STUDIE 24
Woordkeuse
WOORDE is kragtige kommunikasiemiddele. Maar ons moet ons woorde versigtig kies as ons wil hê dat dit ’n spesifieke doel moet bereik. ’n Woord wat by een geleentheid gepas is, kan onder ander omstandighede die verkeerde uitwerking hê. ’n Treffende uitdrukking wat op ’n ongepaste manier gebruik word, kan “’n woord [word] wat pyn veroorsaak”. Soms gebruik mense sulke uitdrukkings sonder om te dink, wat ’n gebrek aan bedagsaamheid weerspieël. Party woorde het ’n dubbele betekenis, waarvan een beledigend of verkleinerend is (Spr. 12:18; 15:1). Maar “die goeie woord”—’n woord wat bemoedig—verbly die hart van die persoon vir wie dit gesê word (Spr. 12:25). Selfs wyse persone moet hulle inspan om die regte woorde te vind. Salomo, sê die Bybel vir ons, het geweet dat ’n mens na “welgevallige woorde” en “korrekte woorde van waarheid” moet soek.—Pred. 12:10.
In party tale word sekere uitdrukkings gebruik wanneer ouer persone of persone in gesagsposisies aangespreek word, terwyl ander uitdrukkings gebruik word wanneer portuurs of jonger persone aangespreek word. Om sulke hoflikheidsbetuigings te ignoreer, word as ongemanierd beskou. Dit is ook ongepas om eerbiedsbetuigings wat volgens die plaaslike gebruik vir ander bedoel is, met verwysing na jouself te gebruik. Die Bybel se standaard in verband met eerbetoning is moontlik hoër as dié wat deur die wet of plaaslike gebruike vereis word. Dit spoor Christene aan om ‘alle soorte mense te eer’ (1 Pet. 2:17). Diegene wat dit opreg doen, praat met mense van alle ouderdomme op ’n manier wat respek toon.
Natuurlik gebruik baie mense wat nie ware Christene is nie, taal wat onbeskof en vulgêr is. Hulle dink moontlik dat growwe taal hulle woorde groter trefkrag gee. Of dit verraai miskien net ’n uiters gebrekkige woordeskat. As dit jou gewoonte was om sulke taal te gebruik voordat jy Jehovah se weë geleer het, sal jy dit dalk moeilik vind om met die gewoonte te breek. Maar dit kan gedoen word. God se gees kan ’n mens help om jou spraakpatroon te verander. Maar jy moet ook bereid wees om ’n woordeskat op te bou wat uit goeie woorde bestaan—woorde wat iets gunstigs aan ander meedeel, woorde wat opbou—en dit dan gereeld gebruik.—Rom. 12:2; Ef. 4:29; Kol. 3:8.
Maklik verstaanbare taal. ’n Basiese vereiste van goeie taalgebruik, is dat dit maklik verstaanbaar moet wees (1 Kor. 14:9). As jou gehoor nie die woorde wat jy gebruik, maklik verstaan nie, word jy vir hulle soos iemand wat ’n vreemde taal praat.
Sommige woorde het ’n spesifieke betekenis onder mense in ’n sekere beroep. Hulle gebruik sulke terme moontlik elke dag. Maar as jy dit in die verkeerde konteks gebruik, kan dit jou vermoë om te kommunikeer, belemmer. Daarbenewens sal jou gehoor se gedagtes begin dwaal as jy onnodig op besonderhede ingaan, al gebruik jy alledaagse woorde.
’n Bedagsame spreker kies woorde wat selfs vir mense met beperkte opvoeding verstaanbaar is. Hy gee ag op “die geringe”, in navolging van Jehovah (Job 34:19). As die spreker dit wel nodig ag om ’n onbekende woord te gebruik, moet hy dit saam met eenvoudige frases gebruik wat die betekenis daarvan duidelik maak.
Eenvoudige, goed gekose woorde dra gedagtes kragtig oor. Kort sinne en eenvoudige frases is maklik om te verstaan. Dit kan afgewissel word met langer sinne sodat die aanbieding nie horterig word nie. Maar vir gedagtes wat jy graag wil hê jou gehoor moet onthou, moet jy verkieslik eenvoudige woorde en bondige sinne gebruik.
Kleurvolle en korrekte taalgebruik. Daar is geen tekort aan goeie woorde nie. Moenie dieselfde uitdrukkings vir elke situasie gebruik nie, maar gebruik ’n verskeidenheid woorde. Dan sal jou spraak kleurvol sowel as betekenisvol wees. Hoe kan jy jou woordeskat uitbrei?
Wanneer jy lees, merk enige woorde wat jy nie heeltemal verstaan nie en slaan dit in ’n woordeboek na as daar een in jou taal beskikbaar is. Kies ’n paar van daardie woorde en wend ’n doelbewuste poging aan om dit by gepaste geleenthede te gebruik. Maak seker dat jy dit reg uitspreek en dat jy dit in ’n konteks gebruik waarin dit maklik verstaan sal word en nie net aandag sal trek nie. As jy jou woordeskat uitbrei, sal dit jou spraak kleurvoller maak. Maar wees versigtig—wanneer iemand woorde verkeerd uitspreek of gebruik, kan dit ander laat dink dat hy nie werklik weet waarvan hy praat nie.
Die rede waarom ons ons woordeskat uitbrei, is om ander in te lig, nie om dié wat na ons luister, te beïndruk nie. Hoogdrawende taal en lang woorde vestig gewoonlik die aandag op die spreker. Dit behoort ons begeerte te wees om waardevolle inligting oor te dra en om dit interessant te maak vir diegene wat dit hoor. Onthou die Bybelspreuk: “Die tong van die wyses doen goed met kennis” (Spr. 15:2). Die gebruik van goeie woorde, gepaste woorde wat maklik verstaan word, help dat ons spraak eerder verfrissend en besielend as vervelig en oninteressant is.
Terwyl jy jou woordeskat uitbrei, moet jy jou daarop toelê om die regte woord te gebruik. Twee woorde kan soortgelyke maar effens verskillende betekenisse hê vir gebruik onder verskillende omstandighede. As jy dit in ag neem, sal jou woorde verstaanbaarder wees en sal jy nie jou gehoor aanstoot gee nie. Luister aandagtig na mense wat goeie taal gebruik. Party woordeboeke gee onder elke woord ’n lys van sinonieme (woorde waarvan die betekenis soortgelyk is, hoewel nie identies nie) en antonieme (woorde met teenoorgestelde betekenisse). Jy vind dus nie net verskillende uitdrukkings vir dieselfde gedagte nie, maar ook fyn betekenisverskille. Dit is baie nuttig wanneer jy die regte woord vir ’n spesifieke situasie soek. Voordat jy ’n woord by jou woordeskat voeg, moet jy seker maak dat jy weet wat dit beteken, hoe om dit uit te spreek en wanneer dit gepas is om dit te gebruik.
Spesifieke uitdrukkings skep ’n duideliker beeld as dié wat algemene inligting verskaf. ’n Spreker sê dalk: “In daardie tyd het baie mense siek geword.” Of hy kan sê: “Ná die Eerste Wêreldoorlog het sowat 21 000 000 mense binne ’n paar maande aan die Spaanse griep gesterf.” Wat ’n verskil maak dit tog wanneer die spreker duidelik sê wat hy bedoel met “in daardie tyd”, “baie mense” en het “siek geword”! Om jou so te kan uitdruk, moet jy feitekennis van jou onderwerp hê en jou woorde versigtig kies.
Die gebruik van die regte woord kan jou ook help om tot die punt te kom sonder om omslagtig te wees. Omslagtigheid kan gedagtes vertroebel. Eenvoud maak dit makliker vir ander om belangrike feite te verstaan en te onthou. Dit help om juiste kennis oor te dra. Jesus Christus se onderrigting was voortreflik weens sy eenvoudige taalgebruik. Leer by hom. (Sien die voorbeelde wat in Matteus 5:3-12 en Markus 10:17-21 opgeteken is.) Oefen om jou gedagtes bondig en met goed gekose woorde uit te druk.
Woorde wat krag, gevoel, kleur gee. Terwyl jy jou woordeskat uitbrei, moet jy nie net aan nuwe woorde dink nie, maar ook aan woorde wat spesifieke eienskappe het. Dink byvoorbeeld aan werkwoorde wat krag uitdruk; byvoeglike naamwoorde wat kleur aan jou woorde gee en uitdrukkings wat hartlikheid oordra, wat ’n goedhartige klank of ’n ernstige toon het.
Die Bybel is vol voorbeelde van sulke betekenisvolle taalgebruik. Jehovah het deur die profeet Amos gesê: “Soek wat goed is, en nie wat sleg is nie . . . Haat wat sleg is, en wees lief vir wat goed is” (Amos 5:14, 15). Die profeet Samuel het vir koning Saul gesê: “Jehovah het vandag die koninklike heerskappy oor Israel van jou afgeskeur” (1 Sam. 15:28). Toe Jehovah met Esegiël gepraat het, het hy woorde gebruik wat moeilik is om te vergeet toe hy gesê het: “Die hele huis van Israel [is] hardkoppig en hard van hart” (Eseg. 3:7). Jehovah het die erns van Israel se oortreding beklemtoon en gevra: “Sal ’n mens God beroof? Maar julle beroof my” (Mal. 3:8). Daniël gee ’n treffende beskrywing van ’n toets van geloof in Babilon en sê dat “Nebukadnesar met grimmigheid vervul” is omdat Sadrag, Mesag en Abednego nie sy beeld wou aanbid nie, en hy het derhalwe beveel dat hulle gebind en in “die brandende vuuroond” gegooi moet word. Daniël help ons om te verstaan hoe warm die vuuroond was deur te sê dat die koning sy manne aangesê het om ‘die oond sewe keer warmer te maak as wat dit gewoonlik gemaak’ word—so warm dat die koning se manne doodgebrand het toe hulle naby die oond gekom het (Dan. 3:19-22). Jesus het ’n paar dae voor sy dood met mense in Jerusalem gepraat en met diep gevoel gesê: “Hoe dikwels wou ek jou kinders bymekaarmaak, soos ’n hen haar kuikens onder haar vlerke bymekaarmaak! Maar julle wou nie. Kyk! Julle huis word vir julle verlate agtergelaat.”—Matt. 23:37, 38.
Goed gekose woorde kan jou gehoor helder beelde voor hulle geestesoog laat roep. As jy beskrywende woorde gebruik, sal jou gehoor die dinge waaroor jy praat, kan “sien” en kan “voel”, die kos waarna jy verwys, kan “proe” en kan “ruik” en die geluide wat jy beskryf en die mense wat jy aanhaal, kan “hoor”. Die gehoor sal verdiep raak in wat jy sê, want jy help hulle om hulle in die situasie in te leef.
Woorde wat gedagtes duidelik oordra, kan mense laat lag of laat huil. Dit kan mense hoop gee en ’n mismoedige persoon besiel met die begeerte om te lewe en liefde vir sy Skepper in hom aanwakker. Mense in alle wêrelddele is al diep geraak deur die hoop wat gewek word deur die woorde in Bybeltekste soos Psalm 37:10, 11, 34; Johannes 3:16 en Openbaring 21:4, 5.
Wanneer jy die Bybel en die publikasies van “die getroue en verstandige slaaf” lees, sal jy ’n groot verskeidenheid woorde en frases opmerk (Matt. 24:45). Moet dit nie net lees en dan vergeet nie. Kies ’n paar waarvan jy hou, en voeg dit by jou aktiewe woordeskat.
Taalgebruik wat grammatikaal korrek is. Party mense besef dat hulle taalgebruik nie altyd grammatikaal korrek is nie. Maar wat kan hulle daaraan doen?
As jy nog op skool is, moet jy nou van die geleentheid gebruik maak om goeie grammatika en woordgebruik aan te leer. Vra jou onderwyser as jy onseker is oor die rede vir ’n sekere taalreël. Moenie net genoeg leer om te slaag nie. Jy het ’n dryfveer wat ander leerlinge moontlik nie het nie. Jy wil ’n bekwame bedienaar van die goeie nuus wees.
Gestel jy is ouer en het met ’n ander taal grootgeword as die een wat jy tans gebruik. Of moontlik het jy nooit die geleentheid gekry om veel skoolopleiding in jou moedertaal te ontvang nie. Moenie moed verloor nie. Span jou eerder ywerig in om ter wille van die goeie nuus te verbeter. Baie van wat ons oor grammatika weet, leer ons deur na ander te luister. Luister dus aandagtig wanneer ervare sprekers hulle toesprake hou. Wanneer jy die Bybel en Bybelpublikasies lees, moet jy oplet na die sinskonstruksie, die frases en die konteks waarin dit gebruik word. Volg hierdie goeie voorbeelde na wanneer jy praat.
Gewilde vermaaklikheidskunstenaars en sangers gebruik soms uitdrukkings en spraakstyle wat bots met goeie taalgebruik. Mense volg dikwels sulke persone na. Dwelmsmouse en ander wat misdadige of onsedelike lewens lei, het dikwels hulle eie woordeskat en gee betekenisse aan woorde wat heeltemal verskil van die gewone betekenis. Dit is nie verstandig van Christene om sulke persone na te volg nie. As ons dit doen, vereenselwig ons ons met daardie elemente van die wêreld en hulle lewenswyse.—Joh. 17:16.
Maak ’n gewoonte daarvan om elke dag versorgde taal te gebruik. As jy in jou daaglikse gesprekke slordige taal gebruik, moet jy nie verwag om by spesiale geleenthede goeie taal te kan gebruik nie. Maar as jy in alledaagse omstandighede versorgde taal gebruik, sal dit vir jou maklik en natuurlik wees om dieselfde te doen wanneer jy op die verhoog is of wanneer jy vir ander oor die waarheid getuig.