STUDIE 3
Regte uitspraak
NIE alle Christene het baie jare van sekulêre opleiding gehad nie. Selfs die apostel Petrus en Johannes is as “ongeleerde en gewone mense” beskryf (Hand. 4:13). Dit is nietemin belangrik dat jy nie afbreuk doen aan jou aanbieding van Bybelwaarheid deur woorde verkeerd uit te spreek nie.
Faktore om in gedagte te hou. Daar is nie een stel uitspraakreëls vir alle tale nie. Baie tale word met alfabetiese letters geskryf. Buiten die Latynse alfabet is daar ook alfabette soos Arabies, Cyrillies, Grieks en Hebreeus. Geskrewe Chinees gebruik nie ’n alfabet nie, maar karakters wat uit ’n aantal elemente saamgestel kan word. Hierdie karakters stel gewoonlik ’n woord of ’n deel van ’n woord voor. Hoewel Japannees en Koreaans karakters uit Chinees oorgeneem het, word die karakters soms gebruik om heeltemal ander klanke voor te stel en beteken dit dalk iets anders.
In tale wat ’n alfabet gebruik, moet ’n mens die regte klank vir elke letter of kombinasie van letters gebruik om woorde reg te kan uitspreek. Wanneer so ’n taal vaste reëls volg, soos in die geval van Grieks, Spaans en Zulu, is regte uitspraak nie so moeilik nie. Maar as woorde uit ’n ander taal oorgeneem word, het die oorsprong van die woorde soms ’n invloed op die uitspraak daarvan. Gevolglik word ’n spesifieke letter of lettergreep moontlik op meer as een manier uitgespreek of soms glad nie uitgespreek nie. Jy sal dalk die uitsonderings moet memoriseer, en dit dan dikwels moet gebruik. In Chinees moet ’n mens duisende karakters memoriseer om woorde reg te kan uitspreek. In sommige tale verander die betekenis van ’n woord wanneer die toon verander. As ’n mens nie aan hierdie aspek van ’n taal aandag skenk nie, kan dit veroorsaak dat jy verkeerde gedagtes oordra.
As die woorde van ’n taal uit lettergrepe bestaan, is dit belangrik om die hoofklem op die regte lettergreep te laat val. Baie tale wat van hierdie stelsel gebruik maak, het ’n redelik eenvormige beklemtoningspatroon. Wanneer daar uitsonderings op hierdie patroon is, word aksenttekens soms in die geskrewe woord gebruik. Hierdie tekens help dan om woorde redelik maklik reg uit te spreek. Maar as daar nie ’n vaste patroon is nie, is die probleem ingewikkelder. Dit verg heelwat memorisering om die probleem suksesvol te oorkom.
In party tale is dit belangrik om skryftekens in ag te neem. Dit sluit tekens in wat bo en onder sekere letters van die alfabet verskyn, soos: è, é, ô, ñ, ō, ŭ, č, ö, ç. Die skryftekens kan in die teks verskyn of daar kan van die leser verwag word om hulle in te voeg op grond van die konteks waarin die woord gebruik word. In die laasgenoemde geval sal jy waarskynlik goed moet voorberei wanneer jy gevra word om in die openbaar te lees.
Daar is ’n paar slaggate in verband met uitspraak wat jy moet vermy. As jy woorde te presies uitspreek, kan jy aanstellerig, selfs snobisties, klink. Dieselfde kan van verouderde uitspraak gesê word. Dit sal net die aandag op die spreker vestig. Aan die ander kant is dit goed om die ander uiterste te vermy, naamlik slordige spraak en uitspraak. Sommige van hierdie punte is reeds bespreek onder “Woorde duidelik uitgespreek”.
Die aanvaarbare uitspraak van die woorde van ’n taal kan van land tot land verskil, selfs in verskillende dele van dieselfde land. Iemand van ’n ander land praat die plaaslike taal dalk met ’n unieke aksent. Woordeboeke gee soms meer as een aanvaarbare uitspraak van ’n woord. Veral as iemand baie min skoolopleiding gehad het of as die taal wat hy nou praat nie sy moedertaal is nie, sal dit hom baie help as hy aandagtig luister na mense wat die plaaslike taal goed praat en dan hulle uitspraak naboots. As Jehovah se Getuies wil ons op ’n manier praat wat waardigheid verleen aan die boodskap wat ons verkondig en maklik deur die mense in ons omgewing verstaan sal word.
In jou daaglikse gesprekke is dit gewoonlik beter om woorde te gebruik wat jy goed ken. Uitspraak sal oor die algemeen nie ’n probleem in alledaagse gesprekke wees nie. Maar wanneer jy hardop lees, sal jy soms woorde teëkom wat jy nie elke dag gebruik nie. En as Jehovah se Getuies moet ons dikwels hardop lees. Ons lees die Bybel vir mense wanneer ons vir hulle getuig. Party broers word gevra om die paragrawe tydens die Wagtoring-studie of by die Gemeentelike Boekstudie te lees. Dit is belangrik dat ons akkuraat lees en dat ons nie afbreuk doen aan die boodskap deur woorde verkeerd uit te spreek nie.
Vind jy dat dit moeilik is om party eiename in die Bybel uit te spreek? In Afrikaans volg ’n aksentteken die lettergreep waarop die hoofklem moet val. As die beklemtoonde lettergreep op ’n klinker eindig, word die klinker as ’n lang klinker uitgespreek. As ’n lettergreep op ’n medeklinker eindig, word die klinker in daardie lettergreep as ’n kort klinker uitgespreek. Wanneer ’n naam ’n klinker met ’n deelteken bevat, val die klem natuurlikerwys ná die klinker met die deelteken en word dit dus nie aangedui nie, soos in Aäron of Raäma. Maar as die klem vroeër val, word ’n aksentteken wel gebruik, soos in Maʹädai of Maʹäga.
Maniere om te verbeter. Baie wat ’n probleem met uitspraak het, is nie bewus daarvan nie. As jou skoolopsiener jou oor jou uitspraak raad gee, moet jy sy liefdevolle raad waardeer. Hoe kan jy verbeter wanneer jy van die probleem bewus word?
Eerstens, wanneer jy ’n leestoewysing het, moet jy tyd neem om ’n woordeboek te raadpleeg. Slaan die woorde na wat jy nie ken nie. As jy nie weet hoe om ’n woordeboek te gebruik nie, kan jy na die inleidende bladsye blaai vir ’n verduideliking van die simbole wat gebruik word, of as dit nodig is, kan jy iemand vra om dit aan jou te verduidelik. Die woordeboek sal aandui waar die hoofklem moet val in ’n woord wat uit meer as een lettergreep bestaan en waar die sekondêre klem in ’n langer woord moet val. Dit sal aandui watter klanke vir die klinkers en die medeklinkers in ’n gegewe woord gebruik moet word. In sommige gevalle kan ’n woord op meer as een manier uitgespreek word, na gelang van die konteks waarin dit gebruik word. Sê die woord wat jy naslaan verskeie kere hardop voordat jy die woordeboek toemaak.
’n Tweede manier waarop uitspraak verbeter kan word, is deur vir iemand anders te lees—iemand wat woorde reg uitspreek—en hom te vra om jou te help.
’n Derde manier om jou uitspraak te verbeter, is om aandagtig na goeie sprekers te luister. As oudiokassette van die Genootskap se publikasies beskikbaar is, moet jy goed gebruik maak daarvan. Terwyl jy luister, moet jy noukeurig let op woorde wat die leser anders uitspreek as jy. Skryf dit neer, en oefen dan daardie woorde. Mettertyd sal jy nie meer woorde verkeerd uitspreek nie, en dit sal jou ’n baie beter spreker maak.