God se Woord is waarheid
1. Watter belangrike inligting word in die Bybel vervat?
1 “Die hele inhoud van u woord is waarheid”, het die psalmis geskryf (Ps. 119:160). Deur sy geïnspireerde Woord gee Jehovah bevredigende antwoorde op die lewe se belangrikste vrae. Hy bied vertroosting en hoop aan diegene met sorge. En hy wys vir ons hoe ons nader aan hom kan kom. “Om die waarheid van die Bybel te leer, is soos om ’n baie donker en somber plek te verlaat en ’n helder, ligte en aangename vertrek binne te gaan”, het een vrou met waardering gesê. Probeer jy die waarheid van God se Woord by elke geleentheid verkondig?
2. Hoe verbeter die Bybel mense se lewens?
2 Verander mense en vind universeel byval: Bybelwaarheid het die krag om harte te raak en lewens te verander (Heb. 4:12). ’n Jong vrou met die naam Rosa het betrokke geraak by prostitusie, asook by alkohol- en dwelmmisbruik. “Eendag toe ek uiters wanhopig was”, sê sy, “het ’n Getuie-egpaar met my gepraat oor hoe die Bybel ons kan help om ons probleme op te los. Ek het God se Woord begin studeer en dit boeiend gevind. Binne ’n maand het ek die krag gehad om ’n rein, nuwe begin in my lewe te maak. Noudat ek ’n doel in die lewe gehad het, was dit nie meer vir my nodig om op alkohol of dwelms te steun nie. En aangesien ek baie graag Jehovah se vriend wou wees, was ek vasbeslote om volgens sy standaarde te lewe. As dit nie vir die praktiese wysheid van God se Woord was nie, sou ek beslis teen die tyd al selfmoord gepleeg het.”—Ps. 119:92.
3. Waarom moet ons nie huiwer om die Bybel se boodskap aan ander te verkondig nie?
3 Anders as die meeste boeke van vandag vind die Bybel byval by mense van ‘alle nasies, stamme, volke en tale’ (Op. 7:9). Dit is God se wil “dat alle soorte mense gered moet word en tot juiste kennis van die waarheid moet kom” (1 Tim. 2:4). Ons moet dus nooit aanneem dat iemand onontvanklik vir die goeie nuus sal wees bloot weens sy agtergrond nie. Ons verkondig eerder die Koninkryksboodskap aan almal, en gebruik die Bybel waar ook al moontlik.
4. Hoe kan ons die Bybel gebruik wanneer ons vir ander getuig?
4 Vestig die aandag op die Skrif: Daar is baie geleenthede om die Bybel in die bediening te gebruik. Wanneer ons die tydskrifte aanbied, kan ons die teks gebruik wat in die voorgestelde aanbieding verskyn. Saam met die lektuuraanbod vir die maand, vind party dit doeltreffend om in hulle inleiding ’n goedgekose teks te lees. Wanneer ons herbesoeke doen, kan ons elke keer een of meer Bybeltekste lees om die huisbewoner te help om geleidelik meer juiste kennis te verkry. Wanneer ons ’n Bybelstudie hou, moet ons die bespreking om die sleuteltekste bou. Ook wanneer ons nie aan die formele bediening deelneem nie, moet ons ’n Bybel byderhand hê om te gebruik wanneer daar geleenthede is om informeel te getuig.—2 Tim. 2:15.
5. Waarom moet ons die Bybel in ons bediening probeer gebruik?
5 Laat ons ander help om baat te vind by die motiverende krag van God se Woord van waarheid deur die Bybel by elke gepaste geleentheid in ons bediening te gebruik.—1 Tess. 2:13.