Begin Bybelstudies by die deur en oor die telefoon
1, 2. Hoe kan ons ons Bybelstudieprogram aanpas om besige mense te help?
1 Mense is vandag besig. En tog stel baie in geestelike dinge belang. Hoe kan ons hulle help om hulle geestelike behoefte te bevredig? (Matt. 5:3). Baie verkondigers studeer die Bybel met mense by die deur of oor die telefoon. Kan jy jou bediening op hierdie manier uitbrei?
2 As ons Bybelstudies wil begin, moet ons bereid wees om ’n Bybelstudie te demonstreer wanneer die geleentheid hom ook al voordoen. Hoe en waar kan dit gedoen word?
3. Waarom is dit goed om ’n Bybelstudie tydens die eerste besoek te demonstreer, en hoe kan dit gedoen word?
3 By die deur: Wanneer jy ’n persoon ontmoet wat gewillig is om oor die Bybel te praat, kan jy eenvoudig na ’n paragraaf gaan wat jy voorberei het, soos die eerste paragraaf van les 1 in die Vereis-brosjure, en begin. Lees die paragraaf, vra die vraag en bespreek een of twee van die tekste wat aangegee word. Dit kan dikwels binne vyf tot tien minute daar by die deur gedoen word. As die persoon die bespreking geniet, tref reëlings om die volgende paragraaf of twee by ’n ander geleentheid te bespreek.—Verdere wenke oor hoe om die direkte benadering te gebruik om studies te begin, kan in Ons Koninkryksbediening vir Januarie 2002, bl. 6, gevind word.
4. Hoe kan ons ’n Bybelstudie by die deur begin wanneer ons herbesoeke doen?
4 ’n Soortgelyke benadering kan gebruik word om Bybelstudies te begin wanneer ons herbesoeke doen. Jy kan byvoorbeeld vir die huisbewoner die Vereis-brosjure wys en die aandag op God se naam vestig deur paragrawe 1-2 van les 2 te bespreek. Tydens die volgende besoek kan jy bespreek wat die Bybel aangaande Jehovah se eienskappe openbaar deur paragrawe 3-4 te gebruik. Vir die volgende bespreking kan jy paragrawe 5-6 dek en die aandag vestig op die prent op bladsy 5 om te verduidelik hoe ’n studie van die Bybel ons help om Jehovah te leer ken. Dit kan alles gedoen word terwyl jy by die deur staan.
5, 6. (a) Waarom sal party mense dalk verkies om die Bybel oor die telefoon te bestudeer? (b) Watter benadering kan ons gebruik wanneer ons aanbied om oor die telefoon met mense te studeer?
5 Oor die telefoon: Party mense is dalk meer gewillig om die Bybel oor die telefoon te bestudeer as om dit van aangesig tot aangesig te doen. Neem die volgende voorbeeld: Terwyl ’n suster van huis tot huis getuig het, het sy ’n jong vrou ontmoet wat ’n ma en ’n besige beroepsvrou is. Toe die suster haar nie by haar huis kon kry nie, het sy besluit om haar te bel. Die jong vrou het verduidelik dat sy regtig nie die tyd het om die Bybel te bespreek nie. Die suster het gesê: “Jy kan selfs oor die telefoon binne 10 of 15 minute iets nuuts leer.” “Wel, as dit oor die telefoon is, dan is dit in die haak!”, het die vrou geantwoord. Kort voor lank is ’n gereelde studie oor die telefoon gehou.
6 Sal van dié wat jy besoek, gewillig wees om oor die telefoon te studeer? Jy kan die bogenoemde benadering probeer of jy kan net sê: “As jy dit verkies, kan ons die Bybel oor die telefoon bespreek. Wat sal vir jou beter wees?” Deur ons Bybelstudieprogram by ander se omstandighede aan te pas, kan ons hulle help om “die kennis van God [te] vind”.—Spr. 2:5; 1 Kor. 9:23.