Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • rs bl. 430-bl. 435
  • Wegraping

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Wegraping
  • Redenering uit die Skrif
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • As iemand sê—
  • Jesus Christus
    Redenering uit die Skrif
  • ‘Weggevoer die Here tegemoet’—Hoe?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1993
  • Redding
    Redenering uit die Skrif
  • Sal jy na die hemel weggevoer word?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1993
Sien nog
Redenering uit die Skrif
rs bl. 430-bl. 435

Wegraping

Definisie: Die opvatting dat getroue Christene liggaamlik van die aarde af weggeraap sal word, skielik uit die wêreld weggeneem sal word, om “in die lug” met die Here verenig te word. Sommige meen dat 1 Thessalonicense 4:17 die “wegraping” beskryf. Die woord “wegraping” kom nie in die geïnspireerde Skrif voor nie.

Watter onderwerp was onder bespreking toe die apostel Paulus gesê het dat Christene “weggevoer” sou word om by die Here te wees?

1 Thess. 4:13-18: “Broeders, ek wil nie hê dat julle onkundig moet wees met betrekking tot die ontslapenes [“die wat in die dood slaap”, NE; “diegene wat gesterf het”, TEV, JB] nie, sodat julle nie treur soos die ander wat geen hoop het nie. Want as ons glo dat Jesus gesterwe en opgestaan het, dan sal God ook so die wat in Jesus ontslaap het, saam met Hom bring. Want dit sê ons vir julle deur die woord van die Here, dat ons wat in die lewe oorbly tot by die wederkoms van die Here, die ontslapenes hoegenaamd nie sal vóór wees nie. Want die Here self sal van die hemel neerdaal met ’n geroep, met die stem van ’n aartsengel en met geklank van die basuin van God; en die wat in Christus gesterf het, sal eerste opstaan. Daarna sal ons wat in die lewe oorbly, saam met hulle in wolke weggevoer word die Here tegemoet in die lug; en so sal ons altyd by die Here wees. Bemoedig mekaar dan met hierdie woorde.” (Sommige lede van die Christengemeente in Thessalonika het klaarblyklik gesterf. Paulus het die oorlewendes aangespoor om mekaar met die opstandingshoop te troos. Hy het hulle daaraan herinner dat Jesus uit die dood opgewek is; net so sou die getroue Christene onder hulle wat gesterf het by die koms van die Here opgewek word om by Christus te wees.)

Wie is diegene wat “in wolke weggevoer” sal word, soos 1 Thessalonicense 4:17 sê?

Vers 15 verduidelik dat hulle gelowiges is “wat in die lewe oorbly tot by die wederkoms van die Here”, dit wil sê, wat nog lewe ten tye van Christus se koms. Sal hulle ooit sterf? Volgens Romeine 6:3-5 en 1 Korinthiërs 15:35, 36, 44 (wat op bladsy 433 aangehaal is) moet hulle sterf voordat hulle die hemelse lewe kan verkry. Maar hulle hoef nie in die dood te wag op Christus se wederkoms nie. Hulle sal oombliklik, “in ’n oogwink”, “weggevoer” word om by die Here te wees.—1 Kor. 15:51, 52; ook Openbaring 14:13.

Sal Christus sigbaar op ’n wolk verskyn en dan die getroue Christene na die hemel wegvoer terwyl die wêreld toekyk?

Het Jesus gesê of die wêreld hom weer met hulle fisiese oë sou sien?

Joh. 14:19: “Nog ’n klein tydjie, en die wêreld sien My nie meer nie; maar julle [sy getroue dissipels] sien My, omdat Ek lewe en julle sal lewe.” (Vergelyk 1 Timotheüs 6:16.)

Hoe daal die Here ‘van die hemel neer’?

Kan die Here “van die hemel neerdaal”, soos 1 Thessalonicense 4:16 sê, sonder om vir fisiese oë sigbaar te wees? In die dae van eertydse Sodom en Gomorra het Jehovah gesê dat hy wou “neerdaal” om te sien wat die mense doen (Gen. 18:21). Maar toe Jehovah ondersoek ingestel het, het geen mens hom gesien nie, hoewel hulle die engeleverteenwoordigers wat hy gestuur het, gesien het (Joh. 1:18). Jesus kon dus eweneens sy aandag op sy getroue volgelinge op aarde vestig om hulle te beloon sonder om in die vlees terug te keer.

Hoe sal mense dan die Here “sien kom in ’n wolk”?

Jesus het voorspel: “Dan sal hulle die Seun van die mens [Jesus Christus] sien kom in ’n wolk, met groot krag en heerlikheid” (Luk. 21:27). Hierdie verklaring of soortgelyke verklarings in ander tekste weerspreek glad nie wat Jesus in Johannes 14:19 gesê het nie. Dink ’n bietjie: Wat het by die berg Sinai gebeur toe God ‘in ’n dik wolk na die volk gekom het’, soos Exodus 19:9 sê? God was onsigbaar teenwoordig; die kinders van Israel het sigbare bewys van sy teenwoordigheid gesien, maar nie een van hulle het God in werklikheid met hulle oë gesien nie. Toe Jesus gesê het dat hy “in ’n wolk” sou kom, moes hy dus ook bedoel het dat hy onsigbaar sou wees vir mense-oë, maar dat mense van sy teenwoordigheid bewus sou wees. Hulle sou hom met die oë van hulle verstand “sien” deur te besef dat hy teenwoordig is. (Kyk onder “Wederkoms” vir verdere kommentaar.)

Is dit vir Christene moontlik om met hulle fisiese liggame hemel toe geneem te word?

1 Kor. 15:50: “Dit verklaar ek, broeders, dat vlees en bloed die koninkryk van God nie kan beërwe nie; ook beërwe die verganklikheid nie die onverganklikheid nie.”

Weerspreek die ondervinding van die profeet Elia dit? Glad nie. Dit moet verstaan word in die lig van Jesus se duidelike verklaring eeue later: “Niemand het opgevaar in die hemel nie, behalwe Hy wat uit die hemel neergedaal het, naamlik die Seun van die mens” (Joh. 3:13). Hoewel daar gesien is hoedat Elia ‘in ’n storm na die hemel opvaar’, beteken dit nie dat hy na die geesteryk gegaan het nie. Waarom nie? Omdat daar later berig word dat hy ’n brief van teregwysing aan die koning van Juda gestuur het (2 Kon. 2:11; 2 Kron. 21:1, 12-15). Voordat mense vliegtuie uitgevind het, het Jehovah daar sy eie middele (’n wa van vuur en ’n stormwind) gebruik om Elia van die grond af op te lig na die hemel waar die voëls vlieg en hom na ’n ander plek te vervoer.—Vergelyk Genesis 1:6-8, 20.

Sal getroue Christene moontlik stilletjies hemel toe geneem word en bloot van die aarde af verdwyn sonder om te sterf?

Rom. 6:3-5, NAV: “Weet julle nie dat ons almal wat in Christus Jesus gedoop is, in sy dood gedoop is nie? . . . Aangesien ons met Hom een geword het in sy dood, sal ons sekerlik ook met Hom een wees in sy opstanding.” (Die gebeure in Jesus se geval het die voorbeeld gestel. Sy dissipels asook ander het geweet dat hy gesterf het. Hy het eers ná sy dood en opstanding weer hemelse lewe teruggekry.)

1 Kor. 15:35, 36, 44: “Iemand sal sê: Hoe word die dode opgewek, en met hoedanige liggaam kom hulle? Dwase mens! Wat jy saai, word nie lewendig as dit nie gesterf het nie. . . . ’n Natuurlike liggaam word gesaai, ’n geestelike liggaam word opgewek.” (Voordat ’n mens daardie geestelike liggaam ontvang, moet jy dus eers sterf, nie waar nie?)

Sal die Here alle getroue Christene voor die groot verdrukking wonderdadig van die aarde af wegneem?

Matt. 24:21, 22: “Dan sal daar groot verdrukking wees soos daar van die begin van die wêreld af tot nou toe nie gewees het en ook nooit sal wees nie. En as daardie dae nie verkort was nie, sou geen vlees gered word nie; maar ter wille van die uitverkorenes sal daardie dae verkort word.” (Dit sê nie dat “die uitverkorenes” almal hemel toe geneem sou word voor die groot verdrukking begin nie, nie waar nie? Dit toon dalk eerder dat party van hulle, saam met metgeselle in die vlees, daardie groot verdrukking op aarde sal oorleef.)

Openb. 7:9, 10, 14: “Ná hierdie dinge het ek gesien, en kyk, daar was ’n groot menigte wat niemand kon tel nie, uit alle nasies en stamme en volke en tale; hulle het gestaan voor die troon en voor die Lam, bekleed met wit klere en met palmtakke in hulle hande; en hulle het met ’n groot stem geroep en gesê: Heil aan onse God wat op die troon sit, en aan die Lam! . . . Dit is hulle wat uit die groot verdrukking kom.” (Om ‘uit iets te kom’, moet ’n persoon daarin gaan of daarin wees. Hierdie groot menigte moet dus persone wees wat die groot verdrukking beleef en as oorlewendes daaruit kom.) (Kyk bladsy 200, in verband met die feit dat hulle op die aarde is.)

Watter beskerming sal ware Christene gedurende die groot verdrukking geniet?

Rom. 10:13: “Elkeen wat die Naam van die Here [“Jehovah”, NW] aanroep, sal gered word.”

Sef. 2:3: “Soek die HERE [“Jehovah”, NW, AS, Yg, By], o alle ootmoediges van die land, wat sy ordening onderhou; soek geregtigheid, soek ootmoedigheid—miskien sal julle verborge bly op die dag van die toorn van die HERE.” (Ook Jesaja 26:20)

Sal alle ware Christene moontlik ná die groot verdrukking hemel toe geneem word?

Matt. 5:5: “Salig is die sagmoediges, want hulle sal die aarde beërwe.”

Ps. 37:29: “Die regverdiges sal die aarde besit en vir ewig daarop woon.” (Ook verse 10, 11, 34)

1 Kor. 15:50, NAV: “Vlees en bloed kan nie aan die koninkryk van God deel kry nie.”

Kyk ook onder “Hemel”.

Waarom word sommige Christene hemel toe geneem om by Christus te wees?

Openb. 20:6: “Hulle sal priesters van God en van Christus wees en sal saam met Hom as konings regeer duisend jaar lank.” (Aangesien hulle saam met Christus gaan regeer, moet daar mense wees om oor te regeer. Wie is hulle? Kyk Mattheüs 5:5 en Psalm 37:29.)

Kyk ook onder “Wedergeboorte”.

Sal diegene wat hemel toe gaan, later teruggebring word aarde toe om vir ewig hier in die Paradys te lewe?

Spr. 2:21: “Die opregtes sal die land bewoon [“op aarde woon”, NE], en die regskapenes daarin oorbly.” (Let op dat die teks nie sê dat sulke opregtes na die aarde sal terugkeer nie, maar dat hulle daarin sal oorbly.)

1 Thess. 4:17: “En so sal ons [Christene wat weggevoer is hemel toe] altyd by die Here wees.”

As iemand sê—

‘Glo jy aan die wegraping?’

Jy kan antwoord: ‘Ek vind dat nie almal dieselfde begrip van die wegraping het nie. Mag ek vra hoe u dit verstaan? . . . Dit is altyd nuttig om ons gedagtes te vergelyk met wat die Bybel self sê. (Gebruik die gedeeltes van die materiaal hierbo wat toepaslik is.)’

Of jy kan sê: ‘Die wegraping is aan my verduidelik as ’n ontsnappingsplan vir Christene. Baie meen dat dit die manier is waarop hulle aan die komende groot verdrukking sal ontkom. Is dit u beskouing?’ Dan kan jy byvoeg: (1) ‘Ons wil beslis op daardie tyd God se beskerming geniet, en ek vind sekere tekste wat toon hoe ons daarby baat kan vind baie bemoedigend (Sef. 2:3).’ (2) ‘Dit is interessant dat die Bybel toon dat God sommige gelowiges reg hier op aarde gaan beskerm (Spr. 2:21, 22). Dit strook met God se voorneme toe hy Adam geskape en hom in die Paradys gesit het, nie waar nie?’

’n Ander moontlikheid: ‘Met die wegraping bedoel u dat Christene wat aan die einde van die stelsel lewe hemel toe geneem sal word, nie waar nie? . . . Het u al gewonder wat hulle gaan doen wanneer hulle in die hemel kom? . . . Let op wat Openbaring 20:6 (en 5:9, 10, NAV) sê. . . . Maar oor wie gaan hulle regeer? (Ps. 37:10, 11, 29).’

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel