Vrae van lesers
◼ God se volk moet ‘vir hulle eie mense sorg’. Hoe kon Abraham dan vir Hagar en Ismael sonder meer in die woestyn instuur?
Dit is liefdevol sowel as paslik dat God se knegte vir hulle hulpbehoewende familielede sorg. Die apostel Paulus het aangaande Christenouers geskryf: “Maar iemand wat vir sy eie mense, en veral sy huisgenote, nie sorg nie, het die geloof verloën en is slegter as ’n ongelowige.”—1 Timotheüs 5:8.
Ons kan seker wees dat Abraham se optrede nie in stryd met die gees van sulke goddelike raad was nie, want as “’n vriend van God” word hy as ’n voorbeeld van ware geloof voorgehou.—Jakobus 2:23; Hebreërs 11:8-19.
God het ’n seën deur Abraham se nageslag, of erfgenaam, beloof. Toe Sara al bejaard en steeds kinderloos was, het sy Abraham aangespoor om ’n seun deur haar Egiptiese diensmeisie Hagar voort te bring. Later toe Hagar swanger was, het sy Sara so onbeskof begin behandel dat dit as “geweld”, of kwaadwilligheid teenoor Abraham se geliefde vrou, beskryf kon word (Exodus 23:1, NW; 2 Samuel 22:49; Psalm 11:5). Abraham het toegelaat dat Sara Hagar op haar plek sit, waarna Hagar na die woestyn weggevlug het, moontlik op pad terug na Egipte toe. Die verslag sê nie dat sy lewensmiddele met haar saamgeneem het nie, en dit is dus moontlik dat sy geweet het dat sy voedsel en water by ander kampe, soos Bedoeïenegroepe, kon kry.—Genesis 12:1-3, 7; 16:1-6.
’n Engel het tussenbeide getree en vir Hagar gesê dat sy moes terugkeer, dat sy baie nakomelinge sou hê en dat haar seun Ismael se ‘hand teen almal sou wees’ (Genesis 16:7-12). Ismael het ’n paar jaar later getoon dat hy jong Isak, Abraham se ware erfgenaam wat vir Sara gebore is, vyandig gesind is. Ismael het Isak begin “spot”, of beledig. Dit was ernstiger as wedywer tussen broers. God se Woord noem dit ‘vervolging’ van Abraham se goddelik voorspelde saad. Besliste optrede was dus wenslik.—Genesis 21:1-9; Galasiërs 4:29-31.
Jehovah het Abraham beveel om ag te gee op sy vrou se standpunt oor wat gedoen moet word, om ‘Hagar en haar seun weg te jaag’. Ofskoon Abraham nie ingenome was met die gedagte dat Hagar met sy seun moes weggaan nie, het hy wel in hulle materiële behoeftes voorsien. In moontlike teenstelling met die vorige keer toe Hagar in die woestyn ingegaan het, het sy hierdie keer vertrek met ’n voorraad brood (wat moontlik verskeie voedselsoorte beteken) en water—wat deur Abraham voorsien is. Sy het blykbaar iewers “in die woestyn van Berseba” verdwaal en haar voedselvoorraad het opgeraak voordat sy een van die putte in die gebied kon vind. Haar verknorsing het Abraham egter nie tot oneer gestrek nie, want ten spyte van die wangedrag wat veroorsaak het dat hulle van die huis af weggestuur is, het hy ‘gesorg vir hulle wat sy eie was’.—Genesis 21:10-21.
[Kaart op bladsy 31]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
Groot See
Berg Karmel
Megiddo
Jerusalem
Hebron
Berseba
Dooie See
Negeb
[Erkenning]
Gebaseer op ’n kaart waarvan die kopiereg voorbehou word deur die Prente-argief (Nabye Oosterse geskiedenis) en die Israelse Departement van Landmeetkunde
[Prent]
Wadi Zin, ’n droë riviervallei suid van Berseba