Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • lv hfst. 2 bl. 14-24
  • Hoe kan jy ’n goeie gewete behou?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Hoe kan jy ’n goeie gewete behou?
  • ‘Hou julle in God se liefde’
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • WAT DIE GEWETE IS EN HOE DIT WERK
  • HOE DIE GEWETE OPGELEI KAN WORD
  • WAAROM MOET ONS DIE GEWETE VAN ANDER IN AG NEEM?
  • HOE ’N GOEIE GEWETE SEËNINGE MEEBRING
  • ’n Goeie gewete voor God
    Hoe om in God se liefde te bly
  • Is jou gewete goed opgelei?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2005
  • Hoe kan ek my gewete oplei?
    Jongmense vra
  • Is jou gewete ’n betroubare gids?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2015
Sien nog
‘Hou julle in God se liefde’
lv hfst. 2 bl. 14-24

HOOFSTUK 2

Hoe kan jy ’n goeie gewete behou?

“Behou ’n goeie gewete.”—1 PETRUS 3:16.

1, 2. Waarom is ’n kompas ’n noodsaaklike instrument, en hoe kan dit met die gewete vergelyk word?

’N SEEMAN stuur sy skip deur die golwe van ’n uitgestrekte oseaan; ’n voetslaner stap deur ’n eensame wildernis; ’n vlieënier hou sy vliegtuig op koers terwyl hy hoog vlieg bo wolke wat van horison tot horison strek. Weet jy wat hierdie persone in gemeen het? Elkeen sou sonder ’n kompas heel moontlik diep in die moeilikheid wees—veral as ander moderne tegnologie nie beskikbaar is nie.

2 ’n Kompas is ’n eenvoudige instrument, gewoonlik net ’n wyserplaat met ’n magnetiese naald wat noord wys. Wanneer dit behoorlik werk, en veral wanneer dit saam met ’n akkurate kaart gebruik word, kan dit jou lewe red. In sekere opsigte kan dit vergelyk word met ’n kosbare gawe wat Jehovah ons gegee het—die gewete (Jakobus 1:17). Sonder ’n gewete sou ons hopeloos verlore gewees het. As dit reg gebruik word, kan dit ons help om ons pad te vind en op die regte weg in die lewe te bly. Kom ons ondersoek dus wat die gewete is en hoe dit werk. Dan kan ons hierdie punte bespreek: (1) Hoe die gewete opgelei kan word, (2) waarom ons die gewete van ander in ag moet neem en (3) hoe ’n goeie gewete seëninge meebring.

WAT DIE GEWETE IS EN HOE DIT WERK

3. Wat is die letterlike betekenis van die Griekse woord vir “gewete”, en na watter unieke vermoë van mense verwys dit?

3 In die Bybel beteken die Griekse woord vir “gewete” letterlik “medewete, of kennis saam met jouself”. In teenstelling met alle ander aardse skepsele het ons die godgegewe vermoë om onsself te ken. In sekere sin kan ons terugstaan, na onsself kyk en ’n sedelike oordeel vorm. Ons gewete tree op as ’n interne getuie, of beoordelaar, en kan ons optrede, ons gesindhede en keuses ondersoek. Dit kan ons na ’n goeie besluit lei of ons teen ’n slegte besluit waarsku. Daarna kan dit ons gerusstel as ons goed gekies het of ons kwel as ons sleg gekies het.

4, 5. (a) Hoe weet ons dat Adam en Eva elkeen ’n gewete gehad het, en wat was die gevolg toe hulle God se wet geïgnoreer het? (b) Watter voorbeelde toon hoe die gewete in getroue manne van voor-Christelike tye gewerk het?

4 Hierdie vermoë is van die begin af in mense ingebou. Adam en Eva het elkeen getoon dat hulle ’n gewete het. Ons sien bewys daarvan in die skaamte wat hulle gevoel het nadat hulle gesondig het (Genesis 3:7, 8). Ongelukkig kon ’n gekwelde gewete hulle op daardie stadium glad nie meer help nie. Hulle het God se wet doelbewus geïgnoreer. Gevolglik het hulle willens en wetens gekies om opstandelinge te word, teenstanders van Jehovah God. As volmaakte mense het hulle geweet wat hulle doen, en hulle kon dit nie ongedaan maak nie.

5 Maar in teenstelling met Adam en Eva het baie onvolmaakte mense gehoor gegee aan hulle gewete. Die getroue man Job kon byvoorbeeld sê: “Aan my geregtigheid het ek vasgehou, en ek sal dit nie laat los nie; my hart sal my nie oor een van my dae smaad nie” (Job 27:6).a Job was inderdaad iemand wat altyd deur sy gewete gelei is. Hy het gesorg dat hy na sy gewete luister en het toegelaat dat dit sy optrede en besluite rig. Gevolglik kon hy met ware tevredenheid sê dat sy gewete hom nie gesmaad, of gepynig, het met gevoelens van skuld en skaamte nie. Let op die kontras tussen Job en Dawid. Toe Dawid oneerbiedig opgetree het teenoor Saul, Jehovah se gesalfde koning, “het Dawid se hart hom [agterna] bly slaan” (1 Samuel 24:5). Dawid het ongetwyfeld baat gevind by daardie intense gewetenswroeging, wat hom geleer het om daarna sulke oneerbiedigheid te vermy.

6. Wat toon dat die gewete ’n gawe aan die hele mensdom is?

6 Behoort hierdie gawe van die gewete uitsluitlik aan knegte van Jehovah? Kyk na die apostel Paulus se geïnspireerde woorde: “Wanneer mense van die nasies, wat geen wet het nie, van nature die dinge van die wet doen, is hierdie mense, al het hulle geen wet nie, ’n wet vir hulleself. Dit is juis hulle wat toon dat die wese van die wet in hulle harte geskrywe staan, terwyl hulle gewete saam met hulle getuig en hulle eie gedagtes hulle onderling beskuldig of selfs verontskuldig” (Romeine 2:14, 15). Selfs dié wat glad niks weet van Jehovah se wette nie, kan soms deur hierdie innerlike getuie beweeg word om in ooreenstemming met goddelike beginsels op te tree.

7. Waarom kan die gewete soms verkeerd wees?

7 Maar in sommige gevalle kan die gewete verkeerd wees. Waarom? Wel, as ’n kompas naby ’n metaalvoorwerp geplaas word, sal dit moontlik in ’n ander rigting as noord wys. En as dit sonder ’n akkurate kaart gebruik word, kan die kompas feitlik nutteloos wees. Net so kan ons gewete ons in die verkeerde rigting stuur as die invloed van die selfsugtige begeertes van ons hart te groot is. En as dit sonder die betroubare leiding van God se Woord gebruik word, sal ons in talle belangrike sake nie tussen reg en verkeerd kan onderskei nie. Om die waarheid te sê, ons het die leiding van Jehovah se heilige gees nodig as ons wil hê dat ons gewete reg moet werk. Paulus het geskryf: “My gewete [getuig] saam met my . . . in heilige gees” (Romeine 9:1). Maar hoe kan ons sorg dat ons gewete in ooreenstemming met Jehovah se heilige gees is? Dit is ’n saak van opleiding.

HOE DIE GEWETE OPGELEI KAN WORD

8. (a) Hoe kan die hart die gewete beïnvloed, en wat moet die belangrikste oorweging wees in ons besluite? (b) Waarom is ’n skoon gewete nie altyd genoeg vir ’n Christen nie? (Sien voetnoot.)

8 Hoe neem ’n mens ’n besluit in ooreenstemming met jou gewete? Dit lyk of party mense bloot hulleself ondersoek, hulle gevoelens ontleed en besluit wat om te doen. Dan sê hulle moontlik: “Wel, dit pla nie my gewete nie.” Die begeertes van die hart kan baie sterk wees, sodat dit selfs die gewete kan beïnvloed. Die Bybel sê: “Die hart is verraderliker as enigiets anders en is desperaat. Wie kan dit ken?” (Jeremia 17:9). Wat ons hart begeer, moet dus nie die belangrikste oorweging wees nie. Ons wil eerder eers dink aan wat Jehovah God gelukkig sal maak.b

9. Wat is godvrugtige vrees, en watter uitwerking kan dit op ons gewete hê?

9 As ’n besluit waarlik in ooreenstemming is met ons opgeleide gewete, sal dit ons godvrugtige vrees weerspieël, nie ons eie begeertes nie. Kom ons kyk na ’n voorbeeld hiervan. Die getroue goewerneur Nehemia het die reg gehad om sekere gelde en belastings van die mense in Jerusalem te hef. Maar hy het dit nie gedoen nie. Waarom nie? Hy het die blote gedagte gehaat dat hy hom Jehovah se misnoeë op die hals kon haal deur God se volk te onderdruk. Hy het gesê: “Ek het weens die vrees vir God nie so gedoen nie” (Nehemia 5:15). Opregte godvrugtige vrees, ’n heelhartige vrees om ons hemelse Vader te mishaag, is noodsaaklik. Sulke eerbiedige vrees sal ons aanspoor om leiding in God se Woord te soek wanneer ons besluite moet neem.

10, 11. Watter Bybelbeginsels is van toepassing op drankgebruik, en hoe kan ons God se leiding kry in die toepassing daarvan?

10 Dink byvoorbeeld aan die kwessie van drankgebruik. Tydens gesellighede moet baie van ons besluit: Sal ek drink of nie? In die eerste plek moet ons ons vergewis van die feite. Watter Bybelbeginsels is hier van toepassing? Wel, die Bybel veroordeel nie die matige gebruik van alkohol nie. Dit loof Jehovah vir die gawe van wyn (Psalm 104:14, 15). Maar die Bybel veroordeel strawwe drinkery en swelgerye (Lukas 21:34; Romeine 13:13). Daarbenewens noem dit dronkenskap saam met ander baie ernstige sondes, soos hoerery en egbreuk.c—1 Korintiërs 6:9, 10.

11 ’n Christen se gewete word deur sulke beginsels opgelei en gevoelig gemaak. Wanneer ons dus moet besluit of ons by ’n geselligheid gaan drink, vra ons ons vrae soos die volgende af: ‘Watter soort geselligheid word georganiseer? Sal dit moontlik handuit ruk en in ’n swelgparty ontaard? Wat is my eie neigings? Smag ek na alkohol; is ek afhanklik daarvan; gebruik ek dit om my buie en gedrag te beheer? Het ek die nodige selfbeheersing om my drankgebruik te beperk?’ Terwyl ons peins oor Bybelbeginsels en die vrae wat hulle by ons laat ontstaan, is dit goed as ons vir Jehovah se leiding bid (Psalm 139:23, 24). Op hierdie manier nooi ons Jehovah om ons deur middel van sy heilige gees te lei. Ons lei ook ons gewete op sodat dit in harmonie is met goddelike beginsels. Maar daar is nog ’n faktor wat ’n invloed op ons besluite behoort te hê.

WAAROM MOET ONS DIE GEWETE VAN ANDER IN AG NEEM?

’n Bybelopgeleide gewete kan jou help om te besluit of jy alkohol sal gebruik of nie

12, 13. Wat is ’n paar redes waarom Christene se gewetens verskil, en hoe moet ons sulke verskille hanteer?

12 Jy sal soms verbaas wees om te sien in watter mate Christelike gewetens verskil. Een persoon vind ’n gebruik of gewoonte aanstootlik; iemand anders geniet dit en sien geen rede om dit te veroordeel nie. Wat gesellige drankgebruik betref, is dit byvoorbeeld vir een persoon aangenaam om ’n drankie saam met ’n paar vriende te geniet terwyl hulle ’n aandjie saam deurbring; iemand anders word daardeur gekwel. Waarom bestaan daar sulke verskille, en hoe behoort dit ons besluite te raak?

13 Mense verskil om baie redes. Agtergronde verskil grootliks. Party is byvoorbeeld pynlik bewus van ’n swakheid waarteen hulle in die verlede gestry het—moontlik nie altyd met sukses nie (1 Konings 8:38, 39). Wanneer dit by alkohol kom, sal sulke persone moontlik besonder gevoelig wees. As so ’n persoon by jou kom kuier, sou sy gewete hom moontlik tereg beweeg om jou aanbod van ’n drankie te weier. Sal dit jou ontstel? Sal jy daarop aandring? Nee. Of jy nou weet wat sy rede daarvoor is of nie—redes wat hy miskien in hierdie omstandighede vir homself wil hou—broederliefde sal jou beweeg om bedagsaam te wees.

14, 15. Oor watter geskil het die gewetens van diegene in die eerste-eeuse gemeente verskil, en wat het Paulus aanbeveel?

14 Die apostel Paulus het gesien dat gewetens onder Christene in die eerste eeu dikwels grootliks verskil het. Destyds het sekere voedsel wat aan afgode geoffer is, die gewete van party Christene gepla (1 Korintiërs 10:25). Paulus het geen gewetensbeswaar gehad teen sulke voedsel wat later by markte verkoop is nie. Vir hom was afgode niks; afgode kon nooit voedsel besit wat deur Jehovah geskep is, en in elk geval aan Hom behoort nie. Nogtans het Paulus verstaan dat ander nie dieselfde beskouing as hy oor die saak gehad het nie. Party was moontlik diep betrokke by afgodediens voordat hulle Christene geword het. Enigiets wat selfs vroeër met afgodediens verbind was, was vir hulle afstootlik. Wat was die oplossing?

15 Paulus het gesê: “Ons wat sterk is, behoort die swakhede te dra van dié wat nie sterk is nie en nie onsself te behaag nie. Want selfs die Christus het homself nie behaag nie” (Romeine 15:1, 3). Paulus het geredeneer dat ons die behoeftes van ons broers bo ons eie moet stel, net soos Christus gedoen het. In ’n verwante bespreking het Paulus gesê dat hy eerder glad nie vleis sou eet nie as om ’n kosbare skaap vir wie Christus sy lewe gegee het, te laat struikel.—1 Korintiërs 8:13; 10:23, 24, 31-33.

16. Waarom moet dié met ’n gewete wat hulle minder toelaat, nie diegene veroordeel wie se gewete anders is as hulle s’n nie?

16 Aan die ander kant moet dié met ’n gewete wat hulle minder toelaat, nie krities wees teenoor ander en daarop aandring dat almal gewetensake soos hulle beskou nie (Romeine 14:10). Dit is in werklikheid die beste om die gewete te gebruik om jouself te beoordeel, nie om ander te veroordeel nie. Onthou Jesus se woorde: “Hou op om te oordeel, sodat julle nie geoordeel word nie” (Matteus 7:1). Almal in die gemeente wil dit vermy om ’n geskilpunt te maak van persoonlike gewetensake. Ons soek eerder na maniere om liefde en eenheid te bevorder sodat ons mekaar kan opbou, nie afbreek nie.—Romeine 14:19.

HOE ’N GOEIE GEWETE SEËNINGE MEEBRING

’n Goeie gewete kan ons in ons lewe rig en vreugde en innerlike vrede meebring

17. Wat het vandag met die gewete van baie gebeur?

17 Die apostel Petrus het geskryf: “Behou ’n goeie gewete” (1 Petrus 3:16). ’n Gewete wat rein is in Jehovah God se oë, is ’n baie groot seën. Dit is nie soos die gewete van baie mense van vandag nie. Paulus het diegene beskryf wat “in hulle gewete gemerk is soos met ’n brandyster” (1 Timoteus 4:2). ’n Brandyster skroei die vlees en laat dit met ’n brandmerk wat ongevoelig is. Baie het ’n gewete wat as ’t ware dood is—so vol brandmerke en ongevoelig dat dit nie meer waarskuwings gee, beswaar maak of hulle skaam of skuldig laat voel oor oortredings nie. Vandag ignoreer mense sulke skuldgevoelens maar alte graag.

18, 19. (a) Watter nut kan gevoelens van skuld of skaamte hê? (b) Wat kan ons doen as ons gewete aanhou om ons te veroordeel as gevolg van sondes van die verlede waarvoor ons reeds berou getoon het?

18 Skuldgevoelens kan in werklikheid die gewete se manier wees om ons te laat weet dat ons verkeerd gedoen het. Wanneer sulke gevoelens ’n sondaar tot berou laat kom, kan selfs die ergste sondes vergewe word. Koning Dawid was byvoorbeeld skuldig aan ernstige oortredings, maar hy is vergewe, hoofsaaklik as gevolg van sy opregte berou. Omdat hy sy verkeerde weg gehaat het en hy vasbeslote was om daarna Jehovah se wette te gehoorsaam, kon hy self ondervind dat Jehovah “goed en vergewensgesind” is (Psalm 51:1-19; 86:5). Maar sê nou intense gevoelens van skuld en skaamte duur voort nadat ons berou getoon het en vergewe is?

19 Soms kan die gewete te veroordelend wees en ’n sondaar aanhou kwel met skuldgevoelens lank nadat sulke gevoelens enige verdere nut het. In sulke gevalle moet ons dalk die selfveroordelende hart gerusstel met die feit dat Jehovah groter is as alle menslike gevoelens. Ons moet in sy liefde en vergifnis glo en dit aanvaar, net soos ons ander aanspoor om dit te doen (1 Johannes 3:19, 20). Aan die ander kant bring ’n gereinigde gewete innerlike vrede, kalmte en ’n diepgaande vreugde mee wat selde in hierdie wêreld gevind word. Baie wat vroeër skuldig was aan ernstige sondes, het hierdie wonderlike verligting ervaar en kan vandag ’n goeie gewete behou terwyl hulle Jehovah God dien.—1 Korintiërs 6:11.

