STUDIE 1
Akkurate voorlesing
DIE Skrif sê dit is God se wil dat alle soorte mense “tot juiste kennis van die waarheid moet kom” (1 Tim. 2:4). In ooreenstemming hiermee moet ons begeerte om juiste kennis oor te dra ’n uitwerking hê op hoe ons lees wanneer ons hardop uit die Bybel lees.
Die vermoë om hardop uit die Bybel en uit Bybelpublikasies te lees, is vir oud en jonk belangrik. As Getuies van Jehovah het ons ’n verantwoordelikheid om kennis van Jehovah en sy weë aan ander oor te dra. Dit behels dikwels dat ons vir een persoon of vir ’n klein groepie moet voorlees. Ons lees ook saam as ’n gesin. In die Teokratiese Bedieningskool is daar gepaste geleenthede vir broers en susters, oud en jonk, om raad te ontvang met die doel om hulle voorlesing te verbeter.
Om die Bybel in die openbaar te lees, hetsy vir ’n paar mense of vir ’n gemeente, is iets wat ’n mens ernstig moet opneem. Die Bybel is deur God geïnspireer. Daarbenewens is ‘die woord van God lewend en oefen dit krag uit en kan dit gedagtes en bedoelings van die hart onderskei’ (Heb. 4:12). God se Woord bevat waardevolle kennis wat nêrens anders gevind kan word nie. Dit kan ’n persoon help om die enigste ware God te ken en ’n goeie verhouding met hom op te bou sowel as om die probleme van die lewe met welslae die hoof te bied. Dit verduidelik watter weg na die ewige lewe in God se nuwe wêreld lei. Ons doel moet wees om die Bybel na die beste van ons vermoë te lees.—Ps. 119:140; Jer. 26:2.
Hoe om akkuraat te lees. Daar is heelwat by betrokke om goed te kan lees, maar die eerste stap is om akkuraat te leer lees. Dit beteken dat jy presies moet probeer lees wat op die bladsy staan. Wees versigtig om nie woorde oor te slaan, af te kap of verkeerd te lees omdat hulle soos ander woorde lyk nie.
Jy sal die konteks moet verstaan om woorde reg te kan lees. Dit sal deeglike voorbereiding verg. Namate jy die vermoë ontwikkel om vooruit te kyk en rekening te hou met die opeenvolging van gedagtes, sal jou vermoë om akkuraat te lees, verbeter.
Lees- en skryftekens is belangrike elemente van die geskrewe taal. Leestekens kan aandui waar om te pouseer, hoe lank om te pouseer en waar stembuiging moontlik nodig is. As ’n mens nie in sommige tale jou stemtoon verander wanneer die leestekens dit vereis nie, kan ’n vraag soos ’n stelling klink of kan die betekenis van die sin heeltemal verander. Soms is die funksie van leestekens natuurlik hoofsaaklik grammatikaal. In baie tale is dit onmoontlik om akkuraat te lees sonder om noukeurig te let op skryftekens—dié wat in die teks verskyn sowel as dié wat uit die konteks afgelei kan word. Waar hierdie tekens saam met ’n letter gebruik word, beïnvloed dit die uitspraak daarvan. Sorg dat jy vertroud raak met die manier waarop lees- en skryftekens in jou taal gebruik word. Dit is ’n sleutel tot betekenisvolle voorlesing. Onthou dat dit jou doel moet wees om gedagtes oor te dra, nie net om woorde te lees nie.
Oefening is nodig om akkuraat te leer lees. Lees net een paragraaf, en doen dit dan oor en oor totdat jy dit sonder enige foute kan lees. Gaan dan voort na die volgende paragraaf. Laastens moet jy ’n paar bladsye probeer lees sonder om enige woorde oor te slaan, te herhaal of verkeerd te lees. Nadat jy dit gedoen het, moet jy iemand vra om na jou te luister terwyl jy lees en enige foute uit te wys.
In sommige wêrelddele dra swak gesigsvermoë en onvoldoende beligting daartoe by dat mense swak lees. As daar iets hieraan gedoen kan word, sal mense beslis beter begin lees.
Mettertyd sal broers wat goed lees, dalk gevra word om die studiemateriaal by die Gemeentelike Boekstudie en die Wagtoring-studie te lees. Dit verg egter meer as om net die woorde reg te kan uitspreek as jy jou goed van jou taak wil kwyt. Om ’n goeie openbare leser in die gemeente te word, sal jy goeie persoonlike leesgewoontes moet aankweek. Dit beteken dat jy moet besef dat elke woord in ’n sin ’n rol speel. Jy kan nie party ignoreer en ’n duidelike beeld kry van wat gesê word nie. As jy woorde verkeerd lees, selfs wanneer jy vir jouself lees, sal jy nie die sin reg verstaan nie. ’n Mens lees dalk verkeerd omdat jy nie skryftekens of die konteks waarin woorde gebruik word, in ag neem nie. Lê jou daarop toe om te verstaan wat elke woord beteken in die konteks waarin dit voorkom. Let ook op hoe die leestekens die betekenis van die sin beïnvloed. Onthou dat gedagtes gewoonlik deur groepe woorde oorgedra word. Hou dit in gedagte wanneer jy hardop lees sodat jy woordgroepe—frases en sinsdele—en nie net woorde lees nie. ’n Duidelike begrip van wat jy lees, is noodsaaklik om juiste kennis deur openbare voorlesing aan ander oor te dra.
Dit was aan ’n ervare Christen- ouer man wat die apostel Paulus geskryf het: ‘Gaan voort om jou op openbare voorlesing toe te lê’ (1 Tim. 4:13). Dit is sonder twyfel ’n gebied waarop ons almal kan verbeter.