Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w94 10/1 bl. 4-8
  • Die Bybel—’n Boek wat bedoel is om verstaan te word

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die Bybel—’n Boek wat bedoel is om verstaan te word
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1994
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Waarom is die Bybel geskryf?
  • Te ingewikkeld om te verstaan?
  • Die Bybel en Jesus se volgelinge
  • Watter hulp is beskikbaar?
  • Waarom is die Bybel noodsaaklik?
  • Antwoorde op Bybelvrae
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2013
  • Ondersoek “die diep dinge van God”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2007
  • Lees God se Woord en dien hom in waarheid
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1996
  • Verstaan die Bybel—Wat sal jou help?
    ie Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2006
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1994
w94 10/1 bl. 4-8

Die Bybel—’n Boek wat bedoel is om verstaan te word

PARTY mense glo dat die Bybel die duidelike Woord van God is wat letterlik gevolg moet word. Vir ander “is die boodskap van die Bybel baie dubbelsinniger”. Dit is wat die 12 lede van die “geloof en teologie”-komitee van Kanada se grootste Protestantse kerkgenootskap sê. Die geestelike Clifford Elliott, van die Verenigde Kerk, meen dat “die Bybel [vir party] abstrak, onpersoonlik en ontoepaslik word”.

Sulke sienswyses laat pertinente vrae ontstaan wat beantwoord móét word. Belangrike vrae in hierdie verband is: Waarom is die Bybel geskryf? Is dit te raaiselagtig en ingewikkeld om te verstaan? Kan die deursneemens dit verstaan? Watter soort hulp het ’n mens nodig as jy die betekenis van die Skrif wil verstaan? En waarom is ’n juiste kennis van die Bybel noodsaaklik in hierdie tye vol beroering?

Waarom is die Bybel geskryf?

’n Studie van God se Woord was nog altyd ’n voorvereiste vir diegene wat die guns en goedkeuring van die allerhoogste God, Jehovah, wou verkry. Konings, priesters, ouers, mans, vrouens en kinders—ryk sowel as arm—het die opdrag ontvang om tydens die daaglikse lewensaangeleenthede tyd in te ruim sodat hulle die opgetekende Woord van God op ’n ernstige en biddende wyse kan ondersoek.—Deuteronomium 6:6, 7; 17:18-20; 31:9-12; Nehemia 8:9; Psalm 1:1, 2; 119:7-11, 72, 98-100, 104, 142; Spreuke 3:13-18.

Daar is byvoorbeeld vir Josua gesê: “Jy moet sorg dat die wetboek altyd gelees word wanneer jy aanbid. Bestudeer dit dag en nag, en maak seker dat jy alles gehoorsaam wat daarin staan. Dan sal jy voorspoedig wees en sukses behaal” (Josua 1:8, Today’s English Version). So ’n sorgvuldige studie en toepassing van die Wet van God sou sukses en geluk meebring. Jehovah wou hê dat “alle soorte mense” sy Woord, die Bybel, nie net moet verstaan nie, maar dit ook moet gehoorsaam met die vooruitsig om die lewe as gawe te ontvang.—1 Timotheüs 2:3, 4, NW; Johannes 17:3.

Te ingewikkeld om te verstaan?

Voor Jesus se hemelvaart het hy dit duidelik gestel dat hy wil hê dat ’n groot program van Bybelonderrigting wêreldwyd voortgesit moet word (Handelinge 1:8). Hy het geweet dat die Bybel bedoel is om verstaan te word. Nadat hy verduidelik het dat Jehovah hom alle gesag in die hemel en op aarde gegee het, het hy uitdruklik beveel: “Gaan dan heen, maak dissipels [of, leerlinge] van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het.”—Mattheüs 28:19.

Voor hulle doop moes nuwe dissipels geleer word van Jehovah, sy Seun en die werking van die heilige gees. Daarbenewens moes hulle in die wet van die Christelike stelsel van dinge onderrig word (1 Korinthiërs 9:21; Galasiërs 6:2). Om dit te kon bereik, moes verdienstelikes eerstens glo dat die Bybel van Jehovah af kom en tweedens dat dit bedoel is om verstaan te word.—Mattheüs 10:11-13.

Wat word van jou vereis om die Bybel te verstaan? Die Seun van God het hom ingespan om die Skrif te verduidelik. Hy het geweet dat die Heilige Geskrifte waar is en dat dit Jehovah se wil bevat (Johannes 17:17). Jesus Christus het van sy werkstoewysing gesê: “Ek is gebore en het in die wêreld gekom juis met die doel om oor die waarheid te spreek. Wie aan die waarheid behoort, luister na my” (Johannes 18:37, TEV; Lukas 4:43). Jesus het nie daarvan weggeskram om diegene met ontvanklike harte en verstande te onderrig nie. Lukas 24:45 sê vir ons: “Toe open Hy [Christus Jesus] hulle verstand om die Skrifte te verstaan.”

Gedurende Jesus se bediening het hy vryelik uit die geskrewe Woord aangehaal en tekste in “die wet van Moses en die profete en die psalms” verduidelik en daarna verwys (Lukas 24:27, 44). Diegene wat sy skriftuurlike verduidelikings gehoor het, was diep getref deur die helderheid van sy begrip sowel as sy onderrigvermoë (Mattheüs 7:28, 29; Markus 1:22; Lukas 4:32; 24:32). Vir hom was die Skrif ’n ope boek.

Die Bybel en Jesus se volgelinge

Die apostel Paulus, ’n navolger van Jesus Christus, het besef hoe nodig dit is om ander in die Skrif te onderrig. Hy het ook geweet dat die Skrif bedoel is om verstaan te word. Dit is waarom hy ander in die openbaar onderrig het en ongetwyfeld die Skrif verduidelik het in die huise van diegene wat dit wou verstaan. Paulus het sy posisie bekend gemaak toe hy gesê het: “Julle weet dat ek niks teruggehou het wat vir julle nuttig sal wees nie, terwyl ek gepreek en in die openbaar en in julle huise onderrig het” (Handelinge 20:20, TEV). Gedurende sy besprekings het hy uit die Skrif geredeneer en sy gedagtes verduidelik en deur verwysings gestaaf (Handelinge 17:2, 3, vgl. NW). Hy het daarin belanggestel om ander te help om die betekenis van die Skrif in te sien.

Het jy ’n begeerte om die dinge te verstaan wat Jesus en sy dissipels ander geleer het? (1 Petrus 2:2). Die inwoners van eertydse Berea het so ’n begeerte gehad, en hulle het dit wat die apostel Paulus hulle oor die Christus geleer het gretig aangeneem. Hulle is gevolglik aangespoor om die Skrif daagliks te bestudeer en sodoende seker te maak dat die goeie nuus wat hulle gehoor het inderdaad die waarheid is. Omdat hulle verstande ontvanklik was, het “baie van hulle . . . gelowig geword”.—Handelinge 17:11, 12.

Om die Bybel te verstaan, moet ’n mens die regte hartstoestand hê, ’n opregte begeerte hê om te leer en ‘bewus wees van jou geestelike behoefte’ (Mattheüs 5:3, NW). Toe Jesus gevra is: “Waarom spreek U tot hulle deur gelykenisse?” het hy geantwoord: “Omdat dit aan julle gegee is om die verborgenhede van die koninkryk van die hemele te ken, maar aan hulle is dit nie gegee nie.” Daar is voorspel dat hy ‘sy mond deur gelykenisse sou open en verborge dinge sou uitspreek’ (Mattheüs 13:10, 11, 35). Jesus het dus deur gelykenisse gespreek om die ongeërgde en nuuskierige luisteraar te skei van dié wat opreg navraag gedoen het. Jesus se dissipels het eenkeer hulle opregtheid getoon toe hulle saam met hom in ’n huis ingegaan en gesê het: “Verklaar vir ons die gelykenis van die onkruid in die saailand.”—Mattheüs 13:36.

Dit is duidelik dat ons hulp nodig het as ons die Bybel wil verstaan. Die geestelike Hal Llewellyn, die Verenigde Kerk se sekretaris van teologie, geloof en ekumenisme, het gesê: “Dit is baie belangrik om te verduidelik wat die Bybel vir ons beteken en hoe dit gelees en geïnterpreteer word.” Maar al besef almal dit nie, is dit wel so dat ons die Bybel nie op ons eie kan verstaan nie. Ons het hulp nodig.