20, 21. (a) Wat sal hierdie publikasie jou help om te doen? (b) Watter vryheid geniet ons as Christene, maar hoe behoort ons dit te gebruik?

20 Hierdie boek is saamgestel om jou te help om daardie vreugde te vind, om ’n goeie gewete deur die res van hierdie veelbewoë laaste dae van Satan se stelsel van dinge te behou. Dit kan natuurlik nie al die wette en beginsels in die Bybel dek waaraan jy moet dink en wat jy moet toepas in die situasies wat dag na dag opduik nie. Daarbenewens moet jy ook nie eenvoudige, duidelik uiteengesette reëls oor gewetensake verwag nie. Die doel van hierdie boek is om jou te help om jou gewete op te lei en gevoelig te laat word deur ’n studie te maak van hoe om God se Woord in jou daaglikse lewe toe te pas. In teenstelling met die Mosaïese Wet nooi “die wet van die Christus” dié wat daaraan vashou, om meer volgens hulle gewete en beginsels te lewe as volgens geskrewe wette (Galasiërs 6:2). Sodoende gee Jehovah buitengewone vryheid aan Christene. Maar sy Woord herinner ons om nooit daardie vryheid as “’n dekmantel vir slegtheid” te gebruik nie (1 Petrus 2:16). Sulke vryheid gee ons eerder ’n wonderlike geleentheid om ons liefde vir Jehovah te bewys.

21 Deur biddend te dink aan hoe jy Bybelbeginsels op die beste manier kan uitleef en dan jou besluite deur te voer, sal jy voortgaan met ’n noodsaaklike proses wat begin het toe jy Jehovah leer ken het. Jou “waarnemingsvermoëns” sal “deur gebruik” geoefen word (Hebreërs 5:14). Jou Bybelopgeleide gewete sal elke dag van jou lewe vir jou ’n seën wees. Soos die kompas waardeur die reisiger gelei word, sal jou gewete jou help om besluite te neem wat jou hemelse Vader gelukkig maak. Dit is ’n onfeilbare manier om jou in God se liefde te hou.

a Daar is nie ’n spesifieke woord vir “gewete” in die Hebreeuse Geskrifte nie. Maar die werking van die gewete kan duidelik in voorbeelde soos dié een gesien word. Die uitdrukking “hart” verwys gewoonlik na die innerlike mens. In gevalle soos dié verwys dit klaarblyklik na ’n spesifieke deel van die innerlike mens—sy gewete. In die Christelike Griekse Geskrifte verskyn die Griekse woord wat as “gewete” vertaal word, sowat 30 keer.

b Die Bybel toon dat dit nie altyd genoeg is om ’n skoon gewete te hê nie. Paulus het byvoorbeeld gesê: “Ek is nie bewus van enigiets teen my nie. Tog bewys dit nie dat ek regverdig is nie, maar hy wat my ondersoek, is Jehovah” (1 Korintiërs 4:4). Selfs diegene wat Christene vervolg, soos Paulus vroeër gedoen het, kan dit met ’n skoon gewete doen omdat hulle dink dat God hulle weg goedkeur. Dit is noodsaaklik dat ons gewete in ons oë sowel as in God se oë skoon moet wees.—Handelinge 23:1; 2 Timoteus 1:3.

c Let daarop dat baie dokters sê dat dit vir alkoholiste nie werklik moontlik is om hulle drankgebruik onder beheer te hou nie; vir hulle beteken “matigheid” dat hulle glad nie drink nie.

HOE SAL JY ANTWOORD?

  • Watter uitwerking moet die wete dat Jehovah te alle tye oor ons waak, op ons gewete hê?—Hebreërs 4:13.

  • Hoe het Josef se gewete hom gehelp om versoeking te weerstaan?—Genesis 39:1, 2, 7-12.

  • Waarom is ’n skoon gewete noodsaaklik om Jehovah te nader?—Hebreërs 10:22.

  • Waarom moet ons besorg wees oor die gewete van ongelowiges?—2 Korintiërs 4:1, 2.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel