Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w87 5/1 bl. 15-20
  • Die behoud van die lewe tydens hongersnood

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die behoud van die lewe tydens hongersnood
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1987
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Voorsiening vir geestelike voeding
  • Weerwraak, straf of genade?
  • Volop geestelike voedsel
  • “Is ek in die plek van God?”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2015
  • Jehovah het Josef nooit vergeet nie
    Lesse wat jy kan leer uit die Bybel
  • Dodelike hongersnood in ’n tyd van oorvloed
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1987
  • Vergifnis baan die weg tot redding
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1999
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1987
w87 5/1 bl. 15-20

Die behoud van die lewe tydens hongersnood

1. Hoe het Josef gedurende die jare van oorvloed verstandig opgetree, en met watter gevolg?

ONMIDDELLIK na sy aanstelling as voedseladministrateur het Josef deur Egipteland gereis. Hy het sake goed gereël gehad toe die jare van oorvloed begin het. Die land het nou sy opbrengs met handvolle opgelewer! Josef het aangehou om die voedsel van die land wat rondom elke stad was, te versamel en in die stad weg te sit. Hy het “’n baie groot hoeveelheid koring opgehoop soos die sand van die see, totdat hulle opgehou het om te tel, want dit was ontelbaar”.—Genesis 41:46-49.

2. Met watter persoonlike opoffering kon die mense voedsel kry?

2 Die sewe jare van oorvloed het geëindig, en die hongersnood het begin soos Jehovah voorspel het—’n hongersnood, nie net in Egipte nie, maar “oor die hele oppervlakte van die aarde”. Toe die honger mense in Egipte na Farao begin roep het om brood, het Farao vir hulle gesê: “Gaan na Josef, doen wat hy julle sê.” Josef het koring aan die Egiptenaars verkoop totdat hulle geld op was. Toe het hy hulle vee as betaling aanvaar. Eindelik het die mense na Josef gekom en gesê: “Koop ons en ons grond vir brood, dan sal ons met ons grond aan Farao diensbaar wees.” Josef het gevolglik al die grond van die Egiptenaars vir Farao gekoop.—Genesis 41:53-57; 47:13-20.

Voorsiening vir geestelike voeding

3. Watter kanaal vir voedsel op tyd het Jesus voorspel?

3 Net soos die koring wat deur Josef versprei is die lewe vir die Egiptenaars beteken het, is ware geestelike voedsel onontbeerlik vir die versterking van Christene wat knegte van Jehovah word deur hulle deur middel van die Grotere Josef, Jesus Christus, aan Hom toe te wy. Gedurende sy aardse bediening het Jesus voorspel dat sy gesalfde voetstapnavolgers die verantwoordelikheid sou hê om hierdie voorsienings uit te deel. Hy het gevra: “Wie is dan die getroue en verstandige dienskneg vir wie sy heer oor sy diensvolk aangestel het om hulle hul voedsel op tyd te gee? Gelukkig is daardie dienskneg vir wie sy heer, as hy kom, op hierdie manier besig sal vind.”—Mattheüs 24:45, 46.

4. Hoe kom die voorsienings van die hedendaagse “dienskneg”-klas ooreen met wat in Josef se dag gereël is?

4 Die getroue oorblyfsel van hierdie “verstandige dienskneg”-klas ontsien vandag niks, binne Skriftuurlike perke, om te sorg dat Jehovah se toegewyde getuies, asook belangstellendes daar buite in die wêreld, lewe-onderhoudende geestelike voedsel kry nie. Hulle besef dat hierdie pand ’n heilige plig is en verrig dit as ’n heilige diens aan Jehovah. Daarbenewens het die “dienskneg” gemeentes georganiseer en hulle van soveel Bybellektuur voorsien dat hulle oorgenoeg Koninkryk-“saad” het om in die openbaar in hulle toegewese gebiede te versprei. Dit kom ooreen met Josef se dag, toe hy die mense in stede bymekaargebring en vir hulle koring gegee het, nie net om te eet nie, maar ook om te saai met die oog op ’n latere oes.—Genesis 47:21-25; Markus 4:14, 20; Mattheüs 28:19, 20.

5. (a) Watter spesiale aandag skenk die “dienskneg” aan die behoeftes van die diensvolk in krisistye? (b) Hoe vergelyk die “oorvloed” geestelike voorsienings in 1986 met voorrade in Josef se dag?

5 Selfs wanneer die openbare predikingswerk verbied is en Jehovah se Getuies vervolg word, beskou die ‘getroue dienskneg’ hierdie werk om geestelike voedsel te voorsien as ’n heilige pand (Handelinge 5:29, 41, 42; 14:19-22). Wanneer daar ’n ramp is, byvoorbeeld as gevolg van storms, oorstromings en aardbewings, sorg die “dienskneg” dat daar in die fisiese sowel as die geestelike behoeftes van God se huis voorsien word. Selfs diegene in konsentrasiekampe word gereeld met die gedrukte woord bereik. Landsgrense word nie toegelaat om die toevoer van geestelike voedsel na diegene wat dit nodig het af te sny nie. Dit verg moed, geloof in Jehovah en dikwels baie vindingrykheid om te sorg dat die voorraad nie opraak nie. Gedurende 1986 alleen het die “dienskneg” wêreldwyd ’n oorvloed Bybels en gebonde boeke, 43 958 303 in totaal, asook 550 216 455 tydskrifte gedruk—waarlik “’n baie groot hoeveelheid . . . soos die sand van die see”.

Weerwraak, straf of genade?

6, 7. (a) Hoe het die hongersnood meegebring dat die tien halfbroers hulself voor Josef neerbuig? (b) Op watter maniere is Josef self nou op die proef gestel?

6 Eindelik het die hongersnood die land Kanaän getref. Jakob het Josef se tien halfbroers na Egipte gestuur om koring te koop. Maar hy het nie vir Benjamin, Josef se enigste bloedbroer, gestuur nie, uit vrees dat hy, soos hy gesê het, ‘’n ongeluk kon oorkom’. Aangesien Josef die koring verkoop het, het sy broers na hom gekom en hulle voor hom neergebuig. Hoewel hulle nie hulle broer herken het nie, het Josef geweet wie hulle is.—Genesis 42:1-7.

7 Josef het nou sy vroeëre drome oor hulle onthou. Maar wat moes hy doen? Moes hy weerwraak neem? Moes hy hulle in hulle tyd van groot nood vergewe vir die behandeling wat hy van hulle ontvang het? Wat van sy vader se folterende droefheid? Moes hy dit vergeet? Hoe het sy broers nou gevoel oor die groot onreg wat hulle gepleeg het? Josef is ook in hierdie saak op die proef gestel. Sou sy dade strook met die gesindheid wat die Grotere Josef, Jesus Christus, later sou openbaar, soos beskryf in 1 Petrus 2:22, 23: “Hy wat geen sonde gedoen het nie, en in wie se mond geen bedrog gevind is nie; wat, toe Hy uitgeskel is, nie terug uitgeskel het nie; toe Hy gely het, nie gedreig het nie, maar dit oorgegee het aan Hom wat regverdig oordeel.”

8. Waardeur sou Josef gelei word, en wat lig dit omtrent Jesus en Sy dissipels toe?

8 Aangesien Josef Jehovah se hand in die verloop van sake kon sien, het hy God se wette en beginsels nougeset toegepas. Jesus was eweneens altyd gretig om ‘die wil van sy Vader te doen’ terwyl hy die ewige lewe bewerk het vir ‘elkeen wat in hom glo’ (Johannes 6:37-40). As “gesante om Christus wil” leef sy gesalfde dissipels ook hulle heilige pand na deur “aan die volk al die woorde van hierdie lewe” te vertel.—2 Korinthiërs 5:20; Handelinge 5:20.

9, 10. (a) Watter weg het Josef nou ingeslaan, en waarom? (b) Hoe het Josef medelye getoon soos wat Jesus sou toon?

9 Josef het hom nie dadelik aan sy broers geopenbaar nie. Hy het hulle eerder hard aangespreek deur ’n tolk en gesê: “Julle is spioene!” Aangesien hulle gemeld het dat hulle ’n jonger broer het, het Josef daarop aangedring dat hulle hulle waaragtigheid staaf deur hom na Egipte te bring. Josef het gehoor hoe hulle berouvol vir mekaar sê dat hierdie wending ’n straf moet wees omdat hulle hom, Josef, as ’n slaaf verkoop het. Josef het weggedraai en geween. Hy het Simeon nietemin as ’n gyselaar laat bind totdat hulle met Benjamin teruggekeer het.—Genesis 42:9-24.

10 Josef het nie weerwraak geneem weens die onreg wat hom aangedoen is nie. Hy wou vasstel of hulle berou opreg was, diep uit hulle hart gekom het, sodat daar genade aan hulle betoon kon word (Maleagi 3:7; Jakobus 4:8). Met medelye soos dié wat Jesus sou openbaar, het Josef nie alleen hulle sakke met koring gevul nie, maar ook hulle geld aan hulle teruggegee deur dit bo in elkeen se sak te laat sit. Daarbenewens het hy vir hulle padkos vir die reis gegee.—Genesis 42:25-35; vergelyk Mattheüs 11:28-30.

11. (a) Wat is Jakob mettertyd gedwing om te doen, en waarom het hy eindelik ingestem? (b) Hoe verseker Romeine 8:32 en 1 Johannes 4:10 ons eweneens van God se liefde?

11 Mettertyd het die kos wat hulle in Egipte gekoop het, opgeraak. Jakob het die nege seuns gevra om terug te gaan en nog te koop. Vroeër het hy ten opsigte van Benjamin gepleit en gesê: “My seun sal nie saam met julle aftrek nie, want sy broer is dood, en hy het alleen oorgebly; en as ’n ongeluk hom oorkom op die pad wat julle sal gaan, dan sal julle my grys hare met kommer in die doderyk laat afdaal.” Maar na baie oorreding en Juda se aanbod om persoonlik vir Benjamin verantwoordelik te wees, het Jakob teësinnig ingestem dat hulle die seun met hulle kon saamneem.—Genesis 42:36–43:14.

12, 13. (a) Hoe het Josef sy broers aan ’n toets onderwerp om hulle hartsgesindheid aan die lig te bring? (b) Hoe het die uitslag daarvan Josef ’n grondslag gegee om genade te betoon?

12 Toe Josef sien dat Benjamin saam met die broers gekom het, het hy hulle na sy huis genooi waar hy ’n feesmaal voorberei het. Vir Benjamin het hy ’n porsie laat opskep wat vyf keer groter was as die porsie van elk van die ander. Toe het Josef sy broers ’n laaste keer getoets. Hy het weer al hulle geld in hulle onderskeie sakke laat sit, maar sy eie spesiale silwerbeker is bo in Benjamin se sak gesit. Nadat hulle vertrek het, het Josef die opsigter oor sy huis gestuur om hulle van diefstal te beskuldig en hulle sakke vir sy beker te deursoek. Toe dit in Benjamin se sak gevind is, het die broers hulle klere geskeur. Hulle is teruggeneem om voor Josef te verskyn. Juda het hartstogtelik om genade gepleit en aangebied om ’n slaaf in Benjamin se plek te word sodat die seun na sy vader kon terugkeer.—Genesis 43:15–44:34.

13 Omdat Josef nou oortuig was dat sy broers tot inkeer gekom het, kon hy nie langer sy gevoelens beheers nie. Nadat hy beveel het dat almal hom moet verlaat, het Josef gesê: “Ek is julle broer Josef vir wie julle na Egipte verkoop het. Maar wees nou nie bedroef nie, en laat daar geen ontstemming by julle wees dat julle my hierheen verkoop het nie. Want om lewens te behou, het God my voor julle uit gestuur . . . om vir julle ’n oorblyfsel op die aarde te verseker en om julle in die lewe te hou tot ’n groot verlossing.” Toe het hy vir sy broers gesê: “Trek gou op na my vader en sê vir hom: . . . Kom af na my, moenie versuim nie! En u kan in die land Gosen woon en . . . ek sal u daar onderhou, want daar sal nog vyf jaar hongersnood wees; sodat u nie verarm nie, u en u huis en alles wat aan u behoort.”—Genesis 45:4-15.

14. Watter vreugdevolle nuus is aan Jakob oorgedra?

14 Toe Farao die nuus oor Josef se broers verneem, het hy vir Josef gesê om waens van Egipteland af te stuur om sy vader en sy hele familie na Egipte te bring want die beste deel van die land sou aan hulle behoort. Toe Jakob hoor wat alles gebeur het, het sy gees lewendig geword en het hy uitgeroep: “Dit is genoeg! My seun Josef lewe nog! Ek sal gaan en hom sien voordat ek sterwe.”—Genesis 45:16-28.

Volop geestelike voedsel

15. Tot wie wend ons ons nou vir geestelike voedsel, en hoe kan ons seker wees van ’n oorvloed?

15 Wat beteken al hierdie dinge vandag vir ons? Immer bewus van ons geestelike behoefte wend ons ons tot Iemand wat baie groter is as die goedhartige Farao van Josef se dag. Dit is die Soewereine Heer Jehovah wat voedsel en leiding voorsien in hierdie donker dae van ’n wêreld wat na Bybelwaarheid honger. Ons het ons kragte ingespan ten behoewe van sy Koninkryk, al ons tiendes as ’t ware na sy skathuis gebring. Hoe mildelik het hy tog vir ons “die vensters van die hemel” oopgemaak en ’n “oorvloedige” seën uitgestort!—Maleagi 3:10.

16. (a) Slegs waar kan lewe-onderhoudende “voedsel” vandag gevind word? (b) Hoe word daar vandag meer “koring” ten behoewe van die honger mensdom gesaai?

16 Aan Jehovah se regterhand is sy Voedseladministrateur, nou die gekroonde Koning, die verheerlikte Jesus (Handelinge 2:34-36). Net soos die mense hulself as slawe moes verkoop om aan die lewe te bly, moet almal wat vandag aan die lewe wil bly na Jesus kom en sy volgelinge word wat aan God toegewy is (Lukas 9:23, 24). Net soos Jakob sy seuns aangesê het om na Josef te gaan om voedsel te kry, lei Jehovah berouvolle mense na sy geliefde Seun, Jesus Christus (Johannes 6:44, 48-51). Jesus bring sy volgelinge in stadagtige gemeentes byeen—waarvan daar vandag meer as 52 000 oor die hele wêreld is—waar hulle gevoed word met ’n oorvloed geestelike voedsel en waar hulle voorsien word van ’n oorvloed “koring”, as “saadkoring” om in die saailand te saai (Genesis 47:23, 24; Mattheüs 13:4-9, 18-23). Watter gewillige werkers is hierdie getuies van Jehovah tog nie! Al hoe meer van hulle bied aan om die voltydse pionierdiens te betree, sodat ’n hoogtepunt van 595 896 van hulle een maand verlede jaar hierdie diensvoorreg geniet het. Daar was dus gemiddeld meer as 11 pioniers in elke gemeente!

17. Watter ander profetiese verslag kom ooreen met die tien halfbroers se vereniging met Josef?

17 Dit is opmerkenswaardig dat al tien Josef se halfbroers, wat nou berou oor hulle vorige gesindhede en dade gehad het, met hom verenig is in Egipte, wat, saam met Sodom, die wêreld afbeeld waarin Jesus aan die paal genael is (Openbaring 11:8). Dit herinner ons aan Sagaria 8:20-23, wat ’n hoogtepunt bereik met ’n beskrywing van “tien man” wat sê: “Ons wil met julle saamgaan”, dit wil sê, saam met Jehovah se gesalfde volk, waarvan ’n oorblyfsel nog steeds hier op aarde dien.

18. Waarmee kom die betoning van spesiale guns aan Benjamin in hedendaagse tye ooreen?

18 Maar wat van Josef se een bloedbroer, Benjamin, wie se moeilike geboorte die lewe van Jakob se geliefde vrou Ragel gekos het? Benjamin is besonder begunstig deur Josef, wat ongetwyfeld nader gevoel het aan hierdie seun van sy eie moeder. Dit verklaar heel waarskynlik waarom Benjamin se porsie vyf keer groter was toe al 12 broers by die fees in Josef se huis herenig is. Is Benjamin nie ’n goeie afbeelding van die oorblyfsel van gesalfde Getuies vandag, waarvan die meeste oorlewendes sedert 1919 na die Here se kant bymekaargebring is nie? Hierdie “Benjamin”-klas het voorwaar ’n besondere porsie van Jehovah ontvang daar sy ‘gees saam met hulle gees getuig’ (Romeine 8:16). Ook hulle onkreukbaarheid is op die proef gestel terwyl die Here se “skape” hulle gedien het.—Mattheüs 25:34-40.

19. Watter parallel kan waargeneem word tussen die verhuising van die huisgesinne van Israel na Gosen en die versameling van God se volk vandag?

19 Dit is interessant dat al die manlike “siele” wat hulle in Egipte gevestig het toe Farao gereël het om Jakob en sy huisgesinne soontoe te vervoer, 70 getel het, ’n veelvoud van 7 en 10 (Genesis 46:26, 27). Hierdie twee getalle word betekenisvol dwarsdeur die Skrif gebruik, daar “7” dikwels hemelse en “10” aardse volkomenheid aandui (Openbaring 1:4, 12, 16; 2:10; 17:12). Dit kom ooreen met die hedendaagse situasie wanneer ons kan verwag dat Jehovah die laaste een van sy gesin Getuies byeen sal bring in sy “land”, die geestelike paradys waarin ons ons nou verheug. (Vergelyk Efesiërs 1:10.) “Die Here ken die wat syne is”, en hy is selfs nou besig om hulle in “die beste deel van die land”, soos Gosen in Farao se ryk was, te sit.—Genesis 47:5, 6; 2 Timotheüs 2:19.

20. Waarom moet ons bly wees ondanks die geestelike hongersnood vandag?

20 In Josef se dag het die jare van hongersnood op die jare van oorvloed gevolg. Vandag loop hulle gelyktydig. In teenstelling met die geestelike hongersnood in die land buite Jehovah se guns, is daar ’n oorvloed geestelike voedsel in Jehovah se plek van aanbidding (Jesaja 25:6-9; Openbaring 7:16, 17). Ja, hoewel daar in die valse Christendom ’n honger is om die woorde van Jehovah te hoor, soos Amos voorspel het, gaan die woord van Jehovah wel uit hemelse Jerusalem uit. Hoe bly maak dit ons tog nie!—Amos 8:11; Jesaja 2:2, 3; 65:17, 18.

21. (a) Watter groot voorreg geniet ons vandag? (b) Waarvoor moet ons dankbaar wees, en hoe kan ons ons dank betuig?

21 Vandag, onder die leiding van die Grotere Josef, Jesus Christus, het ons die groot voorreg om byeengebring te word in stadagtige gemeentes. Daar kan ons smul aan ’n oorvloed ryk geestelike voedsel en ook saadjies van waarheid saai en die goeie nuus uitdra dat geestelike voedsel beskikbaar is. Ons doen dit tot voordeel van almal wat die Soewereine Heerser, Jehovah, se liefdevolle voorwaardes en voorsienings aanvaar. Hoe dankbaar kan ons tog teenoor ons God wees vir sy gawe, naamlik sy Seun, die Grotere Josef, wat as die verstandige Administrateur van geestelike voedsel dien! Dit is hy wat deur Jehovah gemagtig is om as die Behouer van die lewe op te tree in hierdie tyd van geestelike hongersnood. Mag elkeen van ons ywerig heilige diens verrig in navolging van sy voorbeeld en onder sy leiding!

Sien jy die parallel?

◻ Hoe het Josef met Jesus ooreengekom as Voedseladministrateur?

◻ Wat in die Josefdrama kom ooreen met die proses om slawe van God te word deur middel van toewyding?

◻ Watter eienskap is deur Josef en deur Jesus geopenbaar as ’n voorbeeld vir ons vandag?

◻ Watter deeglike reëling vir voedselverspreiding bestaan vandag net soos in Josef se dag?

◻ Wat behoort ons bespreking van hierdie drama ons te dring om te doen?

[Prent op bladsy 16, 17]

In ’n wêreld wat deur geestelike honersnood verswelg word, voorsien die Grotere Josef oorgenoeg vir almal wat in geloof na hom kom

Net soos die tien halfbroers hulle aan Josef onderwerp het, erken ’n groot menigte Christus nou

Net soos die 70 siele van Jakob se huis kom die volledige getal van Jehovah se “skape” in ’n goeie “land” aan—die geestelike paradys wat ons nou geniet

[Prent op bladsy 18]

Die hedendaagse Benjamin-klas is buitengewoon deur Christus begunstig en ontvang ’n oorvloed “voedsel op tyd”

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel