STUDIE 14
Natuurlikheid
AS JY jou op ’n natuurlike wyse uitdruk, sal dit jou help om ander se vertroue te wen. Sou jy jou vertroue stel in iets wat iemand vir jou sê, as hy ’n masker dra? Sou dit ’n verskil maak as die gesig op die masker aantrekliker is as sy eie gesig? Waarskynlik nie. Moet dus nie ’n masker gebruik nie, wees eerder jouself.
Natuurlikheid moet egter nie met traak-my-nie-agtigheid verwar word nie. Swak taalgebruik, verkeerde uitspraak en ’n binnensmondse manier van praat, is nie gepas nie. Sleng moet ook vermy word. Ons wil altyd gepaste waardigheid in ons spraak sowel as in ons houding weerspieël. Iemand wat op so ’n natuurlike wyse praat, is nie te formeel of uitermate besorg oor die indruk wat hy skep nie.
In die veldbediening. Voel jy senuweeagtig wanneer jy ’n huis of iemand in ’n openbare plek nader om ’n getuienis te gee? Die meeste van ons voel so, maar party voel meer senuweeagtig as ander. Spanning veroorsaak dalk dat jou stem ietwat gespanne of bewerig klink, of jy maak dalk onnatuurlike bewegings met jou hande of kop omdat jy senuweeagtig is.
Daar kan verskeie redes wees waarom ’n verkondiger hierdie probleem ondervind. Miskien dink hy aan die indruk wat hy sal maak of wonder hy of sy aanbieding suksesvol sal wees. Dit is nie ongewoon nie, maar probleme ontstaan wanneer ’n mens te veel aandag hieraan skenk. Wat kan jou help as jy senuweeagtig word voordat jy aan die bediening deelneem? Deeglike voorbereiding en ernstige gebed tot Jehovah (Hand. 4:29). Dink aan die groot barmhartigheid wat Jehovah toon deur mense te nooi om volmaakte gesondheid en ewige lewe in die Paradys te geniet. Dink aan die mense wat jy probeer help en hoe belangrik dit is dat hulle die goeie nuus hoor.
Onthou ook dat mense wilsvryheid het en gevolglik die boodskap kan aanneem of verwerp. Dit was ook die geval toe Jesus in eertydse Israel getuig het. Jou opdrag is eenvoudig om die predikingswerk te doen (Matt. 24:14). Selfs wanneer mense jou nie die geleentheid gee om te praat nie, sal jou blote teenwoordigheid ’n getuienis gee. Jy sal suksesvol wees omdat jy toegelaat het dat Jehovah jou gebruik om sy wil te doen. Watter indruk sal jy skep wanneer jy wel die geleentheid kry om te praat? As jy leer om aan die behoeftes van ander te dink, sal jou woorde aangenaam en natuurlik wees.
As jy op jou gewone manier optree en praat wanneer jy ’n getuienis gee, sal dit dié wat na jou luister, op hulle gemak stel. Moontlik sal hulle selfs ontvankliker wees vir die skriftuurlike gedagtes wat jy met hulle wil bespreek. Moenie met hulle praat asof jy ’n toespraak hou nie, maar gesels met hulle. Wees vriendelik. Toon belangstelling in hulle en verwelkom hulle kommentare. Waar die taal of plaaslike kultuur vereis dat jy sekere gedragsreëls volg om respek te toon wanneer jy met vreemdelinge praat, moet jy dit natuurlik nakom. Maar jy kan altyd vriendelik glimlag.
Op die verhoog. Wanneer jy met ’n groep praat, is dit gewoonlik die beste om dit op ’n natuurlike geselstrant te doen. Wanneer die gehoor groot is, moet jy natuurlik jou stem meer projekteer. As jy jou toespraak probeer memoriseer of as jou aantekeninge te volledig is, is jy waarskynlik te besorg oor die presiese bewoording. Dit is belangrik om die regte woorde te gebruik, maar wanneer ’n mens te veel aandag daaraan skenk, word jou aanbieding styf en formeel. Natuurlikheid word dan ingeboet. Jy moet jou gedagtes vooraf goed deurdink, maar jy moet op die gedagtes konsentreer, nie op die presiese bewoording nie.
Dit geld ook wanneer ’n onderhoud by ’n vergadering met jou gevoer word. Berei goed voor, maar moenie jou antwoorde lees of memoriseer nie. Druk jouself met natuurlike modulasie uit sodat jou kommentare aangenaam en spontaan is.
Selfs positiewe spraakhoedanighede wat oordryf word, kan vir ’n gehoor onnatuurlik klink. Jy moet byvoorbeeld duidelik praat en woorde reg uitspreek, maar nie tot so ’n mate dat jy styf of onnatuurlik klink nie. Nadruks- of beskrywingsgebare kan lewe aan jou toespraak gee wanneer dit goed gebruik word, maar gebare wat styf of oordadig is, sal afbreuk doen aan wat jy sê. Praat hard genoeg, maar probeer om nie te hard te praat nie. Dit is goed om soms geesdriftig te wees, maar moenie bombasties wees nie. Modulasie, geesdrif en gevoel moet alles op so ’n manier gebruik word dat dit nie die aandag op jou vestig of jou gehoor ongemaklik laat voel nie.
Party mense se taalgebruik is van nature suiwer, selfs wanneer hulle nie ’n toespraak hou nie. Ander se manier van praat, is informeler. Wat belangrik is, is dat jy elke dag versorgde taal gebruik en jou met Christelike waardigheid gedra. Wanneer jy op die verhoog is, sal jy dit dan makliker vind om op ’n manier te praat en op te tree wat innemend en natuurlik is.
Wanneer jy openbare voorlesing doen. Natuurlikheid in openbare voorlesing verg inspanning. Om dit te kan doen, moet jy die hoofgedagtes identifiseer in die materiaal wat jy gaan lees en oplet hoe dit ontwikkel word. Hou dit goed in gedagte; anders gaan jy net woorde lees. Maak seker van die uitspraak van onbekende woorde. Oefen om hardop te lees, sodat jou stembuiging reg is en jy die woorde op ’n manier groepeer wat gedagtes duidelik oordra. Doen dit oor en oor totdat jy dit vlot lees. Raak goed genoeg vertroud met die materiaal sodat dit klink asof jy ’n lewendige gesprek voer wanneer jy hardop lees. Dit is wat dit beteken om natuurlik te wees.
Die meeste van ons openbare voorlesing is natuurlik uit ons Bybelpublikasies. Behalwe leestoewysings in die Teokratiese Bedieningskool, lees ons ook tekste in die veldbediening en wanneer ons toesprake van die verhoog af hou. Broers moet die materiaal lees wat by die Wagtoring-studie en by die Gemeentelike Boekstudie bespreek word. Party bekwame broers word toegewys om manuskripte voor gehore by byeenkomste te lees. Hetsy jy die Bybel of ander materiaal lees, lees die gedeeltes wat aanhalings bevat op so ’n manier dat dit die materiaal laat lewe. As ’n aantal karakters aangehaal word, moet jy jou stem effens aanpas vir elkeen. ’n Woordjie van waarskuwing: Moenie te dramaties wees nie, maar gee op ’n natuurlike wyse lewe aan jou voorlesing.
Voorlesing wat natuurlik is, word op ’n geselstrant gedoen. Dit klink nie onnatuurlik nie, maar is oortuigend.