Watter hulp is beskikbaar?

Die Bybel bevat etlike raaiselagtige spreuke, moeilike vrae en diep verklarings wat ontrafel moet word. Hulle is moontlik doelbewus duister met betekenisvolle vergelykings wat nie bedoel was om verstaan te word toe hulle geskryf is nie. Maar hulle hét op Jehovah se voornemens betrekking gehad. Openbaring 13:18 sê byvoorbeeld “die getal van die dier” is “seshonderd-ses-en-sestig”. Hoewel die vers sê: “Hier kom die wysheid te pas”, verduidelik dit nie wat daardie getal beteken nie. Maar deur sy organisasie het Jehovah sy hedendaagse lojale knegte laat verstaan wat dit beteken. (Sien die venster: “Bron van Bybelbegrip.”) Jy kan ook hierdie begrip verkry met die hulp van diegene wat bedrewe daarin is om “die woord van die waarheid reg [te] sny”.—2 Timotheüs 2:2, 15, 23-25; 4:2-5; Spreuke 2:1-5.

Jesus het soms gelykenisse gebruik om die reaksie of gebrek aan reaksie op die Koninkryksboodskap te illustreer. Hy het getoon dat sommige nie vordering sal maak nie omdat teëstand deur vriende en familie hulle ontmoedig. Ander sal toelaat dat “verdrukking en vervolging” hulle waardering vir die Koninkryksboodskap vernietig. Nog ander sal toelaat dat die alledaagse lewensaangeleenthede, “die sorg van hierdie wêreld en die verleiding van die rykdom”, die liefde verdring wat hulle nog vir die goeie nuus het. Daarenteen is daar diegene wat vreugdevol op die goeie nuus reageer en bereid is om die kosbare woord te hoor en te verstaan. Hulle “sug en steun oor al die gruwels” wat, kwansuis in die naam van Jesus Christus, in die Christendom gedoen word. Sulke mense is gretig om in Jehovah se weg geleer te word en sodoende te verstaan wat hulle in die Bybel lees.—Mattheüs 13:3-9, 18-23; Esegiël 9:4; Jesaja 2:2-4.

As iemand insig in Jehovah se voornemens wil verkry, kan Jehovah sorg dat hy die nodige hulp kry. Ter toeligting, die Bybel sê dat Jehovah se gees die evangelis Filippus gerig het om ’n Ethiopiese man te help wat die Bybelboek Jesaja bestudeer het terwyl hy Jerusalem verlaat het. Hy het dit op pad huis toe in sy wa gelees. In gehoorsaamheid aan die leiding van Jehovah se heilige gees het Filippus langs die wa gehardloop en gevra: ‘Verstaan u wat u lees?’ Die man was nederig en eerlik genoeg om te erken dat hy hulp nodig het. Filippus het hierdie geestelik honger persoon wat bereid was om te leer met graagte onderrig. Die onderrigting het hom gehelp om die Skrif te verstaan. Hy het geleer wat hy moes doen om ’n gunstige verhouding met Jehovah te geniet sodat hy die ewige lewe kon verkry. Hy het ’n gelukkige, gedoopte kneg van Jehovah geword wie se lewenswyse God behaag het.—Handelinge 8:26-39.

Jy het moontlik ’n Bybel in die huis en het dit dalk al dikwels gelees. Jy het heel waarskynlik al dieselfde probleem as die opregte, nederige Ethiopiër gehad. Hy kon nie verstaan wat hy lees nie. Hy het hulp nodig gehad en het nie gehuiwer om die hulp te aanvaar wat Jehovah God met graagte voorsien het nie. Soos Filippus, sal Jehovah se Getuies jou graag help om die dinge oor God te verstaan wat in sy Woord, die Bybel, opgeteken staan. Hulle weet dat Jehovah die Bybel voorsien het en bedoel het dat dit verstaan moet word.—1 Korinthiërs 2:10; Efesiërs 3:18; 2 Petrus 3:16.

Waarom is die Bybel noodsaaklik?

Ons lewe in die mees kritieke tyd van die mensegeskiedenis. Die Bybel praat daarvan as “die voleinding van die stelsel van dinge” (Mattheüs 24:3, NW). Alles wat sedert 1914 ter vervulling van Bybelprofesieë gebeur, toon dat God se hemelse Koninkryk binnekort ‘alle ander koninkryke sal verbrysel en ’n einde daaraan sal maak’.—Daniël 2:44.

Lees gerus self wat in die Bybel in Mattheüs hoofstuk 24, Markus hoofstuk 13 en Lukas hoofstuk 21 voorspel word. Jy sal opmerk dat die gebeurtenisse wat beskryf word wêreldwyd van belang is. Dit sluit wêreldoorloë in—wat anders as alle ander oorloë is. Sedert die Eerste Wêreldoorlog sien ons die voorspelde voedseltekorte, aardbewings en ’n tyd van buitengewone wetteloosheid. En dit lyk nou of die nasies so te sê gereed is om ’n bewering te maak wat ’n onmiskenbare teken sal wees dat wêreldvernietiging op hande is. Die apostel Paulus het hieroor geskryf: “Die dag van die Here kom net soos ’n dief in die nag. Want wanneer hulle sê: Vrede en veiligheid—dan oorval ’n skielike verderf hulle . . . en hulle sal sekerlik nie ontvlug nie” (1 Thessalonicense 5:2, 3). Wie is dit wat nie ontvlug nie? Paulus verduidelik: “Die wat God nie ken nie en . . . die wat aan die evangelie van onse Here Jesus nie gehoorsaam is nie” (2 Thessalonicense 1:7-9). ’n Deel van die saamgestelde teken sou vervul word deur diegene wat die bevel in Mattheüs 24:14 gehoorsaam om die ‘evangelie van die koninkryk in die hele wêreld te verkondig’.

Miljoene Getuies van Jehovah voer hierdie opdrag in 231 lande en eilande van die see uit. Hulle besoek mense by hulle huis en nooi hulle persoonlik om van Jehovah se Koninkryksregering te leer. Hulle toon vriendelik watter optrede van elkeen vereis word as hy onder dié wil wees wat deur hierdie stelsel van dinge heen behoue bly en op ’n paradysaarde wil lewe waar daar geen droefheid, sugte, pyn of dood sal wees nie.—Openbaring 21:3, 4.

Hierdie goddelose wêreld se tyd word vinnig minder, en dit is uiters noodsaaklik dat almal wat die einde van hierdie wêreld wil oorleef, moet leer wat dit behels om ‘die evangelie te gehoorsaam’ en sodoende aan vernietiging te ontkom. Wanneer Jehovah se Getuies jou weer tuis besoek, kan jy gerus die uitnodiging vir ’n weeklikse Bybelstudie aanvaar. Dit is selfs beter om hulle te vra om die Bybel met jou te studeer omdat jy dit wil verstaan.

[Venster op bladsy 8]

BRON VAN BYBELBEGRIP

JESUS het ons die versekering gegee dat hy ná sy dood en opstanding ’n “getroue en verstandige dienskneg” sou verwek wat as sy kommunikasiekanaal sou dien (Mattheüs 24:45-47). Die apostel Paulus het aan die Efesiese Christene getoon wie hierdie kanaal is toe hy geskryf het dat “deur die gemeente . . . die menigvuldige wysheid van God bekend gemaak kan word, volgens die ewige voorneme wat Hy opgevat het in Christus Jesus, onse Here” (Efesiërs 3:10, 11). Dit was die gemeente van gesalfde Christene, wat op Pinkster 33 G.J. ontstaan het, aan wie die “geopenbaarde dinge” toevertrou is (Deuteronomium 29:29). Die gesalfde Christene as ’n groep dien as die getroue en verstandige dienskneg (Lukas 12:42-44). God het hulle die toewysing gegee om geestelike begrip van die “geopenbaarde dinge” te voorsien.

Net soos Bybelprofesieë op die Messias gewys het, rig dit ons ook na die hegte liggaam van gesalfde Christengetuies wat nou as die getroue en verstandige dienskneg dien.a Hulle help ons om die Woord van God te verstaan. Almal wat die Bybel wil verstaan, moet besef dat die “menigvuldige wysheid van God” net deur Jehovah se kommunikasiekanaal, die getroue en verstandige dienskneg, bekend kan word.—Johannes 6:68.

[Voetnote]

a Sien Die Wagtoring, 15 Mei 1981, bladsye 24-30.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel