Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w99 8/1 bl. 26-31
  • Ek aanvaar met graagte Jehovah se leiding

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Ek aanvaar met graagte Jehovah se leiding
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1999
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Ek verander my doel in die lewe
  • Waardevolle opleiding as pioniers
  • Ons bied ons vrywillig aan vir buitelandse diens
  • Tussen Washington en Gilead
  • Diens by die wêreldhoofkwartier
  • Gilead op ’n gereelde grondslag
  • Ek werk saam met die studente
  • Wat die toekoms inhou
  • ’n Nuwe tuiste vir die Gilead-Sendingskool
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1989
  • Gileadskool—Floreer nog ná 50 jaar!
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1993
  • Sendelinge bevorder wêreldwye uitbreiding
    Jehovah se Getuies—Verkondigers van God se Koninkryk
  • Meer sendelinge vir die wêreldoes
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1991
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1999
w99 8/1 bl. 26-31

Ek aanvaar met graagte Jehovah se leiding

SOOS VERTEL DEUR ULYSSES V. GLASS

Dit was ’n uitsonderlike geleentheid. Daar was net 127 studente in die graduerende klas, maar daar was ’n entoesiastiese gehoor van 126 387, wat van baie lande af gekom het. Dit was die graduering van die 21ste klas van die Wagtoring-Bybelskool Gilead, wat op 19 Julie 1953 in die stad New York se Yankee-stadion gehou is. Waarom was dit so ’n betekenisvolle gebeurtenis in my lewe? Kom ek gee ’n bietjie agtergrond.

EK IS op 17 Februarie 1912 in Vincennes, Indiana, VSA, gebore, omtrent twee jaar voor die geboorte van die Messiaanse Koninkryk, wat in Openbaring 12:1-5 beskryf word. My ouers het die vorige jaar die Bybel begin bestudeer tesame met die bundels van Studies in the Scriptures. My pa het elke Sondagoggend uit een van hierdie boeke vir die gesin gelees, en dan het ons dit bespreek.

My ma het wat sy geleer het, gebruik om die denke van haar kinders te vorm. Sy was ’n baie goeie mens—so goedhartig, so gewillig om te help. Ons was uiteindelik vier kinders, maar my ma het ook liefde betoon aan ander kinders in die buurt. Sy het tyd saam met ons deurgebring. Sy het dit geniet om vir ons Bybelverhale te vertel en saam met ons te sing.

Sy het ook verskillende mense wat in die voltydse bediening was na ons huis genooi. Hulle het net ’n dag of twee gebly en dikwels in ons huis vergaderinge en toesprake gehou. Ons het veral van dié gehou wat illustrasies gebruik het en vir ons verhale vertel het. By een geleentheid in 1919, ongeveer ’n jaar nadat die Eerste Wêreldoorlog geëindig het, het die besoekende broer veral met ons as kinders gepraat. Hy het toewyding bespreek en ons gehelp om te verstaan hoe dit ons lewe raak. Toe ek later daardie aand bed toe gaan, het ek tot my hemelse Vader gebid en vir hom gesê dat ek hom altyd wil dien.

Maar ná 1922 het ander belange in die lewe veroorsaak dat ek daardie besluit op die agtergrond geskuif het. Ons het van die een plek na die ander getrek en geen omgang met ’n gemeente van Jehovah se knegte gehad nie. Vader was weens sy werk op die spoorweë nie by die huis nie. Ons het nie gereeld ons Bybelstudie gehad nie. Ek het kursusse gevolg met die doel om ’n reklametekenaar te word en het beplan om na ’n hoogaangeskrewe universiteit te gaan.

Ek verander my doel in die lewe

Gedurende die middeldertigerjare het die wêreld weer in die rigting van wêreldoorlog begin beweeg. Ons het in Cleveland, Ohio, gewoon toe een van Jehovah se Getuies ons besoek het. Ons het ernstiger begin nadink oor wat ons geleer het toe ons kinders was. My ouer broer, Russell, was veral ’n ernstige mens, en hy is eerste gedoop. Ek was weer nie so ernstig nie, maar op 3 Februarie 1936 is ek ook gedoop. My waardering vir wat toewyding aan Jehovah behels, het toegeneem, en ek het geleer om Jehovah se leiding te aanvaar. Daardie selfde jaar is my twee susters, Kathryn en Gertrude, ook gedoop. Ons almal het die voltydse diens as pioniers betree.

Maar dit het nie beteken dat ons nooit aan enigiets anders gedink het nie. Ek het met gespitste ore geluister toe my skoonsuster my vertel het van ’n baie mooi meisie, Ann, wat “vuur en vlam is” nadat sy van die waarheid gehoor het en van plan was om na die vergaderinge by ons huis te kom. Op daardie stadium het Ann as ’n sekretaresse in ’n prokureurskantoor gewerk, en binne ’n jaar is sy gedoop. Ek was nie van plan om te trou nie, maar dit was duidelik dat Ann die waarheid met haar hele hart liefgehad het. Sy wou ten volle betrokke wees in Jehovah se diens. Sy was nooit iemand wat gesê het: “Kan ek dit doen?” nie. Sy sou eerder vra: “Wat is die beste manier waarop ek dit kan doen?” En sy was vasbeslote om dit deur te voer. Daardie positiewe uitkyk het my aangetrek. Buitendien was sy baie mooi, en sy is nog steeds. Sy het my vrou geword, en kort daarna het sy my maat in die pionierdiens geword.

Waardevolle opleiding as pioniers

As pioniers het ons die geheim geleer om vergenoeg te wees, of ons nou min of ’n oorvloed gehad het (Filippense 4:11-13). Eendag het dit al donker begin word en ons het nog niks gehad om te eet nie. Ons het tussen ons net vyf sent gehad. Ons het in ’n slaghuis ingegaan en ek het gevra: “Kan jy ons asseblief vyf sent se Bologna-wors gee?” Hy het na ons gekyk en toe vier skywe gesny. Ek is seker dat dit meer as vyf sent werd was, en dit het darem ons honger gestil.

Dit was nie ongewoon om kwaai teenstand in ons bediening te ondervind nie. In ’n dorp naby Syracuse, New York, het ons op straat strooibiljette versprei en plakkate gedra om mense se aandag te vestig op ’n spesiale openbare vergadering. Twee fris geboude kêrels het my gegryp en my te lyf gegaan. Een was ’n polisieman, maar hy het nie sy uniform aangehad nie, en hy het my geïgnoreer toe ek hom vra om sy identifikasie te wys. Net toe het Grant Suiter van die Brooklynse Bethel daar aangekom en gesê dat ons na die polisiestasie toe sou gaan om die saak uit te stryk. Daarna het hy die Genootskap se kantoor in Brooklyn gebel, en twee van ons is aangesê om daardie selfde dag weer uit te gaan met plakkate en strooibiljette om gronde vir ’n toetssaak te voorsien. Soos ons verwag het, is ons in hegtenis geneem. Toe ons egter vir die polisie sê dat hulle gedagvaar gaan word vir wederregtelike aanhouding, het hulle ons laat gaan.

Die volgende dag het ’n groep oproerige tieners op aanstigting van ’n priester by ons vergaderplek ingestorm, en die polisie was nêrens te vinde nie. Die booswigte het met bofbalkolwe teen die houtvloer geslaan, party in die gehoor van hulle sitplekke afgegooi en op die verhoog geklim, waar hulle die Amerikaanse vlag omhoog gehou en geskreeu het: “Salueer dit! Salueer dit!” Toe het hulle die “Beer Barrel Polka” begin sing. Hulle het die vergadering heeltemal opgebreek. Ons het regstreeks ondervind wat Jesus bedoel het toe hy gesê het: “Omdat julle geen deel van die wêreld is nie, maar ek julle uit die wêreld uitgekies het, om dié rede haat die wêreld julle.”—Johannes 15:19.

Die openbare toespraak was eintlik ’n toespraak op ’n grammofoonplaat deur J. F. Rutherford, wat toe die president van die Wagtoringgenootskap was. Ek en Ann het ’n paar dae in daardie dorp gebly en mense besoek om hulle die geleentheid te gee om die toespraak in hulle huise te hoor. ’n Paar het die aanbod aanvaar.

Ons bied ons vrywillig aan vir buitelandse diens

Mettertyd was daar nuwe fasette van Jehovah se diens wat betree kon word. My broer Russell en sy vrou, Dorothy, is as ’n egpaar genooi om na die eerste klas van Gileadskool in 1943 te gaan, en daarna is hulle as sendelinge na Kuba gestuur. My suster Kathryn was in die vierde klas. Sy is ook na Kuba gestuur. Sy is later na die Dominikaanse Republiek en toe na Puerto Rico gestuur. Wat van my en Ann?

Toe ons van Gileadskool hoor en uitvind dat die Genootskap sendelinge na ander lande wou stuur, het ons gevoel dat ons ons beskikbaar wil stel vir diens in die buiteland. Aanvanklik het ons dit oorweeg om op ons eie te gaan, dalk na Mexiko toe. Maar toe het ons besluit dat dit moontlik beter sou wees om te wag sodat die Genootskap ons kon stuur nadat ons na Gileadskool gegaan het. Ons het besef dat dit ’n reëling was wat Jehovah gebruik het.

Ons is na die vierde klas van Gileadskool genooi. Maar kort voordat die klas begin het, het N. H. Knorr, wat op daardie stadium die president van die Wagtoringgenootskap was, meer bewus geword van die beperkings wat Ann gehad het weens polio gedurende haar kinderjare. Hy het met my daaroor gepraat en besluit dat dit nie wys sou wees om ons na ’n ander land te stuur om daar te gaan dien nie.

Omtrent twee jaar later, terwyl ek voorbyeenkomswerk gedoen het, het broer Knorr my weer gesien en gevra of ons nog belangstel om Gilead toe te gaan. Hy het vir my gesê dat ons nie na ’n toewysing in die buiteland sou gaan nie—hy het iets anders in gedagte gehad. Toe die negende klas dus op 26 Februarie 1947 ingeskryf is, was ons onder die studente.

Daardie dae by Gilead was onvergeetlik. Die hele kursus was ’n ryk geestelike maaltyd. Lewenslange vriendskappe is gesluit. Maar my betrokkenheid by die skool het baie verder as dit gestrek.

Tussen Washington en Gilead

Gileadskool was nog betreklik nuut. Die Amerikaanse regering het nie genoeg omtrent die oogmerke van die skool geweet nie, en baie vrae is dus geopper. Die Genootskap wou ’n verteenwoordiger in Washington, DC, hê. Dit is waarheen ons gestuur is ’n paar maande nadat ons aan Gilead gegradueer het. Ek moes help om visums te kry vir persone van ander lande wat genooi is om na Gilead te kom en om regsdokumente te verkry sodat die gegradueerdes na die buiteland gestuur kon word vir sendingwerk. Party amptenare was baie redelik en behulpsaam. Ander was gekant teen die Getuies. ’n Paar wat sterk politieke oortuigings gehad het, het beweer dat ons verbintenisse gehad het met mense wat volgens hulle ongewenste elemente was.

Een man na wie se kantoor ek gegaan het, het ons skerp gekritiseer omdat ons nie die vlag salueer of aan oorlog deelneem nie. Nadat hy ’n hele rukkie daaroor te kere gegaan het, het ek eindelik gesê: “Ek wil hê jy moet weet, en jy weet dit wel, dat Jehovah se Getuies nie betrokke raak by ’n oorlog met enigiemand in die wêreld nie. Ons raak nie betrokke by die wêreld se aangeleenthede nie. Ons raak nie betrokke by hulle oorloë, hulle politiek nie. Ons is heeltemal neutraal. Ons het reeds die probleme die hoof gebied waarmee julle te kampe het; ons het eenheid in ons organisasie. . . . Wat wil jy dus hê moet ons nou doen? Wil jy hê dat ons moet teruggaan na die manier waarop julle dit doen en ons s’n laat vaar?” Hy het daarna niks gesê nie.

Twee volle dae per week is opsy gesit vir sake met die regeringskantore. Daarbenewens het ons as spesiale pioniers gedien. In daardie tyd het dit behels dat ons elke maand 175 uur in die bediening deurbring (dit het later verander na 140 uur); ons was dus dikwels tot laat in die aand uit in velddiens. Ons het dit geniet. Ons het talle goeie studies met hele gesinne gehou, en hulle het goed gevorder. Ek en Ann het besluit om nie kinders te hê nie, maar geestelik gesproke het ons nie net kinders nie, maar ook kleinkinders en agterkleinkinders. Hoe bly maak hulle ons harte tog!

Laat in 1948 het ek nog ’n toewysing ontvang. Broer Knorr het verduidelik dat broer Schroeder, die registrateur en een van die instrukteurs by Gileadskool, met ander belangrike werk besig gaan wees, en ek is dus gevra om wanneer nodig Gileadklasse te gee. Met die gevoel dat my hart in my keel sit, het ek weer op 18 Desember saam met Ann by Gilead, in South Lansing, New York, aangekom. Aanvanklik was ons net ’n paar weke op ’n slag by Gilead, en dan het ons teruggegaan Washington toe. Maar uiteindelik het ek meer tyd by Gilead deurgebring as in Washington.

Dit was gedurende hierdie tyd, soos ek vroeër gemeld het, dat die 21ste klas van Gilead by Yankee-stadion in New York gegradueer het. As een van die instrukteurs het ek dus die voorreg gehad om ’n deel op die gradueringsprogram te hê.

Diens by die wêreldhoofkwartier

Op 12 Februarie 1955 het ons nog ’n dienstoewysing gekry. Ons het lede van die Bethelgesin by die wêreldhoofkwartier van Jehovah se sigbare organisasie geword. Maar wat sou dit behels? Basies om gewillig te wees om enige toegewese taak te verrig en aan projekte deel te neem wat samewerking met ander geverg het. Ons het dit natuurlik voorheen gedoen, maar nou sou ons deel wees van ’n baie groter groep—die Bethelgesin by die hoofkwartier. Ons het hierdie nuwe toewysing geredelik aanvaar as ’n blyk van Jehovah se leiding.

’n Groot deel van my werk het sake met die media behels. Weens die pers se begeerte na sensasionele stories en omdat hulle inligting van bevooroordeelde bronne gekry het, het hulle ’n paar lelike dinge omtrent Jehovah se Getuies geskryf. Ons het probeer om daardie situasie te verbeter.

Broer Knorr wou seker maak dat ons almal genoeg werk gehad het om te doen; dus was daar ook ander toewysings. Met sommige van hulle het ek gebruik gemaak van my opleiding as ’n reklametekenaar. Ander het werk by die Genootskap se radiostasie, WBBR, behels. Daar was werk in verband met rolprente wat deur die Genootskap vervaardig is. Teokratiese geskiedenis was natuurlik deel van die Gileadkursus, maar op dié stadium is verskeie projekte onderneem om besonderhede van die geskiedenis van die hedendaagse teokratiese organisasie ook aan die res van Jehovah se volk sowel as aan die publiek beskikbaar te stel. Nog ’n aspek van Gileadopleiding was die openbare spreekkuns, en werk moes gedoen word om die broers in die gemeentes meer omtrent die grondbeginsels van die openbare spreekkuns te leer. Daar was derhalwe oorgenoeg om te doen.

Gilead op ’n gereelde grondslag

In 1961, met die opleiding van reisende opsieners en takkantoorpersoneel op hande, is Gileadskool na Brooklyn verskuif, waar die Wagtoringgenootskap se hoofkantoor geleë is. Ek was weer terug in die klaskamer—hierdie keer nie net as ’n waarnemende instrukteur nie, maar as ’n permanente lid van die fakulteit. Wat ’n voorreg tog! Ek is vas oortuig dat Gileadskool ’n gawe van Jehovah is, ’n gawe waarby sy hele sigbare organisasie baat gevind het.

In Brooklyn het die Gileadklasse geleenthede gehad wat studente in vorige klasse nie gehad het nie. Daar was meer gassprekers sowel as noue omgang met die Bestuursliggaam en baie geleenthede vir omgang met die Bethelgesin by die hoofkwartier. Die studente kon ook opleiding ontvang in kantoorpraktyk, in die werking van die Bethelhuis en in verskeie aspekte van fabriekswerk.

Deur die jare heen het die aantal studente gewissel, en so ook die aantal instrukteurs. Die ligging van die skool het ook ’n paar keer verander. Nou is dit in ’n pragtige omgewing in Patterson, New York, geleë.

Ek werk saam met die studente

Dit was vir my ’n groot vreugde om hierdie klasse te onderrig! Hier is jongmense wat nie daarin belangstel om dinge in die ou stelsel te doen nie. Hulle laat hulle gesin, hulle vriende, hulle huis en mense wat hulle taal praat agter. Die klimaat, die kos—alles gaan anders wees. Hulle weet nie eers na watter land hulle sal gaan nie, maar dit is hulle doelwit om sendelinge te wees. Jy hoef nie hierdie soort mense te motiveer nie.

Wanneer ek in die klaskamer ingegaan het, wou ek altyd die studente op hulle gemak laat voel. Niemand leer goed as hy gespanne en bekommerd is nie. Ek was nou wel die instrukteur, maar ek het geweet hoe dit voel om ’n student te wees. Ek het eenmaal op daardie stoele gesit. By Gilead het hulle natuurlik hard gestudeer en baie geleer, maar ek wou ook hê dat hulle dit moes geniet.

Ek het geweet dat daar sekere dinge was wat hulle nodig gehad het om sukses in hulle toewysings te behaal. Hulle het sterk geloof nodig gehad. Hulle moes nederig wees—baie nederig. Hulle moes leer om met ander mense oor die weg te kom, om situasies te aanvaar, om vryelik te vergewe. Hulle moes aanhou om die vrugte van die gees aan te kweek. Hulle moes ook mense liefhê en lief wees vir die werk wat hulle gestuur is om te doen. Dít is die dinge wat ek voortdurend onder die studente se aandag probeer bring het terwyl hulle by Gilead was.

Ek weet werklik nie vir hoeveel studente ek klas gegee het nie. Maar ek weet hoe ek oor hulle voel. Nadat ek vyf maande saam met hulle in die klaskamer deurgebring het, kon ek nie anders as om aan hulle geheg te raak nie. Wanneer ek dan toegekyk het hoe hulle op gradueringsdag oor die verhoog stap en hulle diplomas ontvang, het ek geweet dat hulle die kursus met welslae voltooi het en dat hulle binnekort sou weggaan. Dit was soos ’n deel van my gesin wat weggegaan het. Hoe kan jy keer dat jy mense liefhet wat bereid is om van hulleself te gee en die werk te doen wat hierdie jongmense sou gaan doen?

Jare later, wanneer hulle kom kuier, hoor ek hoe hulle vertel van hulle vreugdes in die bediening, en dan weet ek dat hulle nog in hulle toewysings is en doen wat hulle opgelei is om te doen. Hoe laat dit my voel? Ek kan net sê, dit laat my regtig baie goed voel.

Wat die toekoms inhou

My oë het nou verswak en ek ondervind die frustrasie wat dit veroorsaak. Ek kan nie meer in die Gileadklaskamer onderrig nie. Aanvanklik was dit ’n moeilike aanpassing, maar ek het regdeur my lewe geleer om situasies te aanvaar en daarmee saam te lewe. Ek dink dikwels aan die apostel Paulus en sy “doring in die vlees”. Paulus het drie keer gebid vir verligting van daardie probleem, maar die Here het vir hom gesê: “My onverdiende goedhartigheid is voldoende vir jou; want my krag word tot volmaaktheid gebring in swakheid” (2 Korintiërs 12:7-10). Paulus het voortgegaan om daarmee saam te lewe. As hy dit kon doen, moet ek ook probeer. Hoewel ek nie meer klas gee nie, is ek dankbaar dat ek die studente nog elke dag kan sien kom en gaan. Partykeer kan ek met hulle praat, en dit verbly my hart om te dink aan die goeie gees wat hulle openbaar.

Die toekoms hou wonderlike dinge in om na uit te sien. ’n Grondslag word nou gelê. Gilead het ’n vername rol daarin gespeel. Ná die groot verdrukking, wanneer die boekrolle waarna Openbaring 20:12 verwys, geopen sal word, sal daar duisend jaar van verdere intensiewe onderrigting in Jehovah se weë wees (Jesaja 11:9). Maar selfs dít is nie die einde nie. Dit is werklik net die begin. Tot in alle ewigheid sal daar meer wees om van Jehovah te leer en meer wees om te doen namate ons sien hoe sy voornemens ontvou. Ek het volle vertroue dat Jehovah al sy wonderlike beloftes sal vervul, en ek wil daar wees om dan ook Jehovah se leiding vir ons te aanvaar.

[Prent op bladsy 26]

Gilead-graduering in New York se Yankee-stadion in 1953

[Prent op bladsy 26]

Getrude, ek, Kathryn en Russell

[Prent op bladsy 26]

Ek werk saam met N. H. Knorr (heel links) en M. G. Henschel om streekbyeenkomste te organiseer

[Prent op bladsy 26]

In die WBBR-uitsaaiateljee

[Prent op bladsy 29]

In die Gileadklaskamer

[Prent op bladsy 31]

Saam met Ann, nie te lank gelede nie

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel