Hoofstuk Negentien
Hou aan om God se woord met vrymoedigheid te spreek
1. (a) Watter goeie nuus het Jesus se dissipels verkondig, maar hoe het party van die Jode gereageer? (b) Watter vrae kan ons vra?
GOD se Seun, Jesus Christus, is byna 2 000 jaar gelede as die toekomstige Koning oor die hele aarde gesalf. Jesus is op aanstigting van godsdiensvyande tereggestel, maar Jehovah het hom uit die dode opgewek. Deur Jesus is ewige lewe nou moontlik. Maar toe Jesus se dissipels hierdie goeie nuus in die openbaar verkondig het, het vervolging losgebreek. Party van hulle is in die tronk gegooi, selfs geslaan en beveel om op te hou om oor Jesus te praat (Handelinge 4:1-3, 17; 5:17, 18, 40). Wat sou hulle doen? Wat sou jy gedoen het? Sou jy voortgegaan het om met vrymoedigheid te getuig?
2. (a) Watter wonderlike nuus moet in ons dag verkondig word? (b) Wie se verantwoordelikheid is dit om die goeie nuus te verkondig?
2 In 1914 is die Koning van God se Koninkryk, Jesus Christus, in die hemel op die troon geplaas om ‘te midde van sy vyande’ te heers (Psalm 110:2). Daarna is Satan en sy demone na die aarde neergeslinger (Openbaring 12:1-5, 7-12). Die laaste dae van die teenswoordige goddelose stelsel het begin. Wanneer hierdie tydperk eindig, sal God die hele sataniese stelsel van dinge verbrysel (Daniël 2:44; Matteus 24:21). Oorlewendes sal die vooruitsig hê om vir ewig te lewe op ’n aarde wat ’n paradys sal word. As jy hierdie goeie nuus aangeneem het, sal jy dit aan ander wil bekend maak (Matteus 24:14). Maar watter reaksie kan jy verwag?
3. (a) Hoe reageer mense op die Koninkryksboodskap? (b) Watter vraag moet ons beantwoord?
3 Wanneer jy die goeie nuus van die Koninkryk verkondig, sal party mense dit verwelkom, maar die meeste sal nie belangstel nie (Matteus 24:37-39). Sommige sal jou dalk spot of teëstaan. Jesus het gewaarsku dat teenstand van jou eie familielede kan kom (Lukas 21:16-19). Jy kan dit ook by jou werk of by die skool teëkom. In party wêrelddele is Jehovah se Getuies selfs deur die regering verbied. Sal jy, as jy jou in sulke omstandighede bevind, voortgaan om God se woord met vrymoedigheid te spreek en ‘vas te staan in die geloof’?—1 Korintiërs 16:13.
Ons vertrou nie op ons eie krag nie
4. (a) Wat is ’n basiese vereiste as ons getroue knegte van God wil wees? (b) Waarom is Christelike vergaderinge so belangrik?
4 As ons getroue knegte van Jehovah wil wees, is ’n basiese vereiste dat ons op sy voorsienings moet vertrou. Een hiervan is gemeentelike vergaderinge. Die Skrif spoor ons aan om dit nie na te laat nie (Hebreërs 10:23-25). Diegene wat getroue Getuies van Jehovah gebly het, het hulle ingespan om gereeld vergaderinge saam met medeaanbidders by te woon. By hierdie vergaderinge word ons kennis van die Skrif verbreed. Ook neem ons waardering vir bekende waarhede toe, en ons word meer bewus van maniere waarop ons dit kan gebruik. Ons kom nader aan ons Christenbroers in verenigde aanbidding en word versterk om God se wil te doen. Jehovah se gees voorsien leiding deur die gemeente, en deur middel van hierdie gees is Jesus in ons midde.—Matteus 18:20; Openbaring 3:6.
5. Hoe word vergaderinge gehou waar Jehovah se Getuies verbied is?
5 Woon jy gereeld al die vergaderinge by, en pas jy toe wat daar bespreek word? Waar Jehovah se Getuies verbied is, is dit soms nodig om die vergaderinge in klein groepies in huise te hou. Plekke en tye word dalk verander en is miskien nie altyd gerieflik nie, omdat party vergaderinge laat in die nag gehou word. Maar ten spyte van persoonlike ongerief of gevaar wend getroue broers en susters ’n ywerige poging aan om elke vergadering by te woon.
6. Hoe openbaar ons ons vertroue op Jehovah, en hoe kan dit ons help om aan te hou om met vrymoedigheid te spreek?
6 Vertroue op Jehovah word opgebou deur gereeld opreg tot hom te bid, met die besef dat ons God se hulp nodig het. Doen jy dit? Jesus het herhaaldelik gedurende sy aardse bediening gebid (Lukas 3:21; 6:12, 13; 22:39-44). En die aand voor sy teregstelling het hy sy dissipels aangespoor: “Hou aan waak en bid, sodat julle nie in versoeking kom nie” (Markus 14:38). As ons onverskilligheid teenoor die Koninkryksboodskap teëkom, kan ons in die versoeking kom om minder in ons bediening te doen. As mense ons spot of vervolg, voel ons miskien lus om stil te bly om probleme te vermy. Maar as ons ernstig bid vir God se gees om ons te help om aan te hou om met vrymoedigheid te spreek, sal dit verhoed dat ons voor hierdie versoekings swig.—Lukas 11:13; Efesiërs 6:18-20.
’n Verslag van vrymoedige getuieniswerk
7. (a) Waarom is die verslag in Handelinge vir ons van besondere belang? (b) Beantwoord die vrae aan die einde van hierdie paragraaf en beklemtoon hoe ons by die inligting kan baat vind.
7 Die verslag in die boek Handelinge is vir ons almal van besondere belang. Dit vertel hoe die apostels en ander vroeë dissipels—mense met gevoelens soos ons s’n—struikelblokke te bowe gekom het en vrymoedige en getroue getuies van Jehovah was. Kom ons ondersoek ’n deel van daardie verslag met behulp van die volgende vrae en teksverwysings. Terwyl ons dit doen, moet jy kyk hoe jy persoonlik kan baat vind by wat jy lees.
Was die apostels hooggeleerde manne? Was hulle mense wat van nature onbevrees was, ongeag wat gebeur het? (Johannes 18:17, 25-27; 20:19; Handelinge 4:13)
Wat het Petrus in staat gestel om met vrymoedigheid te spreek voor die Joodse hof wat God se Seun veroordeel het? (Matteus 10:19, 20; Handelinge 4:8)
Wat het die apostels gedoen gedurende die weke voordat hulle voor die Sanhedrin gebring is? (Handelinge 1:14; 2:1, 42)
Wat het Petrus en Johannes geantwoord toe die heersers die apostels beveel het om op te hou om in die naam van Jesus te preek? (Handelinge 4:19, 20)
Tot wie het die apostels hulle ná hulle vrylating weer om hulp gewend? Het hulle gebid dat die vervolging moet ophou, of wat? (Handelinge 4:24-31)
Hoe het Jehovah hulp verleen toe teenstanders ’n einde aan die predikingswerk probeer maak het? (Handelinge 5:17-20)
Hoe het die apostels getoon dat hulle begryp het waarom hulle verlos is? (Handelinge 5:21, 41, 42)
Wat het die dissipels bly doen selfs toe baie van hulle weens vervolging verstrooi is? (Handelinge 8:3, 4; 11:19-21)
8. Watter opwindende resultate het die bediening van die vroeë dissipels opgelewer, en hoe het ons daarby betrokke geraak?
8 Die werk om die goeie nuus te verkondig, was nie tevergeefs nie. Omtrent 3 000 dissipels is op Pinkster 33 G.J. gedoop. “Gelowiges in die Here is voortdurend bygevoeg, menigtes van manne sowel as vroue” (Handelinge 2:41; 4:4; 5:14). Later het selfs ’n wrede vervolger van God se volk, Saulus van Tarsus, ’n Christen geword en die waarheid met vrymoedigheid begin verkondig. Hy het later as die apostel Paulus bekend gestaan (Galasiërs 1:22-24). Die werk wat in die eerste eeu begin het, duur nog steeds voort. Dit het in hierdie laaste dae toegeneem en alle dele van die aarde bereik. Ons het die voorreg om daaraan deel te neem, en terwyl ons dit doen, kan ons leer uit die voorbeeld van lojale getuies wat voor ons gedien het.
9. (a) Watter geleenthede het Paulus gebruik om te getuig? (b) Op watter maniere verkondig jy die Koninkryksboodskap aan ander?
9 Wat het Paulus gedoen toe hy die waarheid oor Jesus Christus geleer het? “Hy het Jesus onmiddellik . . . begin verkondig, dat hy die Seun van God is” (Handelinge 9:20). Hy het God se onverdiende goedhartigheid teenoor hom waardeer, en hy het besef dat almal die goeie nuus wat hy ontvang het, nodig gehad het. Paulus was ’n Jood, en volgens die destydse gebruik het hy na die sinagoges gegaan om ’n getuienis te gee. Hy het ook van huis tot huis gepreek en met mense op die markplein geredeneer. En hy was bereid om na nuwe gebiede te gaan om die goeie nuus te verkondig.—Handelinge 17:17; 20:20; Romeine 15:23, 24.
10. (a) Hoe het Paulus getoon dat hy nie net vrymoedigheid nie, maar ook onderskeidingsvermoë aan die dag gelê het in die manier waarop hy getuig het? (b) Hoe kan ons Paulus se eienskappe weerspieël wanneer ons vir familielede, werksmaats of skoolmaats getuig?
10 Paulus het nie net vrymoedigheid nie, maar ook onderskeidingsvermoë aan die dag gelê, soos ons ook moet doen. Op die Jode het hy ’n beroep gedoen op grond van die beloftes wat God aan hulle voorvaders gemaak het. Met die Grieke het hy gepraat op grond van die dinge waarmee hulle bekend was. Hy het soms sy eie ondervinding oor hoe hy die waarheid geleer het, gebruik om ’n getuienis te gee. Hy het gesê: “Ek doen alles ter wille van die goeie nuus, sodat ek met ander ’n deelgenoot daarvan kan word.”—1 Korintiërs 9:20-23; Handelinge 22:3-21.
11. (a) Wat het Paulus gedoen om voortdurende konfrontasies met teenstanders te vermy? (b) Wanneer sal dit verstandig van ons wees om Paulus se voorbeeld na te volg, en hoe? (c) Waarvandaan kom die krag om aan te hou om met vrymoedigheid te spreek?
11 Wanneer dit as gevolg van teenstand die beste gelyk het om ’n ruk lank in ’n ander gebied te preek, het Paulus dit gedoen eerder as om voortdurend konfrontasies met teenstanders uit te lok (Handelinge 14:5-7; 18:5-7; Romeine 12:18). Maar hy het hom nooit vir die goeie nuus geskaam nie (Romeine 1:16). Hoewel die minagtende—selfs gewelddadige—behandeling deur teenstanders vir Paulus onaangenaam was, het hy “deur middel van ons God die vrymoedigheid bymekaargeskraap” om aan te hou preek. Hy het gesê: “Die Here het naby my gestaan en my krag gegee, sodat deur my die prediking ten volle uitgevoer kon word” (1 Tessalonisense 2:2; 2 Timoteus 4:17). Die Hoof van die Christengemeente, Jesus, verskaf nog steeds die krag wat ons nodig het om die werk te doen wat hy vir ons dag voorspel het.—Markus 13:10.
12. Wat lewer bewys van Christelike vrymoedigheid, en wat is die grondslag daarvan?
12 Ons het alle rede om voort te gaan om God se woord met vrymoedigheid te spreek, net soos Jesus en ander getroue knegte van God in die eerste eeu gedoen het. Dit beteken nie dat ons onbedagsaam moet wees of die boodskap op mense moet probeer afdwing wat dit nie wil hoor nie. Maar ons gooi nie tou op omdat mense nie belangstel nie; en ook laat teenstand ons nie stilbly nie. Soos Jesus vestig ons die aandag op God se Koninkryk as die regmatige regering oor die hele aarde. Ons praat met vertroue omdat ons Jehovah, die Universele Soewerein, verteenwoordig en omdat die boodskap wat ons verkondig, nie van ons af kom nie maar van hom af. En ons liefde vir Jehovah moet die sterkste dryfveer wees om hom te loof.—Filippense 1:27, 28; 1 Tessalonisense 2:13.
Hersieningsbespreking
• Waarom is dit belangrik om die Koninkryksboodskap aan soveel moontlik bekend te maak, en watter reaksies kan ons verwag?
• Hoe kan ons toon dat ons nie op ons eie krag vertrou om Jehovah te dien nie?
• Watter waardevolle lesse leer ons uit die boek Handelinge?
[Prente op bladsy 173]
Soos in die verlede spreek Jehovah se knegte vandag God se woord met vrymoedigheid