Waardering vir Koninkryksaalbouwerk
1 Dit was baie hartverblydend om te sien hoe die bou van Koninkryksale die afgelope jaar geesdriftig ondersteun is. Baie dankie aan die 25 Streekboukomitees en die duisende vrywilligers wat onvermoeid aan hierdie projekte gewerk het. Dankie ook aan dié gemeentes wat kleiner gemeentes liefdevol gehelp het met hulle sale deur middel van geldelike hulp of deur van hulleself te gee.
2 Nog 17 gemeentes het hulle nuwe sale gedurende Julie en Augustus toegewy, naamlik: Moletjie, Makantane, Xihoko en Nzhelele (Limpopo-provinsie); Caguba (Port St. Johns); Corana (Umtata); Mathibestat (noord van Pretoria); Bakerville (Lichtenburg); Montshiwa-Wes en Lonely Park (Mafikeng); Tseoge en Morokweng (noord van Vryburg); Kagung (Kuruman); Machache, Quthing en Makaung (Lesotho); asook Ladybrand (Vrystaat).
3 Ons wag nog vir die finale verslag oor hoeveel sale altesaam gedurende die 2002-diensjaar toegewy is. Tot dusver toon ons syfers dat julle pogings 53 gemeentes met 2 878 verkondigers gehelp het om pragtige plekke van aanbidding te begin gebruik. Honderde belangstellendes vind natuurlik ook baat by hierdie vergaderplekke. Dit is wonderlik om te sien hoe Jehovah se gees al die vrywilligers gehelp het om hierdie groot vrywillige werk te verrig. Ons almal is verheug oor die vooruitgang wat gemaak word en weet dat die hemele ook verheug is oor hierdie Koninkryksuitbreiding.
4 Wat kan jy gedurende die 2003-diensjaar doen om met die bou van Koninkryksale te help? Kan iemand in julle gesin, of miskien die hele gesin, die Streekboukomitee in julle omgewing ondersteun? As jy dit nog nie gedoen het nie, kan jy gerus julle gemeente se sekretaris vra vir ’n Kingdom Hall Construction Worker Questionnaire-vorm (S-82), dit in duplikaat invul en dit dan aan die ouer manne teruggee. Ons wil almal wat by die bou van Koninkryksale betrokke is, aanspoor om die momentum te behou, en ons bedank almal weer eens vir hulle liefdevolle opoffering in hierdie verband. As dit Jehovah se wil is, sien ons uit na nog ’n uitstekende jaar waarin ons sale kan bou wat baie nodig is.