Streek- en internasionale byeenkomste spoor ons aan om God heerlikheid te gee!
Die afgelope “Gee God heerlikheid”-streek- en internasionale byeenkomste het ’n ontsaglike getuienis gegee. Hierdie betekenisvolle teokratiese geleenthede het Jehovah se naam groot gemaak en ons vermoë verbeter om ‘aan Jehovah die heerlikheid toe te skryf wat sy naam toekom’ (Ps. 96:8). Hy verdien waarlik om verheerlik te word weens sy wonderlike skeppingswerke, wat sy merkwaardige eienskappe weerspieël.—Job 37:14; Op. 4:11.
Gebruik die volgende vrae saam met jou persoonlike aantekeninge om vir die hersiening van die byeenkomsprogram gedurende die week van 23 Februarie voor te berei en daaraan deel te neem.
1. Hoe maak die lewelose skepping God se heerlikheid bekend, en hoe verskil dit van die manier waarop mense hom loof? (Ps. 19:1-3; “Die skepping maak die heerlikheid van God bekend”)
2. Watter hedendaagse werklikheid word deur die gedaanteverandering voorafgeskadu, en hoe word Christene van vandag deur hierdie werklikheid aangespoor? (Programrede: “Glorieryke profetiese visioene spoor ons aan!”)
3. Hoe kan ons die soort nederigheid aankweek wat die profeet Daniël geopenbaar het, en hoe sal ons daarby baat vind as ons dit doen? (Dan. 9:2, 5; 10:11, 12; “Jehovah se heerlikheid word aan nederiges geopenbaar”)
4. (a) Watter drie dinge kan ons omtrent God se oordeel uit die profesie van Amos leer? (Amos 1:3, 11, 13; 9:2-4, 8, 14) (b) Watter praktiese les kan Jehovah se Getuies vandag uit die waarskuwende voorbeeld in Amos 2:12 leer? (“Die profesie van Amos—die boodskap daarin vir ons dag”)
5. (a) Watter gevare hou die oormatige gebruik van alkohol in, selfs al word ’n persoon nie dronk nie? (b) Hoe kan ’n probleem met onmatigheid reggestel word? (Mark. 9:43; Ef. 5:18; “Vermy die strik van drankmisbruik”)
6. Hoe vind jy baat by die nuwe publikasie “Sien die goeie land”? (“‘Die goeie land’—’n voorskou van die Paradys”)
7. Op watter drie maniere kan ons “die heerlikheid van Jehovah soos spieëls weerkaats”? (2 Kor. 3:18; “‘Weerkaats die heerlikheid van Jehovah soos spieëls’”)
8. Wat is die bron van onverdiende haat, en wat kan ons help om ons onkreukbaarheid ondanks sulke haat te handhaaf? (Ps. 109:1-3; “Sonder oorsaak gehaat”)
9. Wat is die Christelike beskouing van grootheid, en hoe kan ’n persoon vasstel of hy hierdie beskouing in groter mate moet aankweek? (Matt. 20:20-26; “Kweek ’n Christelike beskouing van grootheid aan”)
10. Wat kan ons help om geestelik sterk te bly ondanks fisiese moegheid? (“Moeg maar nie vermoeid nie”)
11. Wat is van die kanale wat Satan gebruik om onwaarheid te bevorder, en wat is die gepaste skriftuurlike reaksie op pogings om ons geloof te ondermyn? (Joh. 10:5; “Pas op vir ‘die stem van vreemdelinge’”)
12. (a) Hoe kan ouers Jesus se voorbeeld volg, wat in Markus 10:14, 16 opgeteken is? (b) Wat geniet jy omtrent die nuwe boek Leer by die Groot Onderwyser? (“Ons kinders—’n kosbare erfenis”)
13. Hoe loof jongmense Jehovah? (1 Tim. 4:12; “Hoe jongmense Jehovah loof”)
14. Watter tonele uit die drama “Getuig met vrymoedigheid ondanks teenstand” het jou veral beïndruk?
15. Hoe kan ons die voorbeeld navolg van (a) Petrus en Johannes? (Hand. 4:10) (b) Stefanus? (Hand. 7:2, 52, 53) (c) die eerste-eeuse Christengemeente? (Hand. 9:31; drama en die toespraak “Maak die goeie nuus ‘sonder ophou’ bekend”)
16. (a) Op watter maniere het ons ons voorgeneem om God heerlikheid te gee? (b) Waarvan kan ons verseker wees as ons toepas wat ons by die “Gee God heerlikheid”-byeenkomste geleer het? (Joh. 15:9, 10, 16; “‘Hou aan om veel vrug te dra’ tot heerlikheid van Jehovah”)
As ons peins oor die uitstekende geestelike onderrigting wat ons by die byeenkoms ontvang het, sal dit ons aanspoor om die dinge wat ons geleer het, toe te pas (Fil. 4:8, 9). Dit sal ons meer vasbeslote maak om “alles tot heerlikheid van God” te doen.—1 Kor. 10:31.