Portuurdwang—Kan dit tot jou voordeel wees?
Ons almal word gebore met die basiese begeerte om deur ons portuurs aanvaar te word. Niemand wil afgekeur of verwerp word nie. Gevolglik beïnvloed ons portuurs ons in meerdere of mindere mate.
’N PORTUUR word gedefinieer as “iemand wat ’n ander se gelyke is; . . . iemand wat aan dieselfde gemeenskapsgroep behoort, veral wat ouderdom, rang of status betref”. Portuurdwang is weer die krag wat ons portuurs op ons uitoefen sodat ons wetend of onwetend by hulle denkwyse of dade aanpas. Portuurdwang word gewoonlik in ’n negatiewe lig beskou. Tog kan ons dit tot ons voordeel gebruik, soos ons sal sien.
Invloed op alle ouderdomsgroepe
Portuurdwang is nie net tot jongmense beperk nie; dit raak alle ouderdomsgroepe. Die invloed daarvan is duidelik wanneer ons vind dat ons vrae vra soos: “Ander doen dit, waarom kan ek nie?” “Waarom moet ek altyd anders wees?” “Wat sal ander dink of sê?” “Al my vriende het vaste verhoudings en trou, maar nie ek nie. Is daar iets verkeerd met my?”
Hoewel die druk om by ander aan te pas alle ouderdomsgroepe raak, is dit hewiger tydens adolessensie. The World Book Encyclopedia sê dat “die meeste adolessente diep betrokke raak by hulle portuurgroep—dit wil sê hulle kring van vriende en kennisse. Hierdie tienderjariges vertrou op hulle portuurgroep, pleks van op hulle ouers, vir goedkeuring, en hulle sal moontlik hulle gedrag verander om daardie goedkeuring te verkry.” Dit sê verder dat tienderjariges “aanneem dat hulle normaal ontwikkel as hulle portuurs hulle aanvaar en van hulle hou”. Met dié doel “raak [hulle] betrokke by sake wat hulle dink hulle gewildheid beïnvloed, soos hulle klerestyl, leierskapsvermoë en hulle sukses met afsprake”.
Egpare vind dalk dat hulle besluite oor watter soort huis om te koop of te huur, watter soort motor om te ry, of hulle kinders moet hê of nie en baie ander sake beïnvloed word deur portuurdwang—wat in hulle gemeenskap, onder hulle metgeselle of etniese groep aanvaarbaar is. Party gesinne maak selfs baie skuld om net materieel by hulle bure en portuurs by te hou. Ja, ons doelwitte, ons denke en ons besluite verraai dikwels die subtiele krag van portuurdwang. Kan ons met die oog op die krag daarvan portuurdwang tot ons voordeel benut om ons te help met die rigting wat ons wil inslaan? Ons kan beslis!
Benut die heilsame invloed van jou portuurs
Dokters en ander gesondheidsdeskundiges weet hoe goed dit is om hulle pasiënte met positiewe mense en ander heilsame invloede te omring. So ’n omgewing kan die herstelproses bevorder. Mense wat byvoorbeeld ’n ledemaat verloor het, word dikwels deur die lang proses van fisiese en emosionele herstel gehelp deur middel van die goeie voorbeeld en aanmoediging van ander wat op soortgelyke wyse gely het. As ons ons in ’n heilsame milieu plaas waarin daar optimistiese, positiewe rolmodelle is, is dit beslis ’n manier om die regte soort portuurdwang te benut.
Hierdie beginsel geld ook in die Christengemeente, want die positiewe invloed van portuurs is een van die redes waarom Jehovah sy volk beveel het om gereeld saam te vergader. God vermaan ons om ‘mekaar tot liefde en voortreflike werke aan te spoor en om mekaar aan te moedig’ (Hebreërs 10:24, 25). Sulke aanmoediging is van onskatbare waarde omdat die hedendaagse wêreld vol negatiewe en skadelike druk is. Vanweë hierdie druk moet Christene ‘hulle kragtig inspan’ om geestelik sterk te bly (Lukas 13:24). Ons het derhalwe die liefdevolle ondersteuning van medegelowiges nodig, en ons waardeer dit. Daarbenewens moet sommige dalk ‘dorings in die vlees’ verduur, moontlik siekte of liggaamsgebreke (2 Korintiërs 12:7). Ander sukkel dalk om slegte gewoontes of depressie te oorkom, of hulle vind dit dalk moeilik om aan die eise van die lewe te voldoen. Ons is dus verstandig om ons met mense te omring wat na aan Jehovah God bly en dit geniet om hom te dien. Sulke portuurs sal ons opbeur en ons help om ‘tot die einde toe getrou te volhard’.—Matteus 24:13.
As ons dus die regte portuurs kies, kan ons beheer hê oor die invloed wat hulle op ons uitoefen. Die goeie geestelike voedsel en praktiese riglyne wat by Christelike vergaderinge gegee word, is boonop ’n verdere versterking van die persoonlike aanmoediging wat ons van ons portuurs ontvang.
Dit is natuurlik nie altyd maklik om by Christelike vergaderinge te kom nie. Party kry moontlik min of geen ondersteuning van hulle huweliksmaat nie, ander het miskien kinders om gereed te kry en vir nog ander is vervoer dalk ’n probleem. Maar dink daaraan: As jy nie toelaat dat hierdie struikelblokke jou keer nie, sal jou voorbeeld ander dalk aanspoor wat moontlik in soortgelyke omstandighede is. Met ander woorde, jy en ander soos jy stel nie net ’n goeie voorbeeld nie, maar julle het ook ’n heilsame invloed op julle portuurs—en dít sonder om hulle enigsins te dwing.
Trouens, die apostel Paulus, wat self voor baie ontberinge en struikelblokke te staan gekom het, het Christene aangemoedig om sy goeie voorbeeld en dié van ander ervare Christene te volg. Hy het gesê: “Word eendragtig navolgers van my, broers, en hou julle oë gerig op dié wat op ’n wyse wandel wat ooreenkom met die voorbeeld wat julle in ons het” (Filippense 3:17; 4:9). Die vroeë Christene in Tessalonika het op Paulus se goeie voorbeeld ag geslaan. Paulus het van hulle geskryf: “Julle het navolgers van ons en van die Here geword, aangesien julle die woord onder groot verdrukking met vreugde van die heilige gees aangeneem het, sodat julle ’n voorbeeld vir al die gelowiges in Masedonië en in Agaje geword het” (1 Tessalonisense 1:6, 7). Ons positiewe gesindheid en voorbeeld kan ’n soortgelyke uitwerking hê op diegene met wie ons assosieer.
Vermy negatiewe invloede
As ons onheilsame portuurdwang wil vermy, moet ons die invloed vermy van ‘dié wat in ooreenstemming met die vlees wandel’ (Romeine 8:4, 5; 1 Johannes 2:15-17). Andersins gaan skadelike portuurdwang ons van Jehovah en sy wyse raad weglei. Spreuke 13:20 sê: “Gaan met die wyse om, dan word jy wys; maar hy wat met dwase verkeer, versleg.” Kan jy aan iemand dink met wie dit sleg gegaan het weens onheilsame portuurdwang? Party Christene het byvoorbeeld materialisties, onsedelik of dwelm- en drankmisbruikers geword vanweë die invloed van hulle portuurs.
Selfs in die Christengemeente kan ons deur onheilsame portuurdwang beïnvloed word as ons geestelik swak persone as goeie vriende kies (1 Korintiërs 15:33; 2 Tessalonisense 3:14). Sulke persone is dikwels nie geneig om geestelike sake te bespreek nie; hulle spot moontlik selfs met diegene wat sulke besprekings geniet. Indien ons sulke mense as goeie vriende kies, sal portuurdwang ons dalk op soortgelyke wyse laat optree, en kort voor lank sal ons dalk vind dat ons dieselfde denke en gesindheid as hulle het. Ons kan selfs negatiewe denke begin vorm oor diegene wat opreg in hulle geloof is en wat geestelike vooruitgang probeer maak.—1 Timoteus 4:15.
Dit is tog soveel verstandiger om vriende te word met diegene wat Jehovah probeer behaag, wat hulle in geestelike sake verheug! Sulke metgeselle sal ons help om “die wysheid van bo” te weerspieël. Dit “is allereers kuis, dan vredeliewend, redelik, bereid om te gehoorsaam, vol barmhartigheid en goeie vrugte, . . . nie huigelagtig nie” (Jakobus 3:17). Dit beteken nie dat geestelikgesinde mense net oor geestelike sake kan praat nie. Inteendeel! Dink net aan die verskeidenheid interessante onderwerpe wat in Wagtoringpublikasies soos die tydskrif Ontwaak! bespreek word. Daar is ’n mag der menigte opbouende onderwerpe vir bespreking, en as ons in ’n groot verskeidenheid onderwerpe belangstel, toon ons dat ons die lewe en Jehovah se handewerk liefhet.
Net soos ’n goeie tennisspeler sy spel verbeter deur saam met ander goeie spelers te speel, kan die regte metgeselle ons verstandelik, emosioneel en geestelik verhef. Daarenteen kan die verkeerde metgeselle ons op ’n weg van skynheiligheid lei deur ons aan te moedig om ’n dubbele lewe te lei. Hoeveel beter is dit tog om ’n rein gewete tesame met selfrespek te geniet!
Party wat gehelp is
Die meeste mense vind dat dit nie te moeilik is om die Bybelleerstellings en die morele en geestelike vereistes daarin te leer nie. Maar wat wel moeilik kan wees, is om daardie dinge toe te pas. Heilsame invloed van ons portuurs kan ons help om Jehovah heelhartig te dien, soos die volgende voorbeelde toon.
Een Getuie wat saam met sy vrou in die voltydse bediening is, het gesê dat die voorbeelde van sy portuurs sy doelwitte in die lewe beïnvloed het. Terwyl hy grootgeword het, het hy met onheilsame invloede te kampe gehad. Maar hy het as sy vriende diegene gekies wat hom aangemoedig het om gereeld in die bediening en by die vergaderinge te wees. Aangesien hulle sy metgeselle gebly het, het dit hom gehelp op die weg na geestelike volwassenheid.
’n Ander Getuie skryf: “Nadat ek en my vrou getroud is, het ons na ’n gemeente getrek waar ’n egpaar van omtrent ons ouderdom gewone pioniers was. Hulle voorbeeld het daartoe bygedra dat ons die voltydse bediening betree het. Daarna het ons ook die pioniergees in die gemeente begin bevorder. Gevolglik het baie by ons aangesluit as pioniers.”
As ons met diegene assosieer wat teokratiese doelwitte het, kan dit vir ons makliker wees om Jehovah te gehoorsaam. Dit is nog ’n voordelige uitwerking wat ons portuurs se heilsame invloed op ons het. ’n Getuie wat as ’n jong man aan die voltydse bediening begin deelneem het en later ’n reisende opsiener geword het, dien nou by een van die takkantore van die Wagtoringgenootskap. Hy skryf: “Van my vroegste en beste herinneringe as ’n kind is dié van voltydse knegte wat ons besoek het. Daar was altyd plek vir nog ’n stoel by ons eetkamertafel. Een kringopsiener het my ’n velddienstas gegee toe ek tien jaar oud was. Daardie tas is vandag nog vir my kosbaar.”
Hierdie Getuie sê voorts van sy tienderjare: “Baie van die jong mans in die gemeente wou by die gemeente se bedrywighede betrokke wees, en hulle voorbeeld het van ons aangespoor om dieselfde te wil doen.” Heilsame portuurs het hierdie jong man gehelp om ’n ryp Christenman te word, soos ’n loot wat groei en ’n mooi, regop boom word. Ouers, nooi julle diegene na julle huis wat ’n positiewe, opbouende invloed op julle kinders kan hê?—Maleagi 3:16.
Ons almal kan natuurlik nie aan die voltydse bediening deelneem soos die persone wat nou net genoem is nie. Maar ons almal kan leer om Jehovah ‘met ons hele hart, siel en verstand’ lief te hê (Matteus 22:37). Ons keuse van portuurs speel ’n belangrike rol wanneer ons daardie liefde probeer aankweek, en gevolglik ook in ons vooruitsig op die ewige lewe.
Die psalmis het ’n eenvoudige maar doeltreffende riglyn gegee wat tot ware voorspoed in die lewe lei: “Welgeluksalig is die man wat nie wandel in die raad van die goddelose en nie staan op die weg van die sondaars en nie sit in die kring van die spotters nie; maar sy behae is in die wet van die HERE, en hy oordink sy wet dag en nag. En hy sal wees soos ’n boom wat geplant is by waterstrome, wat sy vrugte gee op sy tyd en waarvan die blare nie verwelk nie; en alles wat hy doen, voer hy voorspoedig uit.”—Psalm 1:1-3.
Wat ’n wonderlike waarborg! Al is ons onvolmaak en maak ons foute, sal ons lewe voorspoedig wees as ons toelaat dat Jehovah ons lei en as ons goed gebruik maak van daardie godgegewe bron van heilsame invloed wat ons portuurs op ons uitoefen—“die hele gemeenskap van [ons] broers in die wêreld”.—1 Petrus 5:9.
[Prent op bladsy 24]
In die gemeente het ons portuurs wat ’n heilsame invloed op ons kan uitoefen
[Prent op bladsy 25]
Ouers, spoor julle kinders aan om met opbouende portuurs te meng