Hoofstuk 25
Die goeie nuus word in die openbaar en van huis tot huis verkonding
TOE Jesus Christus sy dissipels uitgestuur het, het hy aan hulle die opdrag gegee: “Gaan preek en sê: Die koninkryk van die hemele het naby gekom” (Matt. 10:7). En in sy profetiese opdrag aan ware Christene wat gedurende die voleinding van die stelsel van dinge sou lewe, het hy gesê: “Hierdie evangelie van die koninkryk sal verkondig word in die hele wêreld tot ’n getuienis vir al die nasies; en dan sal die einde kom” (Matt. 24:14). Wat het dit beteken?
Dit het nie beteken dat hulle kerke moes bou, ’n klok moes lui en moes wag vir ’n gemeente om te kom luister hoe hulle een keer per week ’n preek hou nie. Die Griekse werkwoord (ke·rusʹso) wat hier met “preek” en “verkondig” weergegee word, beteken basies “om as ’n boodskapper [iets] bekend te maak”. Die gedagte is nie om preke voor ’n geslote groep dissipels te hou nie, maar eerder om iets openlik en in die openbaar bekend te maak.
Jesus het self die voorbeeld gestel hoe dit gedoen moes word. Hy het na plekke gegaan waar hy mense kon vind. In die eerste eeu het mense gereeld in die sinagoges byeengekom om na Skrifvoorlesing te luister. Jesus het geleenthede aangegryp om daar vir hulle te preek, nie net in een stad nie, maar in stede en dorpe deur die hele Galilea en Judea (Matt. 4:23; Luk. 4:43, 44; Joh. 18:20). Die Evangelieverslae toon dat hy meestal op die strand, teen berghange, langs die pad, in dorpies en in die huise van diegene wat hom verwelkom het, gepreek het. Oral waar hy mense teëgekom het, het hy oor God se voorneme vir die mensdom gepraat (Luk. 5:3; 6:17-49; 7:36-50; 9:11, 57-62; 10:38-42; Joh. 4:4-26, 39-42). En toe hy sy dissipels uitgestuur het, het hy hulle beveel om na die mense se huise te gaan om die wat waardig is te soek en vir hulle van God se Koninkryk te vertel.—Matt. 10:7, 11-13.
In hedendaagse tye het Jehovah se Getuies die voorbeeld probeer navolg wat Jesus en sy eerste-eeuse dissipels gestel het.
Die nuus van Christus se teenwoordigheid word bekend gemaak
Toe Charles Taze Russell en sy metgeselle die harmonieuse patroon van waarheid begin verstaan het wat in God se Woord uiteengesit word, is hulle diep getref deur wat hulle aangaande die doel en manier van Christus se wederkoms geleer het. Broer Russell het ’n groot en dringende begeerte gehad om dit bekend te maak. Hy het sy sake so gereël dat hy na plekke kon reis waar daar mense was met wie hy oor hierdie Bybelwaarhede kon praat. Hy het kampdienste bygewoon en gebruik gemaak van geleenthede om die mense daar toe te spreek, soos Jesus in die sinagoges gepreek het. Maar hy het gou besef dat daar op ander maniere meer tot stand gebring kon word. Sy ondersoek van die Skrif het getoon dat Jesus en sy apostels die grootste deel van hulle predikingswerk gedoen het in private gesprekke met mense en wanneer hulle van huis tot huis gegaan het. Hy het ook die waarde daarvan besef om ’n gesprek af te rond deur leesstof by die mense te laat.
Hy het reeds in 1877 die boekie The Object and Manner of Our Lord’s Return uitgegee. Twee jaar later het hy onderneem om die tydskrif Zion’s Watch Tower and Herald of Christ’s Presence gereeld uit te gee. Ja, die doel was om die lewensbelangrike goeie nuus aangaande Christus se teenwoordigheid te verkondig of bekend te maak.
Reeds in 1881 is die lektuur van die Bybelstudente gratis naby die kerke versprei—nie reg voor die kerkdeure nie, maar naby sodat godsdienstige mense dit kon ontvang. Baie van die Bybelstudente het hierdie lektuur aan kennisse gegee of dit per pos versprei. Teen 1903 het Die Wagtoring (Engelse uitgawe) aanbeveel dat hulle almal moet probeer bereik deur die traktate van huis tot huis te versprei, pleks van hulle op kerkgangers toe te spits. Nie alle Bybelstudente het dit gedoen nie, maar talle het dit met groot ywer aangepak. Daar is byvoorbeeld berig dat feitlik elke huis in ’n aantal van die groot stede in die Verenigde State, asook in hulle voorstede binne ’n omtrek van 16 kilometer of meer, ’n besoek ontvang het. Miljoene der miljoene traktate, of boekies, is so versprei. Destyds het die meeste Bybelstudente wat aan die verkondiging van die goeie nuus deelgeneem het dit gedoen deur traktate en ander lektuur op die een of ander manier gratis te versprei.
Ander onder die Bybelstudente—’n kleiner aantal—het as kolporteurevangeliste gedien en ’n groot deel van hulle tyd uitsluitlik aan hierdie werk gewy.
Ywerige kolporteurs neem die voortou
Die eerste uitnodiging aan toegewyde mans en vroue wat ’n groot deel van hulle tyd aan hierdie diens kon wy, is in April 1881 uitgereik. Hulle moes ’n boekie wat Bybelwaarhede verduidelik en ’n intekening op Die Wagtoring vir huisbewoners en sakemanne aanbied. Hulle doel was om diegene te soek wat na die waarheid honger en aan hulle die verligtende boodskap mee te deel. ’n Tyd lank het hulle net genoeg probeer sê om die belangstelling te wek en het by elke huis ’n pakkie lektuur gelaat sodat die huisbewoner dit kon deurkyk, en dan het hulle ’n paar dae later weer teruggekom. Party huisbewoners het die lektuur teruggegee; ander het dit gekoop; dikwels was daar geleenthede vir gesprekke. Aangaande hulle doelwit het Die Wagtoring (Engelse uitgawe) gesê: “Dit is nie om die pakkies te verkoop of om intekeninge te verkry nie, maar om die waarheid te versprei deur die mense te kry om te lees.”
’n Betreklike klein groepie het aan hierdie kolporteurevangelisasie deelgeneem. Gedurende die eerste 30 jaar het hulle geledere gewissel van ’n paar tot om en by 600. Hierdie kolporteurs was pioniers in die ware sin van die woord deurdat hulle nuwe gebiede geopen het. Anna Andersen, wat gewoonlik per fiets gereis het, was een wat dekades in hierdie diens volhard het, en sy het feitlik elke dorp in Noorweë met die goeie nuus bereik. Ander kolporteurs het na die buiteland gegaan en was die eerstes wat die boodskap geneem het na lande soos Finland, Barbados, El Salvador, Guatemala, Honduras en Birma (nou Myanma). Daar was ook party wat nie vry was om na ander gebiede te gaan nie, maar wat as kolporteurevangeliste in hulle tuisgebied gedien het.
