Gelukkige jongmense in Jehovah se diens
“Selfs ’n jongmens word geken aan wat hy doen, uit sy optrede blyk of hy eerlik en opreg is.”—SPREUKE 20:11, “NAV”.
1. Wat is party van die besondere dinge wat die Bybel van Samuel sê?
JONG Samuel was moontlik maar tussen drie en vyf jaar oud toe hy begin het om by Jehovah se tabernakel in Silo te ‘dien’. Een van sy pligte was om “die deure van die huis van die HERE” oop te maak. Die Bybel sê: “Samuel het toegeneem in grootte en in guns by die HERE sowel as by die mense.” Toe hy grootgeword het, het hy Israel na ware aanbidding teruggebring. Hy het God “al die dae van sy lewe” gedien. Selfs toe hy “oud en grys” was, het hy die volk steeds aangespoor om ‘die HERE te vrees en Hom getrou te dien’. Sou dit nie wonderlik wees as mense die pragtige dinge wat die Bybel van Samuel sê van jou kon sê nie?—1 Samuel 1:24; 2:18, 26; 3:15; 7:2-4, 15; 12:2, 24.
2. Wat leer kindertjies vandag in die vergaderinge van Jehovah se volk?
2 As jy een van Jehovah se Getuies is of as jy hulle Christenvergaderinge bywoon, kyk rond in die Koninkryksaal waar hierdie les bespreek word. Jy sien mense van alle ouderdomme. Daar is waarskynlik mense wat reeds “oud en grys” is. Daar is ook ouers, jongmense, kindertjies en selfs babas. Is selfs die jongstes besig om te leer? Ja. Vra maar net dié wat na sulke vergaderinge gebring is toe hulle nog klein was. Hulle sal eerlik vir jou sê dat hulle van kleins af geleer het om God te respekteer, sy volk lief te hê en die plekke waar hy aanbid word te waardeer. Mettertyd leer kleintjies wonderlike waarhede. Nadat hulle kennis en waardering toegeneem het, word talle jongmense deel van die ‘jongelinge en maagde, ou manne en seuns’ wat deur die psalmis aangespoor is om “die naam van Jehovah [te] loof, want sy naam alleen is onbereikbaar hoog”.—Psalm 148:12, 13, NW.
3. Waarom beskou jongmense wat die Bybel ken die lewe anders as dié wat dit nie ken nie?
3 As jy ’n jongmens is wat gereeld deur jou ouers na sulke vergaderinge gebring word, is jy werklik geseënd. Baie ander jongmense word gekwel deur die wêreld se probleme. Party is bang dat die mens die aarde sal vernietig. Jy weet dat God dit nie sal laat gebeur nie, dat hy nie sal toelaat dat mense hierdie pragtige planeet bly verderf nie. Pleks van dit te laat gebeur, sal God eerder, volgens die Bybel, “die verderwers van die aarde . . . verderf”. Jy weet die Bybel beloof dat ’n blink toekoms in God se regverdige nuwe wêreld ophande is.—Openbaring 11:18; Psalm 37:29; 2 Petrus 3:13.
Jou eie geloof
4. Watter verantwoordelikheid plaas kennis van God se weë op jongmense, en hoe was jong Samuel ’n goeie voorbeeld hiervan?
4 Dit was moontlik net jou ouers wat aanvanklik die weg van Christenwaarheid bewandel het. Jy het hulle moontlik na Christenvergaderinge vergesel omdat hulle jou saamgeneem het, en jy het dalk aan goddelike diens deelgeneem omdat hulle dit gedoen het. Maar dit kan jóú mettertyd vreugde verskaf om Jehovah te dien en te gehoorsaam. Jong Samuel se moeder het hom op die regte weg begin, maar hy moes dit self volg. Ons lees: “Selfs ’n jongmens word geken aan wat hy doen, uit sy optrede blyk of hy eerlik en opreg is.”—Spreuke 20:11, NAV.
5. (a) Van watter groot waarde is die Bybel? (b) Wat het Paulus vir Timotheüs oor die belangrikheid van God se geskrewe Woord gesê?
5 Die Skrif vertel ons wat God van ons wil hê. Dit toon duidelik hoe ons hom kan behaag, en voorsien baie inligting wat ons tot groot voordeel kan strek. Die apostel Paulus het vir sy jong helper Timotheüs gesê: “Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid, sodat die mens van God volkome kan wees, vir elke goeie werk volkome toegerus.”—2 Timotheüs 3:16, 17.
6. Wat sê die boek Spreuke oor die belangrikheid van kennis en goddelike wysheid?
6 Die Bybel sê ook vir ons om ‘na tug te luister en wys te word’. Dit sê dat ons God se gebooie moet “bewaar”, ‘na die insig moet roep’ en moet aanhou “soek” na verstand soos na verborge skatte. As jy hierdie raad toepas, sal “jy die vrees van die HERE verstaan en die kennis van God vind”. Ons vind ook hierdie raad: “Luister dan nou na my, seuns; want gelukkig is hulle wat my weë bewaar. Luister na tug en word wys, en verwerp dit nie. Gelukkig is die mens wat na my luister . . . Want hy wat my vind, het die lewe gevind en verkry ’n welbehae van die HERE.” Beskou jy die Bybel as só waardevol en wend jy só ’n daadwerklike poging aan om van die dinge te leer wat dit sê?—Spreuke 2:1-5; 8:32-35.
Doen kennis op
7. Wat is die belangrikste dinge wat ons moet leer?
7 Party jongmense ken al die sporttellings, of hulle kan jou alles vertel van hulle geliefkoosde musiekgroep. Hulle vind dit maklik om sulke dinge te leer en te onthou omdat hulle daarin belangstel. Maar die belangrikste vraag is: Wat weet hulle van God? Dink net aan wat hy gedoen het. God het die heelal gemaak. Hy het lank voor die tyd voorspel wat mense sou doen en wat sou gebeur. Die Bybel vertel ons nie net van God nie, maar dit leer ons hoe ons hom kan behaag. Dit vertel ons hoe ons nou ’n gelukkige lewe kan hê en hoe ons die ewige lewe in sy regverdige nuwe wêreld kan verkry. Is dit nie baie belangriker as om te weet wie ’n voetbalwedstryd gewen het of om die name van musikante te ken wat mense gou sal vergeet nie?—Jesaja 42:5, 9; 46:9, 10; Amos 3:7.
8. Watter goeie voorbeeld het Josia en Jesus gestel?
8 Jong koning Josia het, toe hy 15 jaar oud was, “begin om die God van sy vader Dawid te soek”. Toe Jesus 12 was, het hulle hom in Jehovah se tempel gevind waar hy “in die midde van die leraars sit en na hulle luister en hulle uitvra”.a Het jy, soos Josia en Jesus, ongeag jou ouderdom, ’n werklike belangstelling aangekweek om te leer van die dinge wat God gedoen het en nog gaan doen?—2 Kronieke 34:3; Lukas 2:46.
9. (a) Watter probleem het baie jongmense? (b) Wat kan lees en studeer makliker maak, en hoe het jy persoonlik gevind dat dit waar is?
9 Maar jy sê dalk: ‘Studeer is harde werk.’ Baie mense, jonk en oud, het nog nooit genoeg gelees dat dit vir hulle maklik is nie. Hoe meer jy lees, hoe makliker word dit. Hoe meer jy studeer, hoe makliker word dit om te leer. Jy voeg nuwe idees by dinge wat jy reeds weet en dit maak dit makliker om dit te verstaan en te onthou.
10. (a) Hoe kan jy meer uit Christenvergaderinge kry? (b) Wat is jou ondervinding in hierdie verband?
10 Wat kan jou help om meer van God te leer? Miskien moet jy Christenvergaderinge meer gereeld bywoon. Kan jy voor die tyd voorberei en werklik deelneem? Sal jy byvoorbeeld ’n dieper kennis uit hierdie les kry deur die tekste na te slaan wat aangegee is maar nie aangehaal word nie? Het jy ’n woord of twee in die kantlyn geskryf om jou te herinner aan wat elkeen van hierdie tekste by die paragraaf of die les voeg? Het jy die gewoonte om ten minste een van hierdie tekste in ’n antwoord in te sluit wat jou waardering vir die skriftuurlike bespreking toon? ’n Gemeentelike ouere man wat al jare lank vergaderinge gereeld bywoon, sê: “Ek vind dit moeilik om my gedagtes te bepaal by enige les wat ek nie werklik voorberei het nie, maar dit is ’n plesier om een te volg wat ek goed voorberei het.”
11. Hoe kan jy meer uit Bybeltoesprake kry, en waarom is dit so belangrik?
11 Maak jy, wanneer jy na Bybeltoesprake luister, kort aantekeninge om jou te help ontleed hoe die toespraak ontwikkel word en om jou gedagtes te hou by wat gesê word? Vergelyk jy wat jy hoor met wat jy reeds weet sodat jy dit makliker kan verstaan en beter kan onthou? Jesus het gebid: “Dit is die ewige lewe, dat hulle U ken, die enige waaragtige God, en Jesus Christus wat U gestuur het” (Johannes 17:3). Is kennis wat tot die lewe lei nie die allerbeste kennis wat jy kan hê nie? Kyk wat sê die Bybel hieroor: “Die HERE gee wysheid, uit sy mond kom kennis en verstand. Wysheid sal in jou hart kom, en kennis vir jou siel lieflik wees; oorleg sal oor jou wag hou, verstand sal jou bewaak.”—Spreuke 2:6, 10, 11.
Bou waardering op
12. Wat is van die besondere dinge wat God vir ons gedoen het?
12 Waardeer ons werklik wat God vir ons gedoen het? Hy het ’n pragtige aarde geskep en dit vir lewe voorberei. Hy het ons eerste ouers geskep, en sodoende ons geboorte moontlik gemaak. Hy het gereël dat ons die ondersteuning van gesinne en ’n liefdevolle gemeente kan hê (Genesis 1:27, 28; Johannes 13:35; Hebreërs 10:25). Hy het sy eersgebore Seun aarde toe gestuur om ons meer oor Hom te leer en om die losprys te voorsien wat die ewige lewe moontlik maak. Waardeer jy werklik sulke wonderlike gawes? Beweeg dit jou om sy uitnodiging te aanvaar om van hom te leer en hom te dien?—Mattheüs 20:28; Johannes 1:18; Romeine 5:21.
13. Waarom dink jy dat God in individue belangstel?
13 Die Skepper van die heelal stel belang in mense. Hy het Abraham “my vriend” genoem en het vir Moses gesê: “Ek ken jou by die naam” (Jesaja 41:8; Exodus 33:12). Die boek Openbaring toon dat God ’n simboliese “boek van die lewe” het wat die name van sy getroue knegte “van die grondlegging van die wêreld” bevat. Sal jou naam daarin verskyn?—Openbaring 3:5; 17:8; 2 Timotheüs 2:19.
14. Hoe kan jou lewe verbeter as jy God se beginsels volg?
14 God se beginsels werk. As dinge op sy manier gedoen word, word baie probleme—onsedelikheid, dwelmverslawing, alkoholisme, ongewenste swangerskappe, geslagsiektes, geweld, moord en ’n lang lys ander probleme—uitgeskakel. As jy sy weë volg, sal dit jou ook help om ware vriende te vind en ’n gelukkiger lewe te lei. Is dit nie die moeite werd nie? (1 Korinthiërs 6:9-11). Selfs ’n jongmens wat reeds vasbeslote is om dinge op God se manier te doen, kan meer krag kry om te doen wat reg is. Die Bybel sê: “Teenoor iemand wat lojaal is, sal [Jehovah] lojaal handel.” Dit verseker ons ook dat hy “sy gunsgenote nie [sal] verlaat” en “sy volk nie [sal] verwerp” nie.—Psalm 18:25, NW; 37:28; 94:14; Jesaja 40:29-31.
Maak vooruitgang in God se diens
15. Watter godvrugtige raad het Salomo aan jongmense gegee?
15 Is jou doelwitte op ’n sterwende ou wêreld gerig of op die regverdige nuwe wêreld? Luister jy na God, of luister jy na wêreldwyse mense wat hom weerspreek? Is ontspanning, hoër onderwys of ’n tydrowende sekulêre loopbaan vir jou belangriker as God en diens aan hom? Wyse koning Salomo het die hele boek Prediker geskryf om te toon wat eerste in ons lewe moet kom. Sy slotsom was: “Dink aan jou Skepper in die dae van jou jonkheid voordat die ongelukkige dae kom en die jare aanbreek waarvan jy sal sê: Ek het daar geen behae in nie. Die hoofsaak van alles wat gehoor is, is: Vrees God en hou sy gebooie; want dit geld vir alle mense.”—Prediker 12:1, 13.
16. Hoe kan jongmense verdere voorregte nastreef?
16 Al die ouer Christenbroers wat jy ken—die ouere manne, die pioniers en jou kring- en streekopsiener—was vroeër kinders. Waarom ervaar hulle die seëninge wat hulle vandag geniet? Hulle het God liefgehad en wou hom dien. Baie van hulle het, toe hulle jonk was, die geleentheid gebruik om meer tyd daaraan te bestee om kennis en ondervinding op te doen. Hulle het gestudeer en aan vergaderinge deelgeneem. Hulle het aan die onderrigtingswerk deelgeneem, en hulle het verdere voorregte—pionierdiens, Betheldiens of ander lonende aktiwiteite—nagestreef. Hulle was nie ‘superjongmense’ nie; hulle het, net soos jy, normale belangstellings en bekommernisse gehad. Maar hulle het hulle toegelê in ooreenstemming met die raad: “Wat julle ook al doen, doen dit van harte soos vir die Here en nie vir mense nie.”—Kolossense 3:23; vergelyk Lukas 10:27; 2 Timotheüs 2:15.
17. Wat kan jongmense help om vooruit te gaan in God se diens?
17 Wat van jou? Waardeer jy werklik goddelike dinge? Kies jy vriende uit diegene wat geestelike dinge eerste stel? Spoor jy ander aan om saam met jou aan die Christenbediening deel te neem? Gaan jy saam met ouer, meer ervare persone in die Christelike diens uit om by hulle te leer, hulle vreugde te smaak en deur hulle goeie werke aangemoedig te word? Een Getuie onthou die dag, bykans 20 jaar gelede, toe ’n ouer persoon haar die eerste keer in die velddiens saamgenooi het. Sy sê dit was ’n keerpunt in haar lewe: “Ek het vir die eerste keer gegaan omdat ek wou gaan, nie net omdat my ouers my saamgeneem het nie.”
18. Aan watter dinge moet ’n mens dink voor jy jou vir doop aanbied?
18 As jy vooruitgang maak om dinge op God se manier te doen, sal jy binnekort daaraan begin dink om jou te laat doop. Dit is belangrik om te onthou dat doop nie van jou ’n jong volwassene maak nie. Dit is nie ’n bewys dat jy grootword nie, en dit is ook nie ’n stap wat jy moet doen omdat jou vriende dit gedoen het nie. Voor jy vra om gedoop te word, moet jy ’n basiese kennis van die waarheid hê en in ooreenstemming met God se Woord leef. Jy moet ’n mate van ondervinding hê om daardie kennis aan ander oor te dra en moet besef dat dit ’n belangrike deel van ware aanbidding is (Mattheüs 24:14; 28:19). Jy moet ook weet dat nadat jy hierdie belangrike Christelike stap gedoen het daar van jou verwag sal word om in ooreenstemming met die Bybel se regverdige morele beginsels te lewe.b Jy moes jou lewe in jou hart aan jou liefdevolle hemelse Vader toegewy het.—Vergelyk Psalm 40:8, 9.
19. Wanneer moet ’n mens gedoop word?
19 Doop is ’n stap wat jy doen wanneer jy vas besluit het dat jy, ongeag wat in die res van jou lewe gebeur, God gaan dien. Dit is ’n sigbare teken dat jy deur Jesus Christus ’n algehele, onvoorwaardelike toewyding aan Jehovah gemaak het om God se wil te doen. Een Christen- ouere man onthou die dag, amper ’n halfeeu gelede, toe hy besef het: “Ek moet iets daaromtrent doen!” Michelle, ’n jong Getuie wat ’n paar jaar gelede in Newcastle, Engeland, gedoop is, het gesê: “Toe ek 13 was, het ek besef dat ek my lewe moet toewy en gedoop moet word; ek wou niks eerder doen as om God te dien nie.”
20. (a) Watter puik voorbeeld is reeds deur tienduisende jongmense gestel? (b) Hoe moet hierdie stap beskou word?
20 Tienduisende jongmense is onlangs gedoop. Hulle het God se Woord bestudeer en sy weë geleer, en hulle toe, deur middel van waterdoop, by talle ouer persone gevoeg en hulle toewyding aan God in die openbaar gesimboliseer. Hulle weet dat doop nie die einde is van die waarlik toegewyde lewenswyse wat hulle vasbeslote is om vir ewig in Jehovah se diens te volg nie, maar dat dit net die begin is.
[Voetnote]
a Sien die artikel “Jong knegte in Bybelse tye” op bladsy 4.
b Dit beteken nie dat ‘Ek is nog nie gedoop nie’ ’n verskoning vir oortreding is nie. Sodra ons weet wat God vereis, het ons natuurlik die verantwoordelikheid om hom te gehoorsaam.—Jakobus 4:17.
Hoe sou jy antwoord?
◻ Waarom is kennis van God se Woord so belangrik?
◻ Hoe kan jy meer uit Christenvergaderinge kry?
◻ Watter seëninge van God behoort ons te beweeg om hom te gehoorsaam?
◻ Hoe kan jy vooruitgang maak in God se diens?
◻ Wanneer moet ’n mens gedoop word?