Ons kan vir Jehovah gee
1 Het jy geweet dat mense vir God iets kan gee? Abel het van sy kosbare vee as ’n offerande aan Jehovah gebring, en Noag en Job het soortgelyke offerandes gebring (Gen. 4:4; 8:20; Job 1:5). Hierdie offerandes het die Skepper natuurlik geensins verryk nie, want alles behoort reeds aan hom. Maar die offerandes het wel getoon hoe lief hierdie getroue manne God gehad het. Vandag kan ons ons tyd, energie en middele gebruik om “’n lofoffer” aan Jehovah te bring.—Heb. 13:15.
2 Tyd: Hoe prysenswaardig is dit tog om tyd van minder belangrike dinge ‘uit te koop’ sodat ons meer in die bediening kan doen! (Ef. 5:15, 16). Miskien kan ons ons rooster aanpas sodat ons een of meer maande per jaar hulppionierdiens kan doen. Dalk kan ons die tyd wat ons gewoonlik in die bediening deurbring, verleng. As ons elke week 30 minute langer werk, sal ons elke maand ten minste twee uur langer in die bediening deurbring!
3 Energie: As ons energie vir die bediening wil hê, moet ons nie toelaat dat ontspanning en sekulêre werk ons so moeg maak dat ons nie ons beste aan Jehovah kan gee nie. Ons moet ook kwellinge opsyskuif wat ons hart kan laat “neerbuig” en ons dus van energie beroof wat ons in God se diens kon gebruik het (Spr. 12:25). Hoeveel beter is dit tog, selfs wanneer ons rede tot kommer het, om ‘ons las op Jehovah te werp’!—Ps. 55:22; Fil. 4:6, 7.
4 Middele: Ons kan ook van ons materiële middele gee om die predikingswerk te ondersteun. Paulus het mede-Christene aangespoor om gereeld ‘iets opsy te sit’ sodat hulle iets sou hê om aan behoeftiges te gee (1 Kor. 16:1, 2). Net so kan ons dalk geld opsysit as ’n bydrae vir die plaaslike gemeente se behoeftes sowel as vir die wêreldwye werk. Jehovah waardeer wat ons uit die hart gee, al is dit maar min.—Luk. 21:1-4.
5 Jehovah gee vir ons baie (Jak. 1:17). Ons toon ons waardering deur mildelik van ons tyd, energie en ander middele te gee om hom te dien. As ons dit doen, behaag dit Jehovah, “want God het ’n blymoedige gewer lief”.—2 Kor. 9:7.