Die kolporteurs het uitstekende werk gedoen. Een wat aan die weskus van Amerika gedien het, het in 1898 geskryf dat hy gedurende die vorige 33 maande 12 800 kilometer met sy perdekar afgelê het, in 72 dorpe getuig het, 18 000 besoeke gedoen het, 4 500 boeke versprei het, 125 intekeninge verkry het, 40 000 traktate uitgegee het en gesien het hoe 40 mense nie net die boodskap aanneem nie, maar dit ook aan ander begin vertel. ’n Egpaar wat in Australië gedien het, het daarin geslaag om gedurende ’n tydperk van slegs twee en ’n half jaar 20 000 boeke in die hande van belangstellendes te laat.
Was die verspreiding van groot hoeveelhede lektuur eerder die uitsondering as die reël? Wel, die rapport vir 1909 toon dat sowat 625 kolporteurs (die totaal op die lys op daardie tydstip) 626 981 boeke van die Genootskap ontvang het om onder die publiek te versprei (’n gemiddelde van meer as duisend per kolporteur), buiten ’n groot hoeveelheid gratis lektuur. Hulle kon dikwels nie genoeg boeke van huis tot huis saamdra nie; gevolglik het hulle bestellings geneem en dan later die boeke afgelewer.
Sommige mense het nietemin beswaar gemaak: “Dít is nie prediking nie!” Maar, soos broer Russell verduidelik het, dit was in der waarheid ’n uiters doeltreffende manier van prediking. Pleks dat mense net een preek hoor, ontvang hulle talle preke in gedrukte vorm en kan hulle dit derhalwe oor en oor geniet en die inhoud daarvan vergelyk met wat in hulle eie Bybel staan. Dit was evangelisasie wat rekening gehou het met die feit dat algemene skoolonderrig mense toegerus het om te lees. Die boek The New Creation het op die volgende gewys: “Die feit dat hierdie evangeliste metodes gebruik wat vir ons tyd aangepas is, pleks van metodes wat in die verlede gepas was, is net so min ’n argument teen hierdie werk as die feit dat hulle met stoom en elektriese krag pleks van per voet of met kamele reis. Die evangelisasiewerk word gedoen deur die Waarheid . . . , die Woord van God, onder mense se aandag te bring.”
Die Bybelstudente se opregte belangstelling om mense te help, het geblyk uit die deeglikheid wat mettertyd ’n kenmerk van hulle predikingswerk geword het. Die Wagtoring (Engelse uitgawe) van 1 Maart 1917 het die program soos volg uiteengesit: Eers het die kolporteurs die huise in ’n gebied besoek en die boekdele Studies in the Scriptures aangebied. Daarna het pastorale werkersa opvolgbesoeke gedoen op mense wie se naam deur die kolporteurs aangeteken is of wat by openbare vergaderinge ingegee is. Hulle het by mense ’n begeerte probeer wek om die lektuur te lees, belangstellendes aangemoedig om spesiaal gereëlde toesprake by te woon en hulle daarop toegelê om klasse vir Bereaanse Bybelstudie te organiseer. Indien moontlik het die kolporteurs weer dieselfde gebied deurgewerk, en dan het die pastorale werkers die opvolgwerk gedoen om met die belangstellendes in aanraking te bly. Later het ander klaswerkers dieselfde huise besoek met vry leesstof, soos hulle die traktate en die ander gratis lektuur genoem het wat hulle aangebied het. So kon almal ten minste iets ontvang wat ’n begeerte kon wek om meer aangaande God se voorneme te wete te kom.
Wanneer daar net een of twee kolporteurs in ’n gebied gedien het, en daar nie ’n gemeente was nie, het die kolporteurs dikwels self die opvolgwerk gedoen. Gevolglik het Hermann Herkendell en sy maat, toe hulle in 1908 as kolporteurs na Bielefeld, Duitsland, gegaan het, spesifieke instruksies ontvang om die belangstellendes in die gebied met mekaar te laat kennis maak en om ’n gemeente te stig. Enkele jare later het Die Wagtoring melding gemaak van ander kolporteurs wat persoonlik aan belangstellendes aandag geskenk het totdat hulle in elke dorp of stad waar hulle gedien het ’n Bybelstudenteklas gestig het.
’n Waardevolle hulpmiddel in hierdie werk was die boek Die Harp van God wat in 1921 verskyn het. Die boek, wat spesiaal saamgestel is om beginners te help, het uiteindelik ’n verspreiding van 5 819 037 in 22 tale bereik. Om diegene te help wat die boek geneem het, het die Genootskap ’n korrespondensiekursus in Bybelstudie aangebied wat die onderwerpmetode gevolg het. Dit het uit 12 vraestelle bestaan wat oor ’n tydperk van 12 weke uitgestuur is. Die boek is ook gebruik in groepbybelbesprekings in die huise van belangstellendes. ’n Aantal Bybelstudente het gewoonlik so ’n studie bygewoon.
Die Getuies was nietemin deeglik bewus van die feit dat die veld groot en hulle min is.—Luk. 10:2.
Min arbeiders bereik baie mense
Die Wagtoring het daarop gewys dat diegene wat waarlik geesverwekte Christene is die godgegewe verantwoordelikheid het om almal wat ernstige Christene is op te spoor en te help, of hulle nou kerkgangers is of nie (Jes. 61:1, 2). Hoe kon dit gedoen word?
Die twee Bybelstudente (J. C. Sunderlin en J. J. Bender) wat in 1881 na Engeland gestuur is, sou op hulle eie maar bra min tot stand kon gebring het, maar met die hulp van honderde jong manne wat vir hulle dienste betaal is, het hulle in net ’n kort tydjie 300 000 eksemplare van Food for Thinking Christians versprei. Adolf Weber wat teen die middel-1890’s met die goeie nuus na Switserland teruggekeer het, het ’n ontsaglike gebied, wat verskeie lande ingesluit het, gehad waarin hy moes preek. Hoe kon hy dit alles dek? Hy het self as kolporteur ver gereis, maar hy het ook advertensies in koerante geplaas en met boekhandelaars gereël om Wagtoringpublikasies in hulle versamelings in te sluit. Die klein groepie Bybelstudente in Duitsland het in 1907 gereël om 4 850 000 traktate met vier bladsye in koerante per pos uit te stuur. ’n Letse broer wat ’n lid van die Genootskap se hoofkwartierpersoneel in New York was, het kort ná afloop van die Eerste Wêreldoorlog vir advertensies in koerante in sy geboorteland betaal. ’n Man wat op een van hierdie advertensies geantwoord het, het die eerste Bybelstudent in Letland geword. Maar die gebruik van sulke reklamemetodes het nie die persoonlike getuieniswerk en die soekwerk van huis tot huis na die wat waardig is, vervang nie. Dit is eerder as ’n bykomstige metode gebruik om die boodskap bekend te maak.
Daar is egter meer as net advertensies in die koerante gepubliseer. Gedurende die jare net voor die Eerste Wêreldoorlog is broer Russell se preke gereeld onder sy toesig gepubliseer. Binne ’n kort tydjie het die publisering van sy preke in koerante geweldig toegeneem. Meer as 2 000 koerante, met ’n leserstal van altesaam 15 000 000, het hierdie preke gelyktydig in die Verenigde State, Kanada, Brittanje, Australië en Suid-Afrika gepubliseer. Kon daar nog meer gedoen word? Broer Russell het so gedink.
Ná twee jaar se voorbereiding is die “Fotodrama van die Skepping” vir die eerste keer in Januarie 1914 vertoon. Die “Fotodrama” is in vier dele vertoon. Die program van agt uur het rolprente en skyfies ingesluit wat met klankopnames gesinchroniseer is. Dit was voorwaar ’n buitengewone produk wat daarop gemik was om waardering op te bou vir die Bybel en God se voorneme soos dit daarin uiteengesit word. Vertonings is gereël sodat 80 stede elke dag ’n vertoning kon sien. Dit is vooraf geadverteer deur middel van koerante, ’n menigte vensterplakkate en die verspreiding van groot hoeveelhede gratis biljette om belangstelling in die “Fotodrama” te prikkel. Oral waar die “Fotodrama” vertoon is, het skares opgedaag om dit te sien. Binne ’n jaar het ruim 8 000 000 mense in die Verenigde State en Kanada die “Fotodrama” gesien, en nog stampvol sale is uit Brittanje en die Europese vasteland asook uit Australië en Nieu-Seeland berig. Die “Fotodrama” is gevolg deur ’n ietwat korter weergawe (sonder die rolprentdeel) vir gebruik in kleiner dorpe en plattelandse gebiede. Die Drama in verskeie tale is minstens twee dekades gebruik. Baie belangstelling is gewek, name van belangstellendes is ingegee en opvolgbesoeke is gedoen.
Toe, in die twintigerjare, het daar ’n ander instrument beskikbaar gekom om die Koninkryksboodskap wyd en syd bekend te maak. Broer Rutherford was oortuig dat die hand van die Here in die ontwikkeling daarvan gesien kon word. Wat was dit? Die radio. Minder as twee jaar nadat die wêreld se eerste handelsradiostasie (in 1920) gereeld begin uitsaai het, het J. F. Rutherford, die president van die Wagtoringgenootskap, Bybelwaarhede oor die radio uitgesaai. Hier was ’n instrument wat miljoene mense gelyktydig kon bereik. Binne die volgende twee jaar, in 1924, het die Genootskap sy eie radiostasie, WBBR, in New York in werking gehad. Teen 1933, die hoogtepuntjaar, is 408 stasies gebruik om die boodskap na ses vastelande uit te dra. Benewens regstreekse uitsendings is programme oor ’n menigte onderwerpe vooraf opgeneem. Intensiewe plaaslike reklame deur die verspreiding van gedrukte kennisgewings het mense ingelig oor die uitsendings sodat hulle daarby baat kon vind. Hierdie uitsendings het baie vooroordeel afgebreek en die oë van opregtes van hart geopen. Talle mense het uit vrees vir hulle bure en die geestelikes nie die vergaderinge bygewoon wat deur die Bybelstudente gereël is nie, maar dit het hulle nie gekeer om in die privaatheid van hulle huis na die radio te luister nie. Die uitsendings het nie die nodigheid vir huis-tot-huis-getuieniswerk uitgeskakel nie; maar dit het Bybelwaarheid na plekke uitgedra wat moeilik was om te bereik en het uitstekende inleidings vir gesprekke voorsien wanneer die Getuies huisbesoeke gedoen het.
Die verantwoordelikheid van elkeen om te getuig
Die Wagtoring het reeds dekades lank gewys op elkeen se verantwoordelikheid om ’n persoonlike aandeel aan die getuieniswerk te hê. Maar van 1919 af aan was dit ’n onderwerp wat voortdurend in die lektuur en op byeenkomsprogramme bespreek is. Vir baie mense was dit nogtans nie maklik om vreemdelinge by hulle huise te nader nie, en aanvanklik het net ’n beperkte aantal Bybelstudente gereeld aan die getuieniswerk van huis tot huis deelgeneem.
Besielende skriftuurlike bemoediging is gegee. “Geseënd is die onverskrokkenes” was die onderwerp wat bespreek is in Die Wagtoring se (Engelse) nommers van 1 en 15 Augustus 1919. Dit het teen mensevrees gewaarsku en die aandag gevestig op Gideon se 300 dapper krygsmanne wat waaksaam asook bereid was om te dien op watter manier die Here ook al sou beveel, en dít teen ’n oënskynlik oorweldigende oormag, en die artikel het ook Elisa se onverskrokke vertroue op Jehovah bespreek (Rigt. 7:1-25; 2 Kon. 6:11-19; Spr. 29:25). In 1921 het die artikel “Hou goeie moed” beklemtoon dat dit nie net ’n plig is nie, maar ook ’n voorreg is om aan die Here se kant teen die sataniese magte van die duisternis te dien deur deel te neem aan die werk wat in Mattheüs 24:14 voorspel is. Diegene wat weens hulle omstandighede nie veel kon doen nie, is aangespoor om nie ontmoedig te raak en terselfdertyd na te laat om te doen wat hulle kan nie.
Deur openhartige skriftuurlike besprekings het Die Wagtoring almal wat bely het dat hulle gesalfde knegte van God is, bewus gemaak van hulle verantwoordelikheid om verkondigers van God se Koninkryk te wees. Die (Engelse) nommer van 15 Augustus 1922 het ’n bondige, reguit artikel bevat met die titel “Diens is noodsaaklik”—dit wil sê diens in navolging van Christus; diens wat ’n mens na die huise van ander laat gaan om vir hulle van God se Koninkryk te vertel. Later in dieselfde jaar is daar getoon dat sulke diens deur liefde gemotiveer moet wees om in God se oë van waarde te wees (1 Joh. 5:3). ’n Artikel in die (Engelse) nommer van 15 Junie 1926 het gesê dat God geensins beïndruk word deur vormlike aanbidding nie; wat hy verlang, is gehoorsaamheid, en dit sluit waardering in vir wat hy ook al gebruik om sy voorneme uit te voer (1 Sam. 15:22). Die volgende jaar, toe “Christene se opdrag op aarde” bespreek is, is die aandag gevestig op Jesus se rol as die “getroue en waaragtige Getuie” en op die feit dat die apostel Paulus “in die openbaar en van huis tot huis” gepreek het.—Openb. 3:14; Hand. 20:20, NW.
In die Bulletin, hulle maandelikse velddiensinstruksieblad, het daar volledige aanbiedinge verskyn wat die verkondigers kon memoriseer. Hulle is aangemoedig om gereeld elke week aan die velddiens deel te neem. Maar aanvanklik het net ’n klein klompie aan die getuieniswerk van huis tot huis deelgeneem, en sommige wat dit wel begin doen het, het nie daarmee volgehou nie. Volgens die verslae het daar byvoorbeeld in 1922 in die Verenigde State elke week gemiddeld 2 712 aan die velddiens deelgeneem. Maar teen 1924 het die getal tot 2 034 gedaal. In 1926 het die gemiddelde tot 2 261 gestyg, met ’n hoogtepunt van 5 937 wat gedurende een week van spesiale bedrywigheid aan die werk deelgeneem het.
Toe, laat in 1926, het die Genootskap gemeentes begin aanmoedig om ’n deel van Sondag vir die groepgetuieniswerk te gebruik en om dan nie net traktate nie, maar ook boeke vir Bybelstudie aan te bied. In 1927 het Die Wagtoring (Engelse uitgawe) lojales in die gemeentes aangespoor om die manne wat deur hulle woorde en dade toon dat hulle nie die verantwoordelikheid aanvaar om in die openbaar en van huis tot huis te getuig nie, van hulle oueremanskap te onthef. Die takke wat nie vrug gedra het nie, is sodoende verwyder, en die takke wat oorgebly het, is gesnoei sodat hulle meer vrug tot lof van God kon dra. (Vergelyk Jesus se illustrasie in Johannes 15:1-10.) Het dit werklik ’n vermeerdering in openbare lof aan Jehovah tot gevolg gehad? In 1928 was daar ’n vermeerdering van 53 persent in die gemiddelde aantal wat weekliks aan die getuieniswerk in die Verenigde State deelgeneem het!
Die Getuies het nie meer net vir mense ’n gratis traktaat gegee en dan verder gegaan nie. Meer van hulle het kortliks met die huisbewoners gepraat om hulle belangstelling in die Bybel se boodskap te probeer wek en dan vir hulle boeke aangebied.
Hierdie vroeë Getuies was beslis moedig, hoewel hulle nie almal taktvol was nie. Hulle was nietemin opvallend anders as die ander godsdiensgroepe. Hulle het nie net gesê dat elkeen van sy geloof moet getuig nie. Hulle het dit inderdaad in immer toenemende getalle gedoen.
Getuieniskaarte en grammofone
Laat in 1933 het die Getuies ’n ander predikingsmetode begin gebruik. Hulle het ter inleiding ’n getuieniskaart met ’n kort boodskap vir die huisbewoner gegee om te lees. Dit was veral ’n groot hulp vir nuwe verkondigers, wat destyds nie veel opleiding ontvang het nie. Hulle het gewoonlik net ’n paar woorde vir die huisbewoner gesê nadat hy die kaartjie gelees het; ander verkondigers het langer gepraat en die Bybel gebruik. Die getuieniskaart is tot diep in die veertigerjare gebruik. Dit het dit moontlik gemaak om die gebied vinnig deur te werk, en het die Getuies in staat gestel om meer mense te bereik, heelwat waardevolle Bybellektuur in hulle hande te plaas, ’n eenvormige getuienis te gee en om selfs die boodskap aan mense te gee wie se taal hulle nie kon praat nie. Dit het ook soms verleentheid geskep wanneer huisbewoners die kaart gehou en die deur toegemaak het, en die Getuie weer moes klop om dit terug te kry!
Plaatopnames van Bybellesings het ook ’n belangrike rol gedurende die dertiger- en vroeë veertigerjare gespeel. In 1934 het van die Getuies ’n draagbare grammofoon saamgeneem wanneer hulle getuieniswerk gedoen het. Die grammofoon was bra swaar; daarom het hulle dit soms in hulle motor of op ’n geskikte plek gelaat totdat hulle mense gevind het wat gewillig was om na ’n opname van ’n Bybellesing te luister. Toe, in 1937, het die Getuies ’n draagbare grammofoon reg op die voordeurdrumpel begin gebruik. Die prosedure was eenvoudig: Nadat die Getuie gesê het dat hy ’n belangrike Bybelboodskap het, het hy die naald op die plaat laat sak en dit die praatwerk laat doen. Kasper Keim, ’n Duitse pionier wat in Nederland gedien het, was alte dankbaar vir sy “Aäron”, soos hy die grammofoon genoem het, want hy het dit moeilik gevind om in Nederlands te getuig. (Vergelyk Exodus 4:14-16.) Uit nuuskierigheid het hele gesinne soms na die plate geluister.
Teen 1940 was daar meer as 40 000 grammofone in gebruik. Daardie jaar is ’n nuwe vertikale model, wat deur die Getuies ontwerp en gebou is, in gebruik geneem, en dit is veral in die Amerikas benut. Dit het nog groter nuuskierigheid gewek, want huisbewoners kon nie die plaat sien terwyl dit speel nie. Elke plaat was 78 r.p.m. en was vier en ’n half minute lank. Die titels was kort en kragtig: “Die Koninkryk”, “Gebed”, “Die weg tot die lewe”, “Die Drie-eenheid”, “Vaevuur”, “Waarom die geestelikes die waarheid teëstaan”. Meer as 90 verskillende lesings is opgeneem; oor ’n miljoen plate was in omloop. Die toesprake was duidelik en maklik om te volg. Talle huisbewoners het met waardering geluister; enkeles het heftig gereageer. Maar ’n doeltreffende en eenvormige getuienis is gegee.
Die goeie nuus word onverskrokke in openbare plekke bekend gemaak
Hoewel die getuieniskaarte en grammofoonplate die meeste van die “praatwerk” gedoen het, het dit groot moed geverg om in daardie jare ’n Getuie te wees. Die blote aard van die werk het die individuele Getuies onder die publiek se aandag gebring.
Ná die 1931-byeenkoms in Columbus, Ohio, het Jehovah se Getuies die boekie Die Koninkryk, die hoop van die wêreld versprei, wat ’n resolusie bevat het met die opskrif “’n Waarskuwing van Jehova[h]” wat “Aan die regeerders en aan die volk” gerig was. Hulle het besef dat daar op hulle, as Getuies vir Jehovah, ’n ernstige verpligting rus om die waarskuwing te gee wat in sy Woord uiteengesit word (Eseg. 3:17-21). Hulle het hierdie boekies nie maar net gepos of hulle onder die deure ingeskuif nie. Hulle het die boekies persoonlik afgelewer. Hulle het al die geestelikes besoek en, sover moontlik, die politici, leëroffisiere en die direkteure van groot korporasies. Daarbenewens het hulle die gewone publiek in die ongeveer honderd lande besoek waar Jehovah se Getuies destyds op ’n georganiseerde wyse getuieniswerk gedoen het.
Teen 1933 het hulle kragtige transkripsiemasjiene gebruik om in openbare plekke opnames te speel van Bybellesings wat geen doekies omgedraai het nie. Broer Smets en broer Poelmans het hulle toerusting op ’n driewiel gemonteer en by die masjien gestaan terwyl dit die boodskap op die markpleine en naby die kerke in Liège, België, laat weergalm het. Hulle was dikwels tien uur per dag besig. In Jamaika het die mense gou-gou saamgedrom wanneer hulle musiek hoor; dus het die broers daar eers musiek gespeel. Wanneer die skares uit die bebosde gebiede na die grootpaaie toe gestroom het om te sien wat aangaan, het hulle Jehovah se Getuies aangetref, besig om die Koninkryksboodskap te verkondig.
Daar is van die transkripsietoerusting in motors en op bote geïnstalleer, met luidsprekers op die dak om die klank verder te laat trek. Bert en Vi Horton het in Australië ’n paneelwa gebruik met ’n groot luidsprekerhoring op die dak waarop die woorde “Koninkryksboodskap” gestaan het. Een jaar het hulle feitlik elke straat in Melbourne laat weergalm met kragtige boodskappe wat valse godsdiens aan die kaak gestel en hartverblydende beskrywings van die seëninge van God se Koninkryk gegee het. Claude Goodman was gedurende daardie jare ’n pionier in Indië. Hy kon met behulp van die klankmotor en plaatopnames in die plaaslike tale groot skares bereik in basaars, in parke en langs die pad—oral waar daar mense was.
Toe die broers in Libanon hulle klankmotor op ’n heuwel geparkeer en die lesings gespeel het, het die klank in die valleie in afgetrek. Omdat hulle nie die bron van die stem kon sien nie, het die mense in die dorpies soms bevrees geraak en gedink dit is God wat uit die hemele met hulle praat!
Maar die broers het soms benoude oomblikke belewe. By een geleentheid het ’n dorpspriester in Sirië sy ete net so op die tafel gelaat, sy groot kierie gegryp en uitgehardloop, onder die skare in wat saamgedrom het om na die uitsending van ’n Bybeltoespraak uit ’n klankmotor te luister. Hy het sy kierie driftig rondgeswaai, geskreeu en beveel: “Hou op! Ek beveel julle om op te hou!” Maar die broers het besef dat nie almal dit met hom eens was nie; daar was mense wat die toespraak wou hoor. Kort voor lank het van die mense die priester opgetel en hom teruggedra na sy huis toe, waar hulle hom weer by die eettafel neergesit het! Ondanks teëstand van die geestelikes het die Getuies die mense moedig die geleentheid gegee om die boodskap te hoor.
Gedurende hierdie tydperk is daar ook ruimskoots gebruik gemaak van reklameplakkate wat deur die Getuies gedra is terwyl hulle in sakegebiede uitnodigings na spesiale lesings versprei het. Dit het in 1936 in Glasgow, Skotland, begin. Daardie jaar is dieselfde reklamemetode in Londen, Engeland, en toe in die Verenigde State gebruik. Twee jaar later is hierdie reklamemetode ’n stap verder gevoer deurdat die broers borde met slagspreuke daarop aan stokke omhoog gedra het. Hierdie borde het gelui: “Religie is ’n strik en ’n bedrogspel”b en “Dien God en Christus die Koning.” Tydens byeenkomste was die tou broers wat aan die optog met hierdie borde deelgeneem het soms etlike kilometers lank. Terwyl hulle stilweg in enkelgelid langs die besige strate afgestap het, het dit ’n mens laat dink aan die tyd toe die leër van eertydse Israel om Jerigo gemarsjeer het voordat sy mure omgeval het (Jos. 6:10, 15-21). Van Londen, Engeland, tot in Manila, in die Filippyne, is sulke onverskrokke openbare getuieniswerk gedoen.
In 1940 het die Getuies met nog ’n metode van openbare getuieniswerk begin. In ooreenstemming met die teks wat sê dat ‘ware wysheid hardop in die straat uitroep’, het Jehovah se Getuies in Februarie daardie jaar begin om Die Wagtoring en die Vertroosting (nou die Ontwaak!) op straat te versprei (Spr. 1:20, NW).c Hulle het slagspreuke uitgeroep om die aandag op die tydskrifte en die boodskap wat hulle bevat te vestig. Jehovah se Getuies wat besig is om hulle tydskrifte te versprei, het in groot stede en klein dorpies oor die hele wêreld ’n bekende gesig geword. Maar om hierdie werk te doen, verg moed, en dit het veral moed geverg toe daar net met hierdie werk begin is, want dit was ’n tyd toe daar baie vervolging was wat gepaardgegaan het met die koors van oorlogstydse nasionalisme.
Toe hulle genooi is om aan hierdie openbare getuieniswerk deel te neem, het die Getuies dit in geloof begin doen. Daar het voortdurend al hoe meer aan die werk begin deelneem. Hulle het dit ’n voorreg geag om hulle onkreukbaarheid teenoor Jehovah op hierdie manier te bewys. Maar daar was nog meer wat hulle moes leer.
Elkeen moet van sy geloof rekenskap kan gee
’n Uitsonderlike opleidingsprogram het in 1942 op dreef gekom. Dit het by die wêreldhoofkwartier van Jehovah se Getuies begin, en teen die volgende jaar is dit dwarsdeur die wêreld in die gemeentes van die Getuies in werking gestel. Hulle was, met die vertroue dat God se gees op hulle rus en dat hy sy woord in hulle mond gelê het, vasbeslote om daardie woord te verkondig, selfs al sou vervolgers die Wagtoringpublikasies of selfs die Bybel van hulle af wegneem (Jes. 59:21). Daar was reeds lande, soos Nigerië, waar die Getuies net die Bybel in hulle predikingswerk kon gebruik, aangesien die owerheid al die Wagtoringpublikasies verbied het en selfs beslag gelê het op die publikasies wat baie van die broers in hulle eie biblioteke gehad het.
Dit was op 16 Februarie 1942 dat broer Knorr ’n gevorderde kursus in die teokratiese bediening by die Bethelhuis in Brooklyn, New York, ingestel het. Die kursus het opleiding verskaf in sake soos navorsing, hoe om jou gedagtes duidelik en juis uit te druk, toespraaksketse op te stel, toesprake op bekwame wyse voor te dra, met oorreding te praat en taktvol te wees. Broers sowel as susters was welkom om die klasse by te woon, maar net broers is genooi om by die skool aan te sluit en studentetoesprake te hou waaroor hulle raad gegee sou word. Die voordele het spoedig duidelik geblyk, nie net uit die verhoogvoordrag nie, maar uit die groter bekwaamheid in die predikingswerk van huis tot huis.
Die jaar daarop het die organisasie begin om hierdie opleidingskursus in die plaaslike gemeentes van Jehovah se Getuies oor die hele wêreld in te stel. Dit is aanvanklik in Engels aangebied en later in ander tale. Die verklaarde doel van die skool was om elke Getuie van Jehovah op te lei sodat hy ander kon onderrig wanneer hy mense van huis tot huis besoek, herbesoeke doen en tuisbybelstudies hou. Iedere Getuie sou gehelp word om ’n bekwame bedienaar te word (2 Tim. 2:2). In 1959 is susters ook die geleentheid gebied om by die skool aan te sluit en toesprake teen ’n velddiensagtergrond te hou—om nie die hele gehoor toe te spreek nie, maar net die een wat aangewys is om die rol van huisbewoner te vertolk. En dit was nie al nie.
