). Hulle moet ’n ferm standpunt inneem vir ware aanbidding, soos Elia, Elisa en Jonadab.
13. Wie erken die Messiaanse Koning, net soos Jonadab se hart met Jehu was, en hoe toon hulle dit?
13 Ná die teregstelling van die huis van Agab het koning Jehu ander stappe gedoen om Baälaanbidders te identifiseer en hierdie valse godsdiens in Israel uit te roei (2 Konings 10:18-28). Vandag is die hemelse Koning Jesus Christus aangestel om Jehovah se vyande tereg te stel en Sy soewereiniteit te regverdig. Net soos Jonadab se hart met Jehu was, erken die “groot skare” van Jesus se “ander skape” Christus vandag heelhartig as die Messiaanse Koning en werk hulle saam met sy geestelike broers op aarde (Openbaring 7:9, 10; Johannes 10:16). Hulle bewys dit deurdat hulle die ware godsdiens beoefen en ywerig deelneem aan die Christelike bediening, waardeur hulle God se vyande oor die “dag van Jehovah” waarsku wat vinnig nader kom.—Matteus 10:32, 33; Romeine 10:9, 10.
Dramatiese gebeure is voor die deur!
14. Wat lê vir valse godsdiens voor?
14 Jehu het opgetree en ’n einde gemaak aan Baälaanbidding in Israel. In ons dag gaan God deur middel van die Grotere Jehu, Jesus Christus, die vernietiging van Babilon die Grote, die wêreldryk van valse godsdiens, teweegbring. Ons gaan binnekort die vervulling sien van die woorde van die engel aan die apostel Johannes: “Die tien horings wat jy gesien het, en die wilde dier, hulle sal die hoer [Babilon die Grote] haat en sal haar verwoes en naak maak, en hulle sal haar vlesige dele opeet en haar heeltemal met vuur verbrand. Want God het dit in hulle harte gesit om sy gedagte uit te voer, ja, om hulle een gedagte uit te voer deur hulle koninkryk aan die wilde dier te gee, totdat die woorde van God volbring sal wees” (Openbaring 17:16, 17; 18:2-5). “Die tien horings” beeld die gemilitariseerde politieke magte af wat oor die aarde heers. Al het hulle nou ’n geestelik owerspelige verhouding met Babilon die Grote, is haar tyd kort. Hierdie wêreld se politieke element sal valse godsdiens vernietig, en “die wilde dier”—die Verenigde Nasies—sal saam met “die tien horings” ’n vername rol in haar vernietiging speel.b Wat ’n geleentheid om Jehovah te loof!—Openbaring 19:1-6.
15. Wat sal gebeur wanneer ’n poging aangewend word om God se aardse organisasie te vernietig?
15 Ná koning Jehu se aanval op Baälaanbidding, het sy koningshuis aan Israel se politieke vyande aandag geskenk. Die Koning Jesus Christus sal op soortgelyke wyse optree. Politieke magte sal ná die vernietiging van Baälagtige valse godsdiens oorbly. Onder die invloed van Satan die Duiwel sal hierdie vyande van Jehovah se soewereiniteit alles in die stryd werp in ’n poging om God se aardse organisasie te vernietig (Esegiël 38:14-16). Maar Jehovah sal die Koning Jesus Christus gebruik om hulle by Har–Magedon, “die oorlog van die groot dag van God die Almagtige”, te vernietig, wat die regverdiging van Jehovah se soewereiniteit sal volbring.—Openbaring 16:14, 16; 19:11-21; Esegiël 38:18-23.
Dien met die ywer van Elisa
16, 17. (a) Hoe weet ons dat Elisa tot aan die einde van sy lewe ywerig was? (b) Wat moet ons met die pyle van waarheid doen?
16 Tot “die dag van Jehovah” ’n einde aan Satan se hele goddelose stelsel van dinge bring, sal God se knegte so moedig en ywerig soos Elisa wees. Buiten sy werk as Elia se dienaar, het Elisa meer as 50 jaar lank alleen as Jehovah se profeet gedien! En Elisa was tot aan die einde van sy lang lewe ywerig. Net voor sy dood het Jehu se kleinseun, koning Joas, hom besoek. Elisa het vir hom gesê om ’n pyl by die venster uit te skiet. Die pyl het sy teiken getref, en Elisa het uitgeroep: “’n Pyl van oorwinning van die HERE en ’n pyl van oorwinning op Aram: jy moet die Arameërs volkome verslaan in Afek.” Op versoek van Elisa het Joas daarna die grond met sy pyle geslaan. Maar hy het dit met ’n gebrek aan ywer gedoen en het net drie keer geslaan. Toe het Elisa gesê dat Joas as gevolg daarvan net drie oorwinnings oor Sirië gegee sou word, en dit is wat gebeur het (2 Konings 13:14-19, 25). Koning Joas het nie die Siriërs ten volle, “volkome”, verslaan nie.
17 Met ywer soos dié van Elisa hou die gesalfde oorblyfsel egter vol met die aanval teen valse aanbidding. Hulle metgeselle met die aardse hoop doen dieselfde. Daarbenewens sal dit goed wees as almal wat hoop om “die dag van Jehovah” te oorleef die woorde van die ywerige Elisa onthou toe hy gesê het dat die aarde geslaan moet word. Laat ons die pyle van waarheid neem en ywerig met hulle slaan—keer op keer—ja, totdat Jehovah sê dat ons werk met hulle voltooi is.
18. Hoe moet ons op die woorde van 2 Petrus 3:11, 12 reageer?
18 “Die dag van Jehovah” sal binnekort ’n einde bring aan die huidige goddelose stelsel van dinge. Mag ons dus deur die apostel Petrus se besielende woorde aangespoor word. “Aangesien al hierdie dinge so tot niet gemaak gaan word,” het Petrus gesê, “watter soort mense behoort julle dan te wees in heilige gedragshandelinge en dade van godvrugtige toegewydheid, terwyl julle die teenwoordigheid van die dag van Jehovah verwag en goed in gedagte hou!” (2 Petrus 3:11, 12). Wanneer elke deel van hierdie stelsel deur middel van Jesus Christus tot niet gemaak word deur die vuur van God se toorn, sal net diegene wie se lewe gekenmerk word deur regskape gedrag en godvrugtige toegewydheid daaraan ontkom. Sedelike en geestelike reinheid is noodsaaklik. So ook is liefde vir ons medemens, wat getoon word deur op hulle behoeftes te reageer, veral in geestelike sin deur middel van ons Christenbediening.
19. Wat moet ons doen om “die dag van Jehovah” te oorleef?
19 Identifiseer jou woorde en dade jou as ’n getroue en ywerige kneg van God? Indien wel, kan jy die hoop koester om deur “die dag van Jehovah” tot in God se beloofde nuwe wêreld behoue te bly. Ja, jy kan dit oorleef as jy goed doen aan Christus se geestelike broers omdat hulle sy volgelinge is, soos die Sunamitiese egpaar gasvry was teenoor Elisa. Om dit te kan oorleef, moet jy ook soos Naäman wees, wat nederig Goddelike instruksies aanvaar het en ’n aanbidder van Jehovah geword het. As jy daarna smag om vir ewig op ’n aardse paradys te lewe, moet jy toon dat jy ware aanbidding opreg ondersteun, soos Jonadab gedoen het. Dan kan jy onder Jehovah se getroue knegte wees wat binnekort die vervulling van Jesus se woorde sal ervaar: “Kom, julle wat deur my Vader geseën is, beërf die koninkryk wat van die grondlegging van die wêreld af vir julle berei is.”—Matteus 25:34.
[Voetnote]
a Sien hoofstukke 18 en 19 van die boek “Laat u Naam geheilig word”, uitgegee deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc.
b Sien bladsye 254-6 van Openbaring—Sy groot klimaks is ophande!, uitgegee deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc.
Hoe sou jy antwoord?
◻ Wat is van die eienskappe wat nodig is om “die dag van Jehovah” te oorleef?
◻ Watter voorbeeld het die Sunamitiese egpaar in Elisa se dag gestel?
◻ Watter les kan ons by Naäman leer?
◻ Hoe kan ons Jonadab se voorbeeld volg?
◻ Watter uitwerking moet 2 Petrus 3:11, 12 op ons hê?