Skep behae in God se Woord
GELUKKIG is die man wie se ‘behae in die wet van Jehovah is’. So iemand lees God se Woord “dag en nag op gedempte toon” (Ps. 1:1, 2). Skep jy behae in God se Woord? Hoe kan jy groter vreugde daaruit put?
Luister terwyl Jehovah praat
Moenie net woorde lees nie. Visualiseer die situasies waarvan jy lees. Stel jou die stemme voor van diegene wat aangehaal word. Terwyl jy die eerste hoofstukke van die Bybel lees, moet jy kan hoor hoe Jehovah self stap vir stap openbaar wat gedoen word om die aarde vir die mens voor te berei. Luister terwyl hy vir sy Seun, die Meesterwerker, sê dat die tyd aangebreek het om die eerste mense te skep. Stel jou die toneel voor: Adam en Eva kom in opstand, God spreek oordeel oor hulle uit en verdryf hulle daarna uit die Paradys (Genesis, hfst. 1-3). Dit behoort jou met ontsag te vervul wanneer jy lees dat ’n stem uit die hemel Jesus Christus identifiseer as die Seun van God, die geliefde, die een wat deur God gestuur is om sy lewe vir die mensdom af te lê (Matt. 3:16, 17). Probeer jou die apostel Johannes se reaksie voorstel wanneer hy Jehovah hoor sê: “Kyk! Ek maak alles nuut” (Op. 21:5). ’n Mens sal inderdaad behae in God se Woord skep as jy dit so lees!
Hou aan om die geïnspireerde verslag te lees, en jy sal Jehovah as ’n majestueuse en ontsagwekkende persoon leer ken. Jy sal sterk aangetrokke voel tot hierdie Persoon wat ons liefhet, ons met barmhartigheid behandel, ons help as ons nederig aanhou om sy wil te probeer doen en ons leer hoe om suksesvol te wees in alles wat ons doen.—Jos. 1:8; Ps. 8:1; Jes. 41:10.
Hoe meer tyd jy daaraan bestee om die Bybel te lees, hoe groter sal jou bevrediging wees namate jy meer kennis van God se wil vir jou inneem. Maar die behae wat jy daarin sal skep, sal baie verder as dit strek. As dit wat jy lees, jou help om probleme op ’n verstandige wyse te hanteer, sal jy soos die psalmis voel wat gesê het: “U herinneringe is wonderbaar. Daarom het my siel hulle bewaar” (Ps. 119:129). Jy sal ook baie bly wees wanneer jy beginsels in die Skrif kan identifiseer wat help om jou denke en jou begeertes op ’n godvrugtige wyse te vorm.—Jes. 55:8, 9.
Die Bybel voorsien sedelike leiding wat ons teen kwaad beskerm en ons die regte weg wys. Terwyl ons dit lees, besef ons dat Jehovah ’n Vader is wat weet tot watter probleme dit sal lei as ons voor onvolmaakte vleeslike begeertes swig. Hy wil nie hê dat ons die verskriklike gevolge moet dra wat onvermydelik sal wees as ons sy hoë sedelike standaarde verontagsaam nie. Hy gee om vir ons en wil hê dat ons net die beste in die lewe moet geniet. Wanneer ons sy Woord lees, help dit ons om tot ’n groter mate te besef wat ’n seën dit is om hom as ons God en hemelse Vader te hê.
Lees die Bybel elke dag
Die psalmis het die volgende gesê oor die man wat God se Woord elke dag lees: “Alles wat hy doen, sal suksesvol wees” (Ps. 1:3). Ja, ondanks ons onvolmaakthede, ondanks die feit dat ons in Satan se goddelose stelsel van dinge lewe en ondanks die Duiwel se pogings om ons te verslind, sal ons in alles suksesvol wees met betrekking tot ons verhouding met Jehovah as ons God se Woord gereeld lees en toepas wat daarin staan.
Aangesien ons onder druk van hierdie ou stelsel is, kan dit ons krag gee as ons selfs net ’n paar kosbare oomblikke elke dag gebruik om die Skepper se gedagtes in te neem. Party wat weens hulle geloof in die gevangenis was, het slegs enkele verse gehad wat hulle in koerantartikels gevind het. Hulle het dit uitgesny, gememoriseer en daaroor gepeins. Jehovah het hulle pogings geseën omdat hulle alles in hulle vermoë gedoen het om kennis van God se Woord in te neem (Matt. 5:3). Maar die meeste van ons het baie meer vryheid as dit. Ons moenie dink dat dit op sigself wonders gaan verrig as ons vlugtig een keer per dag ’n Bybelvers lees nie. Ons sal egter geseën word as ons ons prioriteite aanpas sodat ons elke dag ’n deel van die Bybel kan lees, daaroor kan nadink en dit in ons lewe kan toepas.
Ons beste planne kan natuurlik ontwrig word. Wanneer dit gebeur, moet ons voorkeur gee aan die dinge wat werklik belangrik is. Ons sal byvoorbeeld nie sommer ’n dag of twee laat verbygaan sonder om water te drink nie. Ongeag wat dus in ons daaglikse lewe gebeur, ons moet tyd opsy sit om ons met die waters van waarheid te verkwik.—Hand. 17:11.
Lees die hele Woord van God
Het jy al die hele Bybel gelees? Party het oorweldig gevoel wanneer hulle dink dat hulle van Genesis tot Openbaring moet lees. Daarom het baie mense wat die hele Bybel wou lees, eers by die Christelike Griekse Geskrifte begin. Waarom? Moontlik omdat dit vir hulle makliker was om te sien hoe daardie Bybelboeke op hulle van toepassing is as persone wat in die voetstappe van Christus probeer wandel. Of moontlik was dit omdat die Christelike Griekse Geskrifte korter is—net ’n bietjie meer as ’n kwart van die Bybel. Maar nadat hulle daardie 27 boeke deurgelees het, het hulle die 39 boeke van die Hebreeuse Geskrifte begin lees en dit geniet. Teen die tyd dat hulle die Hebreeuse Geskrifte voltooi het, het hulle ’n roetine van gereelde Bybellees opgebou, en daarom het hulle voortgegaan om die Christelike Griekse Geskrifte ’n tweede keer te lees, en hulle het nooit opgehou nie. Mag dit ook vir jou ’n lewenslange gewoonte word om elke dag God se Woord te lees.
Is daar iemand in jou gesin of gemeente wat nie kan lees nie? Bied gerus aan om die Bybel gereeld vir daardie persoon te lees. Jy sal daarby baat vind, en hy sal ook daarby baat vind terwyl hy nadink oor wat hy hoor en dit dan in sy lewe toepas.—Op. 1:3.
Later sal jy dalk spesiale projekte in verband met jou Bybellees wil aanpak. Sommige hiervan kan jou waardering vir die verband tussen die verskillende dele van die Bybel vergroot. As jou Bybel kruisverwysings het, kan dit jou na geskiedkundige agtergrondinligting en parallelle verslae verwys. Dit kan jou help om die omstandighede te verstaan wat daartoe gelei het dat verskeie psalms op skrif gestel is en briewe deur apostels van Jesus Christus geskryf is. Insight on the Scriptures bevat ’n skat van agtergrondinligting oor mense, plekke en eienskappe wat in die Bybel gemeld word. Tabelle vestig die aandag op die vervulling van Bybelprofesieë, toon watter konings en profete tydgenote was en sê naastenby wanneer baie Bybelgebeure plaasgevind het.
Terwyl jy nadink oor wat jy leer, sal jy die redes verstaan waarom sekere toestande onder God se volk ontwikkel het. Jy sal ook Jehovah se handelinge met sy volk verstaan. Jy sal sien hoe Jehovah die optrede van regerings, volke en individue beoordeel. Dit sal jou groter insig in sy denke gee.
Bybelgeskiedenis sal vir jou interessanter word wanneer jy die gebied visualiseer waarin gebeure plaasgevind het. Kaarte van Bybellande verskaf inligting oor die terrein sowel as die afstande tussen plekke. Byvoorbeeld: naastenby waar het die Israeliete deur die Rooi See gegaan? Hoe groot was die Beloofde Land? Hoe ver het Jesus tydens sy aardse bediening geloop? Wat het Paulus op sy sendingreise gesien? Kaarte en geografiese beskrywings verskaf besonderhede wat jou leeswerk sal laat lewe. Waar kan jy kaarte van die Bybellande vind? ’n Paar verskyn in die Nuwe Wêreld-vertaling van die Heilige Skrif. Die Insight-bundels bevat ongeveer 70 kaarte, en daar is ’n kaartindeks agterin die eerste bundel. Jy kan die Watch Tower Publications Index gebruik om ander kaarte te vind. As hierdie bronne nie beskikbaar is nie, kan jy kaarte wat in Die Wagtoring verskyn het, gebruik om jou in jou Bybellees te help.
Koning Dawid het Jehovah in die Hebreeuse Geskrifte geloof en gesê: “Hoe kosbaar is u gedagtes . . . vir my! O God, hoeveel beloop die grootse som daarvan tog nie!” (Ps. 139:17). In die Christelike Griekse Geskrifte het die apostel Paulus Jehovah geprys, want Hy “het op ons harte geskyn om hulle met die glorieryke kennis van God deur die aangesig van Christus te verlig” (2 Kor. 4:6). Dawid het eeue voor Paulus gelewe, en tog het hulle albei in God se Woord behae geskep. Jy kan ook, as jy die tyd neem om alles te lees wat Jehovah vir jou in sy geïnspireerde Woord laat opteken het.