Reeds van 1926 af het reisende verteenwoordigers van die Genootskap saam met individuele Getuies in die velddiens gewerk om hulle te help om bekwamer te word. By ’n internasionale byeenkoms in 1953 in New York het broer Knorr, terwyl kring- en streekopsieners reg voor die verhoog gesit het, gesê die vernaamste werk van alle knegte, of opsieners, moet wees om elke Getuie te help om ’n gereelde huis-tot-huis-bedienaar te word. Hy het gesê: “Elkeen moet die goeie nuus van huis tot huis kan verkondig.” ’n Wêreldwye kampanje is aan die gang gesit om dit tot stand te bring.
Waarom is daar soveel klem op die saak gelê? Neem die Verenigde State as voorbeeld: Destyds het 28 persent van die Getuies net strooibiljette versprei of met tydskrifte op die straat gestaan. En meer as 40 persent van die Getuies het ongereeld aan die velddiens deelgeneem en maande laat verbygaan sonder om hoegenaamd enige velddiens te doen. Liefdevolle hulp moes verleen word in die vorm van persoonlike opleiding. Planne is beraam sodat elke Getuie van Jehovah wat nog nie aan die huis-tot-huis-predikingswerk deelgeneem het nie, gehelp kon word om mense by hulle huise te nader, met hulle uit die Bybel te praat en hulle vrae te beantwoord. Hulle sou geleer word om prekies uit die Skrif voor te berei wat hulle miskien binne drie minute kon hou as mense besig is, of in sowat agt minute in ander gevalle. Die doelwit was om elke Getuie te help om ’n ryp Christenevangeliedienaar te word.
Dit was nie net die reisende opsieners wat hierdie opleiding gegee het nie. Plaaslike knegte, of opsieners, het dit ook gedoen; en in die daaropvolgende jare is ander bekwame Getuies aangewys om spesifieke verkondigers op te lei. Demonstrasies oor hoe die werk gedoen moet word, is reeds jare by die weeklikse gemeentelike Diensvergadering aangebied. Maar dit het nou gepaardgegaan met groter klem op persoonlike opleiding in die velddiens.
Die resultate was uitstekend. Die aantal Getuies wat van huis tot huis gepreek het, het vermeerder, en so ook die aantal wat gereeld aan die veldbediening deelgeneem het. Binne ’n dekade het die totale aantal Getuies oor die wêreld heen met 100 persent toegeneem. Hulle het ook 126 persent meer herbesoeke gedoen om Bybelvrae vir belangstellendes te beantwoord, en hulle het 150 persent meer gereelde tuisbybelstudies gehou met diegene wat getoon het dat hulle na Bybelwaarheid honger. Hulle het inderdaad bewys dat hulle bekwame bedienaars is.
Met die oog daarop dat hierdie Getuies uit so ’n verskeidenheid agtergronde gekom het wat opvoeding en kultuur betref, en die feit dat hulle in klein groepies oor die hele aarde versprei was, is dit voor die hand liggend waarom die Getuies die eer aan geen mens nie, maar aan Jehovah God gee vir die wyse waarop hulle toegerus en opgelei is om die goeie nuus te verkondig.—Joh. 14:15-17.
Huis-tot-huis-predikingswerk —’n kenmerk
Ander godsdiensgroepe het by verskeie geleenthede hulle lidmate aangemoedig om die huise van mense in hulle gemeenskap te besoek om oor godsdiens te praat. Sommige mense het dit al probeer doen. Party doen dit dalk selfs ’n paar jaar as sendelinge, maar dit is al. Dit is egter net onder Jehovah se Getuies dat feitlik almal, jonk en oud, manlik en vroulik, jaar in en jaar uit aan die bediening van huis tot huis deelneem. Dit is net Jehovah se Getuies wat in gehoorsaamheid aan die profetiese opdrag in Mattheüs 24:14 die ganse bewoonde aarde met die Koninkryksboodskap probeer bereik.
Dit wil nie sê dat alle Getuies van Jehovah hierdie werk maklik vind nie.d Inteendeel, toe hulle die Bybel begin bestudeer het, het baie van hulle gesê: ‘Daar’s een ding wat ek nooit sal doen nie, en dis om van huis tot huis te gaan!’ Nogtans is dit ’n werk waaraan feitlik al Jehovah se Getuies deelneem as hulle fisies daartoe in staat is. En talle wat dit nie fisies kan doen nie, doen dit nogtans—in rolstoele, met kieries, ensovoorts. Ander—wat aan hulle huis gekluister is, of wat tydelik nie kan uitgaan nie of wat mense wil bereik wat in ontoeganklike plekke woon—getuig per telefoon of deur briewe te skryf. Waarom hierdie doelgerigte poging?
Wanneer hulle Jehovah leer ken, verander hulle liefde vir hom hulle hele lewensbeskouing. Hulle wil oor hom praat. Die wonderlike dinge wat hy in die vooruitsig stel vir diegene wat hom liefhet, is eenvoudig té goed om te verswyg. En hulle voel dat hulle ’n verantwoordelikheid voor God het om mense te waarsku aangaande die groot verdrukking wat op hande is. (Matt. 24:21; vergelyk Esegiël 3:17-19.) Maar waarom doen hulle dit deur van huis tot huis te gaan?
Hulle weet Jesus het sy dissipels geleer om na die mense se huise te gaan om te preek en te onderrig (Matt. 10:11-14). Hulle weet ook dat die apostels ná die uitstorting van die heilige gees op Pinkster 33 G.J. nie opgehou het om die goeie nuus “in die tempel [in Jerusalem] en van huis tot huis” te verkondig nie (Hand. 5:42). Elke Getuie is vertroud met Handelinge 20:20 wat sê dat die apostel Paulus mense “in die openbaar en van huis tot huis” onderrig het (NW). En hulle sien deesdae oorvloedige bewys van Jehovah se seën op hierdie werk. Namate hulle dus meer ervare in die huis-tot-huis-bediening raak, sien hulle dikwels gretig uit na die werk waarvoor hulle voorheen bang was.
En hulle doen die werk deeglik. Hulle hou sorgvuldig verslag sodat hulle kan teruggaan om met diegene te gaan praat wat nie tuis was nie. Daarbenewens besoek hulle elke huis herhaaldelik.
Omdat die huis-tot-huis-bediening so doeltreffend is, het teenstanders in talle lande dit probeer stopsit. Om amptelike erkenning te verkry vir hulle reg om van huis tot huis te preek, het Jehovah se Getuies hulle op staatsamptenare beroep. Waar dit nodig was, het hulle hof toe gegaan om die reg om die goeie nuus op hierdie manier te verkondig wetlik te bevestig (Filip. 1:7, NW). En waar onderdrukkende regerings volgehou het met hulle verbod op hierdie werk, het Jehovah se Getuies dit soms net op ’n minder opsigtelike manier gedoen of, indien nodig, ander metodes gebruik om mense met die Koninkryksboodskap te bereik.
Hoewel radio- en televisie-uitsendings gebruik is om die Koninkryksboodskap bekend te maak, het Jehovah se Getuies besef dat die persoonlike kontak deur middel van huis-tot-huis-besoeke baie doeltreffender is. Dit bied ’n beter geleentheid om huisbewoners se vrae te beantwoord en die wat waardig is, te soek (Matt. 10:11). Dit is een rede waarom die Wagtoringgenootskap in 1957 die radiostasie WBBR in New York verkoop het.
Maar Jehovah se Getuies dink nie hulle taak is gedaan nadat hulle ’n persoonlike getuienis aan mense gegee het nie. Dit is slegs ’n begin.
“Maak dissipels . . . en leer hulle”
Jesus het sy volgelinge opdrag gegee om meer te doen as om net te preek. In navolging van hom moet hulle mense ook leer (Matt. 11:1). Voor sy hemelvaart het hy hulle beveel: “Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, . . . en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het” (Matt. 28:19). Om iemand te leer (Grieks, di·daʹsko), verskil van preek in die opsig dat die leermeester meer doen as om iets te verkondig; hy onderrig, verduidelik en lewer bewyse.
Reeds in April 1881 het Die Wagtoring (Engelse uitgawe) kort wenke gegee oor hoe om ander te leer. Van die vroeë kolporteurs het hulle daarop toegelê om almal wat belangstelling getoon het weer te besoek om hulle aan te moedig om die Genootskap se boeke te lees en met ander saam te kom vir ’n gereelde studie van God se Woord. Die boek Die harp van God (in 1921 uitgegee) is dikwels vir hierdie doel gebruik. Maar later is daar selfs meer gedoen om persoonlike hulp aan belangstellendes te verleen. Grammofoonplate van Bybellesings saam met gedrukte studiehandleidings het ’n belangrike rol in hierdie werk gespeel. Hoe het dit gekom?
Die Genootskap het van vroeg in 1933 af sy radio-uitsendings aangevul met plaatopnames wat oor draagbare transkripsietoerusting in vergadersale, in parke, by fabrieksingange, ensovoorts voorgespeel is. Kort voor lank het Getuies wat belangstellendes in die werk van huis tot huis gevind het, begin reël om hulle weer te besoek en van hierdie plate tuis aan hulle voor te speel. Toe die boek Rykdom in 1936 beskikbaar gekom het, is daar besprekings daaruit gehou—nadat die plate gespeel is—met die doel om studies te begin wat belangstellendes in die omgewing kon bywoon. Hierdie werk is veral beklemtoon om toekomstige lede van die “groot menigte” die waarheid te help leer.—Openb. 7:9.
Omstreeks hierdie tyd het die Katolieke priesterheerskappy hulle druk op eienaars en bestuurders van radiostasies asook staatsinstansies verskerp in ’n verbete poging om die uitsending van Wagtoringprogramme stop te sit. ’n Petisie wat deur 2 630 000 mense in die Verenigde State onderteken is, het ’n debat tussen J. F. Rutherford en ’n hoë ampsdraer van die Rooms-Katolieke Kerk aangevra. Nie een van die Katolieke geestelikes was bereid om die uitdaging te aanvaar nie. Gevolglik het broer Rutherford in 1937 plaatopnames gemaak met die titels “Blootgelê” en “Religie en Christendom”, wat basiese Bybelleringe bespreek het, veral om onskriftuurlike Katolieke leerstellings te weerlê. Dieselfde materiaal is gepubliseer in die boekies Beskerming en Blootgelê, en ’n eksemplaar van Blootgelê is persoonlik na almal geneem wat die petisie onderteken het sodat die mense self die Bybelwaarhede kon lees wat deur die Katolieke priesterheerskappy probeer onderdruk is.
Om mense te help om die geskilpunte duidelik te verstaan en die skriftuurlike grondslag daarvoor te ondersoek, is die boekie Modelstudie nr. 1 gedruk vir gebruik in vergaderinge wat vir belangstellendes gereël is. Die boekie het vrae en antwoorde bevat, asook tekste ter stawing van die antwoorde wat verstrek is. Die studiehouer het eers een of twee van die voorgenoemde grammofoonlesings voorgespeel sodat almal die argument in sy geheel kon hoor. Daarna het die bespreking gevolg waarin die materiaal in die Modelstudie-boekie gebruik en die tekste self nagegaan is. Modelstudie nr. 1 is gevolg deur nr. 2 en 3 (albei net in Engels) wat met ander grammofoonlesings gekoördineer is. Hierdie studies is aanvanklik georganiseer in plekke waar daar groepe belangstellendes byeengebring kon word, maar spoedig is hulle ook by individue en gesinne gehou.
Sedertdien is talle puik boeke spesiaal voorsien vir Jehovah se Getuies se gebruik as hulle tuisbybelstudies hou. Die boeke wat die grootste verspreiding geniet het, is “Laat God waaragtig wees”, Die waarheid wat lei tot die ewige lewe en Jy kan vir ewig in die Paradys op aarde lewe. Daar was ook die boekies met 32 bladsye—“Hierdie goeie nuus van die Koninkryk”, God’s Way Is Love, “Kyk! Ek maak alles nuut” en talle ander. Hulle is gevolg deur brosjures soos Jy kan vir ewig op die aarde lewe!, wat basiese Bybelleringe op ’n baie eenvoudige en maklik verstaanbare manier uiteensit.
Die gebruik van hierdie instrumente, tesame met deeglike gemeentelike en persoonlike opleiding, het gelei tot ’n dramatiese vermeerdering in die aantal tuisbybelstudies. In 1950 was daar gemiddeld 234 952 tuisbybelstudies wat dikwels elke week gehou is. Studies met persone wat nie voldoende vordering gemaak het nie, is gestaak. Talle studente het so ver gevorder dat hulle weer ander kon leer. Ondanks die voortdurende wisseling het die aantal tuisbybelstudies steeds toegeneem, en dikwels baie vinnig. In 1992 het die Getuies 4 278 127 tuisbybelstudies wêreldwyd gehou.
Om hierdie ontsaglike predikings- en onderrigtingswerk in al die tale van die wêreld te doen, het Jehovah se Getuies ruimskoots van lektuur gebruik gemaak. Dit het ontsaglike uitgewerswerk nodig gemaak.
[Voetnote]
a Die pastorale werk is die eerste keer gedurende 1915-16 georganiseer in die sowat 500 gemeentes wat broer Russell tot hulle pastor verkies het. As hulle pastor het hy ’n brief aan hulle geskryf waarin hy die werk, waarvoor daar aanvanklik net susters gebruik is, uiteengesit het. Die volgende jaar is broers ook vir hierdie werk gebruik. Hierdie pastorale werk, wat deur ’n uitgesoekte groep gedoen is, het tot 1921 geduur.
b Hierdie bewoording was gegrond op die begrip dat die term religie, oftewel godsdiens, alle aanbidding insluit wat op die oorleweringe van mense berus, pleks van op God se Woord, die Bybel. Maar in 1950, toe die New World Translation of the Christian Greek Scriptures uitgegee is, het die voetnote by Handelinge 26:5, Kolossense 2:18 en Jakobus 1:26, 27 getoon dat dit gepas is om die term godsdiens met verwysing na ware sowel as valse aanbidding te gebruik. Verdere verduidelikings hieroor het gevolg in Die Wagtoring (Engelse uitgawe) van 15 Maart 1951, bladsy 191, en die boek Wat het godsdiens vir die mensdom gedoen?, bladsye 8-10.
c Die jaar vantevore is daar in Kalifornië, VSA, in ’n mate straatgetuieniswerk met die tydskrifte gedoen om dit op die proef te stel. Reeds in 1926 het die Bybelstudente gereeld op straat boekies versprei wat belangrike boodskappe bevat het. Heelwat vroeër, in 1881, het hulle hulle lektuur Sondae naby die kerke versprei.
d Die Wagtoring, 1 Augustus 1981, bl. 12-16 (Engelse uitgawe, 15 Mei 1981).
[Lokteks op bladsy 556]
Oral waar hy mense teëgekom het, het Jesus oor God se voorneme vir die mensdom gepraat
[Venster op bladsy 559]
’n Besondere seën op die huis-tot-huis-werk
“Net soos in die geval van die eerste advent, geniet die werk van huis tot huis, pleks van preekstoelprediking, blykbaar die Here se besondere seën.”—“Die Wagtoring” (Engelse uitgawe), 15 Julie 1892.
[Venster op bladsy 570]
Waarom die Getuies mense oor en oor besoek
Ter verduideliking waarom Jehovah se Getuies elke huis herhaaldelik besoek, het “Die Wagtoring” (Engelse uitgawe) van 1 Julie 1962 gesê: “Omstandighede verander voortdurend. Vandag is iemand dalk nie tuis nie, volgende keer is hy wel. Vandag is hy dalk té besig om te luister, maar volgende keer nie. Vandag kom een gesinslid na die deur toe, die volgende keer ’n ander een; en die Getuies stel nie net daarin belang om elke huis in hulle toewysings te besoek nie, maar om, indien moontlik, elke volwasse persoon in elke huis te bereik. Gesinne is dikwels godsdienstig verdeeld, en daarom kan een lid nie altyd namens die hele gesin praat nie. Boonop trek mense voortdurend en dus kan die Getuies nooit seker wees wie hulle by ’n bepaalde huis sal ontmoet nie.
“Dit is nie net die omstandighede wat verander nie, maar die mense self verander. . . . Iemand was dalk omgekrap oor ’n nietigheid en glad nie bereid om godsdiens of enigiets anders te bespreek nie, ongeag wie na sy deur toe gekom het, maar dit wil nie sê dat hy volgende keer in dieselfde gemoedstoestand sal wees nie. Of net omdat iemand verlede maand glad nie daarin belanggestel het om godsdiens te bespreek nie, wil dit geensins sê dat hy nie hierdie maand daarin sal belangstel nie. Ná ’n Getuie hierdie man laas besoek het, het hy miskien ’n hartverskeurende ondervinding deurgemaak of op ’n ander manier iets geleer wat hom nederig pleks van hoogmoedig, honger en bewus van sy geestelike behoeftes pleks van selfvoldaan gemaak het.
“Die boodskap wat die Getuies bring, klink buitendien vir baie mense vreemd, en hulle besef nie die dringendheid daarvan nie. Slegs deur die boodskap oor en oor te hoor, snap hulle dit mettertyd.”
[Venster/Prent op bladsy 574]
“Elke moontlike manier” word gebruik
“Dié van ons wat in die Here se organisasie is, het op elke moontlike manier probeer om [die wêreld se] aandag op die boodskap van die lewe te vestig. Ons het gebruik gemaak van slagspreuke, volblad-advertensies, die radio, klankmotors, grammofone, reusebyeenkomste, informasie-optogte van verkondigers met plakkate, asook ’n groeiende leër bedienaars wat die predikingswerk van huis tot huis doen. Hierdie bedrywigheid het gehelp om mense te skei—diegene wat ten gunste van God se opgerigte Koninkryk is aan die een kant, diegene wat dit teëstaan aan die ander kant. Dit is die werk wat Jesus vir my geslag voorspel het.”—Geskryf in 1987 deur Melvin Sargent, toe hy 91 was.
[Prent]
Melvin Sargent
[Grafiek op bladsy 574]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
Vermeerdering in tuisbybelstudies
4,000,000
3,000,000
2,000,000
1,000,000
1950 1960 1970 1980 1992
[Prente op bladsy 557]
Tienmiljoene van hierdie traktate is gratis naby die kerke, van huis tot huis en per pos versprei
[Prente op bladsy 558]
Kolporteurevangeliste het boeke versprei wat die Bybel verduidelik
[Prent op bladsy 559]
Anna Andersen het feitlik elke dorp in Noorweë met Bybellektuur bereik
[Prent op bladsy 560]
Koerantadvertensies het gehelp om mense te bereik wat nie op ander maniere bereik is nie
[Prent op bladsy 561]
Meer as 2 000 koerante op vier vastelande het gelyktydig broer Russell se preke gepubliseer
[Prente op bladsy 562]
Die “Fotodrama van die Skepping” het in baie lande ’n kragtige getuienis aan miljoene mense gegee
[Prent op bladsy 563]
Deur middel van die radio kon J. F. Rutherford aan miljoene mense oor die hele wêreld in hulle eie huis ’n getuienis gee
[Prent op bladsy 564]
Gereed om per fiets te vertrek vir groepgetuieniswerk in Engeland
[Prent op bladsy 565]
Van 1933 af is gedrukte getuieniskaarte gebruik
[Prent op bladsy 566]
Plaatopnames van Bybellesings het ’n kragtige getuienis gedurende die dertiger- en veertigerjare gegee
[Prent op bladsy 567]
Klankmotors, soms baie van hulle (soos hier in Australië), is gebruik om Bybelwaarhede in openbare plekke te verkondig
[Prent op bladsy 568]
Verligte tekens in die vensters van die wonings van Jehovah se Getuies het dag en nag ’n ononderbroke getuienis gegee
[Prent op bladsy 568]
Reklameplakkate en -borde het (soos hier in Skotland) tot ’n onverskrokke openbare getuienis bygedra
[Prent op bladsy 569
Verspreiding van “Die Wagtoring” en die “Vertroosting” op straat (soos hier in die VSA) het in 1940 begin
[Prent op bladsy 569]
In 1943 het broers in die gemeentes opleiding in die openbare spreekkuns begin ontvang
[Prente op bladsy 571]
Tuisbybelstudies word by belangstellendes gehou. Hier is van die publikasies wat spesiaal vir dié doel saamgestel is. Hulle het aanvanklik in Engels en daarna in baie ander tale verskyn
[Prente op bladsy 572, 573]
Getuies oor die hele aarde, oud en jonk, manlik en vroulik, neem deel aan die getuieniswerk van huis tot huis
Roemenië
Bolivia
Zimbabwe
Hongkong
België
Uruguay
Fidji