Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • be studie 45 bl. 240-bl. 243 par. 1
  • Leersame illustrasies/voorbeelde

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Leersame illustrasies/voorbeelde
  • Vind baat by opleiding in die Teokratiese Bedieningskool
  • Soortgelyke materiaal
  • “Sonder ’n illustrasie het hy nie met hulle gepraat nie”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2002
  • Volg die Groot Onderrigter na
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2002
  • Die Bybel se lewendige beeldspraak
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1985
  • Onderrig met insig en oorredingskrag
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1999
Sien nog
Vind baat by opleiding in die Teokratiese Bedieningskool
be studie 45 bl. 240-bl. 243 par. 1

STUDIE 45

Leersame illustrasies/voorbeelde

Wat moet jy doen?

Gebruik beeldspraak, verhale of werklike ondervindinge op maniere wat jou sal help om jou doelwitte as ’n onderrigter te bereik.

Waarom is dit belangrik?

Die regte gebruik van hierdie onderrigmiddels kan jou toespraak interessanter maak, ’n invloed op mense se lewens hê en onderrigting onvergeetlik maak. As dit verkeerd gebruik word, kan dit afbreuk doen aan waardevolle onderrigting.

ILLUSTRASIES en voorbeelde is kragtige onderrigmiddels. Dit kry en boei mense se aandag dikwels met merkwaardige doeltreffendheid. Dit stimuleer mense se denke. Dit wek emosies op en kan sodoende die gewete en die hart raak. Soms kan illustrasies gebruik word om vooroordeel uit die weg te ruim. Dit is ook ’n goeie geheuehulp. Gebruik jy dit wanneer jy ander onderrig?

Beeldspraak is illustrasies wat gewoonlik in slegs ’n paar woorde uitgedruk kan word; tog kan dit ons helder beelde voor die gees laat roep. Wanneer dit sorgvuldig gekies word, is dit merendeels selfverduidelikend. Maar ’n onderrigter sal dit moontlik verder beklemtoon deur ’n kort verduideliking by te voeg. Die Bybel is vol voorbeelde waaruit jy kan leer.

Begin met vergelykings en metafore. Vergelykings is die eenvoudigste vorm van beeldspraak. As jy nog leer om illustrasies te gebruik, sal jy dit dalk nuttig vind om hiermee te begin. Dit word gewoonlik ingelei met die woord “soos”. Hoewel vergelykings twee dinge vergelyk wat heeltemal van mekaar verskil, vestig dit die aandag op iets wat hulle in gemeen het. Die Bybel is ryk aan beeldspraak wat uit skeppingswerke—plante, diere en hemelliggame—sowel as menslike ervarings as bron put. In Psalm 1:3 word daar vir ons gesê dat iemand wat God se Woord gereeld lees, “soos ’n boom [is] wat by waterstrome geplant is”, ’n vrugbare boom wat nie verwelk nie. Daar word gesê dat die goddelose “soos ’n leeu” is wat op die loer lê om sy prooi te vang (Ps. 10:9). Jehovah het aan Abraham belowe dat sy saad so talryk “soos die sterre van die hemel” sou word en “soos die sandkorrels wat aan die seestrand is” (Gen. 22:17). Aangaande die hegte verhouding wat Jehovah tussen homself en die nasie Israel moontlik gemaak het, het God gesê: “Soos ’n gordel aan die heupe van ’n man kleef”, so het Hy Israel en Juda aan Hom laat kleef.—Jer. 13:11.

Metafore vestig ook die aandag op ’n ooreenkoms tussen twee dinge wat grootliks van mekaar verskil. Maar die metafoor is kragtiger. Dit praat van die een ding asof dit die ander een is, en sodoende gee dit een of ander eienskap van die een aan die ander. Jesus het aan sy dissipels gesê: “Julle is die lig van die wêreld” (Matt. 5:14). Die dissipel Jakobus het die skade beskryf wat deur onbeheerste spraak aangerig kan word en geskryf: “Die tong is ’n vuur” (Jak. 3:6). Dawid het tot Jehovah gesing: “U is my groot rots en my vesting” (Ps. 31:3). ’n Goed gekose metafoor het gewoonlik min of geen verduideliking nodig nie. Dit is selfs doeltreffender omdat dit so bondig is. ’n Metafoor kan jou gehoor help om ’n punt baie beter te onthou as wat ’n direkte verklaring kan.

’n Hiperbool is ’n oordrywing wat versigtig gebruik moet word, anders kan dit misverstaan word. Jesus het hierdie soort beeldspraak gebruik om ’n onvergeetlike beeld te skilder toe hy gevra het: “Waarom kyk jy . . . na die strooihalm in jou broer se oog, maar let nie op die balk in jou eie oog nie?” (Matt. 7:3). Voordat jy hierdie of ander vorme van beeldspraak probeer gebruik, moet jy leer om vergelykings en metafore goed te kan gebruik.

Gebruik voorbeelde. Pleks van beeldspraak besluit jy dalk om voorbeelde, hetsy denkbeeldige verhale of werklike ondervindinge, as onderrigmiddels te gebruik. Dit word dikwels te ver gevoer en moet dus oordeelkundig gebruik word. Sulke voorbeelde moet slegs gebruik word om werklik belangrike punte te staaf, en dit moet so aangebied word dat die les onthou word, nie net die verhaal nie.

Hoewel dit nie nodig is dat alle voorbeelde werklik moes gebeur het nie, moet dit werklike gesindhede of situasies uitbeeld. Toe Jesus mense geleer het hoe berouvolle sondaars beskou moet word, het hy hierdie punt dus toegelig deur te vertel van die blydskap van ’n man wat sy verlore skaap gevind het (Luk. 15:1-7). Jesus het ’n man wat nie die volle betekenis verstaan het van die opdrag in die Wet om jou naaste lief te hê nie, geantwoord deur ’n verhaal te vertel van ’n Samaritaan wat ’n beseerde man gehelp het nadat ’n priester en ’n Leviet versuim het om dit te doen (Luk. 10:30-37). As jy leer om mense se gesindhede en dade noukeurig waar te neem, kan jy goed van hierdie onderrigmiddel gebruik maak.

Die profeet Natan het ’n denkbeeldige situasie beskryf om koning Dawid tereg te wys. Die verhaal was doeltreffend omdat dit ’n situasie vermy het waarin Dawid homself moontlik sou probeer regverdig het. Die verhaal was oor ’n ryk man wat baie skape gehad het en ’n arm man wat slegs een ooilam gehad het wat hy met tere sorg grootgemaak het. Dawid was self voorheen ’n herder en kon dus die gevoelens verstaan van die man aan wie daardie lam behoort het. Dawid het regverdige verontwaardiging uitgespreek teenoor die ryk man wat die arm man se kosbare lam geneem het. Toe het Natan reguit vir Dawid gesê: “U is die man!” Dit het Dawid se hart bereik, en hy het opreg berou getoon (2 Sam. 12:1-14). Met oefening kan jy leer om emosionele sake taktvol te hanteer.

Baie voorbeelde wat nuttig is vir onderrigting kan uit verslae in die Skrif gekry word. Jesus het dit in ’n paar woorde gedoen toe hy gesê het: “Dink aan die vrou van Lot” (Luk. 17:32). Toe Jesus besonderhede oor die teken van sy teenwoordigheid gegee het, het hy na “die dae van Noag” verwys (Matt. 24:37-39). In Hebreërs hoofstuk 11 het die apostel Paulus 16 manne en vroue by name genoem as voorbeelde van geloof. Namate jy die Bybel goed leer ken, sal jy kragtige voorbeelde vind in die verslae oor gebeure en mense wat in die Skrif opgeteken staan.—Rom. 15:4; 1 Kor. 10:11.

Soms sal jy dit dalk nuttig vind om ’n les met ’n werklike, hedendaagse ondervinding toe te lig. Maar wanneer jy dit doen, moet jy seker maak dat jy slegs ondervindinge gebruik wat bevestig is en dat jy dié vermy wat enigiemand in jou gehoor onnodig in die verleentheid sal stel of wat die aandag op ’n omstrede onderwerp sal vestig wat nie ter sprake is nie. Onthou ook dat die ondervinding ’n doel moet dien. Moenie onnodige besonderhede verskaf wat die aandag van die doel van jou aanbieding aflei nie.

Sal dit verstaanbaar wees? Watter illustrasie of voorbeeld jy ook al gebruik, dit moet ’n definitiewe doel bereik. Sal dit daardie doel bereik as jy dit nie op die onderwerp onder bespreking toepas nie?

Nadat Jesus sy dissipels “die lig van die wêreld” genoem het, het hy ’n paar opmerkings bygevoeg oor die gebruik van ’n lamp en watter verantwoordelikheid dus op hulle rus (Matt. 5:15, 16). Hy het sy illustrasie van die verlore skaap afgesluit met ’n kommentaar oor die vreugde in die hemel oor ’n sondaar wat berou het (Luk. 15:7). En ná sy verhaal oor die barmhartige Samaritaan, het Jesus sy luisteraar ’n direkte vraag gevra en hom toe reguit raad gegee (Luk. 10:36, 37). In teenstelling hiermee het Jesus sy illustrasie oor die verskillende soorte grond en oor die onkruid in die saailand nie aan die skare verduidelik nie, maar slegs aan diegene wat nederig genoeg was om hom daaroor te vra (Matt. 13:1-30, 36-43). Drie dae voor sy dood het Jesus ’n illustrasie van moorddadige landbouers van ’n wingerd vertel. Hy het geen toepassing gemaak nie; dit was nie nodig nie. ‘Die hoofpriesters en die Fariseërs het begryp dat hy van hulle praat’ (Matt. 21:33-45). Die aard van die illustrasie, die gesindheid van die gehoor en jou doel sal dus alles bepaal of jy ’n toepassing moet maak en, indien wel, tot watter mate jy dit moet doen.

Dit neem tyd om die vermoë te ontwikkel om illustrasies en voorbeelde met welslae te gebruik, maar dit is beslis die moeite werd. Goed gekose illustrasies spreek tot die verstand sowel as tot die hart. Die gevolg is dat die boodskap ’n trefkrag het wat nie dikwels moontlik is wanneer feite bloot genoem word nie.

HOE OM GEPASTE ILLUSTRASIES TE VIND

  • Lees die Bybel gereeld; let op die illustrasies; peins oor die waarde van die voorbeelde.

  • Terwyl jy die wêreld om jou waarneem, moet jy die gesindhede en dade van mense assosieer met onderwerpe waaroor jy praat.

  • Hou ’n lêer met doeltreffende illustrasies en voorbeelde. Jy kan dit kry uit materiaal wat jy lees, toesprake wat jy hoor of jou eie waarnemings. Hou dit vir toekomstige gebruik.

OEFENING: Ontleed die illustrasies in die volgende tekste: Jesaja 44:9-20; Matteus 13:44; Matteus 18:21-35. Wat leer ’n mens uit elkeen? Waarom is dit doeltreffend?

Beeldspraak wat ek wil gebruik wanneer ek onderrig

․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․

․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․

․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․

․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․

․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․

․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․

․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․

․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․

․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․

Werklike voorbeelde wat ek wil onthou en gebruik

․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․

․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․

․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․

․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․

․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․

․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․

․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․

․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․

․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel